Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word: Waar of vals?

Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word: Waar of vals? – Kobus Kok

Chantelle vra:

Iemand het my gevra om hulle te help met ‘n vers in die Bybel. Ek self is nie seker of dit so staan in die Bybel nie. “elkeen sal volgens hul eie geloof salig/gered word”. Waar staan dit in die Bybel? Of is dit net ‘n stelling wat mense maak en dit met verskeie ander verse in die Bybel koppel?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

 

Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word:

Waar of vals?

Mens hoor dikwels dat mense sê: “Elkeen sal volgens sy eie geloof gered word”. Daarmee bedoel sommige mense dat dit eintlik nie saak maak in watter geloof of hoe jy glo nie, want almal gaan uiteindelik hemel toe. So ʼn begrip van redding is universalisties van aard – dit is, almal sal uiteindelik gered word. Hierdie tipe siening is al so oud soos die kerk self en word al van die vroegste tyd af  verwerp.

 

Die Christendom verstaan redding Christosentries – dit beteken dat daar buite geloof in Christus nie redding te vinde is nie (Joh 14:6). Mense wat universalisties oor redding dink, glo dat almal gered gaan word ongeag of hulle Christus as persoonlike verlosser aanvaar of nie.

 

Indien iemand op ʼn universalistiese wyse ʼn stelling maak soos “almal sal volgens hulle eie geloof gered word”, kan die Christen hulle antwoord met Johannes 14:6 en argumenteer dat hulle saamstem dat die aard van jou geloof die aard van jou redding gaan bepaal. Kwalifiseer dan jou stelling deur te sê dat indien jou geloof nie Christus as die sentrum het nie, sal jy volgens die aard van jou geloof, nie gered word nie.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Metodiste of Presbiteriane?

Metodiste of Presbiteriane? – Kobus Kok

Jeanette vra:

Wat is die verskil tussen die Nederduits-Hervormde kerke en die Metodiste kerk? Ek wil graag my kinders na n Engelse kerk neem oor hul akademiese taal engels is. Watter Engelse kerk stem ooreen met die NG en Hervormde kerke? Help asb?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Metodiste of Presbiteriane?

Beide die Metodiste en die Presbiteriane het ʼn noue verwantskap met die NG Kerk in die sin dat beide binne die Gereformeerde Protestantisme ontstaan het en Calvinisties van aard is. Beide het ook ʼn lang geskiedenis in Suid Afrika.

Die Presbiteriaanse kerk se naam kom van die Griekse woord “presbiteros” wat ouderling beteken. Die kerk se wortels gaan terug na Engeland en Skotland, en by name John Knox wat saam met Johannes Calvyn in Geneva, Switserland studeer het. Presbiteriane fokus veral op gasvyheid, omgee, konstante vernuwing en sosiale geregtigheid. Die Metodisme gaan weer terug na John Wesley en sy broer Charles Wesley en hulle vriend George Whitefield. Die kerk het ontstaan as ʼn herlewingsbeweging in die 18de eeu binne die Church of England. Wesley (1703-1791) en sy jonger broer Charles (1707-1788) het aan Oxford studeer en daar die sogenaamde “Holy Club” begin. Die klub het weekliks vergader en gefokus op die leef van ʼn heilige lewe. Die mede-studente het spottenderwys na hulle verwys as die groepie wat te veel “metodies” lewe. Wesley het die grappie omgedraai en dit die naam van sy beweging gemaak.  Na Wesley se dood het die beweging weggebreek van die Church of England en ʼn eie denominasie gevorm. Hierdie denominasie het ʼn baie sterk fokus op die missionêre geplaas en vinnig oor Engeland en Amerika versprei. Vandag is daar ongeveer 80 miljoen lidmate in die kerk. Die Metodisme het steeds ʼn sterk missionêre karakter en is bekend daarvoor dat hulle arm of hulpelose mense help. Hulle fokus dus veral op die bou van liefdevolle verhoudings met mense en druk dit veral uit in die vorm van omgee, sosiale diensbaarheid en inklusiwiteit.

In die NG Kerk se geskiedenis het die Skotse Presbiteriaanse invloed ʼn belangrike rol gespeel. In 1820 het ʼn groot hoeveelheid Britse setlaars die land ingestroom. Lord Charles Somerset, met sy Angliseringsbeleid, sou teen 1822 Engels die amptelike taal van die land maak. In die proses is al hoe meer Skotse predikante ingevoer. Die rede daarvoor was onder meer dat die Skotse Presbiteriane sterk ooreenkomste het met die Calvinisme, wat natuurlik eie is aan die NG Kerk. Andrew Murray snr was byvoorbeeld iemand wat uit hierdie groep gekom het, en uiteindelik het hy en sy familie ʼn reuse geskiedkundige invloed op die herlewing van die 1800’s in die NG Kerk gehad. Toe die Presbiteriaanse Moederkerk in Kaapstad gebou is, het baie geld uit die NG Kerk se fondsinsamelings gekom, wat net wys hoe mooi hulle mekaar ondersteun het. Toe die hoeksteen op 9 November 1827 gelê is, het die lidmate van beide kerke eers saam nagmaal gehou.

Die Metodiste Kerk het ook invloed in die NG Kerk uitgehad veral in die negentiende en twintigste eeue. Die Metodistiese invloed het aangesluit by die Nederlandse Nadere Reformasie (gereformeerde piëtisme) wat gelei het tot ‘n evangeliese stroom in die NG Kerk. Die Metodiste is bekend vir hulle praktiese realisme en hulle besondere vroomheid. Die kombinasie van die twee eienskappe het neerslag in die NG Kerk gevind en die dampkring geskep waarbinne baie bekende NG predikante ontwikkel het, soos Ben Marais, David Bosch, Beyers Naude en Willie Jonker.

