Is die evangelies mites en legendes?

 ”Common sense may be more common than sense. R.C. Sproul Jr.

Is die evangelies mites en legendes?

Dit is ‘n baie gewilde teorie by ongelowiges. Hulle glo dat Jesus ‘n goeie persoon en uitstaande Leermeester was. Daar is ten minste vier redes waarom die evangelies nie mites en legendes is nie:

  • Die evangelies is te kort na die gebeure geskryf. Die evangelies is 20 – 30 jaar na Jesus se dood geskryf. (Die evangelie van Johannes is later geskryf.)  Dit is te gou vir ‘n mite om die ware verhaal te vervang. Die vroeë Christene het die nagmaal gevier – nie om oor hulle Leier se dood te treur nie, maar om ‘n oorwinning te vier. Nee, hierdie Christene het van die begin af geglo dat Jesus waarlik uit die dood opgestaan het.
  • Die inhoud is te teenproduktief om ‘n legende te wees. Die apostels word voortdurend daarvan beskuldig dat hulle nie leer nie. As jy ‘n legende skryf, sou jy mos nie jouself as dwaas teken nie. Ons lees dat Jesus vir Petrus as Satan beskryf. Hy sou nooit daaroor geskryf het as Jesus dit nie gesê het nie. Die evangelies sê dat vroue die eerste mense was wat Jesus na sy opstanding gesien het. ‘n Vrou se getuienis is nie destyds aanvaar nie. As jy die waarheid van jou aanspraak wil bewys, sal jy beslis nie vroue as jou eerste getuies noem nie. Hoekom doen die skrywers dit dan? Want dit is wat gebeur het.
  • Die literêre vorm van die evangelies het te veel besonderhede vir ‘n legende. In Markus 14 is die spanning besig om op te laai. Jesus word in Getsemane gevange geneem. En dan vertel Markus vir ons van ‘n jongman wat kaal weggehardloop het. Dit lyk vir ons na onnodige besonderhede – iets wat ons nie in ‘n legende sou kry nie.
  • Die boodskap is te kosbaar om ‘n legende te wees. Die boodskap van Jesus se kruisdood en opstanding het nie enige mag of prestige vir die apostels beteken nie. Inteendeel, baie van hulle word doodgemaak vir hulle geloof. Jy gaan tog nie ‘n legende fabriseer as jy weet  dat jy ‘n pynlike en vernederende dood sal sterf nie. Waar sou Petrus wat die lewende Jesus verloën het die moed gekry het om vir ‘n dooie Jesus  te sterf?

 

Ons moenie sommer blindweg glo nie. Glo vir dieselfde rede as wat die vroeë Christene geglo het: omdat jy oortuig is die getuienis van die apostels is waar. Jesus het waarlik opgestaan en as Hy lewend is, verander dit alles.




Leer van ‘n legkaart

I was but a pen in God’s hands, and what praise is due to a pen? —Richard Baxter

Leer van ‘n legkaart

Kan die kerk iets by ‘n legkaart leer? Vir my help die bou van ‘n legkaart om geduld te leer. Maar vir die kerk?

  • Kyk eers na die groter prent. As jy die groot prent kan sien, kan jy die stukke bymekaar sit. In die kerk geld dieselfde. Die Groot Opdrag (Matteus 28:18 – 20) en die visie wat God vir die gemeente gegee het, moet die raamwerk wees van alles wat die gemeente moet doen.
  • Alle stukkies pas iewers in. Daar is geen addisionele stukkies nie. God sluit nie spaarparte in sy koninkryk in nie. Elkeen het ‘n plek om te vul. Maak nie saak hoe begaaf of onbegaaf iemand mag voorkom nie, hulle het ‘n rol om in die liggaam van Jesus Christus om te vervul. Moenie handdoek ingooi net omdat iemand anders lyk as die gewone “kerkmense” nie.
  • Soms lyk dit asof ‘n stuk nêrens gaan inpas nie, maar hy sal. God roep ons soms en ons dink maar dit pas nie. Onthou toe God vir Noag opdrag gegee het om die ark te bou? Met geen wolkie in die lug nie, het dit onsinnig gelyk … maar dit het ingepas.

 

 




Kreti en Pleti

Kreti en Pleti – Marius Nel

Alwyn vra:

Ek wil net weet of julle my kan help met die volgende vraag. Wie is die Kreti en Pleti waarvan daar gepraat word in die boek 2 Sameul en 1 Konings, veral in die tyd toe Dawid koning was?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

Die terme “Kreti en Pleti” verwys na koning Dawid se lyfwag. Die lyfwag is gewerf uit die geledere van die Filistyne. Die Filistyne was Seevolke wat vanaf die eiland Kreta na die weskus van Palestina gemigreer het rondom die draai van die milleniumwending. Hulle het hulle naam, die Phelisti, aan die land kom gee, waar ons die term Palestina van kry. En dit is waar Kreti (Kreta) en Pleti (Palestina) vandaan kom.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Jesus trek Hom terug tot paasfees (11:54-57)

Jesus trek Hom terug tot paasfees (11:54-57) – Francois Malan

11:54 Jesus kon nie langer vry in Jerusalem rond beweeg nie, omdat die Jode finaal besluit het om nie in Hom te glo nie. Hy bepaal self die tyd vir sy sterwe (Jn 10:17-18), en dit moet tydens die paasfees wees,  die fees wat Israel se uittog uit Egipte ingelei het (Eks.12). Jesus kom juis die nuwe uittog uit die slawehuis van sonde inlei tydens die paasfees, as God se paaslam vir ons geslag (1Kor 5:7).  Hy en sy dissipels vertrek uit Betanië en gaan bly in die stad Efraim naby die woestyn. Waar die stad geleë was, is vandag nie bekend nie (Josefus plaas die stad naby Bet-el in die Efraimsberge, waar Jakob die leer tot aan die hemel gesien het).

11:55 Die Jode kom van oraloor om hulle voor te berei vir die paasfees. Die voorbereiding het sewe dae geduur, waartydens bv. alle suurdeeg uit die huise verwyder is (vir suurdeeg as teken van sonde, vgl. 1 Kor 5:6-8), en die feesgangers slegs ongesuurde brood geëet het ter herdenking aan die uittog uit Egipte toe daar nie tyd was om die brood in te suur nie, en brood met suurdeeg nie sou goed hou in die woestyn se hitte nie. Na die paasfees het hulle vir nog ses dae ongesuurde brood geëet (Deutr. 16:1-8). Die Jode kom om hulle te reinig – dit gaan om seremoniële reinheid om die tempelgebied te mag betree en aan die paasmaaltyd te kan deelneem (vgl. 2 Kron. 30:17-19; Num.9:6-11 oor aanraking van ‘n lyk; Lev 15:31-33 oor seksuele reinheid).

 

11:56-57  Die optrede van die feesskare stem ooreen met die onsekerheid van die feesskare tydens die huttefees (7:12-13). Hulle was reeds bewus dat die godsdienstige leiers van plan was om Jesus gevange te neem, want hulle het opdrag gekry om te kom sê as iemand weet waar Jesus is, sodat Hy gevang kan word. Die vervolging van Jesus word nou ‘n opdrag van die Raad (priesterhoofde en Fariseërs). Die mense vermoed egter dat Jesus nie na die fees toe sal kom nie.  

 

Hierdie gedeelte vorm ‘n brug tussen die opwekking van Lasarus en die paasfees van Jesus se sterwe en opstanding.  Die nuwe en volle betekenis van die paasfees gaan in hoofstuk 12 duidelik gemaak word, waar nie van ‘n wonderteken vertel word nie, maar van  mense wat tot die eer van Jesus optree. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan