Skatte in die hemel (2)

Skatte in die hemel (2) – Dirk Venter

Helga vra:

Goeie dag, Dankie vir so unieke webblad! Ek moet met klein kindertjies tussen 2 – 7 jaar ‘n lessie doen oor skatte in die hemel bymekaar maak. Is die skatte op hulle vlak meer, liefde te wys, mededeelsaamheid, getrouheid aan God. Hoe verduidelik mens so iets aan klein kindertjies?

Antwoord:

Ds. Dirk Venter antwoord:

Die teksgedeelte waarna hier verwys word is Matteus 6:19-21 – 19 Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. 20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. 21 Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

‘n Belangrike ander teksgedeelte wat ook na ‘n skat in die hemel verwys (en dus ook meer lig op die bostaande teksgedeelte kan werp), is Matteus 19:16-22 (die ryk jongman wat nie al sy aardse skatte aan die armes wou gee om dan vir Jesus te begin volg nie; ook in Markus 10:17-31 en Lukas 18:18-30). Matteus 13:44, waar die koninkryk van die hemel self met ‘n skat in ‘n saailand vergelyk word, is ook ‘n verwante beeld. Laastens verwys Jakobus 5:1-6 en 1 Timoteus 6:17-19 ook na hierdie uitspraak van Jesus en help dit ons om dit reg uit te lê.

Ons neem Matteus 6:19-21 as vertrekpunt. Daar word ‘n onderskeid getref tussen “skatte op aarde” en “skatte in die hemel”. Die groot verskil tussen die twee is dat “skatte in die hemel” ewigdurend is, terwyl “skatte op aarde” tydelik hou. Waardevolle klere kan deur motte beskadig word, waardevolle ysterware kan deur roes verniel word en ander waardevolle items, soos byvoorbeeld juweliersware of goud, kan deur diewe gesteel word. Dit maak baie meer sin om jou “skatte” op ‘n plek te hê waar dit gaan hou, eerder as waar dit gaan verniel of gesteel kan word – dus: kry skatte in die hemel.

Die vraag is egter: wat is hierdie skatte en wanneer maak ‘n mens hulle vir jouself bymekaar? Om dit te kan beantwoord, moet ons na die groter konteks kyk waarbinne Matteus 6:19-21 staan, naamlik die hele Matteus 6. “Skatte” wat bymekaar gemaak word, verwys in hierdie konteks na die beloning wat ‘n mens ontvang vir die goeie dade wat jy as gelowige doen. Matteus 6:1 dui ons in hierdie rigting: “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.” Hierna word daar drie voorbeelde van “godsdienstige pligte” oftewel “goeie werke” genoem, wat mense soms in die publiek sal doen om daarvoor geëer te word deur ander mense: hulp aan armes (6:2-4) gebed (6:5-15) en vas (6:16-18). Telkens sê Jesus dat skynheiliges, wat hierdie dinge doen om daarvoor geprys te word, reeds hulle beloning ontvang het in die vorm van dié lof wat mense hulle gebring het (6:2, 5, 16). Die regte manier van doen is om hierdie goeie dade eerder te doen sonder dat ander daarvan weet, omdat jy nie verwag dat mense jou daarvoor moet eer of beloon nie. As dít jou gesindheid is, sal die Vader Self jou daarvoor beloon (6:4, 6, 18). 

Gevolglik gaan Matteus 6:25-34 ook voort om ons te wys op die regte fokus van ons lewens – nie die verganklike dinge van hierdie aardse lewe nie, want God sal daarvoor sorg! Ons eerste prioriteit moet wees om God se koninkryk te bevorder en sy wil te doen. So dien ons vir God en nie vir Mammon (rykdom) nie (Matteus 6:24). Ons harde werk (“goeie werke”) word dus gedoen in diens van God en sy koninkryk, nie in diens van ons eie bankbalans (“skatte op aarde”) nie. (Dit beteken natuurlik nie dat ons nie spaarsamig moet wees, voorsiening moet maak vir aftrede ens. nie, maar dat God se wil en koninkryk selfs vir ons ‘n hoër prioriteit moet wees. As ons dan moet kies tussen gehoorsaamheid aan God en ‘n paar ekstra rand in die bank, sal ons eerder gehoorsaam aan God wees as om bv geld te maak op ‘n oneerlike manier of om mense te na kom deur iets van hulle te weerhou wat jy eintlik kon gegee het – vgl Jakobus 5:1-6.)

 Die agtergrond waarteen die Matteus 6 teks oor skatte in die hemel gelees moet word, is dus dat God van ons verwag om goeie werke te doen, maar met die regte motief. Ons motief moet wees dat ons ons beloning eendag van God Self verwag – nie dat ons nou deur mense geëer of (fisies) beloon wil word, of omdat ons ryk wil word nie. God se beloning is ewigdurend, terwyl die belonings wat ons in hierdie lewe kan ontvang, of dit nou in die vorm van eer of ander skatte is, ten beste tydelik is.

 Wat ons moet doen om deur God in die hemel beloon te word met ewigdurende skatte, is om “ryk te wees in goeie dade” (1 Timoteus 6:18), insluitende: vrygewigheid, mededeelsaamheid, deur reg te laat geskied aan jou medemense (bv aan jou werknemers deur hulle te betaal wat hulle toekom wanneer dit hulle toekom), deur goed te wees vir armes ens. Let daarop dat die teksgedeeltes wat hieroor handel dikwels die weggee van jou aardse besittings ten bate van ander, koppel aan die ontvang van ‘n beloning in die ewigheid vanaf die Vader. Om te kan gee is deel van wat dit beteken om dienaar van God te wees – daarteenoor kan ‘n dienaar van die geldgod nie geld of besittings weggee nie.

 ‘n Voorstel in verband met ‘n manier om dit aan klein kinders te verduidelik, is om dit baie prakties te probeer maak. Dink aan ‘n eenvoudige takie wat hulle moet doen met die oog daarop om daarvoor beloon te word, soos bv. om ‘n prentjie in te kleur van iemand wat iemand anders help. Wanneer hulle klaar is, kan hulle kies tussen twee soorte belonings: een wat hulle dadelik kan kry, sigbaar en aanloklik, miskien lekkers wat hulle sommer vinnig kan opeet; en ‘n ander waarvoor hulle sal moet wag tot later, iewers weggesteek en hulle mag nie weet wat dit is nie, miskien ‘n klein speeldingetjie wat nie dadelik opgebruik gaan word nie maar (langer) gaan hou. (Die onsigbare beloning moet beter wees as die een wat hulle dadelik kan kry, maar moenie vir hulle sê wat dit gaan wees nie). Laat hulle hulle keuse maak (tussen dadelik of later), en gee dan vir dié wat dadelik beloon wou word hulle prysie. Verduidelik dan die teksgedeelte van die skatte in die hemel en dat dit beter is om te werk vir die belonings wat God hierna in die ewige lewe vir ons gaan gee as om jou lewe toe te wy aan die bymekaarmaak van skatte hier op aarde, wat in elk geval tydelik is en gaan vergaan (soos ‘n lekkertjie wat klaar opgeëet is). ‘n Mens kry wel nie die plesier om dadelik beloon te word nie, maar God se skatte is beter en dit hou, daarom is dit die moeite werd om nou daarvoor te werk, al moet jy wag om dit eendag in die hemel te kry. Verduidelik ook voorbeelde van hoe die goeie werke lyk wat deur God beloon sal word, bv vrygewigheid ens. Stel die uitdaging aan dié wat reeds lekkers gekry het om dit met die ander te deel. Gee dan vir dié wat bereid was om te wag en vir die wat bereid was om hul lekkers te deel, hulle groter, meer langdurige prysies. Dit mag dalk vir dié wat nie wou deel nie ‘n ongemaklike maar durende lewenslessie wees: om nie vas te klou aan goed wat nou bevredig nie, maar die oog op die hemelse prys in te stel!

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Vloekwoorde

Vloekwoorde – Adrio König

Paul vra:

Ek wil weet: wat klassifiseer ‘n woord as ‘n vloekwoord? Hoe weet ons watter woorde is vloekwoorde, en ook waar daaroor gepraat word in die Bybel vir verwysing.

Antwoord:

Prof. Adrio König antwoord:

Oor vloek in die algemeen, soos vloek, vervloek, kan jy baie interessante stof kry deur net ‘n konkordansie te raadpleeg.

Oor vloekwoorde self kry ek min in die Bybel. Simeï vloek vir Dawid nie met wat ons vloekwoorde noem nie, maar eerder met skelwoorde soos moordenaar en skurk (2 Samuel 16). Kyk NJB se vertaling!

Daar is nie ‘n bepaalde groep woorde wat vloekwoorde is nie. Dis die gesindheid waarmee ‘n woord uitgespreek word, wat dit vloek maak. Dis ‘n gesindheid van weersin, aggressie, vernedering. Die woorde kaffer of blerrie kan as ‘n vloekwoord gebruik word, of as ‘n gewone woord. “Kaffer” kan vernederend gebruik word, selfs vir ‘n witmens, of kan rustig in ‘n lesing gebruik word om aan te dui hoe die witmense in die 17e eeu na swart mense verwys het.

