Islam en die Christelike geloof

Islam en die Christelike geloof – Francois Malan

Petro vra:

Graag wil ek meer weet oor die verskille tussen ons Christelike geloof en die van die Islam Ek weet dat hul nie glo dat Jesus op die kruis gesterf het nie en dat hul glo dat Jesus net ‘n profeet was. Hoekom het ons Bybel niks van die geskiedenis van Mohammed in nie? Dit kan tog nie alles net verdigsels wees nie. My dogter wat as Christen gebore en groot geword het, het nou oor gegaan na die geloof en sy sê sy voel nader aan die Here deur hul leer te volg en alles wat sy my tot dusver meegedeel het kan ek nie mee fout vind nie. Hul erken ons geloof hoekom herken ons nie hul geloof nie?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

1 Graag wil ek meer weet oor die verskille tussen ons Christelke geloof en die van die Islam Ek weet dat hul nie glo dat Jesus op die kruis gesterf het nie en dat hul glo dat Jesus net ‘n profeet was.

            Volgens die Bybel is Jesus nie slegs ‘n profeet wat mense oor God kom leer het nie.

 

Johannes 1:1-4 lui: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.

            Johannes 1:14: En die Woord het mens geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid  aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol genade en waarheid.

Johannes 1:16-18: Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het God nog ooit gesien nie; die enigste Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend gemaak.

In Johannes 1:29 sê Johannes die Doper van Jesus: Kyk daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

1 Korintiërs 8:6: Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom.

 

Omdat Hy God is, kon Jesus die sonde van die hele mensdom aan die kruis dra, selfs van God verlaat word, om die verhouding van die mense wat in Hom glo met God reg te maak, sodat hulle kinders van God kan wees. Daarvoor het die Vader en die Seun die Heilige Gees gestuur om in elke gelowige te woon, om hom/haar tot geloof te lei en daagliks te lei volgens die woord van God.  

Johannes 3:16,18 Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel.

1 Johannes 2:1-2 As iemand sondig, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Helper/Voorspraak by die Vader. En Hy is die versoening vir ons sondes – nie net vir ons sondes nie maar ook vir dié van die hele wêreld.

Die aand voor sy kruisiging sê Jesus vir sy dissipels: As Ek weggaan sal ek die Heilige Gees, die  Helper/Voorspraak/Trooster, na julle stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel (Johannes 16:7-8).

Romeine 8:9 As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie.

Romeine 8:11 As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Romeine 8:14 Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God.

 

2 Hoekom het ons Bybel niks van die geskiedenis van Mohammed in nie?

 

Die laaste boeke wat in ons Bybel opgeneem is, is reeds voor die jaar 100 n.C. geskryf. Islam het meer as 500 jaar later, ongeveer in 610 n.C. in Mekka begin.

 

Mohammed is in ongeveer die jaar 570 n.C. in Mekka gebore, en het ongeveer 610 n.C. begin glo dat hy boodskappe deur ‘n engel van God kry. Na vervolging in Medina deur die handelaars wat nie in ‘n God geglo het nie, maar dat alles deur die Noodlot gebeur, het Mohammed en sy volgelinge na Medina getrek waar ook ‘n aantal Joodse stamgroepe gewoon het wat die messias verwag het. Een van sy vroue was ‘n Jodin. Mohammed het egter min kontak met Christene gehad, hoewel ‘n ander een van sy vroue ‘n nominale Christen uit Etiopië was. In sy tyd was daar egter nog geen vertaling van die Bybel in Arabies nie.

 

3 My dogter wat as Christen gebore en groot geword het, het nou oor gegaan na die geloof en sy sê sy voel nader aan die Here deur hul leer te volg en alles wat sy my tot dusver meegedeel het kan ek nie mee fout vind nie. Hul erken ons geloof hoekom erken ons nie hul geloof nie.

 

Die grootste verskil tussen Christene en Moslems is dat Christene glo dat Jesus uit sy goddelike genade vir ons sondes gesterf het, ons van ons sondes verlos en vry maak, en dat ons in dankbaarheid vir God lewe; dat God en Christus deur die Heilige Gees in ons woon om ons tot geloof in Jesus te lei, van ons kinders van God te maak wat saam met die opgestane Jesus die sonde kan oorwin en al meer soos Jesus begin lewe, deur God en ons medemens, selfs ons vyande lief te hê, soos Hy ons tot die dood toe lief gehad het. Terwyl Moslems glo dat jy met ‘n goeie lewe volgens die voorskrifte van die Koran ‘n plek in die hemel verdien om deur God daarin opgeneem te word. Teenoor die Moslems se selfverlossing deur jou goeie lewe, glo die Christene dat dit slegs deur God se genade is dat Hy ons van al ons sondes vryspreek en as sy kinders aanneem om in sy gesin vir ewig te lewe as sy kinders.

 

            Romeine 3:20-24 geen mens sal op grond van die nakoming van die wet voor God geregverdig word nie, want juis deur die wet ken ons die sonde. Maar nou word die geregtigheid van God sonder die wet bekend gemaak, waarvan die Wet en die Profete getuig. Hierdie vryspraak gee God deur die geloof in Jesus Christus aan almal wat glo. Hulle word goedgunstig deur sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus.

            Galasiërs 2:16 ons weet dat ‘n mens nie op grond van nakoming van die wet geregverdig kan word nie, maar slegs deur die geloof in Jesus Christus.

            Romeine 6:8-11 As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef. Die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle dan julle self beskou as dood vir die sonde, maar in Christus Jesus lewend vir God.

            Die aand voor sy kruisiging sê Jesus vir sy getroue volgelinge: Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê (Johannes 13:34).

            In die bergrede sê Jesus: Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees (Matteus 5:44-45). 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus se dood en Jona

Jesus se dood en Jona – Francois Malan

Petro vra:

Graag wil ek weet Jesus verwys na Sy dood dat dit soos Jona s’n is wat drie dae in die vis se maag was en dan weer uitgespoeg is, maar ons glo dat Jona lewend was die drie dae in die vis tog glo ons dar Jesus dood was vir drie dae.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Volgens Markus 8:11-12 vra die Fariseërs van Jesus ‘n teken uit die hemel om Hom te toets. Jesus antwoord met ‘n diep sug in sy binneste: ‘Waarom vra hierdie geslag ‘n teken? Voorwaar, Ek sê vir julle: Aan hierdie geslag sal beslis geen teken gegee word nie.’

 

Volgens Matteus 16:1-4 is dit die Fariseërs en Sadduseërs wat die teken uit die hemel van Jesus vra. Jesus sê: ‘n Bose en owerspelige geslag vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona.’

 

Volgens Lukas 11:29-32 sê Jesus vir die skare: Hierdie geslag is ‘n slegte geslag. Hulle vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle ggee word nie, behalwe die teken van Jona. Netsoos Jona vir die mense van Nineve ‘n teken was, so sal die Seun van die Mens ‘n teken wees vir hierdie geslag. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is meer as Jona.

 

Volgens Matteus 12:38-41 vra van die skrifkenners en Fariseërs dat hulle graag ‘n teken van Jesus wil sien. Hy het hulle geantwoord:’n Bose en owerspelige geslag vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie. Want net soos Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van die seemonster was, so sal die Seun van die Mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en hulle veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is meer as Jona.

 

Markus 8 praat van ‘n teken, sonder verwysing na Jona.

 

Matteus 16 noem slegs die teken van Jona, sonder verduideliking.

 

Lukas 11 betrek die skare se versoek om ‘n teken op die prediking van Jona teenoor die prediking en optrede van Jesus onder hulle.

 

In Matteus 12 antwoord Jesus die skrifkenners en Fariseërs se begeerte na ‘n teken met ‘n vergelyking tussen Jona se drie dae en drie nagte in die ingewande van die seemonster met die Seun van die Mens se drie dae en drie nagte in die hart van die aarde, en betrek die prediking van Jona teenoor die prediking en optrede van Jesus onder hulle.

 

Dit gaan in nie een van die gevalle oor ‘n vergelyking tussen die dood van Jesus teenoor ‘n biddende Jona in die ingewande van die vis nie. (Jesus noem Homself telkens in die Evangelies ‘die Seun van die Mens’ na aanleiding van  Daniël 7:13-14).

 

Die vergelyking tussen Jesus en Jona gaan oor ‘n tyd wat God beperk tot enkele dae en nagte wat Jona in die ingewande van die monstergroot vis was om hom tot inkeer te bring,  en Jesus in die hart van die aarde sal wees om die dood te oorwin, die dood wat oor die skepping en die ganse mensdom gekom het en ingelei is deur die ongehoorsaamheid van Adam en Eva (Genesis 2:17) sodat Jesus die ganse mensdom ‘n bose geslag noem wat hulle rug op God gedraai het om self soos God te wees (Genesis 3:4-6) deurdat elke mens vir homself lewe en nie soos hy/sy bedoel is om vir God te lewe nie, ‘n owerspelige geslag wat die ware God verlaat het en die ganse skepping saam met ons aan die dood onderwerp het (Romeine 8:22-23).

 

Maar die eintlike vergelyking gaan oor die prediking van God se profeet Jona, wat die woord van God aan die heidense stad Nineve gebring het en hulle reaksie daarop. Hulle het hulle tot God bekeer. Maar toe Jesus, wat die Woord van God is, wat self God is (Johannes 1:1-3), mens geword het om die ware God aan die mense bekend te maak, wil mense Hom nie glo en aanvaar as die Here van hulle lewe nie.  

 

Daarom   sal die mense van Nineve in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en hulle veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is meer as Jona.

 

Dié mense wat die woord van God in die Ou Testament geglo het, en sedert Jesus se koms in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hulle nie in die Naam van die enigste Seun van God geglo het nie (Johannes 3:18).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Maria se Loflied

Maria se Loflied – Coen Slabber

Elmien vra:

Waar in die bybel kry ek die lofsang van Maria?

Antwoord

Coen Slabber antwoord:

Ons kry Maria se loflied in Lukas 1:46 – 55.

 

Nadat Maria volle sekerheid gekry het, word sy ook deur die Heilige Gees aangespreek en sing sy ‘n loflied uit tot eer van God. Hier het ons een van die grootste lofliedere van alle tye – die Magnificat – na aanleiding van die eerste woord in die Latynse vertaling van hierdie lied (Magnificat anima mea Dominum). Dit word dikwels gebruik as vertrekpunt vir koormusiek en liedere. Dit is deurweek met die Ou Testament, en is soortgelyk aan die loflied van Hanna, Samuel se moeder (1 Samuel 2:1 – 10). Dit bevat ook grepe uit ander uitsprake in die Ou Testament. In sy inhoud en vorm oortref dit die loflied van Hanna. Die lied val in twee dele uiteen:

Deel 1: Dit druk Maria se lof oor God se genade aan haar uit (vs 47 – 50).

Deel 2: Maria spits haar lof toe op God se groot dade aan Israel (vs 51 – 55).

 

Skrywer:  Dr Coen Slabber

 




Seuns van God en vroue van die aarde

Seuns van God en vroue van die aarde – Marius Nel

Christo vra:

Veduidelik vir my Gen 6 waar die seuns van God die vroue van die aarde geneem het as vroue en daar is reuse gebore. Hoekom sou God dit toelaat en waarom?

Antwoord:

Prof Marius Nel antwoord:

 

Genesis 6:1-8 handel oor die verval van die mensdom.

 

6:1-4 Die vergoddeliking van mense.

 

Presies wat met hierdie vier verse bedoel word, is onseker. Daarmee word dit een van die mees omstrede dele in die Bybel.

 

Die woord hemelwesens is letterlik “seuns van God/gode”. Die woord vir “God/gode” word in die Ou Testament vir gode in die algemeen, maar ook vir God gebruik. Het ons te doen met ander hemelse wesens, byvoorbeeld engele of ’n hemelse vergadering (vgl Job 1:6; 2:1) of ander gode (Ps 82:2,6; 89:7) of bloot hemelliggame (Job 38:7), of besondere mense (Eks 4:22, vgl 2 Sam 7:14)? 

Na aanleiding hiervan word die volgende verskillende verklarings teëgekom:

(a) Dis engele wat met mensedogters getrou het. Daarteenoor word gesê dat volgens Matteus 22:30 engele nie kan trou nie.

(b) Omdat Israel in Eksodus 4:22 “seun van God” genoem word, verwys dit na die afstammelinge van Set. Maar hoe kan ’n mens sommer Israel met Set gelykstel?

(c) Die hemelwesens is afstammelinge van Set, terwyl die dogters van die mense afstammelinge van Kain is. Die probleem is dat dit nêrens pertinent  so gesê word nie.

(d) ’n Joodse interpretasie lui dat dit konings of vername mense van destyds is (vgl 2 Sam 7:14, hy sal vir my ’n seun wees). Die beswaar is dat die oordeel van 6:3 dan onverstaanbaar is.

(e) Ons het met ’n mite* te doen wat ’n bepaalde verskynsel op ’n bonatuurlike wyse wil verklaar. In hierdie verband word gevra of ’n mens dan van mites in die Bybel kan praat.

 

Uitsonderings het nog altyd mense se aandag getrek. In die antieke tyd het mense sulke voorwerpe en persone aan die bomenslike verbind. So byvoorbeeld is bome of rotsformasies met ’n vreemde voorkoms beskou as met krag belaai. Geleidelik het mense gedink iets goddeliks kleef daaraan. Mettertyd het dit selfs oorgegaan in die aanbidding van die voorwerpe.

Die ou verhale van die antieke wêreld vertel van sulke besonder dapper, sterk, groot of bekwame figure wat beskou is as deels mens en deels goddelik. Gewone mense is nie so nie, daarom kan so ’n persoon nie ’n gewone mens wees nie, het hulle gedink. ’n Goeie voorbeeld kry ons in die bekende Babiloniese vertelling oor Gilgamesj in die sogenaamde Babiloniese vloedverhaal. Daarvolgens was Gilgamesj ’n besonder sterk en dapper persoon omdat hy een derde mens en twee derdes godheid sou gewees het.

 

Hierdie opvattings was ook in Israel aan die orde van die dag. Daarvan getuig die talle profetiese vermanings teen die vergoddeliking van kragte, voorwerpe en mense.

Wanneer daar in die Bybel teen ’n populê­re opvatting standpunt ingeneem word, word die opvatting dikwels gestel en dan opgevolg deur die profetiese vermaning. Omdat daar in Hebreeus egter nie so iets soos aanhalingstekens is wat die populêre aanhaling sou aantoon, nie, is dit vir ons moeilik om die onderskeid raak te sien. Voorbeelde is Hosea 9:7b-9 (waar die vertaling geen aanhalingstekens gee nie), Hosea 12:5-7 en Miga 2:6-7 (waar die vertaling wel aanhalingstekens gee).

Die antieke literatuur gebruik verskillende metodes om ’n saak te beklemtoon. Een manier is om die teenoorgestelde vóór en ná die saak te stel en dit so as ’t ware te omkring. Dit is wat in 6:1-4 gebeur. In 6:1-2 en in 6:4 word die populêre opvattings weergegee, terwyl 6:3 die weerspreking is en die klem dra. Die populêre opvatting is dat reuse … , sterk mense … en manne van naam nie bloot mense is nie. Hulle is die resultaat van die verbintenis tussen mense en hemelwesens.  Maar sulke gedagtes druis in teen alles wat die Bybel verkondig oor God, hemelwesens en die mens. Dis maar net ’n ander weergawe van die heidense “heilige huwelik” (tempelprostitusie) tussen die priesteres en die priester as verteenwoordiger van die godheid. Dit vergoddelik mense, in plaas daarvan dat die besondere gawes as God se gawes erken word. Daarom moet dit afgekeur word. Mense is nie halfgode nie. Om dit te bevestig, word die mens se lewensduur beperk tot 120 jaar. So word die dood van die mens, en met name die dood van besondere mense, ’n teken: hoe wonderlik iemand ook mag wees, hy of sy bly ’n mens, sterflik. Daarmee sê die Bybel ’n groot NEE! vir menseverheerliking. Of dit politieke figure of sporthelde of popsterre is – geen mens mag selfs in die volksmond die sweem van goddelikheid kry nie. Dit kom net die Here toe.

 

Skrywer: Prof Marius Nel