Pleeg ek egbreuk as ek met ‘n geskeide vrou trou?

Pleeg ek egbreuk as ek met ‘n geskeide vrou trou? – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Ek is nog nooit getroud nie. Ek is nou saam met ‘n meisie met 2 kinders wat ek graag wil vra om met my te trou. Sy is al lankal geskei a.g.v ex.man wat ontrou was teenoor haar. Ek weet nie wat om te maak nie, sal dit egbreuk wees as ons trou?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord: 

In Matteus 19:9 lees ons dat iemand wat met ‘n vrou trou wat reeds getroud was egbreuk pleeg. Tog is die saak nie so eenvoudig nie. Jesus se woorde moet in konteks verstaan word. In die antieke tyd kon mans sommer vir enige rede hulle vrouens skei, selfs al brand hulle die kos. Moses het glo die mans die reg gegee om skeibriewe te gee (Matt 19:7). Mans het die situasie misbruik en vrouens het dikwels in die slag gebly, Die Fariseërs wou ‘n strikvraag aan Jesus stel. Sou Jesus die gesag van Moses betwyfel? Indien wel, maak Hy hom skuldig aan ‘n oortreding. Dit is waaroor die hele kwessie gehandel het.  

 

Jesus bring ‘n nuwe wet wat die ganse uitbuitende en harde sisteem van die dag uitdaag. Jesus se woorde ontmagtig die mans wat hulle mag misbruik. Jesus sê dat mans wat sommer vir enige rede skei en weer trou in God se oë sondig. Tog moet ons dit nie as ‘n letterlike tydlose reël beskou nie, maar die saak waaroor dit gaan in konteks beskou. Indien jy vandag met ‘n vrou trou wat reeds getroud was, pleeg jy nie egbreuk nie. Hoekom nie? Omdat die konteks totaal verskil. Die bedoeling van Jesus se woorde destyds was om ‘n bepaalde saak reg te stel.

 

Kyk gerus na ‘n meer breedvoerige artikel wat ek oor die betrokke saak geskryf het wat die konteks in meer diepte verduidelik: http://www.bybelkennis.co.za/index.php/bybelse-temas/16-algemene-arikels-in-bybelse-temas-en-sake/539-mag-n-christen-wat-geskei-het-weer-met-iemand-anders-trou 

 

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Is die Bybel God se woord?

Is die Bybel God se woord? – Francois Malan

Susan vra:

Hoe oortuig ‘n mens iemand dat die Bybel God se Woord is?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die eerste probleem lê by oortuiging. Jesus het volgens Johannes 14:26 gesê: wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak/Helper/Trooster, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.      

            In Johannes 16:8 sê Hy: wanneer die Heilige Gees kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel. Daarop brei verse 9-11 uit:

            Die Gees van God kom mense oortuig dat hulle sondaars is voor God, en dat dit slegs deur die liefdesoffer van die Seun van God aan die kruis is dat ons sonde vergewe word.

            Die Gees kom om ons, namens Jesus, wat na die Vader toe gegaan het, te oortuig  van geregtigheid, nl. wat die regte pad van die lewe is, dat ons verhouding met God alleen reggestel kan word deur in Jesus te glo as die Seun van God, en die seggenskap oor ons lewe aan Hom oor te gee om deur sy woord gelei te word. Die Gees lei ons juis deur die woorde en die selfopofferende lewe van Jesus, soos in die Bybel opgeteken, om tot die besluit te kom dat ons in Hom sal glo.

            Die Gees oortuig ons van oordeel – die heerser van hierdie wêreld, die duiwel, die mensemoordenaar van die begin af, die vader van die leuen (vgl. Johannes 8:44), is reeds geoordeel deur Jesus, wat hom nie met mag en geweld veroordeel nie, maar deur sy liefdesoffer vir die mensdom en vir die wêreld, om ons met God te versoen; Hy verbreek die krag van die dood, deur self dood te gaan(wat in Genesis 2:17 as die die straf op sonde uitgespel is), en so, as God, self die straf op ons sonde te dra deurdat Hy aan die kruis selfs van God verlaat is (Matteus 27:46), en ons bevry om as kinders van God te lewe, wat al meer soos Jesus word, deur die werk van die Gees van God, wat in ons kom woon het met sy liefde (2 Korintiërs 3:18; Galasiërs 5:22-23).

            Die oortuiging van ‘n mens geskied deur die Gees van God, wat ons oopmaak om die woord van God te hoor en te gehoorsaam, sodat ons die liefde van God kan leer ken, en ons aan sy liefde oor te gee.

 

Die tweede probleem is of die Bybel die woord van God is. Die Bybel is deur mense geskrywe, kopieë daarvan is vir 1400 jaar lank met die hand oorgeskryf, en sedert die uitvinding van die boekdrukkuns tussen 1440-1450 n.C., is Bybels gedruk. Die vertaling van die Bybel – die Ou Testament uit die oorspronklike Hebreeus en die Nuwe Testament uit die oorspronklike Grieks – word ook deur mense gedoen. Daarom is die Bybel ‘n menslike boek, met verskillende mense met verskillende sienings en kultuur en swakhede, wat die Bybel geskryf het. Maar dit is juis die manier waarop God met ons wil praat. Daarom het Jesus, die ewige Woord van God, waardeur God die hemel en die aarde geskep het (Genesis 1:3; Johannes 1:1-3; 1 Korintiërs 8:6), wat God aan ons kom bekendmaak het, mens geword (Johannes 1:14), sodat God as mens ons kan kom aanspreek met sy wyse liefdeswoorde en opofferende liefdesdiens. So lyk ons God (Johannes 14:9-10), wat sy groot liefde vir ons kom bewys het deur Jesus se offerdood aan die kruis vir ons sonde.

            In 2 Timoteus 3:16 verwys Paulus na die Ou Testament: ‘die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek.’ Die verskillende mense wat aan die Bybel gewerk het, is deur God se Gees gelei, ook met die skrywe van die Bybel, elk vanuit sy eie hoek.

            In Romeine 15:4 sê Paulus: Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.                

            Jesus het ook self na die Skrif verwys: Johannes 15:25: ‘die woorde wat in die Skrif geskrywe staan, moet vervul word…’   Matteus 5:17-19: ‘Ek het nie gekom om die wet ongeldig te maak nie, om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.’

 

Die oortuiging dat die Bybel die woord van God is, kom slegs deur die Bybel te lees en jou vir die woord van God in die Bybel oop te stel. Daartoe help die Heilige Gees ons om tot die regte besluit oor die Bybel te kom. Wat ons vir ander daaroor kan doen, is om vir hulle te bid dat die Heilige Gees hulle sal oortuig, en hulle te nooi om die Bybel te lees, of saam met hulle te lees.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die hemelse Hof

Die hemelse Hof – Marius Nel

Willie Esterhuizen vra

 

My vraag handel oor Job 1:6. Die hemelwesens het voor God verskyn en dit blyk die grondtaal verwys na hemelwesens ook as seuns van God . Maar satan staan tussen hulle . My vrae is 1. Het Satan dan toegang tot die hemel gehad gedurende die tyd van die aardsvaders? 2.Hoekom het God hoegenaamd met hom gepraat?

 

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Die antwoord op die vraag word bepaal deur hoe ‘n mens na die tekening van die hemelse hof kyk. Die antieke mens het die hof beskou as ‘n troonkamer soos op aarde, waar verteenwoordigers voor die koning saamkom asook amptenare wat die besluite van die koning uitvoer. Een van die amptenare in die hemelse hof, volgens die Jobskrywer, is die aanklaer, die een wat regverdiges se swak punte voor die Regter bring. Hasatan beteken letterlik “die teenstander.” Let op dat die lidwoord gebruik word sodat die verwysing nie na Satan (as ‘n eienaam) is nie. En in die tekening het die teenstander of aanklaer toegang tot die troon van God. Wat die verband tussen dié figuur en Satan in die Nuwe Testament is, is nie duidelik uit die Jobboek nie.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 




Dood in die veld

Dood in die veld – Marius Nel

Jan Smith vra:

Deut 21: Iemand word dood in die veld aangetref sonder dat dit bekend is wie hom gedood het dan moet daar ‘n jong koei geneem word wat nog nie voorheen ‘n juk op gehad het nie en die moet na ‘n dal met standhoudende water gebring word; en hulle moet daar in die dal die koei se nek breek en dan verder soos voorgeskryf, handel. Wat sou die rasionaal agter hierdie optrede wees, asb? Deut 23: 18: Jy mag geen hoereloon of hondeprys in die huis van die Here jou God as enige gelofte-offer bring nie; want die altwee is vir die Here jou God ‘n gruwel Wat was ‘n “hondeprys” asb?

Antwoord:

Prof Marius Nel antwoord:

 

1.Wanneer iemand dood is, het die Israeliet beskou dat daar bloed op die grond geval het wat om wraak roep. Indien die wraak nie geneem word deurdat die moordenaar se bloed daarvoor betaal nie, moet ‘n dier daarvoor geoffer word. En dit is waar die gebruik van die offer van ‘n koei ter sprake kom.

2.Die teks handel oor kultusprostitusie, waar vroulike of manlike (hond) prostitute in die tempel diens gedoen het as deel van die heidense vrugbaarheidskultus. Hulle loon of ‘n deel daarvan mag nie na die tempel as ‘n geskenk gebring word nie. Hond is ‘n term wat aandui met watter afsku God na die manlike kultiese prostituut kyk.

 

Skrywer: Prof Marius Nel