Ek oorweeg selfmoord

Ek oorweeg selfmoord – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Ek worstel al ‘n geruime tyd (sedert my beste vriend en vertroueling se dood) met die idee van selfmoord en oorweeg dit sterk. Inteendeel ek neem myself kwalik omdat ek nie die aand van sy dood ook my lewe beëindig het nie. Ek het hom voorberei vir sy graf en ook begrawe. Ek is n kind van die Here en het totaal die lus om te lewe verloor. Mense het totaal en al hul rug op my gedraai na sy dood en het die kerk ook nie enige simpatie getoon nie, maar net veroordeling! Daar is vir my geen sin om verder te lewe nie. Sal God nog genade teenoor my betoon?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Dit is waar dat slegte dinge met ons gebeur en dat ons op tye voel dat daar absoluut geen hoop meer is nie. Baie mense het ook al ernstig selfmoord oorweeg. Sommige het dit gedoen, maar al wat hulle nagelaat het, was seer en verwoesting. Sommige mense kom nie eers goed daarvan af nie en is soms in ‘n permanente gestremde posisie gelaat. In my jare as dominee het ek al sulke gevalle self beleef. Die gevolge is net verwoesting watter kant toe mens ook al daarna kyk. Sommige mense wat selfmoord ernstig oorweeg het, maar besluit het om dit nie te doen nie, sal vir jou vertel dat hulle vandag baie bly is dat hulle dit nie gedoen het nie. Sommige dinge in die lewe kom reg met tyd. God kan die verleentheid in n geleentheid vir jou omskep. God sê in Jeremia 29:11 dat hy vir jou ‘n toekoms wil gee, ‘n verwagting. Sy hart vir jou is dat jou negatiewe situasie omskep kan word. Dink maar net aan Dawid nadat hy droog gemaak het met Batseba daar in 2 Sam 11 en nogal haar man sommer ook laat vermoor het. Daarna het sy lewe nog erger skeef geloop toe sy een seun sy dogter verkrag en sy huis eintlik heeltemal uitmekaar val. Tog weet ons dat God sy situasie uiteindelik omgekeer het. God kan ook jou situasie omkeer. Gee dit net tyd, asseblief. Ek het ook al soos jy gevoel, ek verstaan…

 

Dis duidelik dat jy nou al lank worstel met die al die negatiewe goed. Het jy geweet dat die navorsing duidelik wys dat jou liggaam met tyd na al die stres soveel negatiewe emosies en slegte hormone  in nou liggaam loslaat dat jou serotonien en ander belangrike vlakke in jou brein heeltemal uit balans is. Dan is dit letterlik fisies en emosioneel baie moeilik om uit die gat te kom. Die probleem kom oor n lang tyd en mens kan dit nie sommer in ‘n paar dae regmaak nie. Wat nodig is, is dat jy iemand moet gaan sien. As ek jy was, sou ek na ‘n goeie sielkundige toe gegaan het of na ‘n dominee wat in pastoraat spesialiseer. Dan sou ek ook definitief ‘n goeie anti-depressant probeer kry sodat die medikasie al jou negatiewe simptome kan aanspreek en die balanse in jou brein kan herstel. Indien jy die volgende simptome het, oorweeg my raad baie ernstig:

* Voel sleg, neerslagtig, moeg of moedeloos op ‘n gereelde basis

* dink aan selfmoord

* geniet nie meer die lewe nie, wil nie meer lekker dinge doen nie

* onttrek van mense

*swak selfbeeld

* verlaagde seksdrang

* slaap sleg

 

As jy hierdie goed in jouself erken, mag jy dalk reeds depressie hê, wat ek vermoed. God het ons geseën met baie goeie mediese dokters en dominees of sielkundiges wat jou op hierdie pad kan help. Gaan sien iemand Benzo, voor dit te laat is.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Paasfees en die uitstorting van die Heilige Gees

Paasfees en die uitstorting van die Heilige Gees – Francois Malan

AnnaMaria vra:

 

Kan u asb die volgende vir my duidelik maak. Is Paasfees en die uitstorting van die Heilige Gees dieselfde? Ek weet Paasfees is die Kruisiging van Jesus en die Opstanding, maar wat is Paasfees nog? In Markus 15:6 word gepraat van “elke paasfees” Ek kan dit net nie snap nie. Verduidelik asb. Kan u die volgorde van gebeure en tye vir my verduidelik, asb.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord

 

Markus 15:6 se verwysing na ‘elke paasfees.’

 

Paasfees is ‘n Joodse fees wat ingestel is toe die Here vir Israel uit Egipte gelei het, waar hulle slawe was. Dit was 1230 jaar voor Christus, in Moses se tyd (vgl. Eksodus 12). Die dag voor hulle vertrek het die Israeliete in elke huisgesin ‘n lam geslag en heel oor die vuur gebraai vir die aand se ete (12:9). Die bloed van die lam is aan die kosyne van hulle voordeure gesmeer (12:7). Dié nag het die Here in elke huis, veral van die Egiptenare, wat nie bloed aan die kosyn gehad het nie, die eersgebore kind doodgemaak (12:12). Maar waar die bloed aan die kosyn gesmeer is, is die huis oorgeslaan (12:13) – die Hebreeuse woord pesag vir ‘oorslaan’ is in Engels vertaal as ‘pass over,’ en die jaarlikse fees, wat die bevryding uit Egipte gedenk, word die fees van die ‘paasoffer’ (Hebreeus pasag) genoem (12:27).

            In Numeri 9 lees ons dat Israel op hulle tog deur die woestyn die paasfees by Sinai gevier het. Voordat hulle Kanaän ingetrek het, het hulle ook die paasfees gevier (Josua 5:10-12). In die latere koningstyd is die paasfees nagelaat, totdat Hiskia (714-686 v.C.) en later Josia (639-609 v.C.) met hulle hervormings weer die paasfees laat vier het (2 Konings 23:21-23; 2 Kronieke 30; 35). Na die ballingskap in Babilonië (597-520 v.C), het Esra (485 v.C.) weer die paasfees laat vier volgens die opdrag van die Here deur Esegiël (Esra 6:19-22; Esegiël 45:21). 

 

Jesus het vir die paasfees na Jerusalem gegaan in die wete dat Hy tydens die fees gekruisig gaan word. Daarmee het Hy die Joodse paasfees vervang met ‘n nuwe paasfees, waar Hy as die Lam van God sterwe om die sonde van die wêreld weg te neem (Johannes 1:29), as die soenoffer vir ons sondes – nie net vir óns sondes nie maar ook vir dié van die wêreld (1 Johannes 2:2) – dit sluit ook die mense van die Ou Testament in, wat die woord van God geglo het. Hebreërs 9:15: Hy is Middelaar van ‘n nuwe verbond, sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang, aangesien Hy gesterf het as losprys vir die oortredings onder die eerste verbond. Paulus sê: ons paaslam, Christus, is geslag (1 Kor 5:7).

            1 Johannes 4:9-10 sê: Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy enigste Seun na die wêreld gestuur het sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as soenoffer vir ons sondes.

            Daarom hou Christene die paasfees om Jesus se dood op Goeie Vrydag en sy opstanding op Paassondag te vier as ons verlossing uit die slawerny van die sonde, en die oorwinning oor die sonde en dood saam met Jesus. 

 

Uitstorting van die Heilige Gees.

 

Vyftig dae na die paasfees, met die begin van die koringoes (Eks 23:16; Eks 34:26), het die Jode ‘die fees van die weke’ gehou (Eks. 34:22); dit was sewe weke na die paasfees (Lev 23:15-16; Numeri 28:26; Deuteronomium 16:9-10). Die Grieks vir vyftig is pentakonta. Daarom word die fees in die Nuwe Testament die pinksterfees genoem. Dit was ‘n vrolike fees om die Here te dank vir die oes.

            Later is hierdie fees met die geskiedenis van Israel verbind en is die pinksterfees ook verbind met Israel se ontvangs van die wet by die berg Sinai, vyftig dae nadat hulle uit Egipte vertrek het.

 

Volgens Handelinge 1:3 het Jesus gedurende veertig dae na sy opstanding by verskeie geleenthede aan die dissipels verskyn, en het toe in die hemel opgevaar (Hand 1:9). Tien dae later, op die dag van die Joodse pinksterfees, was Jesus se volgelinge op een plek bymekaar en is hulle met die Heilige Gees vervul (Hand 2:1-4).

            Toe Petrus verduidelik wat met hulle gebeur het, het hy uit Joël 2:28-32 aangehaal wat sê dat God sy Gees sal uitstort (Hand 2:18; vgl. ook Hand 2:33; 10:45; Titus 3:5-6).

 

            Daarom vier Christene pinksterfees (party kerke kom vir 10 dae na hemelvaart voor die pinksterfees bymekaar vir gebed) om die blye wete te vier dat God in ons kom woon het deur sy Heilige Gees wat ons daagliks lei en bystaan.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Hoe lees teoloë die Bybel?

Hoe lees teoloë die Bybel? – Marius Nel

Jan Smith vra:

In Rapport van 13 April 2014 skryf dr Abel Pienaar, direkteur van die Sentrum vir eietydse Spiritualiteit, ‘n artikel na aanleiding van ‘n onlangs uitgereikte rolprent oor Noag se ark. Hy vra die vraag oor hoe verstaan ‘n mens antieke tekste in ‘n modern wêreld? Hy skryf: Die verhaal van Noag en die ark(Genesis 6-9) is natuurlik ‘n Bybelse verhaal.

Die meeste gelowiges sal dit wil verstaan as ‘n letterlike en feitelike verhaal. Dan sê hy baie Christene glo nog aan die inspirasieleer dat elke woord in die Bybel letterlik en “waar” is. Die volgende aanhaling is vir my veral ontstellend: “Sodra daar na die Bybel as ‘n antieke skrif gekyk word, vol tipiese mitiese gebeure soos donkies wat praat, mense wat op water kan loop, reuse en maagdelike geboortes, kan duidelik gesien word die Bybelskrywers het uit ‘n voorwetenskaplike wêreldbeeld gedink en geskryf”. Noag kon nie 600 jaar oud gewees het nie. Hulle het geen begrip van ouderdom gehad nie en die menslike fisiologie was beperk en gegrond op bygeloof en legende. Volgens hierdie man is die Bybel en sy inhoud sommer ‘n klomp bogstories. Ek weet nie van watter bladsy af lees hy of vanwaar af hy bel nie. Hoe sou u deelnemende professore hieroor reageer ten einde die ou leke soos ek nie die spoor byster te laat raak nie, asseblief?

 

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Daar is breedweg twee paradigmas waaruit die Bybel deur teoloë gelees word: ‘n belydenis- en streng-wetenskaplike paradigma. Die eerste paradigma laat ruimte dat die Skrif die Woord van God bevat, ook aan die adres van moderne mense. Ons bely dat ons glo in God wat in ons lewens ingryp en binne ons werklikheid ons ontmoet en ons gebede beantwoord. Dit laat ruimte vir wonderwerke, selfs in ons moderne dag maar ook in Bybelse tye. Die ander paradigma stel dat natuurwette bepaal wat in ons wêreld plaasvind en dat God daaraan onderwerp is. Hy tree nie op buite die natuurwette nie en daarom moet wonderwerke in die Bybel as mites en premoderne verklaringswyses afgemaak word. Die implikasie is natuurlik dat Hy vandag ook nie gebede beantwoord deur in ons lewe en werklikheid in te gryp nie. Ek meen die betrokke teoloog skaar hom by die laaste sienswyse terwyl kerklike teoloë eerder die eerste roete volg.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 




Ek ken jou op jou naam?

Ek ken jou op jou naam? – Marius Nel

Francois vra:

Eksodus 33: 12 en 17. “Ek ken jou op jou naam”. Vrae: a)Vir wie is dit bedoel en vir wie nie? (Net die volk van God of ander volke ook?) b)Na die aanbidding van die goue kalf(Eks 32) was(moes) daar enige skuld erkenning en/of sondebelydenis voordat bogenoemde belofte gemaak is? (geen juwele gedra nie?) c) Wat is die betekenis van hierdie belofte vir ons vandag?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Die spesifieke gedeelte is in die eerste plek gerig aan die adres van mense wat in die Sinaiwoestyn was. Om enigsins te verstaan wat dit vir ons beteken, is dit nodig om te hoor wat die boodskap aan hulle was. U is korrek dat die gedeelte afspeel ná die goue-kalfepisode en daardeur bepaal word. Die spesifieke woorde is aan Moses gerig: Ek het jou by die brandende bos op jou naam geroep en gestuur, en daarom sal Ek steeds by jou wees. Wanneer ons as gestuurdes van die Here leef, geld dié belofte ook vir ons: Ek het jou na die sendingveld gestuur waarin jy leef en Ek is saam met jou wanneer jy daar werk.

 

Skrywer: Prof Marius Nel