Wat vloek verkeerd maak, is dus nie die spesifieke woord nie, maar eerder die gesindheid waarmee die woord uitgespreek word. Daarom kan enige woord as ‘n vloekwoord gebruik word. ‘n Mens kan “knapsakkerwels” aggressief en vernederend gebruik.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Goddeloos, God-loos, God-los, God-verlate, God-vervuld

Goddeloos, God-loos, God-los, God-verlate, God-vervuld – Dirk Venter

Rudolph vra:

Help met ‘n paar definisies asb: Goddeloos God-loos God-los God-verlate God-vervul(d) Groete

Antwoord:

Dr. Dirk Venter antwoord:

Voordat ek definisies voorstel vir die bogenoemde terme, net eers iets oor die aard van die betekenis van woorde. Hoewel ‘n mens dikwels geneig is om te dink dat woorde vaste betekenisse het, is dit nie eintlik die geval nie. Die betekenis van ‘n woord is nie staties nie, maar hang af van die konteks waarbinne dit gebruik word. Hierdie konteks kan byvoorbeeld die gesprek of teks wees waarin die woord gebruik word. Wyer nog sluit konteks selfs ook in: die tyd (era) en omgewing waarin iets gesê word, en die kultuur van die spreker en hoorders, ens.

Neem nou byvoorbeeld die sinnetjie: “Hou my dop”. Wat is die betekenis van dop?  Ons kan dink aan ten minste drie moontlikhede, en die konteks bepaal telkens die betekenis.

Konteks 1: jou vriend wil die vleis omdraai op die braaier, en gee vir jou sy drankie om te hou sodat sy hande vry kan wees… “Hou my dop”.

Konteks 2: ‘n klein seuntjie wil vir sy ma wys hoe hoog hy kan swaai op die swaaie in die speelparkie… “Hou my dop!”

Konteks 3: ‘n klein skilpadjie wil gaan swem, trek sy dop uit en hou dit na sy ma toe uit… “Hou my dop!”

Laasgenoemde “konteks” (3) is duidelik fiktief. Dit kom eintlik uit ‘n bekende grappie wat net in Afrikaans werk. Dit onderstreep dan juis hoe belangrik dit is om die groter konteks waarbinne iets gesê word, in ag te neem, ten einde seker te maak dat jy ‘n woord reg verstaan, soos bedoel deur die gebruiker daarvan in die konteks waarin hy hom bevind het toe hy dit gebruik het. As ‘n mens dus ten opsigte van die laaste voorbeeld nie in gedagte hou dat dit deel is van ‘n grappie nie, kan jy dalk net tevergeefs baie tyd en energie mors op soek na daardie klein, pratende skilpadjie wat sonder sy dop kan swem, (of jou dalk onnodig vererg vir die verteller van die staaltjie wat sulke onwetenskaplike onsin kan kwytraak)…

Hier is dus my poging om algemene definisies van die woorde te probeer gee. Hou asb. in gedagte dat dit kontekslose definisies is en dus nie in alle kontekste geldig sal / kan wees nie:

Goddeloos – hierdie is ‘n erkende Afrikaanse woord en word deur die HAT gedefiniëer as “1. sonder [geloof in] God, sonder godsdiens; 2. sedelik sleg en verdorwe, sondig; 3. erg sleg, vreeslik, verskriklik; 4. erg ondeund, vol kattekwaad.”

Godloos – word deur die HAT gelys as ‘n sinoniem van die eerste moontlike betekenis van “goddeloos”: met ander woorde “sonder [geloof in] God of ‘n god, sonder godsdiens”.  Sou mens die woord sonder ‘n kleinletter skryf, “godloos”, sou dit daarna kon verwys dat iemand geen god erken en/of gehoorsaam nie, hetsy dit die ware God of ‘n afgod sou wees.

God-los – hierdie is sover ek kon vasstel (nog) nie ‘n erkende Afrikaanse woord nie. Ek veronderstel dat dit gebruik kan word om te verwys na ‘n situasie waar iemand “los” van God (begin) lewe, ongeveer sinoniem aan “afvallig”.

God-verlate – ‘n erkende Afrikaanse woord. Die HAT gee die volgende betekenismoontlikhede: “1. deur God verlate, ellendig; 2. uiters verlate, eensaam, afgeleë”. Onwillekeurig dink ‘n mens aan die woorde van Jesus aan die kruis: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matt 27:46), toe Hy vanweë ons sonde die straf van Godverlatenheid plaasvervangend op Hom geneem het.

God-vervul(d) – weereens, sovêr ek kon vasstel, (nog) nie ‘n erkende Afrikaanse woord nie, wat die betekenismoontlikhede daarvan soveel minder seker maak. In die konteks van die Nuwe Testament kry ons egter die konsep dat God se kinders vervul is met die Heilige Gees. Dit sou beter wees om, soos die Nuwe Testament (bv. Efesiërs 5:18), van vervulling met die Gees te praat, eerder as van God-vervuldheid aangesien dit tegnies gesproke (soos gebruik deur die skrywers van die Nuwe Testamentiese boeke) nie God die Vader (of Jesus Christus) is wat ‘n gelowige vervul nie, maar wel die Heilige Gees. In verband met die vervulling deur die Heilige Gees kan die volgende ander artikel op bybelkennis.co.za gerus nageslaan word:

Die Heilige Gees neem beheer van jou lewe (Vervul met die Gees)

uit Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy.

 

Skrywer: Dr Dirk Venter

 




Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem?

Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem? – Kobus Kok

Louraine vra:

Ek het geen respek vir valse godsdienste nie,wel vir die mens wat daarin vasgevang is. Elia en die Baäl profete(1Kon.18) is vir my die uitstaande voorbeeld van die “respek” wat Elia vir hulle godsdiens betoon het.

Presies wat leer die Bybel in die verband aangesien daar diegene is wat die “New Age” idee bevorder dat alle godsdienste  gelyk is , dat almal maar dieselfde God aanbid ,en dat Christene respek vir ander godsdienste moet hê?

Ek sien  Christenskap ook nie as ‘n godsdiens nie, maar as ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus Christus.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem?

Die woordjie “respek” verdien aandag en ‘n definisie daarvan moet ons eers duidelik omskryf. Respek het volgens die H.A.T. te doen met die bewys van eerbied, ontsag en agting aan iemand anders.

Ek onthou hoe my pa vir my eendag, toe ek twaalf jaar oud was  die volgende  gesê het: “Behandel jou meerderes met respek omdat dit jou plig is, jou gelykes omdat dit jou plesier is en jou ondergeskiktes omdat dit jou voorreg is”. Dit het by my ‘n blywende indruk gelaat. Die gevolg van my ouers se opvoeding en my blootstelling aan Universiteit as teologiese student en dosent was dat ek as Christen in die eerste plek die beeld van God in mense wil raaksien. Daarom hanteer ek mense, ongeag van hulle herkoms of geloof, as mense waarin iets van God se beeld ook sigbaar is – mense in wie God iets radikaal tot stand kan (en wil) bring. Net soos wat ek nie mense wat sondig afskryf nie, maar liefhet, net so kan mens ook lief wees vir mense van ander geloofsoortuigings sonder om eerbied of ontsag en agting vir hulle geloof te hê. Mens kan egter vir hulle as mens en as mede beeld draers van God respek hê. Mense is immers meer as hulle geloofsoortuigings. God wil dalk in en deur jou vir hulle wys hoe diep die liefde van Christus is. Deur mense met geen eerbied en geen ontsag en menswaardigheid te hanteer omdat mens gewoon “geen respek” vir hulle as mense in die beeld van God het nie, is nie die Christelike weg nie. Ons sien dit veral by Jesus. In Lukas 15:1vv lees ons hoe die verkeerde mense –  die sondaars – gereeld  by Jesus was en hoe hy sy tyd met hulle aan tafel deurgebring het. In Johannes 4 lees ons hoe Jesus moeite maak met ‘n Samaritaanse vrou en haar die lewe skenk. Ons lees in Handelinge hoe Paulus op ‘n dag in ‘n gesprek gaan met die heidense filosowe en vir hulle vertel hoe die God wat hy ken die onbekende God is wat hulle nog nie ken nie. Deur liefdeloos te leef doen ons eintlik reuse afbreek aan ons getuienis as mense van die Lig.

Alle Godsdienste is nie gelyk nie. Ons glo dat iets uniek in Christus plaasgevind het. Dit maak ons egter nie beter as ander nie. Ons is eintlik net begenadigde mense, mense wat self verlos is van ‘n doodsbestaan en wat eintlik ook op ‘n stadium vyande van God was. Ons eerste opdrag is om die goeie te doen aan almal. Dit lees ons duidelik in Galasiërs 6:10 as Paulus die opdrag duidelik gee. In Johannes 17 en 20 stuur Jesus sy dissipels uit na die wêreld – die wêreld waarin hulle beweeg soos skape tussen wolwe om een ding te doen en dit is om God se liefde uit te leef. Om die goeie te doen aan almal beteken egter nie om die heidense gelowe te bevorder nie! Dit beteken gewoon om vanuit jou verhouding met Christus vir hulle lief te wees.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok