Blote Toeval?

Blote Toeval?

‘n Mens hoor al meer mense sê: lewe op aarde het toevallig ontstaan.  Dit was eintlik ‘n ongeluk in die geskiedenis.  Lewe moet aan die noodlot toegeskryf word.

En dit terwyl die mens die vonk van rasionaliteit in hom/haar het wat die sleutel tot die diep geheime wat die heelal bevat, kan ontsluit.  Ons het die vermoë om ons wêreld te verstaan.  Jy kan navors hoe ons heelal lyk, en dit snap.  Want God het jou die vermoë, en opdrag (in Genesis 1:28-30), gegee om jou wêreld te verstaan.

Die bekende natuurwetenskaplike, Paul Davies, erken dat die mens nie sy doel op aarde ooit kan verstaan as hy/sy slegs op natuurwetenskaplike waarneming aangewys is nie.  Hy sê voorts dat as ‘n mens aanvaar dat God nie die Ontwerper en Doelsteller van die mens is nie, jy gedwing word om te sê dat lewe op aarde toevallig ontstaan het, en dat die mens geen doel op aarde het nie.

Maar hoe waarskynlik is dit dat lewe in ons heelal sou ontstaan?  ‘n Groep wetenskaplikes oor ‘n breë spektrum van dissiplines het al die veranderlikes ondersoek wat korrek moes wees voor lewe op ‘n planeet in die heelal sou ontstaan, en uiteindelik ‘n formule gebruik om die moontlikheid van lewe te bepaal.  Die kans dat lewe op ‘n planeet in die heelal sou ontstaan, bevind hulle, is (10×10)²³ tot die mag 6.

PSALM 8

2 Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! 3 Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.  4 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, 5 wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? 6 U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, 7 U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: 8 skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, 9 die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis. 10 Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde.

 

TOEVAL?

Dit lyk of die heelal met die mens in die oog gemaak is.  Die heelal moet net oud genoeg en groot genoeg wees, en net genoeg tyd moes verloop het sodat die swaar elemente ontstaan het.  Genoeg tyd was ook nodig sodat tweede geslag sterre soos ons son kon ontstaan het.  ‘n Mens kan nie anders as om te sê nie: dit lyk of ‘n groot Hand omstandighede geskik het sodat lewe op ons klein planeetjie kon ontstaan.

Kom ek noem enkele voorbeelde.  Daar is honderde ander.  As die heelal digter as drie atome/kubieke meter was, sou die heelal te vinnig uitgesit het en sou lewe nooit kon ontstaan nie.  As die heelal minder dig was, sou dit op sigself ineengestort het.  As die uitsetting van die heelal vinniger was, sou materie (die twee en negentig elemente waaruit alles opgebou is) nie kon ontstaan nie.  As die uitsetting stadiger was, sou alles ineengestort het.  Die digtheid van die heelal moes akkuraat wees met ‘n faktor van sestig nulle.  Om dié akkuraatheid te demonstreer: jy sou ‘n teiken wat een millimeter groot is, moes kon tref oor ‘n distansie gelyk aan die deursnee van die heelal!

As materie eweredig oor die heelal voorgekom het, sou elemente nie kon vorm nie.  As materie weer oneweredig versprei was, sou groot swart gate of gravitasiekolke ontstaan het wat die heelal stuk-stuk sou opvreet.  Die verspreiding moes korrek wees tot ‘n gemiddeld van een deel in honderd duisend om te slaag.

Om op te som.  Die kans dat lewe op ons planeet toevallig sou ontstaan, is 10×10 tot die mag 23 tot die mag 6.  As jy dié som sou neerskryf, is daar meer nulle in jou formule as stofdeeltjies in heelal!

En jy dink lewe het toevallig ontstaan?  Dat daar nie ‘n God is nie?

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Hoe werk die Webblad?

Hoe werk die Webblad?

Hierdie is ‘n Webblad wat nooit klaar is nie. Jy, as leser word hartlik uitgenooi om die webblad te laat groei. Ons ideaal is om soos probleme en vrae ontwikkel die materiaal op die webblad te plaas. Hoe? Deurdat jy as leser vir ons die vraag waarmee jy sukkel te stuur. Ons sal dan probeer om binne ‘n billike tyd inligting oor die vraag op die webblad te plaas.

Jy kan selfs opmerkings maak of langer stukkies aan die redaksie voorlê. Ons belowe nie om dit te plaas nie, maar om dit aan die skrywer deur te gee. Hy of sy kan dan besluit of hy die inligting wil bysit (of invoeg) by sy artikel, of die inligting onder aan die artikel geplaas moet word as addendum. Met langer stukke sal die Webbaas in samewerking met die redaksie die besluit maak – ‘n goeie langer artikel wat aan die kriteria van die webblad voldoen mag na diskresie onder die naam van die skrywer as afsonderlike artikel bygevoeg word. Die Webbaas behou homself egter die reg voor om die prosedure ter eniger tyd te verander en behou homself ook die reg voor in watter mate daar oor sake gekorrespondeer kan of moet word. Uiteraard kan daar nie werklik op individuele vlak in gesprek gegaan word met lesers nie. Ons vra begrip daarvoor.

 




Wie is www.bybelkennis.co.za

Wie is www.bybelkennis.co.za

Die Webspan bestaan uit die volgende lede:

Webbaas – Coen Slabber
Redakteur – Jan van der Watt
Sub-redakteurs – Marius Nel en Kobus Kok

Die skrywers is ‘n groot groep teoloë uit verskillende denominasies (bv. NG, Hervormd, Gereformeerd, AGS) in Suid-Afrika. Ons almal gooi ons kennis in hierdie Webblad saam om vir ons lidmate van diens te wees. (Kyk maar na elke artikel wie het dit geskryf).

 

Waarom hierdie webblad?

Waarom hierdie webblad? Daar word so dikwels deur lidmate gevra wat hulle van dit of dat moet dink, of wat die Bybel oor sekere sake sê. Daar is egter nêrens regtig ‘n plek waar ‘n mens inligting oor die sake op ‘n maklike en toeganklike manier kan kry nie. Die dominees is ook nie altyd beskikbaar nie. Hierdie webblad wil aan daardie behoefte voorsien. Daar is vir ‘n groot groep teoloë gevra om saam te werk sodat ons betroubare materiaal op die web kan plaas. As jy dus ‘n vraag het, kom kry inligting hier. Jy sal sien ons praat nie van ‘n antwoord nie – ons wil nie voorskryf of finale antwoorde gee nie. Ons wil inligting gee wat jou miskien kan help om jou eie antwoorde te vind.

Hierdie webblad is dus nie bedoel as ‘n Bybelstudie of dagstukkies of so iets nie. Hierdie webblad se uitsluitlike doel is om inligting oor die Bybel en Bybelverwante sake op ‘n toeganklike manier op die web te plaas. Die hoop is dat dit jou sal help om oor sake wat jou geloof en die Bybel raak met meer vertroue te kan nadink.

Belangrik: Hierdie webblad is nie KLAAR nie. Dit groei soos die vrae en behoeftes van die dag groei. Ons nooi enigiemand uit om vrae en opmerkings te stuur. Ons onderneming is om inligting oor alle vrae wat ons kry beskikbaar te kry. As daar nie reeds inligting op die Webbladsy is nie, sal ons ons bes doen om binne ‘n billike tyd inligting oor die vraag op die web te plaas.

 

Jan van der Watt

Redakteur




Ons Onderneming

Ons Onderneming

Ons onderneem dat jy inligting oor jou spesifieke vraag op hierdie webblad gaan kry. As dit nie reeds daar is nie, stuur vir ons jou vraag en ons sal ons bes doen om binne ‘n billike tyd inligting oor jou vraag op die web te plaas.

 

Stuur jou navraag