Volke in die Bybel

Volke in die Bybel – Jan van der Watt

Anton vra:

Ek wil graag weet wie is al die “volke’ in die Bybel (aan wie of wat glo hulle) en wie verteenwoordig dit vandag? Die Jode, nie-Jode, Fariseërs, Samaritane, Egiptenaars, en al die ander?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons kan nie al die volke in die Bybel hier noem of beskryf nie. In die Bybel A-Z is daar baie inligting oor hierdie groepe. Die enkeles wat in die vraag genoem is, kan ons kortliks so beskryf.

a) Daar was volke (soos ons ook vandag volke het wat spesifieke lande of gebiede bewoon) soos die Duitsers, of Swede. So kry ons die Egiptenare, die Assiriërs, die Babiloniërs, ens. Die Jode is ook so volk (nie-Jode is natuurlik mense wat nie Jode is nie). Die Jode is die mense wat hulleself as nageslag van Abraham sien, wat uit Egipte verlos is en aan wie God die beloofde land Israel gegee het. Na hulle ballingskap in Babilon is hulle terug Jerusalem toe en as Jode het hulle toe daar verder gewoon. Die Egiptenare is die mense wat in Egipte gebly het en vandag nog daar bly.

Die Samaritane is ʼn volk wat in Samaria – deel van die huidige Israel –  gebly het (en nog bly). Toe die Jode in ballingskap weggevoer is (8-6 eeue voor Christus) het ʼn klomp mense in Palestina agtergebly; dit was mense wat die oorwinnaars, die Assiriërs en Babiloniërs nie wou gehad het nie. Hulle het net die bestes as slawe en werkers saamgevat. Die land, stede en huise was natuurlik met die ballingskap ontruim, want baie van die bewoners is mos as slawe weggevoer. Ander omringende volke het toe in die Joodse gebiede ingetrek en die land en huise, ens. vir hulle gevat. Die Jode wat agtergebly het, het met hulle vermeng en so het die Samaritane as aparte volk ontstaan. Omdat die Jode nie dink hulle is egte Jode nie, wou hulle nie veel met die Samaritane te doen hê nie.

b) Die Fariseërs en Sadduseërs is weer soos politieke partye. Die Sadduseërs was ʼn groep wat eintlik hoofsaaklik tot die leiers in Jerusalem beperk was. Dit was so soort van ʼn elite groep wat ook baie invloed in die politiek gehad het. Omdat hulle hoofsaaklik rykes van Jerusalem was, het hierdie groep ook ophou bestaan nadat Jerusalem in 70nC vernietig is. Die Fariseërs was weer ʼn groep wat baie godsdienstig was – hulle het die Wet getrou gehou en was byna soos polisiemanne wat moet kyk dat die wet goed gehou word. Dit was dus ʼn konserwatiewe deel van die Joodse gemeenskap. Daarom het hulle ook nogal met Jesus gebots.

Outeur: Prof van der Watt

 




Lande in die Bybel

Lande in die Bybel – Jan van der Watt

Anton vra:

Die stede en lande het baie dieper betekenisse in die Bybel bv Jerusalem, nuwe Jerusalem waar kan ek meer leer oor al die lande en stede van die Bybel?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Bybel A-Z is ʼn ideale boek om meer hieroor te leer. Soms het stede dieper of simboliese betekenis, maar in baie gevalle nie. Stede of plekke wat nogal simboliese betekenisse het, is byvoorbeeld,

  • Jerusalem wat natuurlik die stad van God is – die hemel word vergelyk met so wonderlike stad wat van goud, pêrels en opaal gemaak is (Openbaring 21).
  • Babilon word gesien as die bose (dit is die stad waarheen Israel in ballingskap weggevoer is). As die stad Rome baie boos begin raak, word die stad Babilon genoem (sien Openbaring 18 -19)
  • Verwysings na die woestyn is soms ook simbolies. Die woestyn was die plek waar Israel vir 40 jaar saam met God rondgeswerf het. Daar was hulle volledig van God afhanklik. Die woestyn word dus dikwels figuurlik gebruik om op die plek te wys waar mens alleen saam met God en volledig van Hom afhanklik is.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Vals leerstellings

Vals leerstellings – Jan van der Watt

Anton vra:

Hoe kan ʼn mens valse leerstellings herken? (Die feit dat kerke so verskil pla hom en maak dat hy liewer op sy eie die Bybel wil bestudeer.)

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit is natuurlik goed om die Bybel te bestudeer, tog het ʼn mens ook die gemeenskap van die gelowiges nodig en iemand wat mens kan help om die Bybel beter te verstaan. Die rede is omdat die Bybel 2000 jaar gelede geskryf is en ʼn mens kennis nodig het om dit binne die regte konteks te kan verstaan.

Die vraag is nou hoe mens die dwaalleraars kan identifiseer.

