God wou Moses doodmaak

God wou Moses doodmaak – Marius Nel

Willie vra:

My vraag handel oor Eksodus 4:24,25 en 26. God wou Moses doodmaak – is dit uit en uit net omdat hy nie sy seuns besny het nie? ‘n Mens wonder hoekom God nie vroeër al so streng opgetree het nie, want die seuntjies moes tog op 8 dae oud besny gewees het. Dit gebeur nou op pad Egipte toe nadat hy reeds die opdrag gekry het om die volk uit te lei. Kan ‘n mens aflei dat die Midianiete die gebruik geken het ( ek neem so aan omdat hulle ook maar afstam van Abraham af) en dit wel toegepas het.

Hoekom was Moses en Sippora dan so “ agterlosig”. God wou hier n daad van ongehoorsaamheid met die dood straf . Hoekom die betrokke aksie of gebrek daaraan so streng hanteer as n mens sou dink dat hulle tog ander sondes ook gehad het en dit was nie op dieselfde manier hanteer nie. Hoe het Sippora geweet dat dit God was wat daar was en vir Moses wou doodmaak ? Ons leef vandag in n tyd waar ons weet Jesus Christus vir al ons sondes betaal het . In daardie tyd het Jesus Christus dit nog nie gedoen nie . Hoe het God sonde hanteer voor Sy offer aan die kruis?

 

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Willie

 

Die verhaal herinner aan Jakob se ervaring by Bet-El (Gen. 28:10-22) en Pniël (Gen. 32:22-32). Dié verhale vertel van God se raaiselagtige optrede wat ons nie verstaan nie, en wat dalk as waarskuwing dien dat ons nie moet dink dat ons God in ons denke bevatlik kan maak nie.

 

Die verhaal van Sippora wat haar kind besny, bring die Here se optrede verseker in verband met die gebruik van die besnydenis.

 

Moses het as Egiptenaar groot geword en was verseker nie besny nie; hy het dus nie die teken van die verbond in sy liggaam gehad nie. Hoe kon hy die volk lei met wie God ‘n verbond gehad het as hy self nie die teken daarvan in sy liggaam gedra het nie? Deur die aanraking aan sy seun se bloederige voorhuid kry Moses deel aan die verbond met God en dit spaar sy lewe. Sippora word een van die vroue in Eksodus wat lewe gee en lewe in stand hou.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 




Apollos

Apollos – Coen Slabber

Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het (1 Korintiërs 3:6).

Wie is hierdie Apollos van wie Paulus hier praat? Apollos was ‘n Jood uit Aleksandrië wat tot bekering gekom het. Hy was ‘n tydgenoot van Paulus en het ‘n belangrike rol in die gemeentes van Efese en Korinte gespeel. In Aleksandrië het hy waarskynlik onder die invloed van Philo, die Joodse filosoof, gekom.

Ons lees van Apollos veral in Handelinge 18:24 – 19:1. Hy reis van Aleksandrië en kom in Efese aan – waarskynlik in die jaar 52 of 53. Hy was ‘n begaafde spreker met ‘n deeglike kennis van die Skrif. Ons lees dat hy in die leer van die Here onderrig ontvang het. Hy praat met groot geesdrif en leer ander alles  oor Jesus. Terwyl hy eendag met vrymoedigheid in die sinagoge gepreek het, hoor Priscilla en Akwila, vriende en medewerkers van Paulus, hom en nooi hom na hulle huis toe. Daar maak hulle vir hom die leer van God nog duideliker. Wat was dan die verskille tussen wat Apollos en wat Priscilla en Akwila geleer het? Dit was waarskynlik verskille oor die doop en die rol van die Heilige Gees. Ons lees dat die doop waarvan Apollos geweet het die doop van Johannes die Doper was.

 

Van Efese reis Apollos na Agaje. Die gelowiges in Efese gee vir hom ‘n aanbevelingsbrief. In Korinte, die hoofstad van die Romeinse provinsie van Agaje, weerlê hy kragtig en in die openbaar die Jode en bewys uit die Skrif dat Jesus die Christus is. Dit is juis deur sy werk in Korinte dat Paulus na Apollos as die een wat natgooi verwys.

 

Ongelukkig was daar faksievorming in die gemeente van Korinte. Daar was vier faksies: een vir Paulus, een vir Apollos, een vir Sefas en een vir Christus (1 Korintiërs 1:12). Daar is geen rede om te dink dat Apollos enigiets met hierdie faksievorming te doen gehad het nie. Ons lees later dat Paulus herhaaldelik vir Apollos versoek het om na Korinte terug te keer, maar hy wou nie: Hy sal gaan sodra die tyd vir hom geleë is (1 Korintiërs 16:12). Die enigste ander keer wat ons van Apollos in die Bybel lees is in Titus 3:13.

 

Hieronimus skryf dat Apollos so ontevrede was met die verdeeldheid in Korinte dat hy en die regsgeleerde, Zenas, na Kreta gaan. Die verdeling in Korinte is mettertyd geheel veral deur Paulus se briewe. Apollos het waarskynlik later na Korinte teruggekeer.

 

Martin Luther het geglo dat Apollos die skrywer van die Hebreër-brief was. Verskeie kerkgenootskappe (byvoorbeeld die Missouri-sinode van die Lutherse Kerk) beskou Apollos as ‘n heilige. Elke jaar op 13 Februarie word Apollos, Priscilla en Akwila herdenk.

 

Die feit dat Apollos in Aleksandrië grootgeword het, moes beslis ‘n invloed op hom gehad het. Philo, die Joodse filosoof, beweer daar was destyds ongeveer een miljoen Jode in Egipte – die oorgrote meerderheid in Aleksandrië. Dit was die grootse Joodse gemeenskap in die diaspora. Aleksandrië was veral bekend vir sy uitstekende biblioteek. Dit is dan ook die plek waar die Hebreeuse Ou Testament in Grieks – die Septuagint – vertaal is. Philo was ook bekend vir sy allegoriese Skrifinterpretasie. [Allegorie – sinnebeeldige voorstelling van ‘n abstrakte begrip, meestal met lewende wesens wat die abstrakte begrippe voorstel. Grieks: allos – anders +  agoria = sprekende].

 

Wat kan ons by Apollos leer?

  1. 1.Apollos gebruik die plek waar hy grootgeword het om sy verstaan van die Skrif te ontwikkel. As ek ernstig is om die Skrif te bestudeer en te verstaan, moet ek alle moontlike hulpbronne tot my beskikking gebruik.
  2. 2.Apollos is oop en leerbaar. Toe Priscilla en Akwila hom nader om die leer van die Here vir hom nog duideliker te maak, luister hy en pas aan. Ek weet nooit genoeg dat dit nie vir my meer nodig is om te leer nie.
  3. 3.Apollos gebruik sy gawe – prediking – om die liggaam van Christus uit te bou. Elkeen van ons het ‘n gawe ontvang. Gebruik ek my gawe om die liggaam van Christus uit te bou?
  4. 4.Apollos gebruik sy kennis van die Skrif om die Christelike geloof te verdedig: Hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is. Gebruik ek my kennis om ander tereg te wys as hulle van die Skrif afdwaal … in die openbaar?

 

Apollos, begaafde spreker, altyd bereid om nog meer te leer, is vir elkeen van ons ‘n voorbeeld om na te volg.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 




Verander God van Plan?

Verander God van Plan? – Marius Nel

Jan vra:

1 Sam 15: 29: En ook lieg die Roem van Israel nie en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens dat Hy berou sou hê nie. Dit na aanleiding van die beëindiging van die koningskap van Saul. Gen 6: 5& 6: Toe die Here sien dat die boosheid van die mense op die aarde groot was en die versinsels wat hy in sy hart bedink altyddeur net sleg was, het dit God berou dat Hy die mense op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart. Is hierdie betoning van berou en die berou ten opsigte van Saul verskillend of is dit ‘n paradoks?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

In 15:29 staan dat die Here nie van plan verander nie en Saul as koning verwerp. God het egter van plan verander; vgl 15:11 wat vertel dat Hy Saul verkies, en nou verwerp het. Hoe kan ‘n mens dié twee stellings met mekaar rym? Dit bewys dat ‘n mens nie oor God se soewereine dade wat Hy in sy alwysheid doen kan nadink sonder om in gedagte te hou dat jy met niemand minder nie as God te doen het, en dat Hy ‘n misterie is en in misterie gehul is. Ons kan nie sy optrede voorspel vanuit ons eie (uiters beperkte) perspektief nie. En ons durf nie vir Hom probeer voorskryf hoe Hy behoort op te tree nie. Die enigste manier om God te ken is om Hom te dien, wat beteken dat jy Hom ten volle vertrou.

 

Dieselfde geld jou verwysing na Genesis 6. Dit is mense wat iets oor God se handelinge met mense probeer sê, en oor hulle woorde struikel.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Slaap by die koning se vrou

Slaap by die koning se vrou – Marius Nel

Jan vra:

Toe koning Dawid oud en ver op sy dae was, kon hulle hom nie warm kry nie. Toe soek hulle ‘n jongmeisie om hom te verpleeg en wat daarop volg. Terwyl Dawid nog leef besluit sy seun Adonia hy sal koning wees maar sy poging word verydel omdat Salomo bestem was om Dawid op te volg. Adonia kom by Batseba en vra dat sy vir Salomo moet vra of hy nie die jongmeisie wat Dawid verpleeg het as vrou kan kry nie. Salomo se reaksie is dat Adonia net sowel kon gevra het om koning te wees. Dit kos Adonia sy lewe. Hoekom sou Salomo so onsteld oor Adonia se versoek gewees het, asb?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord

 

Die antwoord op jou vraag hou verband met 2 Samuel 16:21-22. Deur by die vrou te slaap wat by die koning geslaap het, het die antieke mens geglo, kom iets van die gesag en waardigheid van die koning na jou kant toe en bemagtig dit jou om in sy plek op te tree.

 

Alhoewel die teks beklemtoon dat Dawid nie met die jongmeisie gemeenskap gehad het nie, het die volk dit moontlik nie geweet nie (hoekom anders sal die skrywer dit beklemtoon?) en is dit ook nie so belangrik nie. Feit is: sy was die naaste aan die koning van almal.

 

Dawid se reaksie hou dan verband, nie met die feit dat sy seun by die meisie wil slaap nie, maar met die ambisie van die seun om sy pa se koningskap omver te werp.  Adonia se versoek is niks anders as ‘n poging om die troon te gryp nie. En daarom Dawid se besluit om Adonia se lewe te laat neem.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel