Kundalini

Kundalini – Jan van der Watt

Jan Smith vra:

Na aanleiding van die artikel “Bid en omval” het ek verneem oor iets wat die Kundalenigees genoem word wat sogenaamd die plek van die Heilige Gees inneem en mense so verlei. Wil graag verneem wat die omvang van hierdie verleiding is, asseblief?

Antwoord

Prof Jan van der watt antwoord:

 

Kundalini is ’n woord wat ‘die opgerolde’ beteken. Dit verwys na ‘n soort energie wat glo in ’n spiraalvormige kanaaltjie aan die onderkant van die rugwerwelkolom sit. Daar word gesê dat die energie deur meditatiewe tegnieke ontsluit kan word, hoewel dit in beperkte mate daagliks in mense ook kan werk. Dit is hoofsaaklik bekend in areas en godsdienste wat met meditasie te doen het. Die Christendom is nie een van die godsdienste nie. Daarom sal waarskynlik heel min Christene die woord ken.

 

Christene glo in die een ware God en Gees wat nie plek maak vir ander spirituele kragte nie. Hy is almagtig en alle krag lê by hom. Dit is wel moontlik dat ’n mens jou egter oopstel vir die werk van ander geeste. In 1 Joh 4:1-3 word daar gewaarsku teen sulke geeste wat mense kan mislei. As dit nie van God af kom nie, is dit van die bose af en moet dus vermy word. Die toets of ’n Gees die regte Gees is, is of die Gees jou in die arms van Jesus plaas en jou laat doen wat Hy gedoen het.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Bid en omval

Bid en omval – Jan van der Watt

Annalie vra:

Ek was gister by ‘n dames byeenkoms waar iemand vir my gebid het. Sy het gebid en my liggies agtertoe gestamp. ‘n Ander person het vir my gevang en op die vloer laat lê. Ek kan nie verduidelik wat in die tyd met my gebeur het nie, maar wil weet of dit tot God se eer strek. Ek is in ‘n baie konserwatiewe kerk en ken nie hierdie manier van bid nie, ook nie om in tale te praat nie.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

 

Miskien net so klein bietjie breë agtergrond oor hierdie saak. Net na die periode van die Verligting (einde 17 en begin 18e eeu, wat die einde van die Middeleeue ingelei het) het die mense baie met hulle verstand (rede) na dinge begin kyk, ook na die Bybel. Hulle het geargumenteer dat as jy iets nie met jou verstand kan verklaar nie, dit eintlik nie waar is nie. So het hulle ook na die Bybel toe gegaan en met hulle verstand die Bybel probeer dissekteer. Dit het natuurlik daartoe gelei dat mense aan die Bybel begin twyfel het, want die Bybel vertel ons mos van God en wonders wat nie met die verstand verklaar kan word nie. Veral in die wetenskap het dit gebeur. Gelowiges het toe teen hierdie wantroue in die Bybel begin reageer en herlewingsbewegings wat die fokus meer op geloof in God en sy nabyheid geplaas het, het begin. Aan die einde van die 19e eeu was daar groot herlewing in Amerika (en elders ook) en die Heilige Gees se teenwoordigheid het veral ’n rol begin speel. Daar moes ‘gesien’ kon word dat die Gees teenwoordig is en werk, en die spreek in tale met allerhande ander manifestasies het toe as tekens gedien dat die Gees aan die werk is. Dit het so belangrik geword, dat mense begin sê het dat as dit nie gebeur nie, die Gees nie daar was nie. Dit het met ander woorde ’n soort ‘kenteken’ van die teenwoordigheid van die Gees vir hierdie mense geword. In hierdie tyd het sendelinge uit Amerika gekom en ook in ons land kom werk, wat beteken het dat dit ook in ons land bekend geword het.

 

Nou moet ons onthou dat nie alle Christene aan hierdie bewegings op dieselfde wyse deelgeneem het nie. Dit was, om die waarheid te sê, mense wat hierdie ervarings meegemaak het, was in die minderheid. Daar was dus ander maniere ook om die Gees te ervaar wat niks te doen het met spreek in tale of omval nie. Vir hulle was en is dit ook nie belangrik om die dinge te ervaar nie. Dit is waar van die oorgrote meerderheid Christene.

 

Daarmee word nou nie gesê dat die ervarings nie outentiek of opreg is nie. Die Bybel sê die Gees werk soos Hy wil. Ons besluit met ander woorde nie wat moet gebeur en hoe nie, maar die Gees besluit dit (1 Kor 12:11). Hierdie vryheid mag ons nooit van die Gees af ‘wegdink’ nie. Maar ons moet ook nie na die ander kant toe sondig nie. Ons moet nie dink dat as dit nie met ons gebeur nie, ons nie die Gees het nie, of mense moet ons dit ook nie wysmaak nie. Dit is doodgewoon nie waar nie. Die Gees werk baie wyer as dit. Dit Gees gee lewe (Joh 3:3,5; 1 Kor 2:1-5), lei ons in die waarheid van Jesus (Joh 14:26; 15:26), hou ons verhouding met die Vader goed (Gal 4:6), en so kan ons aangaan. Om die Gees toe te sluit in ’n spreek-in-tale of omval hokkie is nie reg nie. As die Gees natuurlik wil, kan Hy dit doen, maar dit is nie al wat Hy doen nie. Hy kan ook kies dat dit nie gebeur nie.

 

Nou is die vraag wat tot eer van God is. ’n Algemene en wyse manier om jouself in sulke omstandighede te help, is juis om die Gees te vertrou. As mens baie ongemaklik daaroor voel en nie vrede in jou hart het nie, moet jy daaroor bid – miskien het die Gees die dinge nie vir jou in gedagte nie. Dan moet jy dit liewer nie doen nie. God is nie ’n God van onvrede nie. ’n Algemene reël is dat om  dinge te doen waaroor jy sleg voel of wat jou pla gewoonlik nie tot eer van God is nie. Dit bly maar ’n algemene reël wat altyd met gebed en soeke na die waarheid gepaard moet gaan. 

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




Hoekom moes God kwartels voorsien?

Hoekom moes God kwartels voorsien? – Marius Nel

Jan Smith vra:

In Levitikus word daar melding gemaak van verskillende offers bv die spysoffer, dankoffer, sondoffer en skuldoffer. Omtrent almal vereis dat daar ‘n dier doodgemaak moet word. Toe Salomo die tempel ingewy het was daar ook derduisende stuks vee en beeste geslag waarvan sekere dele geoffer moes word. Daar moes ook deur die Hoëpriester een maal per jaar bloed op die versoendeksel gegiet word. Vrae: As die Israeliete in die woestyn so baie vee gehad het hoekom het hulle na vleis gesmag en het God kwartels voorsien? Het die mense die res van die geslagte vee geëet? Hoe is die bloed op die versoendeksel skoongemaak nadat daar jaar na jaar nuwe bloed op die ou bloed gegiet is?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

Die eerste vraag – hoekom Israel na vleis smag terwyl hulle in die woestyn baie vee gehad het – stuit voor die probleem dat ons nie weet hoeveel vee die slawe besit het waarmee hulle uit Egipte getrek het nie. Daar bestaan geen dokumentêre bewyse wat hierna verwys nie. Wat die Hebreeuse slawe se sosiale, ekonomiese en politieke situasie en beregting in Egipte was, is vir ons onbekend. Dis heel moontlik dat hulle vee gehad het, maar verseker nie so veel nie. En die wildernis waardeur hulle getrek het, het ook nie voorsiening vir groot troppe grootvee gemaak nie; dis ‘n wêreld waar bokke hoofsaaklik voorkom waarmee kleinboere boer. Daarom is dit waarskynlik so dat die groot klomp mense heel gou na vleis sou begin smag.