  • ʼn Probleem is dat daar baie Christene is wat nie wil aanvaar dat almal nie soos hulle dink nie. As ons egter na die Nuwe Testament self kyk het die vroeë Christene ook van mekaar verskil oor klein detail (Paulus en Johannes het in dieselfde gebiede gewerk, maar hulle het op verskillende maniere oor Jesus gepraat). Tog het hulle oor die sentrale dinge saamgestem, soos dat Jesus vir ons gesterf het, dat Hy ons verlos, dat  God ons liefhet, ens. Ons moet dus nie sommer net iemand afskryf as hy of sy nie met ons saamstem nie. Ons moet eers mooi luister wat die ander sê en probeer verstaan wat gesê word.
  • In 1 Johannes 4:1-2 waarsku Johannes ons dat daar tog mense gaan wees wat werklik valse boodskappe dra. Hulle moet ons toets aan die Evangelie van Jesus. As hulle jou probeer wegkry van Jesus af, nie wil leef soos iemand wat Jesus ken, moet leef nie, ens. moet jy versigtig begin word. Jy moet die leiding van die Heilige Gees in die gevalle soek deur te kyk of dit wat gesê of gevra word deur die ander bots met die Evangelie of nie.

My raad is om te luister, te studeer, te probeer verstaan en nie te vinnig te oordeel nie. Tog, moet mens nie dink of voorgee dat alles goed is en kan deurgaan nie. As iets verkeerd is, moet jy nie stilbly nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Die hemel en die hel

Die hemel en die hel – Jan van der Watt

Twee lesers het die volgende twee vrae gevra wat by mekaar aansluit:

Anton vra:

Ek wil graag die geleerdes se opinie hê oor al die boeke wat deesdae geskryf word “5 sekondes na dood” “Hemel is ʼn werklikheid” “Hel is n werklikheid” en almal wat al sê hulle is al hel toe en hemel toe is dit Bybels?

ʼn Ander leser vra:

Is die hemel ‘n werklikheid? Ek verstaan van dit wat ek in die Bybel lees dat daar 3 hemele is, nl. die wolke hemel, die buite(sterre) hemel en dan daar waar God die Vader en Jesus is. Ek het onlangs gelees van iemand wat hemel en hel toe is en ‘n boek geskryf het.  Nou wil ek eintlik ook weet of dit kan gebeur dat jy hemel of hel toe kan gaan.  Ek lees nêrens in die Bybel dat jy daarheen kan gaan terwyl jy  nog lewendig is nie.  Dit is mos verborge? Of verstaan ek verkeerd.  As jy die Bybel lees is daar definitief ʼn hemel, want daar is 553 verse om dit te bevestig, maar is dit ‘n werklikheid dat mens daarheen kan gaan en terugkom om daarvan te vertel? Ek weet nie of ek nou lekker sin maak en my vraag reg uitdruk nie, maar die soort boeke en “getuienisse” laat mens wonder….

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die hemel en die hel is ʼn werklikheid. Tog weet ons nie hoe dit gaan lyk of hoe dit daar gaan wees nie (lees van die ander artikels hier by www.bybelkennis.co.za). Ons weet dat die hemel ʼn wonderlike bestaan saam met God gaan inhou en dat die hel nie ʼn plek is waar ʼn mens graag sal wil wees nie. Tog is die beskrywings in die Bybel van die hemel en hel pogings om hierdie waarhede te beskryf – die hemel word byvoorbeeld as ʼn wonderlike stad van goud beskryf (Openbaring 21), of ʼn paradys (tuin – Lukas 23:43). Dit is natuurlik beelde wat vir ons voorstellings wil gee van hoe wonderlik die hemel gaan wees. Die name vir die hel, soos ‘gehenna’, herinner byvoorbeeld aan die ashoop van Jerusalem waar daar altyd rook, stank, en gemors was. So sleg, het die mense gesê, gaan die hel wees; of soos ʼn vuur waarin jy gaan land waar jy altyd gaan brand. Hoe dit regtig so sonder God gaan wees, weet niemand nie.

Nou is daar mense wat beweer dat hulle weet hoe die hemel gaan wees en dat hulle daar was. Natuurlik kan en wil ons nooit die egtheid van die ervarings van die mense betwyfel of maak dat hulle nie ernstig is met wat hulle vertel nie. In die Bybel kry ons byvoorbeeld die verhaal van die ryk man en Lasarus (die arme bedelaar – Lukas 16:19-31). Beide is toe dood en dan word daar beskryf hoe die een in die hemel is en die ander een nie. Dit is egter net In gelykenis (ʼn storie) wat Jesus vertel het om sy boodskap oor te dra. Dit is nie bedoel om ʼn akkurate beskrywing van die hemel te wees nie. Wat egter wel pla met die mense wat so presies weet hoe die hemel gaan lyk is dat hulle meer weet as die Bybel. Die verskil is dat hulle letterlik presies weet hoe dit gaan wees en die Bybel die saak eintlik oop laat – dit gee ons net beelde soos ʼn stad of ʼn lekker tuin.

Nou is daar mense wat sê dat hulle ʼn helder lig gesien het met figure ens. Dan beweer hulle hulle was in die hemel. Weer wil ek nie die opregtheid van die mense betwyfel nie. Wat ʼn mense egter moet weet is dat vlieëniers van oorlogsvliegtuie identiese ervarings het as hulle deur toetse gesit word waar hulle breine aan suurstoftekort ly. Dit mag wees dat die mense, wat sê dat hulle dood was, op die punt van suurstoftekort in die brein gekom het en toe die wit lig ervaar het.

Al persoon wat ek van weet wat regtig bo alle twyfel in die hemel was en wat weer teruggekom het, was Jesus. Hoe dit ook al sy – party van ons sal skepties wees en ander sal sulke ervarings aangryp. Een ding moet ons egter nie doen nie – ons moet nie ons geloof of sulke ervarings bou nie, maar op Jesus alleen.

Outeur: Prof Jan van der Watt