Verstand benewel of toor – Hermie van Zyl

Willie vra:

In Galasiërs 3:1 gebruik Paulus die woord “toor” ( NLV) . In die 1983 vertaling praat hy van “verstand benewel” maar ek dink die Grieks verwys ook na toor . Hoekom sou hy die woord “toor” gebruik ?

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Galasiers 3:1.

“Toor” is inderdaad die beste vertaalekwivalent om hier te gebruik – so die NLV, die nuwe Afrikaanse Direkte vertaling (BSA) en Afrikaanse Standaard Vertaling (CUM). Dit klink taamlik erg om ‘n Christelike gehoor so “by te kom”, maar Paulus is in Galasiërs besig om sy gehoor met ‘n hele paar retoriese strategieë te oortuig dat die sogenaamde evangelie wat hulle tans aanhang (om weer terug te verlang na die sekerheid van Joodse wet, 1:6-7; 2:15-16; 3:2-3) geen evangelie is nie, in elk geval nie die evangelie is wat hy aan hulle verkondig het nie. Daarom noem Paulus die Galasiërs in 3:1 ook “dwase”, nóg ‘n sterk uitdrukking om die pad wat hulle tans bewandel as ‘n weg te beskrywe wat tot vernietiging van die evangelie sal lei.

Wat hy verder doen in die gedeelte (3:1-5) is om die Galasiërs se eie ervaring van die evangelie wat hy aan hulle gebring het (Christus aan die kruis, 3:1; ontvangs van die Heilige Gees, 3:2,5; wonders beleef, 3:5) as argument in te span vir die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Hulle het al hierdie dinge beleef sonder om die wet van Moses te onderhou. Watter bewyse wil hulle nog verder hê? Hulle eie ervaring kla hulle aan van dwaasheid.

In die lig hiervan is dit verstaanbaar dat hy hulle “dwaas” noem én dat hulle “getoor” is. Uiteraard gebruik hy laasgenoemde term metafories, maar nogtans is dit ‘n term uit die donker wêreld van heksery en towery, waar mense probeer het om ander in hulle mag te kry d m v swart magie, d w s, toorkuns waarby die duiwel betrokke is. In ons tyd sou ons dit selfs met satanisme in verband kon bring. Paulus suggereer dus dat die Judaïseerders in die gemeente (leraars wat die gemeente weer onder die wet van Moses wou indwing) vanuit hierdie agtergrond met die gemeente se “koppe smokkel”. Deur die leraars van toordery te beskuldig stel hy hulle dus in die swakste lig denkbaar om die gemeente terug te skok tot die waarheid van die evangelie.

Saamgevat: Met die retoriese tegnieke deur die lesers se eie ervaring van die evangelie teen hulle te gebruik, en om die teenstanders van die evangelie swart te smeer en met towery te assosieer, probeer Paulus sy lesers weer oortuig van die egtheid en waarheid van sy wetsvrye evangelie.

 

Prof Hermie van Zyl




Hoe oud is die aarde – Marius Nel

Johan vra:

Wil graag weet hoe oud die skepping werklik is as ons na die wetenskap kyk , of is die aarde regtig in ses dae (ons dag) geskape ?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Die Bybel bied nêrens ‘n antwoord oor die ouderdom van die aarde nie.  Onthou, die Bybel bevat verkondiging oor God wat Hom aan mense openbaar en gee nie voor om ‘n wetenskaplike of historiese handboek te wees nie. Die Bybel noem ook nie dat die aarde sesduisend jaar oud is nie.  Wat belangrik is, is dat ons die Bybel gebruik waarvoor die Here bedoel het, om Hom te ontmoet en in ons kennis van Hom te groei. En stel ons belang in sy skepping, steek ons kers op by die wetenskap.

Skrywer:  Prof Marius Nel




Ou Apostel Kerk – Vraag oor Doop? – Hermie van Zyl

‘n Leser vra,

My dogter is getroud met n man wat aan die Ou Apostle kerk behoort. Hulle is in ons kerk NG getroud . Ons kleindogter is gedoop in hulle kerk maar my dogter moes eers hulle Geloof en kerk aanvaar, ingesweer en ge her-doop word voordat ons kleinkind gedoop kon word. As n NG lidmaat het ek n geweldige innerlike stryd hiermee. Hoekom is my Gees so onrustig en voel dit net heeltemaal verkeerd?

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord

Self het ek ongelukkig geen eerstehandse ervaring of besondere kennis van die Ou Apostel Kerk (OAK) nie, maar ek sien dat daar reeds ’n stuk oor die OAK op die webblad van Bybelkennis verskyn het, geskryf deur prof Pieter Verster van die Universiteit van die Vrystaat.  (Skakel na artikel) . Die vraesteller kan dit gerus lees. In die stuk is daar ook ’n skakel na Wikipedia wat verdere waardevolle inligting oor die OAK gee. Die vraesteller kan dit ook opvolg.

 Nadat ek self bg stukke deurgelees het, is dit vir my duidelik dat daar drie kommerwekkende aspekte van die OAK is:

  1. Hulle leer dat die apostelamp van die Nuwe Testament vandag voortgesit word. Hiermee verkry die apostels in die OAK ’n mag en status wat buite verhouding is tot die beperkte insig waaroor ons as mense beskik, selfs al het ons ’n teologiese opleiding en selfs al staan ons in ’n besondere amp in die Kerk. Selfs die apostels in die Nuwe Testament het mekaar tereggewys (Paulus vir Sefas/Petrus: Gal 2:11-14). Verder, die apostelamp in die NT was ’n eenmalige amp vir die vestiging van die kerk en het na die dood van die apostels opgehou om te bestaan. Trouens, wat ons in die NT het, is juis die neerslag van die apostels se insigte, lering en geskrifte. Al wat ons vandag kan doen, is om daardie insigte te bestudeer, dit ons eie te maak, dit te verkondig, mekaar daaraan te herinner en dit sáám uit te leef. Maar juis daarom kan daar nie eietydse “apostels” wees wie se woord sonder teenspraak aanvaar moet word nie. Die enigste “apostels” wat daar vandag is, is die NT en OT, d w s, die Bybel.
  2. Juis vanweë die OAK se siening van die voortsetting van die apostelamp, beskou die OAK homself as die enigste Kerk wat die weg tot saligheid bewandel en kan aanwys. Hulle het daarom geen ekumeniese bande met ander Kerke nie. Dit is uiters kommerwekkend, want Christene het mekaar nodig. Sáám moet ons besin oor die waarheid van die evangelie vir vandag. Dit was nog altyd so dat wanneer ’n Kerk hom van ander distansieer en afskei en as uitgangspunt aanvaar om geen skakeling met enige ander Kerk te hê nie, allerlei skeeftrekkings van die evangelie ontstaan wat tot groot nadeel van die lidmate se geestelike heil kan wees.
  3. Die OAK aanvaar nie dat die Bybel veel historiese waarde het nie. Alles moet dus allegories verstaan word, d w s vergeestelik word. Nou, dit is wel so dat bepaalde historiese sake in die Bybel soms om spesiale interpretasie vra, maar dit  beteken nie dat die historiese as beginsel bevraagteken kan word nie. Dan word die hele evangelie op losse skroewe gestel. Die Christendom is juis ’n historiese godsdiens, bedoelende: ons glo dat God sy openbaring in die geskiedenis en deur besondere gebeure en mense bekendgemaak het. Sonder hierdie erkenning en belydenis vervlugtig die Christelike boodskap tot ’n filosofie en kan enigiets in die Bybel verdraai word om omtrent enigiets te beteken.

Ten spyte van bogenoemde besware is daar heelwat sake waarmee mens kan saamstem in die OAK se geloofsbelydenis, soos wat prof Verster ook uitwys.

Ek vertrou dat die vraesteller hiermee voldoende ingelig is om te weet waaroor dit in die OAK gaan.

Skrywer:   Prof Hermie van Zyl




Jona en Johannes; Josef en Joses – Francois Malan

Wollie vra:

Dit wil egter voorkom asof daar “moontlikke” verkeerde vertalings met die Bybel plaasgevind het, asgevolg van tale.

Dit laat my nog steeds met n onduidelikheid oor wie dus die werklikke Vader van Simon was. Johannes of Jona.

Ek sal graag ook die volgende verklaring wil weet.

Markus 15 vers 47 “volgens die 33 vertaling” word daar genoem dat Maria die moeder van Joses was.

Markus 16 vers 1 word daar genome dat Maria die moeder van Jacobus was.

Was Jacobus en Joses broeres of is dit n ander Maria.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

Johannes of Jona.

Jona is die Hebreeuse naam (bv. ook van die profeet tydens Jerobeam II se tyd, 784-753 v.C., 2 Konings 14:25. Jona is ook die Hebreeuse word vir ‘duif’).

Johannes is die Griekse weergawe van Jona in die Nuwe Testament, wat in Afrikaans gevolg word. Die Engelse weergawe van die Griekse Johannes is John.

 

Jakobus en Joses

(NB die Afrikaanse vertalings spel almal die naam Jakobus met ‘n ‘k’ soos in Grieks)

In Markus 15:40 word onder die vroue wat van ver af die kruisiging dopgehou het enkeles genoem. Die tweede Maria word genoem ‘die moeder van Jakobus die kleine (of: die jonge Jakobus) en Joses.’

Matteus, wat ná Markus geskryf is, en baie uit Markus oorgeneem het, noem haar volgens die oudste manuskripte in 27:56 Maria die moeder van Jakobus en Josef – soos in die 1983 vertaling. Die 1933 vertaling het dit verander na Maria die moeder van Jakobus en Joses, om by Markus te pas.

(Johannes 19:25 noem die vroue by die kruis: ‘sy moeder en die suster van sy moeder, Maria van Klopas, en Maria Magdalena’ – dis is onwaarskynlik dat Jesus se moeder se suster se naam ook Maria sou wees, en daarom is die Maria van Klopas nie die naam van Maria se suster nie, en is Maria van Klopas waarskynlik die derde van die vier vroue wat Johannes noem.

Die suster van sy moeder is waarskynlik Salome wat in Markus 15:40 en 16:1 genoem word. Sy was miskien die vrou van Sedebeus en die ma van Jakobus en Johannes na wie in Matteus 20:20 verwys word. )

Markus 15:47 se ‘Maria die moeder van Joses,’ en Markus 16:1 se ‘Maria die moeder/ma van Jakobus’ kan waarskynlik aandui dat Jakobus en Joses haar twee kinders was omdat Markus 27:56 haar noem: Maria die moeder van Jakobus en Josef. Maar wie sy of Jakobus of Josef/Joses was, weet ons nie verder nie.

(Lukas 24:10 noem die volgende vroue by die graf: Maria Magdalena en Johanna en Maria van Jakobus en die ander saam met hulle. In die lig van Markus moet die ‘van Jakobus’ beskou word as ‘die moeder van Jakobus’ en nie ‘die vrou van Jakobus’ nie).

Die Evangelies is lank na Jesus se dood geskryf op grond van mondelinge oorleweringe, en kon sulke verskille soos bv. Josef of Joses maklik ingekom het. Die kerklike tradisie wat die geskiedskrywer Eusebius na 310 n.C. neergeskryf het, vertel bv. dat die gemeente in Rome by Markus, as volgeling van Petrus, in die tyd van keiser Claudius (41-54 n.C.), aangedring het om die lering wat hulle van Petrus mondelings ontvang het op skrif te stel, en dat dit eventueel die Evangelie van Markus geword het wat deur die ander gemeentes aanvaar is. Jesus is ongeveer die jaar 30 n.C. gekruisig. Matteus, wat vir die gemeentes in Palestina en Sirië geskryf is, en Lukas, wat Asië en Griekeland waarskynlik op die oog gehad het, is albei waarskynlik rondom die jare 70 n.C. geskryf is, het o.a. gebruik gemaak van Markus se Evangelie. Johannes se Evangelie is eers tussen 90-95 n.C. geskryf met ou mondelinge oorleweringe wat daarin opgeneem is.

Totdat boekdrukkuns tussen 1440-1450 uitgevind is, is alle boeke met die hand oorgeskryf. Ons het geen oorspronklike geskrif in die Bybel nie, maar die Bybel is opgestel uit afskrifte wat deur die eeue afgeskryf is op Papirus (van plantmateriaal gemaak) en die meer duursame materiaal, Perkamente (van velle gemaak; vgl. 2 Timoteus 4:13).

 

Skrywer:  Prof: Francois Malan