Die rooi letter Bybel

Die rooi letter Bybel – Kobus Kok

Petro vra:

Ek wil graag meer weet oor die gebruik en ontstaan van die rooi letter Bybel.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Op 19 Junie1899 het Louis Klopsch, die redakteur van “The Christian Herald” die idee gekry om die woorde van Jesus in die NT in rooi te laat druk nadat hy Lukas 22:20 gelees het. Die eerste rooi letter Bybel word rondom 1901 gedruk. 

Bron: http://en.m.wikipedia.org/wiki/Red_letter_edition besoek op 9 Jul 2014 om 11:11am

 

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Disney Fairies

Disney Fairies – Kobus Kok

Anneke vra:

Goeie dag, Ek wil weet wat die Bybel sê van feëtjies? My kinders is mal oor Disney Faeries op TV en die klere is baie oulik, maar iemand het my gesê dat dit met toordery te doen het en dat jy die bose in jou kind se lewe toelaat?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Fairies is nie deur Disney uitgedink nie. Fairies kom uit die Keltiese mitologiese volksverhale. Eintlik sou mens kon sê dat dit dan “heidense” oorsprong het. Daar is verskillende verhale rondom die afkoms van Fairies en hoe hulle interaksie met mense daarna uitsien. As Christene glo ons nie dat sulke wesens bestaan nie. Wanneer kinders binnne gesonde verbeeldingsvlugte van Fairies praat, is dit seker nie verkeerd nie. Ek weet egter ook van sommige tieners en studente wat in hulle poging om met die geestelike wêreld te kommunikeer wel in Fairies glo, maar diep in die mitologie daarvan ingaan. Dit is egter binne Christelike perspektief nie gesond nie. Lees maar net Kol 2 om te sien hoe Paulus waarsku teen interaksie met geestelike magte buite die dampkring van die Christelike grense. Ouers sal wel weet wanneer hulle kinders se oriëntasie gesond of ongesond is. Wees egter baie sensitief oor die saak en raadpleeg spelterapeute indien dit problematies is. In die meeste gevalle is jong kinders se belangstelling in Fairies en seuns se belangstelling en assosiasie met spiderman en superman tydelik en nie ongesond nie. Dit kom en gaan. Die ouer het die verantwoordelikheid om telkens ook die verhale van die Christendom te vertel en seker te maak dat die verhale van die Christendom ‘n integrale deel is van jou kind se mondering.

Vir meer mitologiese oorsprong en agtergrondinligting oor Fairies sien: http://en.m.wikipedia.org/wiki/Fairy 

 

Skrywer:  Prof Kobus

 




Die oorblyfsel van Israel

Die oorblyfsel van Israel – Marius Nel

Jan vra:

In die OT lees mens telkens van ‘n “oorblyfsel” van Israel as hulle in ‘n oorlog was of eerder van ‘n bannelingskap vrygelaat word waarmee God dan voortgaan om met hulle te deel. In Romeine 10 sê Paulus dat Israel God se geregtigheid verwerp en hulle eie geregtigheid probeer oprig het met ‘n ywer vir God maar sonder kennis.

In hoofstuk 11 sê hy dat God die volk wat Hy vantevore geken het nie verstoot het nie. Elia het hulle destyds by God verklae maar vers 4 sê: Ek het vir Myself 7000 manne soos jy laat oorbly wat hulle knieë voor Baal nie gebuig het nie. Dan vers 5: Net so is daar in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van genade, ens.

Vers 25 sê dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het (v26) en so sal die hele Israel gered word.

Rom 9: 27 : En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word.

Sou mens kon sê dat die “oorblyfsel” waarna Jesaja verwys vooruit wys na die “oorblyfsel” in Romeine 11? Indien so, wie is die oorblyfsel in die teenwoordige tyd” en dan die “hele Israel” wat gered word? In die lig hiervan hoe sal Israel as volk figureer sodra die genadetyd vir die “heidene” tot ‘n einde kom? asb.

 

 Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

U raak ‘n belangrike kwessie aan wat vir Paulus belangrike emotiewe waarde het. Hy het onder die heidene gewerk en waarskynlik dikwels die verwyt van sy volkgenote gehoor, selfs van Joodse Christene, dat hy sy volk versaak het ten gunste van nie-Jode. Hy antwoord daarop dat die Here nie die Joodse volk afgeskryf het nie, alhoewel Hy in sy genade na die heidene uitgereik het.

 

Hy sluit aan by die profetiese gedagte dat God sy volk verwerp het as gevolg van hulle ongehoorsaamheid, maar dat Hy steeds ‘n verhouding met dié Jode het wat gehoorsaam aan Hom leef. Dit verwys na die oorblyfsel, die tak wat uit die stam groei nadat die stam afgekap is.

 

Dié groep bly steeds in ‘n verhouding met God, en God se genade reik nog steeds na die Jode uit, beklemtoon Paulus. En selfs nadat God die volle getal uit die heidene gered het, sal sy genade steeds oor die oorblyfsel van Israel wees om hulle te red.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 




Geld dit ook vir Suid-Afrika?

Geld dit ook vir Suid-Afrika? – Marius Nel

Jan vra:

Tydens die inwyding van die tempel in Salomo se tyd het die Here in die nag aan hom verskyn en vir hom gesê dat Hy sy gebed gehoor en hierdie plek vir Hom as ‘n offerhuis verkies het. En dan die bekende deel in 11 Kronieke 7: 14: en My volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My aangesig soek en wat volg. Baie leraars en voorgangers en wie ookal beroep hulle op die teks ten behoewe/gunste van Suid Afrika en ek wonder of enige ander volk as die Israeliete hierop aanspraak kan hê?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord

Ek meen u aanvoeling is korrek. Tekste in die Bybel is in die eerste plek gerig aan die adres van die eerste lesers en hoorders. En as ons wat agterna dit lees enigsins reg daaraan wil laat geskied, moet ons eers verstaan wat die eerste lesers gehoor het en wat dit in hulle situasie vir hulle gesê het.

 

Die tempel bestaan nie meer nie en daarom kan mense nie meer van daar bid nie. Die beginsel geld egter: wanneer mense in opregtheid na die Here roep, luister Hy en verhoor Hy.

 

Skrywer: Prof Marius Nel