 

Die antwoord op die tweede vraag – hoe die bloed van die verbondskis skoongemaak is – is ook onbekend omdat daar nie enigiets daaroor geskryf is nie. Onthou ook dat die verbondskis met die Babiloniese wegvoering in vergetelheid verdwyn het. Ek kan my egter indink dat bloed wat een maal ‘n jaar daaroor gesprinkel word, in die loop van die jaar sou verdroog en haas vergaan.

 

Skrywer: Prof Marius Nel.

 




Mag ek weer trou na ’n egskeiding?

Mag ek weer trou na ‘n egskeiding? – Jan van der Watt

Egskeiding is inderdaad in ons tyd ’n groot probleem. Daarmee saam gaan die probleem van hertrou. Mag jy met iemand anders hertrou nadat jy geskei het? Maklike antwoorde is daar nie altyd nie. Daar is twee dinge wat ons eers net moet noem.

  1. a)Wette in die Bybel moet ons nooit lees asof hulle alleen staan nie. Die lewe is baie meer ingewikkeld en Jesus het dit geweet. Daarom gebruik Hy die voorbeeld van die seun of ‘n os wat in die put val op die Sabbat (Luk 14:5). Hier het ‘n mens met die kompleksiteit van die lewe te doen. Almal weet jy mag nie werk op ‘n Sabbat nie. Net so weet almal dat ons lewe moet red en spaar, want God is ‘n God van lewe. Die twee wette bots hier – wat nou gemaak? Jesus het egter gewys dat die wet om lewe te red belangriker is as om die Sabbat te hou, soos ons uit Luk 14:1-6 sien. Hy het ‘n keuse vir die belangrikste saak geneem. Daarmee impliseer Jesus nie dat Hy die Sabbatswet gebreek het nie, maar juis gedoen het wat toelaatbaar is. Hoewel ons soms in die Bybel direkte opdragte kry, raak die lewe soms so gekompliseerd dat ‘n klomp opdragte gelyk ter sprake is. Nog ‘n voorbeeld: as Piet vir Sannie wil vermoor en sy hardloop deur die kamer waar jy staan en kruip onder die bed weg. Sy vra jou om niks te sê nie. Piet kom in en vra waar is Sannie, want hy wil haar doodmaak. Wat gaan jy doen? Gaan jy ‘jok’ en sê jy weet nie of gaan jy deel van die moord word?
  2. b)Die Bybel bestaan uit 66 boeke wat oor honderde jare geskryf is. Geleidelik, soos God Homself aan mense openbaar het, het dinge al hoe duideliker geword. Ons moet dus nie net een boek in die Bybel lees nie, want almal praat saam om vir ons die openbaring van God te gee. Ons noem dit die inner-kanoniese gesprek. Dit beteken dat daar selfs ontwikkeling in gedagtes kan wees, soos aanvanklik moes die Jode nie varkvleis eet nie of moes allerhande reinheidsgebooie nakom. Jesus hetkom verander. Juis die tema van egskeiding is hier ‘n goeie voorbeeld. In die tyd voor Jesus was dit maklik vir Jode om te skei. Die man kon vir sy vrou eenvoudig ‘n brief gee wat sê hy skei van haar, dan was dit verby. (Daar was egter ander sosiale reëls wat dit darem nie heeltemal so maklik gemaak het nie, maar hierdie is nie die plek om dit te bespreek nie). In sommige beperkte gevalle kon ‘n vrou ook van haar man geskei het. Jesus het egter die saak in ‘n ander lig kom stel: Hy het kom sê dat mens nie mag skei nie! (Mk 10:5-10). In Matteus 5:32, wat biejtie later geskryf is, kry ons iets anders: daar word gesê dat mens nie mag skei nie, behalwe in die geval van owerspel. In 1 Kor 7:15 gaan Paulus nog verder en sê dat mens nie mag skei nie, maar as jou ongelowige man wil skei, moet hy dit maar doen. Dan noem Paulus die rede – om in vrede te leef is belangriker as om getroud te bly en mekaar te verskeur. (Ons sien hier weer twee wette wat bots). Die verskillende dele van die Bybel wys vir ons dat hoewel Jesus dit duidelik gestel het dat mens in beginsel nie moet skei nie, daar tog soms situasies kom waar ander redes so gewigtig raak dat dit wel toelaatbaar word om te skei. Jesus se verbod was nie so absoluut dat dit nooit mag gebeur nie. Daar moet egter baaaaie goeie redes wees daarvoor.

 

Dit bring ons nou by die vraag of iemand wat geskei is weer mag trou? Kom ons kyk na die tekste.

 

Mk 10:8-12: 8en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. 9Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.”10In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. 11Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. 12En as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”

 

Mat 5:32: “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

 

Mat 19:9: 9Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk.”

 

Luk 16:8: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

 

1 Kor 7:10 en 15:Die getroudes beveel ek—nee, nie ek nie, maar die Here—dat ’n vrou nie van haar man mag skei nie. 11As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag ’n man ook nie van sy vrou skei nie…. en 15As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe.

 

Rom 7:2-3: Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind so lank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het. 3Maar as sy ’n ander man se vrou word so lank as haar man lewe, sal sy as ’n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie ’n egbreekster as sy ’n ander man se vrou word nie.

 

Die boodskap in die Bybel is redelik eenduidig dat ’n vrou of man wat skei nie ’n tweede maal met iemand anders mag trou nie. Daar is tog uitsonderings, soos as een van die huweliksmaats doodgaan of as ’n ongelowige skei, of so lyk dit in elk geval.

 

  1. a)Uit hierdie tekste kan ons aflei dat twee mense wat getrou het, in beginsel lewenslank aan mekaar behoort, selfs nadat hulle geskei het (want mens moet eintlik nie skei nie). Om met iemand anders te trou mag nie ‘n rede wees om te skei nie. Jy moet ook altyd die moontlikheid ooplaat dat daar weer versoening kan kom. As jy met ander woorde met ‘n geskeide vrou trou, ontneem jy in ‘n sekere sin die moontlikheid vir versoening met haar vorige man. As een van die huweliksmaats egter doodgaan is die moontlikheid vir versoening en om weer te trou verby. Dan kan die vrou of man weer trou.
  2. b)Dit lyk tog of Paulus in 1 Kor 7:15 wel die geleentheid open dat ‘n ongelowige man van sy vrou kan skei en dat sy dan nie meer gebind (die Griekse woord vir ‘slaaf wees’ word hier gebruik – in die antieke is daar ‘n hele paar skrywers wat die huwelik en slawerny vergelyk) is nie. Wat persies hier bedoel word is nie eenduidig nie. Sekere kommentatore sien hierdie uitspraak inderdaad as ‘n opheffing van die vereiste om nie weer te trou nie. So word vir vrede eerder as vir ‘n vernietigende huwelik gekies. Dit is bekend as die ‘Paulinies voorreg’. Ander kommentatore voel dat mens nie sover moet gaan om te sê dat die geskeide weer mag trou nie. As mens die argumente opweeg, lyk dit tog of Paulus sê dat hertrou eintlik nie moet gebeur nie, maar dat in uiterste omstandighede dit wel ‘n moontlikheid is. Dit wil lyk of dit parallel loop met gedagte van egskeiding. Dit mag nie, maar in uiterste gevalle mag dit wel.

 

Dit lyk dus of hertrou nie ‘n opsie is nie – mens moet tot die uiterste toe gaan om te versoen. Maar in uiterste gevalle, waar die lewe deur onvrede opgevreet word, mag dit as moontlikheid gesien word.

 

Waarom trou kerke geskeide mense? Ek dink dit is ‘n vraag wat elke dominee of pastoor deeglik oor moet nadink. Dit lyk vir my dat as die kerk nie BAIE DEEGLIK na die proses van skeiding gekyk het en aktief aan pogings tot versoening deelgeneem het nie, hulle nie sommer net links en regs mense kan trou nie. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt