Jesus die Goeie Herder en die Seun van God (10:1-42)

Jesus die Goeie Herder en die Seun van God (10:1-42) – Francois Malan

Die hoofstuk bestaan uit twee hoofdele: (i) Jesus is die Goeie Herder, 10:1-21. Dit volg op die genesing van die blindgeborene in die tyd ná die Loofhuttefees in Oktober, met die olywe en druiwe-oes (Deutr 16:13), wat in hoofstukke 7-8 aan die orde gekom het; (ii) Jesus se optrede  by die fees van die tempelwyding, wat twee maande na die Loofhuttefees gevier is (10:22-42).

Die voorbeeld van die skaapkraal en die herders (10:1-6)

10:1 Dit is die enigste keer in hierdie Evangelie dat ‘n gesprek begin met ‘n plegtige formule: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle’.  Gewoonlik volg dié formule nadat die gesprek al aan die gang gekom het. Dit wek die vermoede dat die hoofstuk aansluit by die vorige gesprek met die Fariseërs oor die Goeie Herder, hoewel Jesus Hom hier tot sy volgelinge rig. Hulle is die skape wat in Jesus se kraal beskut en versorg word. Die ‘dief en rower’ word eerste genoem. Na die gesprek met die godsdienstige leiers in 9:40-41, is dit waarskynlik ‘n verwysing na hulle as valse herders waaraan  die volk van God blootgestel is, en wat sy skape weglei van God af, en dit met geweld doen (vgl. Esegiël 34:1-6).  

            Die skaapkraal waarvan hier sprake is, was ‘n kraal met ‘n muur om (‘n grondwal of ‘n steenmuur volgens die stad se rykdom), naby die stad, waar die verskillende kuddes van die stadjie snags geslaap het, met een van die wagters by die ingang as poortwagter vir die nag.

 

10:2-3 Teenoor die rowers staan die herder van elke troppie. Die hekwagter ken elke herder; die skape ken ook die stem van hulle herder, volg hom, en so lei die herder sy kuddetjie uit vir die dag. Daar is ‘n persoonlike band tussen die herder en die poortwagter wat hom ken en vertrou, en tussen die herder en sy skape wat hom ken en vertrou. So gaan God ook met mense om in ‘n vertrouensverhouding.

 

10:4-5 In die Ooste was dit gebruik dat die herder voor sy klein troppie skape loop en hulle hom en sy stem volg. Maar ‘n vreemde praat verniet met hulle. Hulle ken nie sy stem nie. Die slagter jaag die skape aan, maar die herder loop voor.

 

10:6 Johannes noem die prentjie wat Jesus hier van die herder en die skape geskets het beeldspraak (die drie ander Evangelies gelykenis’). Die toneel van die skaapkraal verbeeld iets van die gebeure in hoofstuk 9. Die behandeling wat die blinde deur die ‘siende’ Jode, wat hom uitban uit die sinagoge, kwalifiseer hulle as diewe en rowers, vreemdes, terwyl die blinde vir Jesus herken en Hom volg. Jesus se volgelinge verstaan ook nie die beeldspraak nie, daarom verduidelik Hy die beeldspraak in die volgende gedeeltes oor die poortwagter (7-10) en die herder (11-18).

 

Jesus as die poort (10:7-10)

10:7-8 Met beklemtoning bevestig Jesus ‘voorwaar, voorwaar, sê Ek vir julle: Ek is die poort vir die skape (vgl. Ps 118:19,20 die tempelpoort na die Here toe waardeur die regverdiges, mense wie se verhouding met God reggemaak is, mag deurgaan). Hy is die ‘weg…niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie’ (Jn 14:6). Die valse messiasse in die Jodedom, die verlosser-gode van die heidene, die Fariseërs wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle die sleutels van die koninkryk van God het (Mat.23:13),  van almal wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle middelaars van verlossing is, sê Jesus dat hulle diewe en rowers is. Hulle belas die volk en verryk hulleself (vgl. Lk 16:14 oor die Fariseërs se liefde vir geld; Mat 7:15 oor die valse profete as verskeurende wolwe).

 

10:9 Soos die skape saans deur die poort die veiligheid van die skaapkraal ingaan, so is Jesus en sy sterwe die poort na verlossing van  sonde en die bedreigings van die duiwel; soos die skape soggens uitgaan agter hulle eie herder aan  weiding toe, so gaan Jesus se volgelinge agter hulle opgestane Here aan om in sy vreugdevolle ewige lewe van oorwinning te deel.

 

10:10  Terwyl die ‘dief’ selfsugtig en met brutale geweld die mense tot ondergang lei, lei Jesus sy volgelinge met selfoorgawe en liefderyke sorg na ‘n ryk en volle lewe van liefdesdiens aan God in ons arbeid en aan mense. Die dief soek net sy eie belang , en ‘kom net steel en slag en uitroei.’ In die hande van die dief kan die skaap nie op versorging hoop nie, selfs nie op die behoud van sy eie lewe nie. Aangesien Jesus met die ‘dief’ hier na die Joodse godsdienstige leiers verwys, sê Jesus eintlik dat  hulle die volk tot ondergang lei, weg van God af. Daarteenoor het Jesus gekom sodat die sondaar ‘lewe’ kan hê, deel word van die ewige lewe. Die ewige lewe begin nou reeds vir die kinders van God. Die nuwe soort lewe van selfopofferende liefdesdiens gee Jesus in oorvloed aan sy volgelinge; Joh 1:16 ‘uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang’ om sy genade ook in liefde uit te deel aan ander. Die dief ontneem deur sy koms, Christus gee (vgl. Mark 10:45; Hand 20:35).  

 

Skrywer: Prof  Francois Malan

 




Hoekom moes God kwartels voorsien?

Hoekom moes God kwartels voorsien? – Marius Nel

Jan Smith vra:

In Levitikus word daar melding gemaak van verskillende offers bv die spysoffer, dankoffer, sondoffer en skuldoffer. Omtrent almal vereis dat daar ‘n dier doodgemaak moet word. Toe Salomo die tempel ingewy het was daar ook derduisende stuks vee en beeste geslag waarvan sekere dele geoffer moes word. Daar moes ook deur die Hoëpriester een maal per jaar bloed op die versoendeksel gegiet word. Vrae: As die Israeliete in die woestyn so baie vee gehad het hoekom het hulle na vleis gesmag en het God kwartels voorsien? Het die mense die res van die geslagte vee geëet? Hoe is die bloed op die versoendeksel skoongemaak nadat daar jaar na jaar nuwe bloed op die ou bloed gegiet is?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

Die eerste vraag – hoekom Israel na vleis smag terwyl hulle in die woestyn baie vee gehad het – stuit voor die probleem dat ons nie weet hoeveel vee die slawe besit het waarmee hulle uit Egipte getrek het nie. Daar bestaan geen dokumentêre bewyse wat hierna verwys nie. Wat die Hebreeuse slawe se sosiale, ekonomiese en politieke situasie en beregting in Egipte was, is vir ons onbekend. Dis heel moontlik dat hulle vee gehad het, maar verseker nie so veel nie. En die wildernis waardeur hulle getrek het, het ook nie voorsiening vir groot troppe grootvee gemaak nie; dis ‘n wêreld waar bokke hoofsaaklik voorkom waarmee kleinboere boer. Daarom is dit waarskynlik so dat die groot klomp mense heel gou na vleis sou begin smag.

 

Die antwoord op die tweede vraag – hoe die bloed van die verbondskis skoongemaak is – is ook onbekend omdat daar nie enigiets daaroor geskryf is nie. Onthou ook dat die verbondskis met die Babiloniese wegvoering in vergetelheid verdwyn het. Ek kan my egter indink dat bloed wat een maal ‘n jaar daaroor gesprinkel word, in die loop van die jaar sou verdroog en haas vergaan.

 

Skrywer: Prof Marius Nel.

 




Laat sy liefde jou lei: Om jou sê te sê!

Laat sy liefde jou lei: Om jou sê te sê! – Milanie Vosloo

Tog sê Miga: “Ek voel dat die Here se Gees in my lewe is. Hy gee my baie krag. Ek het ook ‘n gevoel vir wat reg en verkeerd is. Miga 3:8a

Die Gees het ’n wonderbaarlike manier om met mense se praat. Wanneer ons hart daarop ingestel is om werklik te hoor wat Hy sê, openbaar Hy sy wysheid en insig aan ons presies wanneer, waar en hoe ons dit nodig het. Dan ontvang ons sy heilige waarheid wat ons in staat stel die onmoontlike te doen.

 

Ja, en soms mag dit ook gebeur dat die Gees van jou verwag om vir Hom op te staan. Wanneer dinge teen God se wil gesê of gedoen word of wanneer iemand Hom oneer aandoen, is dit my en jou plig om daadwerklik vir Hom standpunt in te neem. En dis verseker nie altyd maklik nie! Tog sal dit altyd die moeite werd wees! Selfs wanneer ons dalk tydelik daaroor benadeel sou word, sal God ons op sý manier met goedheid en seёn oorlaai. Daarom moet ons elke dag bid dat ons Vader aan ons die insig, moed en dapperheid sal gee om sy belange áltyd voor op te stel.

 

As die Gees dalk vir jou fluister om vir Hom op te staan, kan jy soos Miga sê: ”Verder is ek nie bang om vir die mense van Juda en Israel te sê wat hulle verkeerd doen nie en waarvan die Here nie hou nie.” (Miga 3:8b)

 

Vader, vandag gaan ek sê en doen wat U my vra.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Kan ons iets leer by die paasfees?

He who begins by seeking God within himself may end by confusing himself with God. —B.B. Warfield

Kan ons iets leer by die paasfees?

Om ‘n maaltyd/tafel met iemand te deel, was die intiemste ding wat die mense van die Ou Testament kon doen. Dit is ‘n teken van aanvaarding en vriendskap. Maar dit was toe … wat van nou?

 

Na die die volk van die Here uit Egipte getrek het, gee die Here aan Moses en Aäron voorskrifte in verband met die paasfees (Eksodus 12:41 – 51). Die paasfees moes die Israeliete herinner aan God se beskerming en verlossing uit Egipte. Dit was eintlik die verlossing uit Egipte wat Israel in ‘n funksionele volk saamgesnoer het.

Leer ons iets uit hierdie voorskrifte wat God aan Israel gegee het oor die paasfees?

  • Dit was ‘n korporatiewe oefening – die hele volk moes jaarliks op ‘n spesifieke dag die paasfees vier. Saam moet hulle terugdink aan wat God gedoen het.
  • Gesinne is betrokke: Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit bedoel is.
  • Deelname aan die paasfees bevestig die persoon se verbintenis en lojaliteit aan die God van Israel. Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier. Ons lees ook: Geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie tensy hulle eers besny word.
  • Die hele volk moet hierdie fees jaarliks vier – dit herinner hulle aan wat God vir hulle gedoen het. Dit is duidelik dat bevryding meer as ‘n individuele gebeurtenis is.

Paasfees is ‘n fees vir mense wat ‘n verbondsverhouding met God vier.  Deelname sê dat jy deel is van God se mense en aan die God wat aan die hoof van daardie gemeenskap staan.

Het ons nie deel van hierdie korporatiewe en gesinsdimensies van paasfees in die nagmaal verloor nie?