ChatGPT en ons Geloof – Kobus Kok

Rondom November-Desember in 2022 het die wêreld gegons oor ChatGPT en begin om met kunsmatige intelligensie te speel. Probeer dit gerus hier. Jy kan dit byna enige vraag vra. Selfs om vir jou ‘n dieet program te ontwikkel of ‘n oefenprogram. Idees vir ‘n ete. Vir nagereg. Selfs ‘n Bybelstudie waarin sommige skrywers se insigte verwerk is.

Ek sien nou die dag ’n berig van ’n dominee in Duitsland wat die eerste erediens gehou het waarin hy ChatGPT gebruik het om hom te help om die materiaal vir sy erediens te skryf. Sy kerk was stampvol om te sien wat gebeur. En mense was nogal baie positief oor hierdie belewenis. Ek het self daarmee begin werk en gevind dat dit ’n verbysterende vermoë het om onder meer gedigte te skryf, narratiewe te skryf en selfs ook moeilike konsepte te integreer en te verduidelik. Soms maak dit nog vreeslike foute. As mens die foute uitwys vra dit so ewe om verskoning.

Hierdie afgelope naweek het ek juis ’n gemeente retraite in België vir ‘n Evangelische Gereformeerde gemeente aangebied oor die uitdagings wat 2023 en kunsmatige intelligensie aan ons stel. Daar is onder meer in Kyoto in Japan’n kunsmatige intelligensie priester uit aluminium en silikon geskep met die naam “Mindar” (sien hier). Hierdie K.I. priester word gekodeer met die bepaalde religie se tekste en denke, en dit is noemenswaardig om te sien hoe goed die “priester” kan antwoord en ons besef dit gaan al meer gesofistikeerd raak in die toekoms. Veral as mens professor Michio Kaku se insigte in gedagte neem. Kaku verwys na die nabye toekoms en wat vir ons mag voorlê wanneer ons met quantum computing gaan werk. In ’n onlangse toespraak wat hy by Google gehou het, het hy gewys op die reuse implikasie wanneer K.I. mense gaan verbygaan (sien hier). So praat ons hierdie naweek in België oor hoe ons voel oor Kunsmatige Intelligensie Priesters. Sou ons ’n K.I. dominee wou hê? Die blote gedagte van die moontlike realiteit van ’n chatbot middelganger is soos ’n spieël vir ons wat ons help om te reflekteer op ons diepe waardes en ons grense. Deur die bank het die antwoord gekom dat daar iets belangrik ontbreek as dit by die gedagte van, of keuse tussen ’n K.I. entiteit, en ’n regte mens kom. Mense verkies eerder ’n dominee, met “issues” en persoonlike krake, selfs bó ’n K.I. entiteit wat bo-menslike kennis mag hê. Mense glo dat dit juis die gebrokenheid en krake van die mens is wat die ruimte is waar God se krag sigbaar word. Mense glo vas dat K.I. entiteite nie outentiek met genade en barmhartigheid sal kan omgaan nie. Al word dit kunsmatig geprogrammeer daarmee. Met alles wat Covey in sy boek “The Speed of Trust” noem. Gebrokenheid is vir ons ’n belangrike dimensie waarin ons glo dat iets extra nos – buite ons – moet deurbreek. Gelowiges glo dat die mensdom se masjiene, hoe slim ookal, selfs slimmer as ’n mens, nie die somtotaal kan wees van openbaring nie. Ons Bybelse wêreldbeeld laat ons glo dat God vanuit die geestelike of goddelike werklikheid inbreek in ons bestaan. Dat die Gees se krag nie in taal-algoritmes vasgevang kan word nie. Dat mense, in hulle gebrokenheid, juis die plek is waar God se Gees werk. Ons glo dat K.I. ons baie kan help met inligting. Selfs uitstekende nuwe inligting en perspektiewe, maar dat dit uiteindelik vir ons as mens ten diepste in die ruimte van gebed plaasvind dat ons God se stem hoor. Dat ware menslike resonansie in en deur ons kwesbaarheid juis gebeur. Mense voel dat die K.I. revolusie ons nie verder gaan wegvat van die behoefte om God se stem in gemeenskap met gelowiges en ons persoonlike verhouding met God te beleef nie, maar ons juis gaan laat terugbeweeg na verwondering en outentiekheid. Menslike, gebroke outentiekheid. Dit is eintlik met selfs meer verwondering dat ons dink aan Filippense 2:5-11 en Kolossense 1:15-20 en aan Jesus wat geïnkarneer het in ‘n die vorm van ‘n mens. ‘n Mens wat sy tent kom opslaan het onder ons en onder ons kom woon het (Joh 1:14). 

Skrywer: Prof. dr. Jacobus (Kobus) Kok

Professor and Head of Department New Testament Studies

Co-Director Research Centre for Early Christianity 

Professor Extraordinarius, University of Pretoria 

 

Evangelische Theologische Faculteit, Leuven

Sint-Jansbergsesteenweg 97 | 3001 Leuven | Belgium

+32 483753568

Kobus.kok@etf.edu  

www.etf.edu 

https://www.etf.edu/en/staff/kobus-kok/




Nuwe Bladbaas vir Bybelkennis.co.za

Dit was vir die span van Bybelkennis.co.za ‘n groot hartseer dat dr Coen Slabber, die bladbaas (administrateur) van die begin van die webblad se bestaan af, ons ontval het.

Dr Johan Voges, emeritus predikant van die Ned Geref Gemeente Lynnwood, het egter goedgunstiglik ingewillig om die administratiewe sake van Bybelkennis.co.za oor te neem. Die Bybelkennisspan sien daarna uit om met hom saam te werk. Wie meer oor hom wil weet kan gerus na sy lewensloop kyk wat elders op die webblad verskyn. Biografie




Onvergeeflike Sonde – Hermie van Zyl

Van: Shaun Reed

Onderwerp: Die onvergeeflike sonde

Boodskapteks: Ek het na verskillende mense geluister in verband met die onvergeeflike sonde. Ek wil net by julle hoor of ek korrek verstaan. Wat ek verstaan, is: God vergewe ’n persoon alles, alle sondes, behalwe as iemand sy rug op Jesus Christus draai, dit wil sê, as iemand Jesus Christus verwerp. As iemand geloof in Jesus Christus weier, kan God dit nie vergewe nie. Met ander woorde, God vergewe die Christen (die gelowige in Jesus Christus ) alles, al sy sondes, want hy het Jesus Christus aanvaar en glo in Jesus Christus.

 

Prof Hermie van Zyl Antwoord

Die onvergeeflike sonde (Matteus 12:31-32) of “sonde tot die dood” (1 Johannes 5:16-17) word ook die sonde teen die Heilige Gees genoem. Hulle handel almal oor een en dieselfde saak. In my behandeling hieronder hanteer ek hulle dus saam.

Baie gelowiges is bekommerd daaroor dat hulle dalk die sonde teen die Heilige Gees begaan het. Maar die blote feit dat iemand bekommerd is daaroor wys al klaar dat hy/sy nie die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Hierdie sonde gebeur net wanneer iemand volhardend die Gees se werking in sy lewe uitblus (Efesiërs 4:30; 1 Tessalonisense 5:19), of wanneer iemand die Here verwerp en totaal afvallig word (Hebreërs 4:4-6; 10:26-31). Maar ons moet die kontekste waar hierdie uitsprake voorkom, deeglik in ag neem. Hierdie uitsprake is in die eerste plek waarskuwings aan gelowiges om nie ligtelik met God se genade in Christus om te gaan nie. Dis nie beskuldigings dat hierdie sonde reeds tot stand gekom het by die lesers nie. ’n Ander geval van die sonde teen die Heilige Gees is waar veral ongelowiges moedswillig die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matteus 12:22-32). Maar in al bogenoemde gevalle moet ons net besef dat dit nie vir ons is om te bepaal wanneer iemand die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Niemand van ons weet wanneer iemand in sy of haar lewe daardie punt van verharding of van geen-omdraai-meer bereik het waar jy nie eens meer omgee of jy gered is of nie. (Laasgenoemde is presies die gevolg van die sonde teen die Gees.) Die punt is, dis nie vir ons om daaroor te oordeel nie. Net God, die hartekenner, kan dit doen. Daarom moet ons ons daarvan weerhou om uitsprake oor ander se geestelike gesteldheid te maak, selfs dié van ongelowiges. Oënskynlik geharde Godloënaars het al verras deur tot bekering te kom. Ons taak as gelowiges is maar net om die evangelie te verkondig en te waarsku teen afvalligheid. Die finale oordeel kan ons rustig in God se hande laat.

Om dit nog eens te beklemtoon: Die onvergeeflike sonde, of die sonde teen die Heilige Gees, gaan oor ‘n besondere soort sonde. Alle sonde bevat ‘n element van opsetlikheid en moedswilligheid, maar hierdie sonde gaan daaroor dat mens die enigste manier waarop God kan red, verwerp, of dat jy die offer van die Seun van God openlik tot ’n bespotting maak asof dit nooit vir jou iets beteken het nie (Hebreërs 6:6), of die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matteus 12:24,31-32), of die Gees hardvogtig oor ‘n lank tyd weerstaan, op so ’n manier dat God nie toegang tot jou hart kry nie. Want onthou, die enigste manier waarop God jou hart kan sag maak, is deur die werking van sy Gees. Verder, daar is geen ander offer vir redding as die een wat Jesus gebring het nie. As hierdie heilsmiddele verwerp word, dan kan selfs God jou nie vergewe nie, nie omdat Hy nie wil nie of omdat jou sonde te groot is nie, maar omdat jy Hom nie toelaat om dit te doen nie. Jy wil nie sy “medisyne” vir jou sonde aanvaar nie. En God dwing niemand teen sy of haar wil nie. Hy kom altyd met die sagte aanslag van die liefde. Wie hierdie liefdesaanslag volhardend verwerp, word dan later immuun teen God se liefde en wil dan ook geen genesing meer hê nie. En dan láát God jou in jou keuse, die keuse wat jy uitoefen om Hom volhardend te bly verwerp. Maar solank mens nog God se vergifnis wil hê, is jou hart ontvanklik vir sy redding en kan jy sy vergifnis in die geloof omhels en aanvaar, en vergewe word.

Dus, dit is inderdaad soos die vraagsteller sê: daar is geen sonde wat God nie kan vergewe nie, behalwe wanneer jy volhardend weier om vergewe te word.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Huldeblyk – Dr Coen Slabber

Dit is met groot hartseer dat die Bybelkennis.co.za-familie “afskeid” neem van dr Coen Slabber (“oom Coen” soos hy by baie van ons bekend was), een van die stigters van Bybelkennis.co.za en die bladbaas van die begin van die bestaan van die webblad af. Hy is op 18 September 2023 na ’n langer periode van ongesteldheid oorlede. Ons gaan hom besonder baie mis.

Dr Slabber, ’n ginekoloog van beroep, later professor asook die dekaan van die Fakulteit Geneeskunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (soos dit destyds bekend gestaan het), en ook uiteindelik Direkteur-Generaal van die nasionale Departement van Gesondheid van Suid-Afrika, het absoluut onbaatsugtige diens aan die webblad gelewer. Ten spyte van die hoë profiel wat hy tydens sy lewe geniet het, het hy agter die skerms elke dag die administratiewe sake van Bybelkennis.co.za behartig, het ’n baie leersame blog, veral oor leierskap geskryf, en het gesorg dat al die lesersvrae by die regte medewerkers uitkom om te beantwoord. Dit het hy gedoen sonder enige vergoeding, maar eenvoudig omdat hy diens wou lewer aan mede-gelowiges.

Wat ’n voorbeeld was en is dit steeds vir elkeen van ons. Hy het geen erkenning gevra nie, het nie verwag dat iemand vir hom moet dankie sê of prys nie. Hy het eenvoudig elke dag net sy deel vir die Here gedoen. Ons gaan hom baie mis en is besonder dankbaar vir alles wat hy gedoen het en vir ons beteken het … en ja, veral vir die voorbeeld wat hy gestel het.

Ons eer sy nagedagtenis, en ons harte gaan uit na sy familie in hierdie tyd van rou en afskeid neem.

 

Die Bybelkennis-span