Ananias en Saffira

Ananias en Saffira – Francois Malan

Jan Smith vra:

Om in almal se behoeftes te voorsien besluit die mense om hulle eiendomme en so aan te verkoop en die opbrengste na die dissipels te bring wat aan elkeen uitgedeel na behoefte. Ananias en Saffira besluit ook so maar hou ‘n sekere deel terug. Petrus raak bewus van die gekonkel en toe Ananias bevestig dat die bedrag reg is beskuldig Petrus hom dat hy vir die Heilige Gees gelieg het en hy sterf op die plek. Jong manne dra hom weg en gaan begrawe hom sondermeer. Dieselfde gebeur met sy vrou Saffira. Nou wonder ek net om welke rede hulle sonder slag of sprook  begrawe is sonder dat enige familie/naasbestaandes in kennis gestel is.

Antwoord:

Prof. Francois Malan antwoord:

Handelinge 5 gee nie vir ons ‘n aanduiding van die rede nie, en daarom sou enige verklaring blote raaiwerk wees. Die naaste wat daaraan gekom kan word, is Deuteronomium 21:22-23 se opdrag dat iemand wat tereggestel word vir ‘n oortreding wat die doodstraf verdien, nog op dieselfde dag begrawe moet word. Weens die warm klimaat van Palestina het dit algemene gebruik geword. Dit gee egter geen duidelikheid oor jou vraag nie, want by gewone begrafnisse van die Jode was die rou oor die dooie belangrik.

 

Die verhaal het Lukas waarskynlik by Joodse gelowiges gekry (vgl. Lukas se verklaring in Lukas 1:1-4 dat hy al die verhale wat opgeteken is oor Jesus  ondersoek het vir die opstel van sy tweeledige werk Lukas-Handelinge). Die mondelinge oorlewering en optekenaars het dit skynbaar nie vreemd gevind dat Saffira nie ingelig is oor haar man se begrafnis nie. Moes hy dadelik begrawe word om die gemeente nie te verontreinig nie (Deutr. 22:32), omdat sy oortreding so ernstig beskou was, deurdat hy eintlik die werk van die Heilige Gees, wat sommige gemeentelede beweeg het om al hulle goed vir die armes te gee, nageboots het, om daardeur vir homself eer te verkry in die oë van die gemeente? 

 

Wat wel uit die verhaal spreek is die heiligheid van God. Volgens Matteus 12:32 sê Jesus: As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie (vgl. Markus 3:29; Lukas 12:10). Petrus sê vir Ananias in Handelinge 5:3,4 hoekom het jy jou deur die Satan laat oorhaal om vir die Heilige Gees te lieg…Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God. Vir Saffira sê hy (5:9): waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart?

 

In 1 Korintiërs 11:30 sê Paulus dat daar in die gemeente van Korinte baie swakkes en sieklikes is en baie van hulle sterf, omdat die rykes nie saam met die armes wil nagmaal vier nie.

 

Hebreërs 12:28-29 sê daarvan: Laat ons, wat die onwankelbare koninkryk ontvang het,  God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur. Dit is ‘n verwysing na Deuteronomium 4:24: Die Here jou God is ‘n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Poligamie: Dawid en Salomo

Poligamie: Dawid en Salomo – Marius Nel

Alwyn vra:

Ek wil graag weet – Dawid was ‘n groot Bybelse figuur en Godsman, soveel so dat Jesus uit sy nageslag gebore was. Waarom het het hy en Salomo so baie vroue gehad ten spyte van die feit dat God vir Adam net Eva gegee het as vrou en vir Noag en sy seuns elk net een vrou in die ark toegelaat het. Waar het die reg geword om meer as een sielsverbintenis te mag hê.

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Alwyn

 

Jy is heeltemal reg dat aan die heel begin monogamie duidelik die norm was.

 

Tog weet ons dat Abraham ook ‘n tweede vrou, sy vrou se slavin, as vrou geneem het. En daarna lees ‘n mens telkemale weer van poligamie, selfs in terme van die mees gewaardeerde geloofshelde in die Bybel.

 

Die norm was egter steeds monogamie.

 

Die Midde-Oosterse konings het in baie gevalle vele vroue gehad omdat hulle huweliksverbintenisse hulle politiek-diplomatieke verbintenisse met ander volke voltrek het. In dié sin het Dawid en Salomo ook met vroue getrou wat aan koningshuise van ander volke verbind was. Dit sluit Dawid se verbintenis met Batseba uit, wat uit-en-uit ‘n sondige verbintenis was.

 

Dat die Skrif dit nie duidelik afwys nie, beteken dat die Bybelse skrywers die feitelikheid daarvan erken sonder om ‘n waarde-oordeel daaroor te vel. Waar die Here aan die woord kom, soos in die profeteboeke, is dit egter duidelik dat hy sulke verbintenisse as egbreuk en huweliksontrou beskou.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Satan se gesag

Satan se gesag – Francois Malan

Hans vra:

In Lukas 4 vers 5 en 6 bevestig Satan aan Jesus, met verwysing na die koninkryke, dat al hierdie mag aan hom (satan) oorgegee is. Is dit soos hy beweer?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Johannes 12:31 verwys Jesus na die Satan (satan beteken ‘teenstander;’ duiwel ‘aanklaer’) as ‘die owerste oor hierdie wêreld,’ Jesus het juis gekom om hierdie wêreld te oordeel en sy owerste uit te gooi buitentoe, deur die sonde van die wêreld op Hom te neem aan die kruis. In Joh 14:30 sê Jesus dat Hy nie meer lank met sy dissipels kan praat nie, want die ‘owerste van die wêreld’ is aan die kom (om Hom gevange te laat neem). Die duiwel, het egter geen mag oor Jesus nie, Jesus gee Homself oor om gekruisig te word. In Joh 16:11 sê Jesus: die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel. Wie God nie as Koning van sy lewe ken nie, het die duiwel as heerser oor hom. In Markus 3:22 word hy Beëlsebul (god van alle onreinheid wat van jou besit neem) genoem; in 2 Kor 4:4 ‘die god van hierdie wêreld’ wat die ongelowiges se verstand verblind – wat sy groot mag aandui oor mense, wat nie in ‘n geloofsverbondenheid met God lewe nie.

 

In Joh 8:44 sê Jesus: die duiwel was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen. Daarom het Jesus ook nie geval vir die Satan se aanbod van die wêreld se mag en glorie uit die aardsleuenaar se hand nie, omdat Jesus in gehoorsaamheid God alleen erken en dien (Lk 4:8)

 

‘My vraag is net, wie het hierdie mag en of glorie aan satan oorgegee soos hy beweer?’

 

Elke mens wat toegee aan die Satan se versoekings en leuens, gee aan hom die seggenskap oor sy lewe. Daarvan was Eva die voorbeeld: toe sy sien dat die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad begeerlik is omdat dit kennis kan gee, om soos God te wees, het sy haar rug op God gedraai en haar eie god geword. So lewe elke mens vir homself; is elke mens sy eie god wat eerste kom in sy lewe. Daarmee het die duiwel vir haar en elke mens wat vir homself lewe met sy leuen gevang (Genesis 3:4-6).

 

So wou Satan ook met sy aanbod van wêreldoorheersing vir Jesus vang om voor hom te buig en hom te aanbid. Die sondigheid van die mens is sy smag na eie roem en mag, terwyl God die mens met bepaalde vermoëns geskep het om God en die mense wat God geskep het, uit liefde met jou lewe en vermoëns te dien. Daarom sê Jesus vir die Jode, wat geglo het hulle is kinders van Abraham en kinders van God, dat hulle eintlik kinders van die duiwel is, omdat hulle vir Jesus, wat God aan hulle kom openbaar, wil doodmaak. Vir sy lewe van liefdesdiens sien hulle nie kans nie (Joh 8:33-47).

 

Maar omdat God sy wêreld met al sy mense, wat Hy goed geskep het, liefhet, ten spyte van hulle verwerping van Hom, het Hy sy Seun gegee om ons van die mag van die sonde en die bose en van onsself te verlos, deur ons straf te dra, en ons van die mag van die bose te verlos. Sodat elkeen wat glo dat Jesus God is, wat vir ons verlossing gesterf het, en as oorwinnaar oor die bose en die dood opgestaan het, die ewige lewe kan hê, deurdat die liefde van God in ons kom woon deur die Heilige Gees, en ons aan Jesus verbind in die geloof (vgl. Joh 3:16; 14:16,17).

 

Maar dit vra ook van ons om die stryd teen die Bose en teen onsself te stry met die wapens wat Hy vir ons gee (vgl. Efesiërs 6:10-18: met die waarheid, die regte verhouding tot God, bereid om die evangelie van vrede te verkondig, geloof in Christus, ons verlossing deur Christus, die woord van God, gebed tot God, waaksaam bly).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Watter kerk is die regte kerk?

Watter kerk is die regte kerk? – Kobus Kok

Sarie vra:

Daar is soooo baie kerke en leerstellings. Watter kerk (denominasie) is die mees Bybel korrek? Net as mens dink NOU het jy die regte plek vir aanbidding opgespoor, is daar weer n dwaalleer wat êrens kop uitsteek!!

Antwoord:

Prof. Kobus Kok antwoord:

Dit is baie moeilik om sommer so breedweg en kategories te kan sê watter kerk is goed en watter kerk is sleg. Gelowiges word deur God se Gees bemagtig om gees-geïnspireerde besluite te neem. Wat vir sommiges reg is, is dikwels vir ander verkeerd. Kyk maar net na die vroegste Christene. Selfs binne die kerke van Paulus was daar gelowiges wat verskillend oor sake geoordeel het. Vat maar net die groot debat in die gemeente in Korinte (1 Kor 8) rondom die eet van offervleis. Vir baie van die gelowiges was dit problematies om offervlies te eet. Vir ander gelowiges was dit nie ʼn probleem nie. Paulus verstaan beide kante en dink dat nie een van die twee opsies problematies is nie. In die oplossing wat Paulus aanbied, beveel hy aan dat die gelowiges wat voel dat die eet van offervleis aanvaarbaar is, eerder ter wille van die ander gelowiges vir wie dit onaanvaarbaar is, moet wegbly daarvan. Die punt is net dat selfs die heel vroegste Christene in die Bybelse tyd ook dikwels gevoel het dat hulle medegelowiges nou te ver gegaan het of die grense oorsteek het. Dit leer ons dat mense reeds van die heel begin af van mekaar verskil het oor die wyse waarop die geloof vergestalting moes kry.

 

Die antieke Christene het altyd gesê: “Lex orandi, lex credendi” – “die wet van gebed is die wet van geloof”. Anders gestel – soos wat mens bid, so glo mens. Die vroeë Christene het geglo dat die barometer van ʼn goeie kerk gemeet kan word aan die hand van die wyse waarop die betrokke kerk hulle gebedslewe inkleur. In die aanbidding kan mens sien hoe naby of hoe ver mense aan God is. Tog is die saak nie so eenvoudig nie. Mense wat bid is ook maar dikwels mense wat sondig. Luther het eenmaal gesê ons is almal Simul Iustus et Peccator – dieselfde tyd regverdig, maar ook sondige oortreders. Waar daar liefde is, daar is God – maar waar daar mense is, is daar sonde. Daarom moet mens maar vrede maak met die feit dat kerke ook kan foute maak en dat mens soms teleurgestel gaan word. Juis om hierdie rede het mens onderskeiding van geloof nodig. Dit word net in die dampkring van God se troonsaal, en aan sy voete gevind. Bly daarom naby aan God se voete, vergewe mense wat in hul eie menslikheid foute maak. Wees ook oop vir jou eie foute en bely dit voor God. Voel vrymoedig om die saak wat jy voel God op jou hart plaas met jou kerk en haar leiers te bespreek. Met jou oë gerig op God, sal Hy jou wys of jy by jou kerk met bly, en of ʼn nuwe seisoen vir jou aangebreek het, en jy na ʼn ander plek moet gaan. Dalk is jy geroep om binne jou kerk ʼn verskil te maak – om nie net ʼn passiewe volger te wees nie, maar ʼn leier. Onthou dat daar ook ruimte binne ʼn kerk is vir verskillende standpunte. Net so het jou standpunt ook ruimte, en mag jy verskil van jou kerk op sekere punte. Dalk wil die Here jou juis binne jou kerk gebruik om daar ‘n verskil te maak. 

 

Skrywer:  Prof Kobus Kok