Voorbodes

Voorbodes – Francois Malan

’n Leser vra:

Dit gaan nou baie snaaks klink, maar ek moet dringend met iemand praat oor voorbodes. Dit het weer gister gebeur met my en ek verstaan dit nie. Ek wonder of dit nie my verbeelding is nie, maar ek dink nie so nie. Ek is reeds deur ’n mediese dokter as “anders” geklassifiseer. Ek wil verkieslik nie met sielkundiges praat nie, maar met ‘’n professor in Bybelkunde.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Voorbodes is voortekens, dikwels van bonatuurlike aard, onverklaarbare boodskappe dat iets gaan gebeur, meestal iets slegs wat gaan gebeur. Daar is mense wat voorbodes kry en daaronder ly omdat hulle gewoonlik nie iets daaraan kan doen nie, en maar net moet wag om te sien wanneer dit gebeur. En sommige voorbodes gebeur eers na jare.

 

Voorgevoel is ‘n gevoel of ‘n ingewing dat iets gaan gebeur. Daar is baie mense wat voorgevoelens kry, en gewoonlik kan hulle dan daarop voorbereid wees of daarvolgens optree.

 

Die meeste mense kry nie voorbodes of voorgevoelens nie, en lewe volgens beplanning of besluite, en wanneer dit nie kan uitwerk nie, aanvaar hulle dat dit nie die pad is wat gevolg moet word nie, of wag hulle vir ‘n beter geleentheid om dit uit te voer.

Volgens Matteus 2:1-2 het sterrekenners uit die Ooste ‘n ster in die Ooste gesien en na Jerusalem gekom om aan die nuwe koning wat gebore is, eer te bewys. So het hulle die teken in die sterrehemel geïnterpreteer.  In die jaar 7 v.C. was daar drie maal ‘n konjunksie van Saturnus (die ster van Israel) en Jupiter (die koningsster) wat hulle moontlik laat besluit het om na Hom toe te kom (Ons jaartelling is ‘n paar jaar uit. Herodes wat die seuntjies in Betlehem laat doodmaak het om die nuwe koning uit te wis, is bv. al in 4 v.C. dood).

 

Die profete van die Ou Testament het gesigte gesien oor die toestand en toekoms van die volk Isael.

Joël verwys na ‘n sprinkaanplaag en ‘n droogte, en sien in hierdie natuurrampe  ‘n teken  van die aanbreek van die laaste dae wanneer God dié sal oordeel wat teen Hom in opstand is.

Esegiël het ‘n hele aantal gesigte gesien, o.a. die vallei vol doodsbene wat weer lewendig geword het, as teken van die moedeloosheid van die volk in ballingskap, en dat die Here sy Gees in hulle sal blaas en weer lewendig maak as teken van hulle terugkeer na Jerusalem uit die ballingskap in Babel, en hulle terugkeer na die Here toe (Eseg. 37).

Daniël het ‘n hele aantal gesigte gesien, in sy drome in die nag  (Daniël  7:1), as visoene in die dag (8:1vv), teen die tyd van die aandoffer het ‘n engel aan hom verskyn (9:21), hy het ‘n openbaring gehad wat moeilik was om te verstaan en het ‘n visioen gekry om dit te verduidelik (10:1).

Die boek Openbaring is vol gesigte wat Johannes gesien het.

 

Maar daar is ook ‘n probleem met gesigte en voorbodes:  kom dit van God af of van die duiwel?

Deuteronomium 13:1-4 waarsku teen ‘n profeet of iemand wat drome uitlê en mense met tekens en wonders wat uitkom oorhaal om ander gode te dien. ‘Die Here jou God stel jou net op die proef om vas te stel of jy Hom liefhet met hart en siel. Jy moet getrou bly aan die Here jou God en Hom eer, jy moet sy gebooie gehoorsaam en na sy bevele luister, jy moet Hom dien en aanhang.’   

Jesus het sy dissipels gewaarsku:  ‘vals christusse en vals profete sal na vore tree en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei’ (Matteus 24:24).

 

In Johannes 14:16 belowe Jesus dat die Vader  die Heilige Gees van die waarheid  aan ons sal gee sodat Hy vir ewig by ons kan wees.  Paulus sê die Heilig Gees kom woon in ons (Romeine 8:9,11) om ons as kinders van God te lei, om saam met Christus te ly en verheerlik te word (Rom 8:14-17). In Johannes 16:7-8 het Jesus belowe dat Hy ná sy hemelvaart die Heilige Gees na ons toe sal stuur om die wêreld te oortuig van sonde en van geregtigheid (deurdat Christus ons verhouding met God reggemaak het)  en van oordeel (vir dié wat nie in Christus glo nie; vgl. Johannes 3:36). 

 

Die Heilige Gees oortuig ons met die Woord van God om in Jesus te glo as ons Verlosser en die Here oor ons lewe. Die Gees van God woon in elkeen wat tot geloof in Jesus gekom het. Hy lei ons daagliks in ons besluite en ervarings. Hy sal jou ook lei in verband met die voorbodes wat jy kry. Hy is die Gees van die waarheid wat jou sal leer om te onderskei tussen ware en valse voorbodes.  Daarom kan jy Hom in gebed vra om jou te lei om te onderskei tussen die goeie en die slegte, en om jou lewe te rig op Jesus as die Leidsman van jou lewe, wat jou lei deur sy Woord en Gees.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die wapenrusting van God

Die wapenrusting van God – Francois Malan

Thea vra:

Ek het graad 8 en 9’s in my sondagskoolklas en wil graag ‘n paar lesse doen oor die wapenuitrusting van God. Watter Bybelkarakters kan ek gebruik as voorbeelde en hoe sou ek hulle situasies gebruik?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

In Efesiërs 6:10-18 som Paulus alles op wat hy in die brief gesê het en  gebruik hy die voorbeeld van die Romeinse soldaat se oorlogsuitrusting om te verduidelik wat alles nodig is vir ‘n Christen om in die wêreld te lewe waar ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, (en selfs) teen die bose geeste in die hemelruim. Die volle wapenrusring van God, wat ons moet opneem om weerstand te kan bied teen onheil en volhardend staande kan bly, behels die volgende:

1Die Romeinse soldaat het ‘n leer skort om sy heupe vasgebind wat sy onderste binnegoed tot ‘n ent bokant die knie teen ‘n spies of ‘n swaard beskerm het. Die Christen moet hom/haar met die waarheid omgord. Die waarheid van God is aan hulle verkondig (Ef 1:13); dit is die waarheid wat in Jesus is (Ef 4:21); gelowiges lewe in die waarheid (Ef 5:8,9), het die valsheid afgelê en praat die waarheid (Ef 4:25), sodat die duiwel se misleiding hulle nie onder die beld kan slaan nie. Dit beteken dat jy ‘n gelowige moet kan vertrou en ook op sy woord kan staatmaak; dat ons steeds die waarheid met mekaar sal praat en leuens sal vermy. Die waarheid van God se woord moet ons bestudeer en ken, en daarvolgens lewe.

2  Om sy bors het die Romeinse soldaat ‘n ysterplaat gedra om sy hart en longe te beskerm. Die Christen moet sy hart beskerm met geregtigheid. Deur reg te lewe, volgens die wil van God deur mekaar lief te hê (Ef 3:17-19; 4:24; 5:9; 6:1) en regverdig teenoor jou medemens op te tree, beskerm jy jou lewe teen die aanslae van die duiwel wat jou in die sonde wil terugtrek (hy is die vader van die leuen Johannes 8:44).

3 Die skoene van die Romeinse soldaat verwys na sy lus en gereedheid vir alsie.So moet  gelowiges gereed wees vir die stryd teen die duiwel en sy magte. Die stryd word egter geveg  met vrede! Christus is ons vrede (Ef 2:14). Hy bring vrede tussen Jood en nie-Jood, en bring hulle saam om in vrede met God te lewe (Ef 2:15-16). Daarom moet ons in vrede met mekaar saamleef in die kerk (4:3) en verkondigers van die blye boodskap van vrede wees. Met vrede sal ons die duiwel se pogings fnuik om onmin en stryd tussen mense en tussen God en sy kinders te saai. Vir wat alles nodig is om die vrede te handhaaf, vgl. Ef 4:2-3.

4 Die groot Romeinse skild was 4 voet hoog (1,2 meter) x 2,5 voet breed  (0.76 meter), om die hele liggaam te bedek. Die houtraam was met beesvel oorgetrek, wat in water gedoop is teen brandende pyle wat in pik gedoop en aangesteek word voordat hulle afgeskiet word. Teenoor die vorige wapens wat aangetrek word, word die skild in die hand vasgehou. Die vurige pyle wat die Bose afskiet omvat alle soorte onreinheid (Ef 2:3; 4:19,29; 5:3-5,11,12,18), liefdeloosheid (Ef 2:14; 4:26,31), valse lering (Ef 4:14,25; 5:6), vervolging (Ef 1:21), twyfel, wanhoop (Ef 2:12) waarmee die gelowiges aangeval word. Dit alles sal ons kan afgeweer deur die geloof, naamlik ons vertroue op Christus (Ef 3:12) wat in ons woon (Ef 3:17) met  die volle geestelike krag van God (Ef 1:19).

5 ‘Neem aan’ uit God se hand. Met die groot skild in die een hand ontvang die Romeinse soldaat eers sy helm en sit dit op sy kop, ontvang die swaard, en daarna is sy twee hande vol. Die brons helm wat tot oor die wange verleng is, beskerm sy kop en gesig. Uit God se groot genadehand ontvang die gelowige verlossing van sy sonde as ‘n onverdiende gawe (Ef 1:6,7; 2:5,8,9). Ons is klaar verlos. Die finale dag van verlossing kom nog (Ef 4:30). Maar die vaste wete dat ons deur Christus verlos is, bewaar ons teen die duiwel se aanklagte wat ons kop wil omkrap en ons denke verduister  (Ef 4:17,18; 5:15).

6 God gee ons sy woord, die evangelie, as die swaard waarmee ons aanval. Die kort swaard van die Romeine is gebruik vir hand tot hand gevegte. Die evangelie waarmee Christus ons gereinig en verlos het (Ef 5:26; 1:13) moet ons verder dra, aan ander die goeie nuus oordra. Die Gees gebruik ons getuienis om mense te oortuig, en so beroof ons die bose magte van hulle volgelinge en hulle krag.

7 ‘Praat ten alle tye met God in die Gees met alle gebede en versoeke’ – Solank as wat ons lewenstryd voortgaan moet ons voortdurend in gesprek met God wees, en voorbidding vir ander mense doen. So was Paulus in gesprek met God in die twee lofprysings (Ef 1:3-14 en 3:20-21) en die twee voorbede vir die gemeentes (Ef 1:15-19 en 3:14-19). Die gesprek met God word gedra deur die Heilige Gees wat ons daarin lei. Hy is besig om deur ons te werk om saam te bou aan die huis waar God woon (Ef 2:22). Deur Hom het ons almal voortdurend vrye toegang tot die Vader (Ef 2:18). Hy kom ons toerus met die volheid van God se wapens vir die lewe en die stryd (Ef 5:18; 3:19; 6:14-17).

8 ‘met die oog daarop moet julle met alle volharding waaksaam bly en voorbidding doen vir al die gelowiges’. Vroeër was hulle geestelike dood en aan die slaap in die duisternis van die sonde, maar nou het hulle wakker geword en lewe as lig (Ef 2:5;5:8,14). Daarmee moet hulle altyd voortgaan met intense toewyding ten spyte van moeilikhede (dit is die krag van die woord ‘volharding’). Soos ‘n soldaat nie alleen in ‘n geveg kan ingaan nie, ‘n rugbyspeler nie op sy eie kan speel nie, so is die geestelike stryd ‘n spanpoging waar alle gelowiges in liefde saamwerk. Daarom moet ons altyd vir al die gelowiges intree by God.

‘n Voorbeeld van die waarheid, vgl. Josef se optrede in Gen 39; veral vers 9.

‘n Voorbeeld van geregtigheid, vgl. Abraham (Gen 12, 13,15,17; Romeine 4:3)

‘n Voorbeeld van gereedheid vir diens,vgl. Jesaja, veral Jes 6:8 (vgl. Maria in Lukas 1:38)  

Vir voorbeelde van geloofshelde, vgl. die lys in Hebreërs 11.

‘n Voorbeeld vir verlossing, vgl. Paulus (1 Kor 15:8-10)

‘n Voorbeeld van gebruik van die woord van God, vgl. Jesus teen die versoekings van die duiwel, in Matteus 4:1-11. 

‘n Voorbeeld van gebed, vgl. Daniël  6:11.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Is alle voedsel rein?

Is alle voedsel rein? – Marius Nel

Martie vra:

In Levitikus 11 het God gesê daar is diere wat mens nie mag eet nie, wat onrein is, maar in Romeine 14:20 “Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir ’n mens om te eet as dit tot aanstoot is.” Sê die Skrif alles is wel rein? Kan u my dalk dit verduidelik asb?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

Martie

 

Die Ou-Testamentiese verbond wat God met die mens gesluit het, het ingesluit dat die mens sekere offers moet bring – offers om skuld voor God te versoen (skuld- en soenoffers), en om dank en lof aan God uit te druk (dank- en lofoffers). Wat belangrik was, was dat die mens in die regte verhouding met God moes bly. En ‘n mens het dit gedoen deur sonde te vermy en rein te bly. Jy het rein gebly deur die voorskrifte van God na te kom.

 

Deel van God se voorskrifte was dat die mens slegs sekere diere mag eet, en dan ook slegs van dié diere offers aan Hom mag bring. Dit is die rein diere, teenoor die onrein diere wat ‘n mens onrein voor God maak.

 

In die Nuwe-Testamentiese bedeling het God voorsiening gemaak dat die mens nie deur offers na Hom kom nie. Jesus Christus het die finale offer gebring, vir eens en vir altyd asook vir alle mense.

 

Hy maak ons rein in God se oë. Of, om dit anders te stel, ons is in Hom en wanneer ons voor God kom staan, sien Hy eers sy Seun raak. En wanneer Hy dan ons raaksien, is daar reeds ‘n glimlag op sy gesig omdat sy Seun Hom behaag.

 

Daarom redeneer Paulus dat ons rein is en dat niks ons weer onrein kan maak nie, behalwe as ons soos ‘n vark teruggaan na die modder waarin ons vantevore gerol het (wat na ons sonde verwys waartoe ons geneig was voor ons Christus ontmoet het).

 

Ons probeer nie God behaag deur wat ons doen nie. Christus het Hom klaar behaag. Ons buig nou in dankbaarheid voor Christus, erken Hom as ons Here en lewe vir Hom.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 




Met geeste beset

Met geeste beset – Francois Malan

Lynette vra;

[Hierdie is ’n opvolg vraag op: Kan Satan ’n gedagte plant]

Baie dankie vir die antwoord. My volgende vraag: hoe kan ons beset word deur bose geeste sodat dit in die Naam van Jesus uitgedryf word?”

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

1     Beset deur bose geeste

Openbaring 12:9 noem die name van die leier van die bose: die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel (teenstander) en Satan (aanklaer) genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld (Jesus sê hy was van die begin af ‘n mensmoordenaar en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy ‘n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan; Johannes 8:44).  Hy is saam met sy engele uit die hemel op die aarde neergegooi. Openbaring 12:12,17-18 vertel hoe hy woedend op die strand gaan staan het en sy trawante geroep het om hom te kom help, nl. die dier uit die see (13:1) en die dier uit die aarde (13:11).

 

Hulle drie word geskilder as na-apers van God: die draak wat as god aanbid wil word (13:4); die dier uit die see,  wie se een kop lyk of dit tot die dood verwond was, maar dat die dodelik wond genees is, wat die mense in verwondering agter hom laat aanloop (13:3), is ‘n na-apery van die dood en opstanding van Christus; die dier uit die aarde, wat soos ‘n profeet wonders doen en sy asem in die beeld van die dier uit die see blaas om te kan praat sodat mense die eerste dier sal aanbid (13:12-15), is ‘n na-apery van die Heilige Gees wat mense bekwaam maak om van Christus te getuig.

 

Die eienskappe van die twee diere wys hoe hulle die mense beset om hulle weg te lei van die ware God van liefde, wat Christus aan ons geopenbaar het met sy woorde en sy liefdesoffer vir ons sonde aan die kruis:

            Die dier uit die see word voorgestel met militêre terme van absolute mag wat hy van die draak ontvang het (13:2-10), waarmee hy die gelowiges oorwin, in tronke gooi en doodmaak. Hy regeer die wêreld met mag. Die mense volg hom slaafs op die pad van mag. Hy word voorgestel as ‘n grootbek, wat God en almal wat Hom dien belaster.

            Die dier uit die land word voorgestel as die aardsleuenaar en verleier, wat ook almal doodmaak wat nie die beeld van die dier aanbid nie. Hy laat ook alle mense merk, met sy merk op hulle voorkoppe (as teken van hulle gedagtewêreld) en op hulle regterhande (as teken van hulle werke), wat alles gerig word teen God en sy woord,  om hulle sondige/bose/selfsugtige gedagtes te laat dink en uitvoer. Sonder hierdie bose ingesteldheid sou niemand kon besigheid doen nie (13:11-17).

 

Openbaring is ‘n boek vol simbole wat beskryf hoe die bose werk en hoe God dit teenwerk.

Die dier uit die see is ‘n simbool vir die mens se soeke na mag om sy wil op ander af te druk met geweld of groepsdruk (Jakobus 4:1-2,7:  ‘Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes wat in julle ledemate oorlog voer nie? Julle begeer, maar besit niks nie; julle pleeg moord en is vol jaloesie en julle kan niks bereik nie…Onderwerp julle aan God. Weerstaan die duiwel, dan sal hy van julle wegvlug’).      

            Die dier uit die aarde is ‘n simbool vir die valsheid en liggelowigheid van die mens, wat maklik die skepsels wat God geskep het, en die skeppings van mense, aanbid en dien (vgl. Romeine 1:23,25). God het die mens gemaak om Hom as hulle Skepper en hulle medemense as God se skepping in liefde te dien. In Openbaring hoofstukke 17-18 word die werk van die diere  voorgestel met die groot prostituut Babilon wat mense na die afgode en die dood toe lei, die stad met haar prag en praal en onsedelikheid waardeur mense verlei word.

 

Mense wat hulle gedagtes vol maak met gedagtes van mag, skelmstreke en onsedelikheid maak hulleself oop om daardeur beset te word en word deur die bose ingespan om ander mense te verlei met hulle woorde en optrede. Dit begin by onsself en word later ‘n mag wat ons nie meer kan beheer nie, en waarmee ons ander meesleur en ander mee seermaak (Jakobus 1:14,5: ‘Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood).

 

2    In die Naam van Jesus uitgedryf word

Die simbool waarmee Openbaring die werk van Jesus verduidelik, is dat die volle getal van die diensknegte van God met ‘n seël op hulle voorkoppe gemerk word (7:3) as teken dat hulle aan die Here behoort deurdat hulle denke oor Jesus verander het. Van hulle word gesê dat hulle verlossing van ons God kom, wat op die troon sit en van die Lam (7:10), dat God sy tent by hulle opslaan (7:15; ‘n idiomatiese uitdrukking om iemand se inwoning mee te verwoord; vgl. Johannes 14:23: Jesus sê: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon’). Die Lam sal hulle soos ‘n herder versorg (Op. 7:17).

            Oor die navolgers van die dier uit die see sê Op. 13:8 dat dit elkeen is wie se naam sedert die skepping van die wêreld nie opgeskryf is in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is nie.  Op. 14:1 sê die seël van die gelowiges is die Naam van die Lam en ook sy Vader se Naam, wat op hulle voorkoppe geskryf is – dit is nie ‘n letterlike geskrif wat op hulle gesigte geskryf is nie (ook nie die merk van die dier op die gesigte van die ongelowiges nie), maar simbole van hulle gedagtewêreld en ingesteldheid, wat ‘n mens wel uit hulle gesigte kan aflei, van die gelowiges se konstante blye dankbaarheid dat hulle God se kinders is, en van die ongelowiges se ongenakte hardheid. Gelowiges se gedagtewêreld word verander en gelei deur die Lam se woorde en liefdesoffer en die woord van God.

            In Grieks is daar twee woorde vir ‘bekering:’ metanoia die verandering van jou gedagtewêreld oor God en oor sy Seun Jesus, deur in Jesus te glo; en strefoo omdraai van jou ou manier van lewe, om te lewe soos Jesus, met genade en liefde teenoor ander, en hulle bereidheid om saam met Hom te ly onder ongelowiges se verwerping en teenstand teen Jesus en die liefdespad wat Hy vir ons gewys het (vgl. Johannes 13:34).

 

Ons het nie mag om bose geeste uit iemand uit te dryf bloot met die noem van die Naam van Jesus nie. Maar ons kan wel vra dat Hy dit doen. En as Hy wil, kan Hy dit deur ons doen. Die persoon word slegs verlos deur te glo in die Here Jesus en sy verlossing wat Hy vir ons sonde aan die kruis bewerk het deur die straf op ons sonde op Hom te neem. Om tot geloof in Jesus te kom, is die werk van die Heilige Gees, wat ons oortuig van ons sonde teen God, van die geregtigheid wat Jesus vir ons verkry het om ons verhoudsing met God reg te maak, en van die oordeel van God as ons nie in Jesus glo nie en onsself aan die duiwel se versoekings oorgegee het (Johannes 16:8-11). Ons kan slegs instrumente in die hand van die Heilige Gees wees.

 

 

Toe Simon van Samaria vir Petrus geld aangebied het om dié soort mag te verkry, het Petrus gesê dat hy saam met sy geld in die verderf sal beland, omdat sy hart nie opreg is voor God nie. Sy hele bose denke moet verander (metanoia) word, en hy moet bid om die Here se vergifnis vir die verkeerde bedoeling van sy hart (Handelinge 8:20-23). Om bose geeste uit mense uit te dryf is nie ‘n mag wat ons ontvang om te gebruik soos ons wl nie. Dit kan die Here Jesus alleen doen, en daarvoor kan Hy ons gebruik, deur vir sulke mense te bid dat Hy hulle daarvan verlos, vir hulle van Jesus se verlossing te vertel dat Hy reeds die duiwel oorwin het, en by hulle aandring om Hom daarvoor te vertrou. Dit is die betekenis van ‘in sy Naam vra.’       

 

Skrywer:  Prof Francois Malan