Die Kindheidsevangelie van Tomas

Die Kindheidsevangelie van Tomas

Watter soort kind was Jesus? Omdat daar in die Nuwe Testament so min oor Jesus se kinderjare vertel word, het Christene later allerhande verhale uitgedink oor watter soort kind Jesus was. Sommige van hierdie verhale is opgeteken in Die Kindheidsevangelie van Tomas. Hier is een van hierdie verhale:

1Toe die Kind Jesus vyf jaar oud was, was Hy besig om by ‘n drif in ‘n rivier wat sterk afgekom het, te speel. Hy het die lopende water in poeletjies laat inloop en dit dadelik skoon gemaak – deur net ‘n enkele bevel aan die water te gee. 2Toe het Hy sagte klei gemaak en daaruit twaalf mossies gevorm. Hy het dit op die Sabbat gedoen. ‘n Klomp ander kinders het saam met Hom gespeel.

3Een van die Jode het gesien wat Jesus gedoen het terwyl Hy op die Sabbat speel. Hy het dadelik vir Josef, Jesus se pa, gaan sê: “Jy weet, jou seun is by die drif en hy het modder gevat en twaalf voëls daaruit gemaak. So het hy die Sabbatswette oortree!”

4Josef het soontoe gegaan. Toe hy sien wat Jesus gedoen het, het hy vir Hom geskree: “Hoekom doen jy iets wat ‘n mens nie op die Sabbat mag doen nie?” Maar Jesus het net sy hande geklap en vir die mossies geskree: “Weg is julle!” Die mossies het raas-raas terwyl hulle ‘n klomp lawaai maak.

5Die Jode wat dit gesien het, was baie verbaas. Hulle is daar weg en het aan hulle leiers gaan vertel wat hulle vir Jesus sien doen het.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Die Evangelie van Tomas

Die Evangelie van Tomas

Die Evangelie van Tomas is een van die bekende apokriewe Evangelies. Dit is nie regtig deur Tomas geskryf nie, maar ‘n hele ruk ná die Nuwe Testament deur iemand anders. Dit is nie ‘n Evangelie soos die vier Evangelies wat ons in die Nuwe Testament het nie, maar bestaan net uit ‘n lys goed wat Jesus sou gesê het. Hierdie evangelie begin só:

Wat hier volg, is die geheime uitsprake van die lewende Jesus. Didimus Judas Tomas het dit neergeskryf:

1. Jesus het gesê: “Almal wat die betekenis van hierdie woorde ontdek, sal nooit doodgaan nie.”

2. Jesus het gesê: “Almal wat soek, moet aanhou soek totdat hulle kry wat hulle soek. Wanneer hulle kry wat hulle soek, sal hulle ontsteld wees. Wanneer hulle ontsteld is, sal hulle verbaas wees, en hulle sal oor alles regeer.

3. Jesus het gesê: “Julle leiers sê dalk vir julle die Koninkryk is in die lug. Maar dan sal die voëls wat in die lug vlieg, voor julle in die Koninkryk ingaan! Of hulle sê dalk vir julle dit is in die see. Maar dan sal die visse voor julle in die Koninkryk ingaan! Nee, dit is nie waar nie! Die Koninkryk is binne julle en ook buite julle! As julle julleself ken, sal julle geken word, en julle sal besef julle is kinders van die lewende Vader. Maar as julle julleself nie ken nie, sal julle in armoede leef. Ja, júlle sal self die armoede wees.”

4. Jesus het gesê: “Mense wat al stokoud is, sal nie huiwer om ‘n kind van sewe dae te vra waar ‘n mens die ware lewe kry nie, en dan sal hulle dit kry, want baie wat eerste is, sal laaste wees en hulle sal één word.”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Die Evangelie van Nikodemus

Die Evangelie van Nikodemus

Een van die kenmerke van die Nuwe-Testamentiese apokriewe is dat hulle baie soos die Nuwe-Testamentiese boeke lyk, maar ‘n klomp ekstra gedagtes en idees byvoeg wat nie in die Nuwe Testament voorkom nie – gewoonlik die resultaat van die vrugbare verbeelding van latere gelowiges. Kyk byvoorbeeld na die ekstra gedagtes in die volgende gedeelte uit Die Evangelie van Nikodemus:

Pilatus het die boodskapper geroep en vir hom gesê: “Laat Jesus ingebring word, maar moet Hom nie hardhandig behandel nie.” Die boodskapper het uitgegaan en toe hy Jesus herken, het hy gekniel en Hom geëer en die doek wat hy in sy hand gehad het, gevat en op die grond oopgegooi en vir Hom gesê: “Here, loop daarop en gaan in, want die goewerneur roep U.” Toe die Jode sien wat die boodskapper doen, was hulle kwaad en het vir Pilatus geskree: “Hoekom het u ‘n boodskapper beveel om hom te laat inkom en nie ‘n aankondiger nie? Kyk, toe die boodskapper hom sien, het hy gekniel en hom geëer en sy doek op die grond gegooi en hom soos ‘n koning daarop laat loop!”

3Toe roep Pilatus die boodskapper en vra vir hom: “Hoekom het jy dit gedoen? Hoekom het jy jou doek op die grond gegooi en Jesus daarop laat loop?” Die boodskapper het geantwoord: “Geagte goewerneur, toe u my na Alexander in Jerusalem gestuur het, het ek vir Jesus op ‘n donkie sien sit en die Joodse kinders het takke in hulle hande gehad en Hom toegejuig. Ander het hulle klere vir Hom oopgegooi en gesê: ‘Red ons, Allerhoogste! Ons prys Hom wat deur die Here gestuur is!'” 4Maar die Jode het geskreeu: “Die Joodse kinders het in Hebreeus geskree! Hoe weet jy dan kamstig wat dit in Grieks is?” Die boodskapper het geantwoord: “Ek het vir een van die Jode gevra wat dit is wat hulle in Hebreeus skree en hy het dit vir my vertaal.” Pilatus het vir die Jode gevra: “Wat het hulle in Hebreeus geskree?” Hulle het vir hom gesê: “Hosanna menbrome baroegamma adonai.” Toe vra Pilatus: “Hoe vertaal ‘n mens ‘Hosanna’ en die ander woorde in Grieks?” Die Jode het hom geantwoord: “Red ons, Allerhoogste! Ons prys Hom wat deur die Here gestuur is!” Pilatus sê vir hulle: “As julle self die woorde wat die kinders gesê het, bevestig, watter fout het die boodskapper dan gemaak?” Die Jode het toe stilgebly.

Die goewerneur het vir die boodskapper gesê: “Gaan haal hom op enige manier wat jy wil!” Die boodskapper het gegaan en weer gemaak soos die vorige keer. Hy het vir Jesus gesê: “Gaan in, Here; die goewerneur roep U!”

5Jesus het ingekom. Die vaandeldraers het die vaandels vasgehou en die afbeeldings van die keiser wat op die vaandels was, het gekniel en Jesus geëer. Toe die Jode sien wat die vaandels doen, hoe hulle kniel en Jesus eer, het hulle vreeslik kwaad geword en op die vaandeldraers geskree. Maar Pilatus het vir hulle gevra: “Is julle nie verbaas dat die afbeeldings op die vaandels gekniel en Jesus vereer het nie?” Die Jode het vir hom gesê: “Ons het gesien hoe die vaandeldraers hulle laat kniel het en vir Jesus laat vereer het.” Toe roep Pilatus die vaandeldraers en vra vir hulle: “Hoekom het julle dit aangevang?” Hulle het Pilatus geantwoord: “Ons is Grieke en werk by die tempel! Ons sal nie voor daardie man buig en hom vereer nie! Ons het die vaandels met die afbeeldings vasgehou, maar hulle het uit hulle eie gekniel en hom vereer!”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Christus se besoek aan die doderyk

Christus se besoek aan die doderyk

Wat het in die doderyk gebeur toe Jesus in die graf was? Het Jesus die doderyk in dié tyd besoek?

In die Nuwe-Testamentiese apokrief Christus se besoek aan die doderyk kry ‘n mens die idees van iemand wat baie lank ná die tyd van die Nuwe Testament ‘n verhaal geskep het oor hoe Jesus die doderyk besoek het in die tyd toe Hy dood was. Dit begin as volg:

Ons was in die doderyk saam met almal wat van die begin van die wêreld af dood is. Teen middernag het daar in die donkerte van die doderyk iets soos die lig van die son opgekom en begin skyn. Die lig het op ons almal geval en ons kon mekaar sien! Dadelik het ons voorvader Abraham en al die ander stamvaders en die profete baie bly geword en vir mekaar gesê: “Hierdie lig kom van ‘n baie helder bron!” Die profeet Jesaja wat ook daar was, het gesê: “Hierdie lig kom van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Dit is wat ek voorspel het toe ek nog gelewe het. Ek het gesê: ‘Die land van Sebulon en die land van Naftali, die mense wat in die donkerte sit, het ‘n helder lig gesien.'”

2Daar het toe nog iemand aangekom. Hy was vroeër ‘n kluisenaar in die woestyn. Die stamvaders het vir hom gevra: “Wie is jy?” Hy het geantwoord: “Ek is Johannes, die laaste profeet. Ek het die pad vir die Seun van God gelykgemaak en vir mense gepreek dat hulle hulle moet bekeer sodat God hulle sonde kan vergewe. Die Seun van God het na my toe gekom. Ek het Hom al van ver af gesien en vir die mense gesê: ‘Kyk, daar is God se Lam wat die sonde van die wêreld wegneem!’ Met my eie hand het ek Hom in die Jordaanrivier gedoop en gesien hoe die Heilige Gees soos ‘n duif op Hom afkom. Ek het ook God die Vader hoor sê: ‘Dit is my Seun vir wie Ek lief is. Hy maak My baie bly!’ God het my na die doderyk gestuur sodat ek vir julle moet kom preek en moet kom sê dat God se unieke Seun op pad is hierheen sodat almal wat in Hom glo, gered kan word. Die wat nie in Hom glo nie, sal veroordeel word. Daarom sê ek vir julle almal: As julle Hom sien, moet julle Hom almal aanbid. In die nietige wêreld daarbo het julle afgode aanbid en sonde gedoen. Julle het net hierdie één kans om tot bekering te kom. Julle sal nooit weer ‘n kans kry nie!”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie