Weer doop

Weer doop – Francois Malan

Johannes vra:

Vrede vir julle. Ek wil graag weet oor groot doop. Ek het gedink ek verstaan alles omtrent dit, maar die ding wat my geweldig pla, is dat indien ek tot bekering gekom het, en die besluit geneem het om my te laat “grootdoop” in my swembad waar ander mense ook gewoonlik gedoop word, as teken tot my/ons verbintenis tot ‘n lewe saam met ons Vader, nou gebeur dit dat van die persone wat so “groot gedoop” is, op ‘n toer na Israel toe gaan en nie kan wag om weer in die Jordaan gedoop te word nie.

Ek voel dat dit verkeerd is en dat jy daardeur jou eerste doop afskryf en dus sodoende Jesus se verlossing ook afskryf wat as sigbare teken met jou “eerste” doop plaasgevind het. Is ek verkeerd of nie en indien ek reg of verkeerd is, waar kan ek teks kry in God se woord wat dit bevestig. Indien dit verkeerd is, wil ek met die regte Skrif probeer keer dat nog mense foute maak. Amen

 

 Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

Jy skryf: ‘ek kom tot bekering, ek besluit om my te laat groot doop as teken van my verbintenis tot ‘n lewe saam met ons Vader’

Die stelling onderstreep my verantwoordelikheid, wat ook reg is. Maar dit gaan by die ryke

betekenis van die doop verby. Eintlik is die doop ‘n teken van God se genade, van sy werking in en met my, om my geloof te versterk in sy verbondenheid aan my.

God het die wêreld, wat Hy geskep het, en wat sy rug op God gedraai het, so lief dat Hy sy enigste Seun, Jesus (dit beteken: verlosser) die Christus (beteken: gesalfde) gegee het (om vir ons sonde te sterf), sodat elkeen wat in Hom glo (en die geloof word deur die Heilige Gees in ons gewerk deur die woord van God wat ons hoor en lees) nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16).

 

God het die wêreld geskep – Genesis 1:1; vgl. Ef.3:9.Christus neem deel aan die skepping van die wêreld as die woord wat God spreek

(Genesis 1:3 God het gesê: ‘laat daar lig wees’; Joh. 1:1-3; 1 Kor 8:6

Die Heilige Gees neem ook deel aan die skepping – Genesis 1:2 (die Gees van God het

oor die waters gesweef – Hy skep lewe).

 

Die wêreld het sy rug op God gedraai – in ongehoorsaamheid, om soos God te wil wees,

Gen.3:5,6; Rom.1:18-23 en so leef ons almal selfsugtig elkeen vir homself as sondaars Rom 3:23

 

Uit liefde vir die wêreld sterf Jesus aan die kruis sodat God self die straf van God op ons sonde

kom dra – Rom.5:6,8.

 

Die Heilige Gees kom ons oortuig van ons sonde en dat ons sal glo in Jesus se sterwe vir ons. So

maak Hy van ons kinders van God – Joh.16:7-11; Rom.8:14-17; Ef.2:8.

Hy kom in ons woon om ons dwarsdeur ons lewe te lei en te versterk. Hy werk in ons die

liefde vir God en vir ons medemens (Rom.8:9-11; Gal.5:22,23).

 

Teen dié agtergrond sê Jesus vir sy dissipels, na sy opwekking uit dood (Mat.28:18-20):

 

gaan na al die nasies en maak mense my dissipels (dit is volgelinge van Jesus).

 

Aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Hy regeer as God en Heer oor die

wêreld en sy kerk, sy gelowiges, se lewe.

 

Hy stuur hulle om die mense alles te leer wat Hy hulle beveel het (dit wat in die

Evangelies vir ons opgeteken is). Ons doen dit deur aan mense van alle nasies te vertel

van Jesus se liefdesoffer ter wille van ons sonde, deur ons woorde, en deur ons lewe wat

van sy liefde begin getuig.

 

doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees – van God se kant

verbind die Heilige Gees ons aan God se vaderlike sorg, aan die Seun se offer aan die

kruis, aan sy betaling van ons sondeskuld, en sy oorwinning oor die mag van die sonde in

ons – die sondige menslike natuur waardeur ons net vir ons self wil lewe – van hierdie

genadewerking van God vír, en áán, en ín ons, is die doop die uiterlike teken en seël as

waarborg dat die Gees ons aan Christus verbind.

 

In die Naam van – op gesag van, en in opdrag van die drie-enige God word die dopeling geplaas

onder die seggenskap en heerskappy van God. Die doop is dus ‘n sigbare teken en ‘n waarborgseël van God se kant af aan ons dat Hy ons aanvaar het as sy kinders, dat ons aan Christus se offer vir ons sonde verbind is, en dat die Heilige Gees in ons woon om al dié genade en liefde van God in ons lewe toe te pas en deur ons hele lewe deur te voer. En hier kom ons verantwoordelikheid in:

die Heilige Gees het gekom ons te oortuig deur die woord van God wat ons hoor en lees en in die lewe van gelowige mense sien uitwerk. Ons geloof in Christus en daarmee ons redding is God se gawe aan ons. Dit kom nie deur ons verdienste, sodat ons daarop kan roem nie. God maak ons wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan goeie dade waarvoor ons bestem was (Efesiërs 2:8-10). Romeine 6:12-14 sê ons moet ons nie tot beskikking stel van die sonde nie, maar in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.

Op die Pinksterdag, met die uitstorting van die Heilige Gees, roep Petrus die mense, wat diep getref was deur die prediking van Petrus uit die woord van God (Hand.2:14-39):

dat hulle hulle moet bekeer – die woord wat gebruik word beteken hulle denke moet

verander (metanoia – verandering van denke), hulle denke oor Christus moet verander, hulle moet in Hom glo! (vgl. Hand.16:31)

en hulle moet hulle laat doop op (soos daar letterlik in die oorspronklike taal staan) die naam van Jesus Christus – Christus is die grondslag waarop die doop en ons hele lewe berus (vgl. 1 Kor.3:11).

tot vergifnis van julle sonde – die doop bekragtig of verseël die vergifnis van ons sonde deur God op grond van Christus se offer vir ons sonde (vgl. Abraham wat die besnydenis ontvang het as ‘n teken, ‘n seël wat bevestig dat God se verhouding tot hom reggemaak is deurdat hy die belofte van God, God se woord geglo het (Rom.4:11; Gen.17:11; 15:6). Volgens Kolossense 2:11,12 word ons by die doop deur Christus besny, nie met hande nie, maar deurdat Hy ons sonde wegneem omdat ons glo in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.

Die belofte van Joël 2:28-32 (vgl. Hand.2:16-21) van die uitstorting van die Gees van God op die mense wat die Here aanroep, word so vervul. Johannes die Doper het reeds gesê dat Jesus met die Heilige Gees sal doop (Joh.1:33).

 

Omdat die verbond, wat God uit genade met ons maak, ook ons kinders insluit (Hand.2:39) kan kindertjies van gelowige ouers gedoop word as teken en waarborgseël dat die Heilige Gees reeds in hulle werk. Hy maak sy genadeverbond met ons en ons kinders (Hand.2:38-39); dit is die teken van ons wedergeboorte deur die Gees wat in ons kom werk het (Joh.3:5-8), vgl. Johannes die Doper wat van sy geboorte af vervul was met die Heilige Gees (Luk.1:15). Toe die Here vir Lydia ontvanklik gemaak het vir die woorde wat Paulus gepreek het, is sy en haar huisgesin gedoop (Hand.16:14,15), en toe die tronkbewaarder in Filippi vir Paulus-hulle vra wat hy moet doen om gered te word, antwoord hulle: glo in die Here Jesus , en jy sal gered word, jy en jou huisgesin…en hy en al die mense is daar en dan gedoop (Hand. 16:30-33).

En wanneer die kind groter word en die Heilige Gees oortuig hom/haar van Christus se liefdesoffer vir hulle en hy/sy besluit om vir die Here te lewe (bekering), dan is ‘n tweede doop (groot doop) nie nodig nie. Die Heilige Gees is besig om dit waarvan die doop ‘n teken en seël is, ons verbondenheid aan die Vader en die Seun en die Heilige Gees, te laat deurwerk in die lewe van die gedoopte kind. Daarmee bly die Heilige Gees wat in ons woon vir die res van ons lewe besig, sodat ons al meer soos Christus sal word en lewe (2 Kor.3:18)

Die doop is nie ‘n mag wat van my ‘n nuwe mens maak nie. As ek betekenis heg aan die doop met ‘n spesifieke water (soos Jordaanwater), is dit bygeloof, wat ons laat wegkyk van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Dit is amper soos die Jode wat nog geglo het dat die besnydenis waarde op sigself het. Paulus sê nee, dit het waarde alleen as jy die wet van Moses onderhou (Rom.2:25-29; vgl. Gal.5:2-6 in Christus is al wat van belang is, geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan).

En as die doop een maal aan my bedien is, of ek nou ‘n baba was, waarmee God uiterlik bevestig dat Hy my as sy kind aangeneem het, of as ‘n volwasse ongelowige wat tot geloof gekom het deur die oortuigingswerk van die Gees, is ‘n tweede doop eintlik ‘n miskenning van wat God reeds gedoen het. Eintlik is dit ‘n aanduiding dat ek op die doop as ‘n magiese krag vertrou, of dat ek dit as my prestasie beskou, en dat ek nie op God vertrou wat my reeds aan die kruis verlos het, en my geroep het om vir Hom te lewe nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Matteus 27:52 – 53

Matteus 27:52 – 53 – Francois Malan

Danie vra:

Dagsê, hoe moet ek die gedeelte uit Mat. 27 verstaan? Was dit ‘n werklike opstanding en indien só het die opgestanes in vlees verskyn of in verheerlikte liggame? Of, was die opstanding ‘n simboliese verwysing na die opstanding. 52.Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53 en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

Matteus skets Jesus se sterwe met drie taferele vooraf en drie daarna, wat met mekaar verband hou om te bewys dat Jesus die Seun van God is. As Seun van God sterf Hy in ellende, as ‘n misdadiger en iemand wat deur God vervloek is om die vloek van ons sonde te dra, sodat ons saam met Hom kan opstaan uit die sonde en uit die dood.

a duisternis (27:45)

Geen gewone sonverduistering kan met volmaan geskied nie en die paasfees vind met

volmaan plaas. Maar helder oordag word dit donker as teken van God se toorn oor die

sonde oor die hele land wat Hom verwerp, oor die mense wat spot oor Hom wat die

sonde van die wêreld dra, as vervulling van Amos 8:9.

b verlatenheid (27:46)

Hy wat op God vertrou het (v43), word deur God verlaat (Ps. 22:2). Hoewel Hy deur God

versaak is, versaak Hy God nie. Hy dra die helse straf van God op ons sonde

(Deutr.21:23; Jes.53:10).

c spot (27:47-49)

Sy gebedsroep word spottenderwys misverstaan as ‘n roep tot Elia om Hom te red (vgl.

vv 40,41,43). Selfs die een wat sy pyn met ‘n slukkie soldatewyn wil verlig, word deur

die ander gekeer. Niemand op die aarde en niemand uit die hemel sal Hom red nie, waar

Hy tussen hemel en aarde hang om die hemel en die aarde te versoen. Redderloos sterf

die Redder.

d Jesus sterf (27:50)

Sy naam Jesus beteken die Here red. Jesus skreeu sy angskreet en sterf. (26:66). Om sy

Vader se wil uit te voer (26:39,42) onderwerp Hy Hom aan die Vader se verwerping om sy volk van hulle sonde te verlos (1:21).

a1 tekens (27:51-53)

Soos die duisternis voor sy dood ‘n teken was (a), gee God tekens ná die dood van Jesus

(a1). God skud die aarde: Hy skeur die voorhangsel van bo na onder en Hy skeur die

rotse oop.

Die geskeurde voorhangsel is ‘n teken van die vrye toegang vir alle mense tot

God se teenwoordigheid deur die offer van sy Seun, wat die offerdiere by hulle tempel

vervang (vgl. Hebreërs 9:7; 10:19-20).

Die geskeurde rotse laat baie ontslape gelowiges uit die rotsgrafte uitkom (vgl.Esegiël

37:13 sodat die mense sal besef dat Hy die Here is; Jesaja 26:19 as voorloper-teken van

die opstanding van die gelowiges met Christus se wederkoms; Daniël 12:2 ook die

ongelowiges sal opstaan om geoordeel te word). Die opgestane gelowiges, wat in

Jerusalem aan baie mense verskyn het, bewys dat Jesus die dood self oorwin het met sy

opstanding. Daarmee word alle gelowiges verseker van hulle opstanding.

b1 belydenis (27:54)

Teenoor sy Godverlate skreeu (b), klink die vroeër spottende wagte (27:29) se bevreesde

belydenis (b1): ‘Hierdie man was werklik die Seun van God.’ Heidene gaan die Jode

voor in die koninkryk van die hemel (8:11). Dit is ‘n teken van Jesus se oorwinning oor

die volke van die wêreld (Ps. 22:28-29).

c1 getroue dienaresse (27:55-56)

Teenoor sy spotters (c) staan die vroue van Galilea wat Jesus getrou gedien het tot die

end (c1). Die vroue is getuies van sy vreeslike dood; party van hulle ook van sy begrafnis

en opstanding (27:61; 28:1). Hulle staan op ‘n afstand terwyl die dissipels gevlug het

(26:56). Jesus het ook die vroue kom verlos, ook uit hulle onderdrukte posisie in Israel.

God het hierdie gelowiges opgewek as ‘n unieke gebeurtenis om die betekenis van Jesus se sterwe en opstanding daarmee te onderstreep. Matteus is die enigste Evangelie wat dié stukkie getuienis opskryf, omdat hy glo dat Jesus die Here is oor dié wat lewe en dié wat reeds dood is. Vir Matteus was dit dinge wat werklik gebeur het, en wat hy gebruik om sy boodskap oor te dra. Dit gaan oor die betekenis van Jesus se dood en opstanding. Dit is die begin van die eindtyd. Dit is deel van die goeie boodskap dat die dood self oorwin is, en die volk van God kan seker wees van die opstanding.

Of hulle soos Lasarus van Johannes 11 uit die dood opgewek is, wie se grafdoeke moes losgemaak word, en daarom later weer gesterwe het (in die vlees), of soos Jesus wat na sy opwekking nie weer sterwe nie (verheerlikte liggame), word nie gesê nie. Die God wat vir Jesus uit die dood opgewek het en vir Lasarus, kan enige van die twee met hulle gedoen het. Dit is in elk geval simbole van die opstanding van Jesus, wie se dood die lewe aan ons gee.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Matteus 12:31 – 32

Matteus 12:31 – 32 – Francois Malan

Luanette vra:

Kan u my asb help met die volgende teksverse in die Bybel wat ek nie verstaan nie? Matteus 12 verse 31 en 32

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Matteus 12:9-14 word vertel hoe Jesus in die sinagoge, op die sabbatdag, ‘n man met ‘n gebreklike hand genees het, en die Fariseërs toe begin planne maak om Jesus dood te maak, omdat Hy hulle hele verlossingsleer omkeer, van offers en goeie werke, o.a. om die sabbatdag heilig te hou deur nie te werk nie – jy kan maar jou skaap wat in ‘n sloot val op die sabbat uithaal, maar om ‘n gebreklike te genees mag nie (12:11,12). Die gesag van Jesus het egter die gesag van die skrifgeleerdes en die Fariseërs vervang en hulle hele siening van God en sy gebooie omver gewerp.

In 12:15 word vertel van baie mense wat Hy genees het. Daarna (12:22) genees Hy ‘n blinde en stom man wat in die mag van ‘n duiwel was. Die mense begin sê Hy is die Seun van Dawid (die beloofde Messias/Gesalfde koning/priester/profeet – wat die seggenskap by die Fariseërs kom oorneem. Nydig en jaloers wil die Fariseërs die mense wegtrek van Jesus en sê Hy dryf die duiwels alleen maar uit met die hulp van die aanvoerder van die duiwels, nl. Beëlsebul (12:24) – dit is die tipe gesag wat Jesus sou hê. Nadat Jesus hulle nie met sy argumente kon oortuig nie (12:25-30), sê Jesus openlik Hy dryf die duiwels uit met die Gees van God (12:28). Daarna waarsku Hy die mense, en veral die Fariseërs, dat om te beweer die werk van die Heilige Gees is die werk van die leierduiwel, is laster teen die Heilige Gees, en dit kan nie vergewe word nie (12:31-32).

Daarop volg 12:33-37 waar die Fariseërs slange genoem word, wie se monde openbaar wat in hulle harte aangaan. Op grond van hulle ligsinnige en boosaardige woorde sal hulle op die oordeelsdag beoordeel word.

Party van die skrifgeleerdes en Fariseërs kabbel toe terug en vra nog ‘n wonderteken om te bewys wie Jesus is en waar Hy sy gesag vandaan kry. Jesus noem hulle ‘n slegte en afvallige geslag wat nie kan raaksien wie by hulle is nie, Iemand baie groter as die profeet Jona na wie die heidense Nineve geluister het, en Salomo na wie die heidense koningin van Skeba geluister het (12:38-42).

Die slegte mense van Jesus se dag word gewaarsku dat die duiwels besig is om in húlle in te trek om hulle weg te lei van die waarheid (12:43-45). Maar elkeen wat die wil doen van Jesus se Vader wat in die hemel is deur in Jesus te glo en Hom te volg, is sy moeder en sy broers, word kinders van God soos Jesus die Seun van God is, word deel van God se groot huisgesin (12:46-50).

Jesus noem Homself telkens ‘die Seun van die mens’, wat bloot ‘n mens kan beteken, maar in die lig van Daniël se nagtelike visioen in Daniël 7:9-14 is Jesus die Seun van die mens (NAV ‘n menslike wese) wat voor die Een wat Ewig lewe staan en aan wie gegee word die ewige heerskappy vir wie al die volke, nasies en taalgroepe sal dien. Daarom gebruik Jesus ook die benaming wanneer Hy vertel van sy koms op die wolke van die hemel met die groot krag en majesteit, dat Hy Jesus God is, wat kom oordeel oor die mense se woorde en dade (Mat.24:30-31; 26:64).

Maar terwyl Hy nog op aarde was, was Hy in die nederige gestalte van ‘n gewone mens, teen wie mense kan praat, sondig en laster, en dit sal hulle vergewe word as hulle in Hom begin glo (12:31-32). Maar die Heilige Gees is die Gees van God, self ook God. Hy werk in die lewens van mense om hulle tot geloof in Jesus te bring. Hy kom woon in ons (Rom.8:9,11), om ons daagliks te lei en ons met die krag van God se liefde te dra en te versterk sodat ons ook in die liefde bly lewe. En as Jesus uit liefde ‘n besete man, wat blind en stom is, op die sabbatdag genees, dan is dit juis deur die Gees van God wat Jesus duiwels uitdryf (12:28). En as die Fariseërs die werk van die Heilige Gees toeskryf aan die mag van Beëlsebul, die leier van die duiwels (12:24), dan is hulle besig om die Gees van God, God self, te belaster. Dit word vir ewig nie vergewe nie (12:31-32).

Die enigste onvergeeflike sonde is om God willens en wetens en uit beginsel te ontken, selfs met soveel duidelike aanduidings uit sy Woord (vgl. Lukas 16:31), want die Heilige Gees gebruik juis die woord van God om ons te oortuig (Joh.16:5-15).

Maar as iemand nog eg bekommerd is of hy of sy al die onvergeeflike sonde teen God gedoen het, is sy/haar bekommernis ‘n aanduiding dat hy/sy nie skuldig is aan so ‘n godslastering of miskenning nie, maar dat die Gees van God juis besig is om hom/haar te oortuig dat Jesus die Seun van God is wat vir ons die pad na God toe oopmaak om van ons kinders van God te maak (vgl. Rom.8:14-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Brassery

Brassery – Francois Malan

Wilna vra:

Hoe oorkom n mens brassery?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die HAT beskryf brassery as ‘oordadige etery en drinkery’. Nou weet ek nie of Wilna se probleem slegs die eet is, en of dit drinkery ook insluit nie. In die Bybel word die twee ook dikwels saam genoem:

In Deuteronomium 21:20 bring moedelose ouers hulle opstandige seun na die leiers van die stad en sê hy is boonop ‘n vraat en ‘n suiplap. In die ou bedeling is aanbeveel dat hy doodgemaak moet word.

Spreuke 23:20-21 word jongmense gewaarsku om hulle nie op te hou met suiplappe en vrate nie, want die suiplap en die vraat word arm en dronkenskap laat jou met vodde loop.

Toe Jesus op die aarde was, het Hy nie soos Johannes die Doper gevas en Hom in die woestyn afgesonder nie, maar tussen die mense gelewe en hulle feeste bygewoon. Toe het die mense Hom valslik beskuldig dat Hy ‘n vraat en ‘n wynsuiper is , maar ook dat Hy ‘n vriend van tollenaars en sondaars is (Mat. 11:19 Luk. 7:34). Die mense wou nie in Hom glo nie, daarom was Johannes vir hulle te heilig en Jesus nie heilig genoeg nie. Soos die mense wysheid verwerp, so verwerp hulle vir Jesus, maar God se dade is reg en goed, en dit sal uiteindelik bewys dat Hy reg is. Jesus word hier God genoem.

In Luk 21:34 waarsku Jesus sy volgelinge: ‘wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie’. Onmatige etery en drinkery is ook ‘n manier om jou sorge te verdoof en te vergeet. Maar daarmee saam word jou gees afgestomp en oorval die wederkoms van Christus jou onverwags, en is jy nie gereed nie om voor die Seun van die mens te verskyn nie. Jesus se raad is dat ons waaksaam moet wees en altyddeur bid dat ons van God krag ontvang om behoue daar deur te kom (21:36).

Daarom is die antwoord op jou vraag dat ons waaksaam moet wees. Dit beteken dat ons voortdurend op ons self sal let as die versoeking kom om te veel te eet of te drink, en dat ons nee sê vir die versoeking. En dat ons voortdurend moet bid. Om ons te help het God, die Heilige Gees, self in ons kom woon om ons die krag te gee om nee te sê (Rom.8:9-11). Hy is orals by ons en ons kan Hom elke oomblik vra om ons sterk te maak om nie aan versoekings toe te gee nie.

In Galasiërs 5:21 sê Paulus dat dronkenskap en uitspattigheid die werke is van die sondige natuur. Daarteenoor is die vrug van die Heilige Gees se inwoning in ons: liefde, vreugde, vrede, geduld vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (5:22-23).

In 1 Petrus 4:3,5 sê Petrus vir die gelowiges: toe julle nog heidene was, was julle lewe beheers deur heidense begeertes, o.a. swelg- en drinkpartye, waarvoor julle rekenskap sal moet gee voor die Here wat die lewendes en die dooies oordeel. Daarom moet die gelowiges hulle self beheer en nugter wees, sodat hulle kan bid (4:7).

 

Skrywer: Prof Francois Malan