Genesis 15

Genesis 15 – Marius Nel

Rudolph vra:

Ek lees in Genesis 15:13-16 dat die Here vir Abraham vertel van Israel se 400 jaar in Egipte. Maar Hy verwys na 4 geslagte na Abraham wanneer sy nageslag weer sal terugkeer na die land. Vier geslagte later is die Israeliete nog in Egipte gewees – hoe verklaar ek dan hierdie vers?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

15:7-21 Geloof ten spyte van land-loosheid. Dis nou alles goed en wel dat Abram verseker is dat hy ‘n eie kind sal hê. Maar wat help dit hy kry ‘n nageslag en hulle bly vreemdelinge sonder ‘n eie land? Die manier waarop die Here ook hierdie belofte bevestig, is bedoel om dit onuitwisbaar te maak. Dit neem die vorm aan van ‘n offerritueel, ‘n herhaling van die belofte, afgesluit met ‘n verbondsluiting wat die omvang van die land aandui. Nou is dit nie net woorde nie, maar dade wat Abram moet bemoedig ten spyte daarvan dat hyself nooit die land sal besit nie.

Die ritueel met die diere waarvan sommige deurgesny is, kan nie met sekerheid verklaar word nie. Sommige kenners verklaar dit op grond van destydse handelinge waarmee ooreenkomste bevestig is en waardeur gesê word: “Mag die een van ons wat hierdie ooreenkoms breek, so deurgesny word.” Tog is geen presiese parallel in die antieke Nabye-Ooste bekend nie. Selfs die byna gelykluidende Jeremia 34:18-19 (vgl Rig 19:11-20:48; 1 Sam 11:1-10) is geen presiese parallel nie. Dit moet eerder gesien word as ‘n ritueel uit die offerpraktyke met die funksie om ‘n ooreenkoms (verbond) te bevestig.

Die letterlike vertaling van ‘n verbond sluit is “‘n verbond sny”. Die deursny van die diere kan dus verwys na die “sny” van die verbond.

Dis duidelik dat hierdie vertelling antieke elemente vertoon, maar dat dit ook die wêreldbeeld van latere vertellers weerspieël. Die beskrywing van die lotgevalle van Abram se nageslag (15:13-16) is ‘n verwysing na die Egiptiese slawerny en die besetting van die land. Die beskrywing van die land en die lys volkere (15:18-21) verwys na die grense tydens Salomo se bewind. Hierdie vertelling het dus in latere tye, en wel tydens die ballingskap, Israel bemoedig met die herinnering dat God se beloftes tog vervul is.

Vier geslagte is volgens Joodse berekening maar slegs 160 jaar. Hoe die gedeelte 400 jaar en 4 geslagte met mekaar in verband bring, is nie duidelik nie. Ons het met ‘n antieke teks te doen wat vir eeue met die hand oorgeskryf is, en dalk het ‘n oorskrywingsfout hiertoe gelei.

 

Skrywer: Dr Marius Nel




Waar kom die woord Dopper vandaan?

Waar kom die woord Dopper vandaan? – Kobus Kok

Sophia vra:

Waar kom die woord Dopper wat Gereformeerde Kerk lede beskryf vandaan?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Daar is verskillende teorieë en verhale oor waarom die Doppers nou eintlik Doppers genoem word. So vertel sommiges graag dat die Doppers so genoem word omdat hulle haarstyle destyds in die laat 1800’s gelyk het soos skilpad-doppe; ander spekuleer dat die woord Dopper afgelei is van domper omdat die Doppers die lig van die liberale Kaapse kerk sou wou uitdoof. Nog ander vertel dat die Doppers so genoem word omdat hulle nagmaal uit die groot beker gedrink het. Die beste verklaring is egter die van Prof Flip van der Watt (afgetrede professor by Tukkies) wat hy destyds aan Dr Flip Du Toit oorgedra het wat dit weer aan my oorvertel het, naamlik dat die woord Doppers afgelei is van die woord “dorpers”. Dit was aanvanklik ‘n agterlike naam wat aan die Gereformeerdes gegee is omdat hulle weggebreek het van die hoofstroom kerk daardie tyd en meestal nie stedelinge was nie, en dus volgens sommiges so bietjie agterlik was. Hoe dit ook al sy, skelnaam of nie, die Doppers verwys deesdae trots na hulself as synde Doppers, en ons is almal bly hulle is nog susterkerk lede van ons en dat hulle ‘n verskil maak in ons land.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok

 




Is Kersfees van heidense oorsprong?

Is Kersfees van heidense oorsprong? – Kobus Kok

Vraag:

Matthys vra:

Kersfees – Wêrelds- of Christelike gebeurtenis – wat is die ware betekenis van 24 Desember…?? EK en my aanstaande verloofde is beide belydende Christene… Maar, ons sienings oor ‘n paar fundamentele Christelike rituele verskil. Hoe nou gemaak?? Ek is ‘n belydende Christene met ‘n sterk NG-kerk agtergrond, en my aanstaande verloofde is ‘n pragtige jong vrou, definitiewe belydende Christen, met ‘n …kerk agtergrond. Ons stem beide saam dat Jesus nie op 25Desember gebore is nie , maar ons stem nie saam oor hoe “Kersfees” / Jesus se geboorte dag gevier moet word nie. Die vrae wat ek graag ge-antwoord wil hê is: 1) Ons stem beide saam dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie – ek voel dat ons wel een dag van die jaar Jesus se geboortedag moet vier deur byeen te kom met familie/vriende, om die goeie nuus van Jesus se geboorte te verkondig en bly wees. Sy is grootgemaak met die idee dat die wêreld Kersfees ingestel het as ‘n heidense feesdag waar daar eer gegee word aan Mammon ens.? Wat is die “Christelike” opvatting van Kersfees. 2) Hoe nou gemaak ? Ons is beide baie lief vir mekaar, en het ‘n paar klein anderse opvattings oor ons basiese Christelike opvattings wat verskil – nie een van ons twee voel dat dit in die weg van ons liefde gaan staan nie – hoe sal die beste manier wees vir ons twee om ‘n middeweg te vind om verder voort te beweeg en as twee persone nader aan God, en nader aan mekaar te beweeg??

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Is Kersfees van heidense oorsprong?

Dr. Kobus Kok

Die Christendom het ontstaan in ‘n heidense wêreld wat vol tempels en afgode en allerlei rituele, feeste en simbole was. Die eerste Christene het onder vervolging deurgeloop en die Christelike geloof was ‘n onwettige geloof. Aangesien die Christene net in een God geglo het en afgode verwerp het, het die antieke mense die Christene as Ateïste beskou.

kersfeesIn die vierde eeu n.C. het die Romeinse Keiser Konstantyn tot bekering gekom en kort voor lank sou die Christelike geloof die amptelike geloof van die Romeinse ryk word. Die groot vraag was toe wat met al die tempels moes gebeur? Wel, die latere keisers sou uiteindelik heidense afgodsdiens onwettig verklaar en verbied. Die tempels is dadelik omskep in Christelike kerke. Mens sien dit vandag nog in Griekeland. Vroeër die maand was ek daar en het in Athene gesien hoe die Parthenon op die Akropolis omskep was in ‘n kerk. Al wat hulle gedoen het was om ‘n kerk binne die groot heidense tempel te bou.  Dit was nie net in Griekeland op Europese bodem die geval nie, maar selfs ook in Klein-Asië. Hier onder is ‘n foto wat ek geneem het in Efese, waar die tempel van Artemis, die vrugbaarheidsgodin was. Hierdie tempel was een van die sewe wonders van die antieke tyd. Daar is vandag nie veel daarvan oor nie. Baie van die pilare staan vandag in die Hagia Sofia katedraal in Istanbul. Daardie einste pilare wat vir eeue in ‘n heidense tempel gestaan het, staan al vir meer as ‘n duisend jaar in ‘n Christelike kerk. U sal ook kan sien dat binne-in die Artemis tempel in Efese daar ‘n kerkie gebou is.   Dit was al van die vroegste tye die geval dat die Christene die heidense plekke (tempels) en gebruike omskep het en totaal nuwe betekenis kom gee het. Ons God is die Lig en die Lig verdryf alle duisternis omdat daar geen duisternis in Hom is nie (1 Joh 1:5).

Daar is baie wat beklemtoon dat Kersfees eintlik ‘n heidense fees was, maar die Christene het dit hulle feestyd gemaak en dit met ganse nuwe betekenis, simbole en inhoud gevul. Dit is waar die krag van die Christendom lê.

In enige verhouding verskil mens oor sekere dinge in die geloof. Dit is baie belangrik om mekaar te respekteer. Indien ‘n geliefde nie nou gemaklik is om Kersfees te vier nie, omdat hulle voel dat dit van heidense oorsprong is, dan moet mens daarvoor sensitief wees. Met tyd kan enige een van ons se perspektiewe verander soos wat ons groei en nuwe perspektiewe vir ons oopbreek. Die belangrikste is om mens se navorsing te doen en om gereeld saam te bid en saam te groei. Soos twee growwe klippe in ‘n rivier vir jare teen mekaar skuur en gly en uiteindelik twee gladde, ronde klippe word, so moet julle in Hom gevorm word in die beeld wat Hy vir julle huwelik beplan het. Die geheim is respek vir mekaar, geduld vir mekaar en die vermoë om ‘n gesonde balans te vind.

Hier is ‘n artikel wat ek opgespoor het wat die heidense aspekte van Kersfees beklemtoon: http://www.goodnewsaboutgod.com/studies/holidays2.htm

Julle kan ook die boek van Barna en Viola lees met die titel Pagan Christianity waarin hulle aantoon hoeveel van die heidense gebruike in die Christendom opgeneem is. http://paganchristianity.org/reviews.htm

 

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was

Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was – Jan van der Watt

Christine vra:

Daar word telkens verwys na “Die dissipel vir wie Jesus baie lief was”. Waarom sou u sê word die dissipel se naam nooit genoem nie? Groete, Christine

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die beskrywing ‘die dissipel vir wie Jesus lief was’ kom uit die Johannesevangelie en verwys na een van die dissipels van Jesus wat nie by die naam genoem word nie. By die maaltyd was hy die een wat naby Jesus gelê het en gevra het wie Jesus gaan verraai (Johannes 13:23-25). Hy is ook die een wat saam met die moeder van Jesus by die kruis staan en wat die opdrag kry om vir Jesus se moeder te sorg (19:26-27). Volgens 20:2-10 was hy ook voor Petrus by die graf van Jesus en het daar tot geloof gekom. Verder was dit ook hy wat Jesus herken het toe Hy aan die oewer van die meer gestaan en met hulle gepraat het (21:7). Volgens 21:20-23 hoor hy ‘n gesprek tussen Jesus en Petrus waaruit die gerug ontstaan dat hy nie sou sterf nie. Hoewel dit nie so eksplisiet genoem word nie, is hy waarskynlik die een waarvan gesê word dat hy getuig en die dinge (die Evangelie) neergeskryf het (21:24). Die verwysing na die ‘ander dissipel (18:15-16) mag ook dalk na hom verwys.

Op grond van die verband tussen die geliefde dissipel en die outeurskap in 21:34 is daar geargumenteer dat die naamlose dissipel een van die Twaalf moes wees en dat dit Johannes, die seun van Sebedeus, moet wees, aangesien die belangrike dissipel van die Here nie elders in die Evangelie by die naam genoem word nie (sien tog 21:2). In die algemeen is die siening deur die eeue aanvaar – die geliefde dissipel was Johannes, een van die Twaalf.

Daar is egter ook ander opinies, soos mens kan verwag. Party mense identifiseer die dissipel vir wie Jesus baie lief was met Lasarus (Johannes 11), omdat daar staan dat Jesus Lasarus en sy susters liefgehad het. Ander beweer weer dat die geliefde dissipel nie werklik na een van die Twaalf verwys nie, maar dat dit in die verhaal eintlik ‘n ‘ideale dissipel’ is, ja, ‘n beskrywing van hoe ‘n dissipel eintlik moet wees. Regtig was daar nie so ‘n ideale volgeling van Jesus nie.

Tog lyk die beste slotsom om te sê dat die geliefde dissipel waarskynlik Johannes, een van die Twaalf was.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt