Word Jabes se gebed oorbeklemtoon

Word Jabes se gebed oorbeklemtoon? – Marius Nel

‘n Leser vra:

Kan u my asb. inlig aangaande die Jabesgebed . Wat is die belangrikheid hiervan in die lig van die feit dat Jesus die “Onse Vader” gekies het as modelgebed toe Hy sy dissipels leer bid het?               

Is die  belangrikheid van hierdie gebed oorbeklemtoon deur baie  mense, na aanleiding van Bruce Wilkinson se boek daaromtrent, of nie ? 

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

Ek kan slegs my eie opinie hieroor met u deel wat, so vermoed ek, met u gedagte ooreenstem.

 

Na my denke is ‘n ietwat selfsugtige gebed opgeblaas as die modelgebed vir (uiters) selfsugtige en materialistiese (Noord-)Amerikaners wat graag wil hoor dat die Here daar vir hulle is, en spesifiek om hulle te seën en alles vir hulle te laat reg loop.

 

Ja, ons modelgebed begin met ‘n geheel ander toonaard: Vader, laat u Naam hier op aarde heilig wees soos in die hemel, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied. En dan: gee ons wat ons nodig het, een dag op ‘n slag. En vergewe ons, maar eers as ons leer om te vergewe sodat ons gesond kan word. En bewaar ons van versoeking en verlos ons van die Bose.

 

Ek stem heelhartig saam met u aanvoeling.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (7)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (7) – Adrio König

Konklusie

Die eindtyd of die laaste dae is dus nie ‘n tyd wat Jesus en die apostels eers in die (verre) toekoms verwag het nie. Hulle verkondig

 

  • dat Jesus in die laaste dae gebore is,
  • dat die Heilige Gees in die laaste dae uitgestort is,
  • dat die Regter voor die deur staan,
  • dat die gemeente in die eindtyd leef,
  • dat die einde naby is,
  • dat Jesus gou sal kom.

 

Dit was ‘n troos vir die vervolgde gelowiges, en ‘n waarskuwing vir die ongelowiges.

 

Dit beteken dat die Here Jesus enige oomblik kan kom, regtig voor die son môre-oggend opkom. Maar dit beteken ook dat ons nie weet wanneer Hy kom nie, en dat alle voorspellings en berekenings teen die boodskap van die Nuwe Testament ingaan.

 

Ons moet leef asof Hy vannag nog kom.

En werk asof ons ons lewe voor ons het.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (6)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (6) – Adrio König

8.3.5 Romeine 9-11

Hier het ons die enigste deel in die Nuwe Testament wat enigsins breedvoerig aandag gee aan die toekoms van Israel. Die agtergrond is die feit dat die kerk in Paulus se tyd vol heidene sit met baie min Jode, en dit terwyl Jesus die Jode se Messias is. Dit is vir Paulus ‘n hartseer saak (Rom 9:1-4).

Die rede waarom die heidene “oorgeneem” het in die kerk, is eenvoudig: hulle het die evangelie van vrye genade geglo, terwyl Israel self hul heil deur die wet wou verdien (Rom 9:30-33).

 

En wat nou van die toekoms? Met ‘n baie interessante beeld verduidelik Paulus dit, die beeld van die twee olyfbome (11:16ev). Die mak olyfboom is die volk van God, die wilde boom is die heidene. Die stam of wortel van die mak boom is die gelowiges van die Ou Testament. Die Jode wat nie vir Jesus as Messias wou aanvaar nie, is die takke van die mak boom wat afgekap is. Die heidene wat tot geloof kom, is takke wat van die wilde olyfboom afgebreek is en op die mak boom geënt is (11:17-24). Hierdie beeld verduidelik die huidige situasie baie goed. Die kerk sit vol heidene, en Israel is in die geheel gesien, in ongeloof. 

 

En die toekoms? In ‘n sekere sin is die toekoms oop. Die Jode kan nog inkom. Dié van hulle wat Jesus as Messias aanvaar, is soos afgebreekte takke wat weer op die mak boom geënt word (11:23). En die heidene wat hulleself verhef en nie in die geloof volhard nie, is soos takke wat van die mak boom afgebreek word (11:22).

 

Hier kom nog iets by. As die Here die wilde lote op die mak boom kon ent, sal dit soveel makliker wees om die mak lote wat afgebreek is, weer terug te ent op hierdie boom (11:24). Dit beteken dat Paulus verwag dat dit maklik gaan wees om die Jode te oortuig dat Jesus hulle Messias is. Trouens dit is ook sy eintlike oogmerk met sy sending onder die heidene. Hoewel hy die apostel vir die heidennasies is, strewe hy in sy bediening daarna om sy eie mense jaloers te maak deur die heidene wat tot bekering kom (11:13-14). Dit is sy hoop omdat Jesus eintlik hulle Messias is.

 

Dit beteken dat Paulus nie die bekering van Israel sien as ‘n massale gebeurtenis iewers in die verre toekoms wanneer die hele volk eensklaps vir Jesus as die Messias sal aanvaar nie. Dit kan nooit die betekenis wees van “die hele Israel” wat gered word nie (11:26). Een enkele geslag iewers ver in die toekoms is nie “die hele Israel” nie, maar net een geslag.

 

Daar is Christene wat meen 11:26 volg op 11:25, in plaas daarvan dat 11:26 ‘n  verduideliking is van 11:25. 11:26 begin nie met: “en daarna” nie, maar met “en op hierdie manier.” Hier staan nie dat die hele Israel gered sal word nadat die volle getal uit die heidennasie ingegaan het nie. Daar word niks gesê oor wat sal gebeur nadat die volle getal heidene ingegaan het nie (netsoos in Lukas 21:24). Wat hier gesê word, is hoe die hele Israel gered sal word: As gevolg van Israel se verharding word die evangelie nou aan die heidene verkondig om Israel jaloers te maak. Dus terwyl die heidene tot geloof kom, moet hulle Israel jaloers maak, en só sal “die hele Israel” gered word. Hierdie proses sal aanhou totdat die volle getal uit die heidennasies ingegaan het. Daar is nie goeie rede om te aanvaar dat daar dan op daardie stadium iets anders as die wederkoms van Christus sal plaasvind nie.

 

Daar is nie sprake van ‘n ander toekoms van Israel nie as dat hulle verharding sal voortduur en net dié wat jaloers gemaak word, gered sal word.

 

Die vraag is dan natuurlik hoe dit kan beteken dat die hele Israel gered sal word? Die eintlike vraag is wie “die hele Israel” is. Dit is moontlik dat ‘n mens ‘n antwoord kry in die slotgedeelte, 11:28-32. Dit eindig met die nadruk op die herhaalde woord “almal:” God het almal (Jode én heidene) aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal (Jode én heidene) kan ontferm.”  Hierdie “almal” is die Jode en heidene saam. Elders noem Paulus die gelowiges van die Nuwe Testament ook “Israel” (Gal 6:16). “Die hele Israel” is dus nie die hele volk Israel nie maar die nuwe gestalte van die volk Israel: die volle getal gelowiges uit die Jode en die heidene.     

 

Dit alles beteken dat Paulus nie vir Israel as volk ‘n ander toekoms sien nie as dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word en dus weer deel word van die eintlike “Israel,” die gemeente van die Nuwe Testament.

 

Van ‘n aparte toekoms vir die volk Israel is daar nie in die Nuwe Testament sprake nie.

 

In watter sin is Israel as volk dan ‘n teken van die nabye wederkoms van Christus? Israel se voortdurende verharding en die feit dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word, moet ons daaraan herinner dat Christus enige oomblik weer kan kom. Van ‘n terugkeer van Israel na die staat Israel kort voor die wederkoms van Christus is daar nie sprake in die Nuwe Testament nie. Die profesieë oor die terugkeer van Israel in die Ou Testament is vervul in die terugkeer uit die ballingskap in Babel. 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




‘n Koninklike priesterdom

When leaders tap into their personal passion, they attract people with similar passions. That starts a movement.” – Andy Stanley

‘n Koninklike priesterdom

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My (Eksodus 19:5 – 6). Die hele aarde behoort aan God, maar Israel behoort aan Hom op ‘n besondere wyse. Hulle was vir God se doel afgesonder; ‘n koninkryk van priesters. ‘n Priester verteenwoordig die mense by God – hulle tree in vir die mense. Maar hulle verteenwoordig ook vir God by die mense.

 

In die Nuwe Testament kry die kerk dieselfde roeping: Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1 Petrus 2:9). Die kerk word geroep om te doen en te wees wat Israel nie kon wees en doen nie.

Ons is geroep om dissipels te maak en om die lede van die liggaam te versterk, is ‘n belangrike aspek daarvan. As jou gemeente nie aktief besig is om die omliggende ongelowige wêreld te help  om ook volgelinge van Christus te word nie, dan verstaan ons nie verlossing nie. God het vir Abraham geseën sodat deur hom al die nasies geseën kan word. Doen ons dit nie ignoreer ons God se opdrag.

God het dit aan die kerk oorgelaat om sy sending op aarde te vervul. Daarom is jou gemeente ‘n saak van lewe en dood. Kyk met deernis na die gemeenskap om jou en roep hulle om deel van God se verlossingsplan te word. Daar is ‘n rede waarom God juis nou en op hierdie plek die kerk daar geplaas het.