U kan dus gerus by enige van hierdie kerke aansluit. 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Hoekom nie meer poligamie nie?

Hoekom nie meer poligamie nie? – Marius Nel

Joyce vra:

In die Ou Testament het mans meer as 1 vrou gehad. Soms baie meer as 1 vrou gehad. En as ‘n vrou nie vir haar man kon kinders gee nie het sy dikwels haar slavin vir haar man gegee om vir hom kinders te baar. Help my asb verstaan waar, wanneer en hoekom dit verander het.

Kom ek gee agtergrond. Ek kom uit ‘n streng Gereformeerde huis, klein gedoop, belydenis afgelê en elke ding. Na my ma dood is is ek oor Lewende Woord Brumeria toe. Onlangs het my man, na baie gebede en vas van my kant af, sy hart vir die Here gegee en is nou lidmaat by Ewige Lig Montana. Hy het sy verslawing aan pornografie gelos en die baie vrouens waarmee hy gechat het ook. Die duiwel is egter listig en laat hom wonder oor al hierdie goed. Agv my dopper-agtergrond kan ek meeste van sy vrae goed antwoord, maar die een klop my. Stuur asb die antwoord na my e-pos toe ook, sodat ek dit vir hom kan aanstuur. Hy werk tans in Lesotho, en het nie internet toegang daar nie. Baie dankie!!

 

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

Ek meen die antwoord lê op ‘n paar vlakke:

 

In die eerste plek is daar die openbaring van God wat oor tyd vir mense al helderder geword het, sodat ‘n aanpassing in waardes en norme met tyd gekom het. Dieselfde God het Hom aan mense openbaar, maar soos tyd verby gegaan het, het mense Hom beter verstaan en beter uitdrukking aan sy eise kon gee. Daarom praat ons van die voortgaande openbaring, wat dan in Jesus sy einddoel bereik.

 

In die tweede plek dink ek moet ons vra na die bedoeling van die skrywer. Hoekom vertel hy dié verhale oor Israel se aartsvaders? Ek meen hy wou doelbewus wys dat, alhoewel hulle geloofshelde was, hulle voete van klei gehad het. Later word Jakob se skelmheid ook so beklemtoon. Nou gaan dit oor Sara en Abraham wat self planne maak as dit lyk of God se beloftes nie waar word nie, en die onheilspellende in die teks is dat Abraham se seun by die slavin van die begin af die saad van Israel bedreig.

 

Ek vertrou ek antwoord u vraag.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Legio

Legio – Francois Malan

Jan vra:

In Lukas 8: 26 tot 39 word beskryf hoe die besetene van Gadara van ‘n legio duiwels bevry word. Hulle smeek Jesus om hulle nie in die onderwêreld in te beveel nie. Toe smeek hulle Hom om hulle toe te laat om in ‘n trop varke wat daar gewei het in te vaar. Hy laat hulle toe en die trop varke storm die krans af in die see en verdrink. Nou het die duiwels ook nie meer ‘n blyplek nie en ek wonder en ek wonder wat het dan verder van hulle geword het?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Oënskynlik het die duiwels met hulle versoek om in die varke in te vaar vir Jesus uitoorlê. Die mense van die streek sien hulle verlies aan varke en hulle vrees die ongekende en geweldige gesag van Jesus wat die duiwels uit die man verdryf het. Hulle almal van die hele gebied vra dat Hy van hulle af weggaan.

 

Maar Jesus laat ‘n getuie agter wat, die deur hele dorp gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. Volgens Markus 5:20 gaan hy selfs verder, deur die hele gebied van Dekapolis, die tien Griekse stede Oos van die Jordaan. Toe Jesus weer in die gebied van Dekapolis kom, bring die mense ‘n doofstomme na Jesus om te genees (Markus 7:31-32), en Jesus voed ‘n skare van omtrent 4,000 mense wat na Hom kom luister (Markus 8:1-9).

 

[Die Grieke het baie gode gehad, met Zeus as die hoofgod. Vir hulle gode is o.a. varke geoffer wat in Sirië en Fenisië as heilige diere beskou is. So het Antiogus Epifanes varke laat offer op die tempelplein in Jerusalem waar hy ‘n altaar vir Zeus opgerig het, vgl. Daniël 11:31; 12:11. So vrees die Geraseners toe Jesus hulle afgodsoffers die see in stuur.]

 

Volgens Matteus 8:29 was die duiwels bang dat die Here hulle voor die tyd sou pynig. Daarom hulle versoek om in die varke te vaar. Hulle vrees was dat hulle voor die eindoordeel reeds in die hel gewerp sal word, wat God vir hulle berei het (vgl. Mat. 25:41).

 

Die duiwels het nog steeds in die gebied gewerk (vgl. hulle versoek aan Jesus in Markus 5:10 dat Hy hulle nie uit die landstreek moet wegstuur nie), maar met Jesus se optrede en die getuienis van sy verteenwoordiger, is die mag van die duiwels beperk. Lk 8:36 sê die man is genees. Die Griekse woord soozoo word ook gebruik vir ‘gered.’ Hy was nie slegs van die duiwels genees nie, maar het ‘n volgeling van Jesus geword, wat gesmeek het om by Jesus te bly, en toe Jesus se eerste sendeling in hierdie heidense landstreek geword het, deur wie Jesus onder die mense gewerk het.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan