Ons behoort aan twee kerke

Ons behoort aan twee kerke – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

My vriendin was in die NG kerk en is klein gedoop. Sy het in Augustus oorgegaan na die AGS kerk toe en is groot gedoop. Ek is nog lidmaat van die NG kerk en my hart lê nog by die NG kerk. Tog gaan ek graag saam met haar na haar kerk toe. Gaan daar probleme kom tussen my en haar omdat ons aan twee verskillende kerke behoort? Ek vind dit verkeerd om weer gedoop te word as ek oorgaan AGS kerk toe omdat sy my vriendin is. In die Bybel staan daar geskrywe daar is net een Here, een geloof en een doop. Dan kan ek mos my nie weer laat doop nie of is dit maar net die inseëning wat die NG kerk doop. Babadoop is mos verbondsdoop en grootdoop soos die AGS kerk is die doop van die gelowiges die bekeringsdoop. Ek was vanoggend saam met my vriendin kerk toe om te sien hoe die lidmate gedoop word. Dankie

 

Antwoord:

[Die antwoord op hierdie vraag moet saamgelees word met ander antwoorde oor doop op die webblad.]

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ek gaan die vraag beantwoord of daar moeilikheid gaan kom as hulle aan twee kerke behoort.

ʼn Mens word natuurlik nie deur die kerk gered nie, maar deur geloof in Jesus. Tog speel die kerk ʼn belangrike rol in ons alledaagse lewe en veral in ons gesinslewe. In ʼn gesin doen die gesin gewoonlik dinge saam. As die ma en pa aan twee verskillende kerke behoort, kan dit probleme veroorsaak. Veronderstel nou Sondag kom en daar moet besluit word na watter kerk toe gegaan moet word, kan daar altyd spanning ontwikkel. Uiteindelik moet daar ook besluit word of die kinders kategese of Sondagskool toe moet gaan – na watter Sondagskool moet gegaan word. Daar kan ook oor dinge soos die doop probleme onstaan – in watter kerk gaan daar gedoop word en as die kerke nog oor groot of kleindoop verskil is die gevaar vir moeilikheid nog groter. So kan ons aangaan met die opnoem van plekke waar probleme kan ontstaan. Dit is nie ʼn ideale situasie nie en vra vir besonder volwasse persone om dit te hanteer. Daarom sal daar goeie afsprake tussen die twee ouers moet kom oor hoe presies alles gereël gaan word, anders moet julle julle maar voorberei vir baie gevegte, veral op Sondae en dit wil niemand hê nie.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt




Paulus se vervolging van Christene

Paulus se vervolging van Christene – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoekom het Paulus die Christene vervolg? Wat was dit wat die Joodse geloof en reëls en Fariseërs gehad het teen Jesus in Paulus se tyd? As ek dit reg verstaan het Paulus se vervolging van Christene plaasgevind omdat hulle in Jesus geglo het. Tog het hulle rede gehad om in Jesus te glo, want hy was toe reeds op aarde gewees, gekruisig en het opgestaan. Oorlewing moes dit tog so oorgedra het aan die Jode in Paulus se tyd? En hoekom moes die Christene doodgemaak word? Kon hulle nie maar soos vandag keuses gehad het nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons lees van die eerste vervolgings reeds vroeg in Handelinge – van hoofstuk 6:8 af begin ons daarvan lees. Hoofstuk 7 vertel van Stefanus wat die eerste Christen martelaar was en in hoofstuk 8 lees ons hoe die Christene moes vlug vir hulle lewens. Die rede vir die vervolgings lees ons al in Handelinge 6:8-15. Van die Jode het gevoel dat Jesus se boodskap hulle tempel en wet bedreig het. Ons weet Jesus het gesê dat Hy die tempel gaan vervang (sy liggaam gaan die tempel word). In Matteus 5 en elders lees ons ook dat Jesus die wet anders interpreteer het as die Jode en ons lees verder op baie plekke dat Jesus die Sabbat nie gehou het soos die Jode dit gedoen het nie. Jesus het die dinge anders gesien. Die Jode het gevoel dat dit laster is en deur sake so bietjie aan te dik met valse getuienis het hulle die Christene se name deur die modder begin sleep en gesê dat hulle teen die Joodse godsdiens is en teen God laster. Nou het dit so gewerk dat die Romeine (wat die politieke heersers was) die Jode toegelaat het om oor hulle eie godsdienstige en kulturele sake self te besluit wat om te doen. Hulle Raad (waarvan ons ook in Handelinge 6 lees) het die reg gehad om mense wat teen die godsdiens oortree, reg te sien en dit is juis wat hier gebeur. Hulle het selfs met die Romeinse Ryk ʼn ooreenkoms gehad om mense wat in die buiteland hulle godsdiens skade aandoen te gaan vervolg. Daarom kon Paulus na Damaskus gaan om die Christene daar te gaan vervolg. Damaskus was nie in Israel nie en tog kon Paulus die Christene daar gaan vervolg.

 

Dit was onder andere hierdie oordrewe manier waarop die Jode aan hulle manier van godsdiensbeoefening vasgeklou het wat gemaak het dat hulle Jesus misgekyk het. Ons kry baie plekke in die Nuwe Testament waar die Christene self maar net wonder waarom die Jode nie glo nie – hulle het al die bewyse voor hulle en nogtans het hulle nie reageer nie. Lees maar Romeine 9-11 of Johannes 12:37-42 om agter te kom hoe die Christene met die probleem geworstel het.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt




Mag ‘n Christen wat geskei het weer met iemand anders trou?

Mag ‘n Christen wat geskei het weer met iemand anders trou? – Kobus Kok

Voordat ons hierdie vraag begin beantwoord moet ons vir mekaar dit duidelik stel dat die Bybel van die begin af al dit duidelik maak dat getrouheid ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees. In die Ou Testament word die verhouding tussen ʼn man en ʼn vrou dikwels as analogie (voorbeeld) gebruik om te verduidelik hoe God getrou is aan sy beloftes aan sy volk wat telkens ontrou is. Trouheid is met ander woorde ʼn baie belangrike motief regdeur die Bybel.

Indien ons nou die vraag wil beantwoord of ʼn Christen wat geskei het weer kan trou, moet ons die vraag eers so paar stappe terugvat in die proses, deur daaroor te besin deur die bril van lewenslange getrouheid. Indien getrouheid en lewenslange trou ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees, gaan mens heeltemal anders met jou verhoudingslewe om as wat iemand daarmee sal omgaan vir wie hierdie waarde nie belangrik is nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy keer op keer sal óór begin, dat jy as huweliksmaat aan jouself en jou karakter sal werk sodat jou huwelik kan groei en nie skipbreuk sal lei nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy ander keuses maak as dit kom by die hou van gesonde grense met iemand by die werk of by sosiale geleenthede. Indien mens van die begin van jou huwelik al die saak uitmaak dat jy NIE gaan skei nie, en dat daar nie vir jou ʼn ander opsie IS nie, dan gaan jy anders omgaan met die uitdagings, pyn en teleurstelling wat mens in ʼn huwelik beleef. Omdat God die sentrum van jou lewe is en jy Sy wysheid soek, sal Hy jou in elke seisoen van jou verhoudingslewe op ʼn opwindende karakter-reis van groei en verdieping neem.

Soms gebeur dit egter dat ʼn verhouding eindig, en dat ʼn egskeiding onafwendbaar is. Vat maar net die man wat sy kinders molesteer en jare lank drink en sy vrou emosionele en fisiese geweld aandoen. In sommige gevalle is ʼn egskeiding die weg tot genesing.

Hou die Bybelse konteks in gedagte

Ons moet versigtig wees om die Bybelse teksgedeeltes wat oor egskeiding handel te maklik op ons eie situasie en konteks toe te pas. Die Bybelse tekste verteenwoordig ʼn lang groeiproses en daar was ook bepaalde dinge wat in daardie konteks rondom die dimensie van egskeiding plaasgevind het. Ons lees byvoorbeeld in Matteus 19:9 dat Jesus egskeiding verbied. Hierdie gedeelte in Matteus moet egter in die regte konteks verstaan word en die agtergrond daarvan moet eers belig word. Hier in Matteus 19 vra die Fariseërs vir Jesus ʼn strikvraag om hom uit te daag. Hulle wil weet of dit ʼn man geoorloof is om vanweë allerlei redes van sy vrou te skei?  Die teks waarna die Fariseërs verwys, verwys na ʼn konteks in die geskiedenis van Israel wat lank van te vore ter sprake was. Uit ons navorsing wil dit voorkom dat in die tyd van Jesus, die antieke Mediterreense kultuur grootliks ʼn paternalistiese sisteem was. Dit beteken dat die pa die onbetwisbare hoof van die huis was. Mans in die Grieks-Romeinse wêreld kon selfs so ver gaan as om te besluit of hulle hulle kind se lewe sal spaar of nie. Ons weet van gevalle waar mans aan hulle swanger vrouens skryf dat indien hulle geboorte gee aan ʼn dogter dan moet hulle ontslae raak van die kind, maar as dit ʼn seuntjie is kan hulle die kind maar hou. Dit het dikwels gebeur dat babas op die ashope gegooi is. Die pa het dus die mag oor lewe en dood gehad in die antieke tyd. Verder was die pa die hoof van die huis en die res van die gesin moes maar volgens sy pype dans. Dit wil verder uit ons navorsing voorkom dat baie mans vrouens beskou het as synde nie veel meer as ʼn stuk vleis nie. Hulle kon ook baie maklik van ʼn vrou skei deur eenvoudig vir die vrou ʼn skeibrief te gee as sy die kos een keer te veel gebrand het. Vrouens het baie min regte in ʼn paternalistiese sisteem gehad en so is vrouens eintlik in ʼn baie brose posisie gelaat. Dit is teen hierdie agtergrond wat Jesus se uitspraak dan verstaan moet word. Jesus se uitspraak is dus ook ʼn sterk reaksie teen die uitbuiting van die vrou en die absolute, soms onregverdige optrede aan die kant van mans. Jesus se reaksie op die vraag van die Fariseërs slaan die hamer reguit op die spyker en dring deur tot op die kern van die saak: Dit wat God saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Hier maak Jesus dus ʼn baie sterk stelling wat reguit ingaan teen die algemene kultuur van sy dag. Die Fariseërs het vinnig hierop gereageer en voor al die getuies roep hulle hulle op die gebruik wat volgens hulle terug gaan na die groot leier  van Israel, naamlik Moses. Moses het volgens hulle die ruimte geskep om gewoon ʼn skeibrief te gee aan jou vrou en van haar te skei (vgl. Matt 19:7). As Moses dit gesê het, en geoorloof het, wie is Jesus dan om te stry, was hulle grootste verweer. Jesus het onmiddellik daarop gereageer en die bal weer terug in die hande van die Fariseërs gegooi en hulle skynheilige karakters blootgestel deur te argumenteer dat Moses wel die ruimte gelaat het vir skeibriewe, maar dit gedoen het as gevolg van die hardheid en koudheid van hulle harte. Dit was egter nie van die begin af deel van God se hart of plan vir die mens nie. Jesus kom gee hulle dan ʼn nuwe siening, wat nie teruggaan na Moses nie, maar teruggaan na God se oorspronklike plan, en in sy betoog haal Jesus ʼn teks uit Genesis aan en argumenteer dat ʼn man sy vader en moeder sal verlaat en saam met sy vrou as een vlees/wese/mens leef.  Jesus sê verder dat die implikasie daarvan is dat die wat skei, teen die wil van God optree en niks minder as die sewende gebod oortree nie, naamlik dat mens nie mag egbreuk pleeg nie (Kyk ook Luk 16:18, Mark 10:12 en Matt 5:31, 32). Jesus het dus die ganse paternalistiese sisteem op sy kop geswaai en gewys dat verhoudings, integriteit, karakter en innerlike oriëntasie, radikale self-opofferende liefde, barmhartigheid en diens die belangrikste is.

Terug na ons tyd vandag. Kan ʼn Christen wat geskei het weer trou? Miskien is die vraag nie óf en hoe vinnig ʼn Christen wat geskei is weer kan trou nie maar in hoe verre ʼn Christen kan wys dat opregte verhoudings en trou wat in God gewortel is kan hou! Miskien trou en skei ons heeltemal te vinnig vandag. ʼn Vriend van my wat ʼn prokureur is en egskeidings hanteer is vandag skatryk omdat soveel mense skei, sommiges selfs na ʼn paar maande se getroude lewe. Ek wonder of mens regtig al die huwelik of mekaar ʼn kans gegee het na so ʼn kort tyd. Tog is daar regtig ook situasies waar ʼn egskeiding onafwendbaar is en dikwels die weg tot genesing is.

In Jesus se hantering van die Samaritaanse vrou wat al meer as 5 mans gehad het in Johannes 4 en die vrou wat op ontug betrap is in Johannes 8 sien ons Jesus se radikale hart. Jesus skep tweede kanse en gee lewe. Terwyl ek glo dat lewenslange trou en liefde die reël is, glo ek ook dat God vir ons tweede kanse kan skep en ons mislukkings in verhale van hoop en genesing kan verander. Indien ons opreg in ons verhouding met Hom leef en ons weer trou na ons geskei het, sal Hy ook vir ons die geskenk van vergifnis en nuwe lewe gee. Ek ken mense wat ʼn tweede keer getroud is en wat God in hulle verhouding ten volle eer en wat Hom al meer in die nuwe verhouding ontdek.

Opgesom: God se wil is dat man en vrou in ʼn liefdevolle verhouding van trou leef wat Hom in die sentrum stel. God se hart klop nie vir egskeiding nie, maar vir liefdevolle trou. Soms is egskeiding onafwendbaar. In sulke gevalle kan God weer tweede kanse skep, maar dit moet eerder die laaste uitweg wees.

Lees gerus die volgende boek wat vir my persoonlik baie beteken het:

Thomas, G., 2000, Sacred Marriage. What if God designed Marriage to make us Holy, more than to make us Happy? Zondervan uitgewers.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Eerste en Tweede Opstanding

Eerste en Tweede Opstanding – Jan van der Watt

Estelle vra:

Kan jy my asb verduidelik wat gebeur met die eerste opstanding en eerste oordeel, en dan met die tweede opstanding en tweede oordeel?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Openbaring vertel van die eerste dood en die tweede dood (Openbaring 2:11; 20:6,14; 21:8), wat natuurlik verwys na ons fisiese dood (die eerste dood) en sekere mense, wat nie in Jesus glo nie, wat in die ewige geestelike dood ingaan (die tweede dood). In Openbaring 20:5-6 word daar van die eerste opstanding gepraat in die raamwerk van die duisendjarige vrederyk. Die mense wat saam met Jesus die duisend jaar regeer het, het opgestaan (hulle het mos as martelare gesterf – 20:4 praat van die siele wat onthoof is) en daarom word dit die eerste opstanding genoem. Hoewel dit nie so genoem word nie, is die veronderstelling dat die ander wat later uit die dood opstaan die ‘tweede opstanding’ sal uitmaak. Ek is egter nie seker waarna die vraer verwys met die term eerste en tweede oordeel nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt