Romeine 9:10-18

Romeine 9:10-18 – Gys Loubser

Kan julle asseblief vir my verduidelik wat Romeine 9:10 – 18 beteken?

Hierdie is een van daardie tekste wat ons nooit so kan verklaar dat ons nie nog vrae het nie.  Die rede daarvoor is hoofsaaklik dat Paulus hier skryf oor dinge wat só uitsluitlik op God se vlak lê, dat ons nooit binne ons logika, wat deur tyd en ruimte bepaal word, finale bevredigende antwoorde kan voorsien nie.  Wat ons wel kan doen, is om ten minste te probeer verstaan wat Paulus binne die konteks van ons teks en sy tyd wou oordra.

Kom ons kyk eers na die konteks in Romeine. In Rom. 1-8 het Paulus baie sterk beklemtoon dat God ten spyte van sy verkiesing van Abraham en sy beloftes aan hom en sy nageslag, sou wou hê dat alle mense gered word.  Hy wou juis al die nasies dmv Abraham seën.  Deur Abraham wou Hy as’t ware by almal uitkom (Rom. 4:9-12).  Hy beklemtoon ook dat God regtig niemand iets geskuld het nie.  Almal het gesondig (Rom. 3:9-18).  Hy red mense net uit genade en nie omdat hulle genoeg goeie goed gedoen het om gered te word nie.  Maar natuurlik, as mense nie gered wil wees nie, as hulle die beloftes nie wil aanvaar nie, sal dit nie hulle deel word nie.  Hier vra ons alreeds binne ons logika hoekom God hulle nie maar dwing nie.  Hy is tog ‘n God van liefde en wil tog hê almal moet gered word, en Hy weet mos dis die beste vir hulle. Nee, dis nou maar van God – waarskynlik oor Hy liefde is – Hy dwing nie sy liefde op iemand af nie.  Hy kan jou ook nie dwing om Hom terug lief te hê nie, want dan is dit nie meer liefde nie.  God het die belofte aan Abraham in vervulling laat gaan in Jesus Christus en redding is nou deur Hom (Rom. 5 – 8).

Nou kom ons by Rom. 9:1-5.  Paulus is besorg dat sy volksgenote – die fisiese nageslag van Abraham – nie in Jesus glo soos mens sou verwag nie, maar Hom verwerp.  Sy vraag wat hy in Rom. 9:6-18 probeer beantwoord, is: wat nou van God se beloftes aan Israel?  Het Hy dit teruggetrek, en as Hy dit teruggetrek het, is dit nie onregverdig van Hom nie?  Belofte maak tog skuld!  Hy kom dan tot die volgende konklusies:

§  Selfs binne die fisiese volk Israel was daar oor die geslagte mense wat nie die Here gedien het nie en sy beloftes verwerp het.  Ware kinders van Abraham het nog altyd net ‘n deel van die fisiese volk uitgemaak.  Só verteenwoordig Isak die ware volk, terwyl Ismael nie deel daarvan is nie (Rom. 9:6-9).

§  God is vry om te kies soos Hy wil.  Die mens se prestasies of disprestasies is nie in die eersteplek wat deurslag gee nie.  Wat agter alles lê, die inisiatief wat die deurslag gee, is God se liefde wat jou uitkies. Jakob en Esau is ‘n besondere voorbeeld hiervan, want hulle was ‘n tweeling met dieselfde geleenthede en altwee ewe min verdienstelik (Rom. 9:10-13).

§  God is nie onregverdig nie.  In sy vryheid mag Hy Hom ontferm oor wie Hy wil en barmhartig wees oor wie Hy wil (Rom. 9:15-16).

Dit is die hoofsaak in hierdie gedeelte, nl. dat alles van God se inisiatief en barmhartigheid afhang en nie van ons goeie werke nie.  En as God mense in Abraham se bloedlyn red, is dit sy saak soveel as wat dit sy saak is as Hy mense buite daardie bloedlyn red.

Wat Rom. 9:10 ev. betref, moet ons net op die volgende let.  Paulus haal direk uit Maleagi 1:2-3 aan.  Die woorde wat hier met liefde en haat vertaal word, is eintlik in ons moderne konteks nie die beste nie, omdat ons ‘n emotiewe waarde daaraan heg.  Dis vir ons begrippe wat emosie insluit.  Onthou, God is nie ‘n mens nie.  Hoe Hy voel, kan ons nie regtig bepaal nie.  Wat belangriker is as gevoelswaarde, is dat sy liefde vir die ware Israel meer te doen het met sy uitkies van hulle om hulle met sy beloftes te begunstig sonder dat hulle ‘n positiewe bydrae gemaak het.  As daar staan dat Hy Esau gehaat het, moet ons nie menslike emosie en doelgerigte slegte intensie daarin lees nie.  Sy uitverkiesende liefde vir Jakob was nie gegrond op Jakob se goeie dade nie.  Sy getuigskrif lyk maar sleg.  Net so was sy nie-verkiesing van Esau ook nie gegrond op Esau se dade nie.  Hy het Esau basies oorgelaat aan sy eie wil om God se beloftes te geringskat.

Daar is nog ‘n element wat ons in ag moet neem.  Die ouens het destyds in terme van groepe gedink.  Jy was nooit ‘n individu nie, maar altyd deel van ‘n groep.  Jou familie was jou mees basiese groep.  Net so het die familie dan ook ‘n naam gehad om hoog te hou.  Hulle het probeer om te glo en te leef soos hulle aartsvader geglo en geleef het.  Hulle is ook gedefinieer by ander aan hulle oorspronklike aartsvader.  Maar ook hy was nie ‘n individu op sy eie nie.  Hy was ook een met sy nageslag.  Dit gaan hier dus nie net oor Jakob nie, maar ook oor sy nageslag wat saam met God geloop het en sy beloftes geglo het.  Dit gaan ook nie net om Esau nie, maar om sy nageslag, die Edomiete (Mal. 1:3), wat die Here nie gedien het nie.  Verder was groepe geneig om ander uit te sluit.  God is egter anders en sluit die oninsluitbare in sy vryheid in, en het ook die reg om die wat van nature ingesluit sou wees, uit te sluit.  Hy is God en werk ogv sy eie orde.

Maar, terug na ons hele Skrifgedeelte, die belofte is selfs vir die heidene beskikbaar.  Op een of ander onverstaanbare manier is ons keuses en God se uitverkiesing nie los van mekaar te make nie.

 

Outeur: Gys Loubser




Die AGS Wapen

Die AGS Wapen – Marius Nel

Johan Malan vra:

Goeie dag.  Ek het n vraag:  die AGS wapen, waar kom dit vandaan, wat beteken dit, wat is die betekenisse van die verskillende tekens , kroon , kruis. Kan iemand my help asb.

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Die kruis en kroon in die AGS se wapen verwys na ʼn Christen se weg deur die lewe, wat In kruis voorstel en uiteindelik met ʼn kroon beloon word. In die woorde van ʼn lied wat in die vroeë dae van die AGS gesing is: na die kruis kom die kroon, Jesus self sal beloon…

 

Outeur: Dr Marius Nel

 




Die Tien Gebooie

Die Tien Gebooie – Marius Nel

Kan u my asb help. Ek is besig met katkisasie en ons behandel die tien gebooie, kan ek asb ‘n meer indiepte betekenis kry van die tien gebooie

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Eksodus 20:1-17

Die beskrywing van die dramatiese teofanie word deur die berig oor die Tien Gebooie onderbreek en word eers in 20:18 hervat. [Teofanie = Godsverskyning in gesig en visioen. Grieks: theos = God; phainesthai = verskyn.]

Die Tien Gebooie moenie as wette verstaan word nie. Wette is gewoonlik as kort gevallestudies (kasuïsties) geformuleer (byvoorbeeld as jy X gedoen het, sal Y met jou gebeur, dus oortreding plus straf). Ge­booie kommunikeer die Here se teologiese en etie­se voorskrifte aan ons sonder dat ‘n pertinente straf daaraan gekoppel is.

Die Tien Gebooie (dekaloog) word in Deu­te­ronomium 5 herhaal. Die grootste verskil is geleë in die motivering vir die sabbatsgebod. Daar is ook in Eksodus 34 ‘n versameling gods­dienstige voorskrifte wat by Eksodus 20 aan­sluit en wat die benaming “kultiese dekaloog” gekry het.

Die Tien Gebooie kan volgens vorm en inhoud in twee afdelings verdeel word. Eer­stens vind ons vier gebooie wat oor die diens aan God handel en wat meer uitvoerig ge­for­mu­leer is (20:1-11). Tweedens is daar ses gebooie wat op die verhouding met die mede­mens betrekking het en wat, met die uitsondering van die ouergebod, meer bondig geformuleer is (20:12-17).

20:1: Die Hebreeus vir gebooie kan ook met “woorde” of “sake” vertaal word. Selfs die Griekse weergawe “dekaloog” hou ook met die “tien woorde” verband (34:28; Deuteronomium 4:13; 10:4).

20:2: Hoewel die Tien Gebooie gewoonlik in twee gedeel word, moet die eenheid daarvan volgens die inleiding, Ek is die Here jou God wat jou … bevry het, gehandhaaf word. Met enkele woor­de stel die Here homself bekend deur middel van die voorbeeld van wat Hy vir Israel gedoen het.

Die struktuur van die Tien Gebooie stem in breë trek­ke ooreen met die koninklike verdrae wat in die ou Nabye-Ooste gesluit is. ‘n Bekendstellende in­leiding waarin die koning geïdentifiseer word, word gevolg deur ‘n historiese verwysing na ‘n wel­daad wat die koning vir die ander vennoot in die verdrag/verbond gedoen het; dan eers volg die be­pa­lings vir die instandhouding van die verbond.

20:3: Die bondige eerste gebod stel dit onomwonde dat daar vir Israel geen ander god as die Here mag wees nie. Dis ‘n ingrypende ge­bod in ‘n kulturele omgewing waarin ‘n hele reeks gode (‘n “panteon”) aanbid is. Hierdie gebod vorm die basis vir die teologie van die Ou Testament.

Dit vereis die uitsluitlike aanbidding van die Here (monoteïsme).

20:4-6: In die meer uitgebreide tweede ge­bod word daar spesifiek na die verbod op beeldediens (hout, klip, keramiek ens) ver­wys. Die verwysing na die hemel … aarde … wa­ter onder die aarde dui op ‘n drieledige siening van die geskape werklikheid. Daar is inder­waarheid ‘n drievoudige verbod: geen beeld mag ge­maak, vereer of gedien word nie. Met die ver­­dubbeling van die drieledige omskrywings word die om­vattendheid van die gebod beklemtoon.

Die onverdeelde trou wat die (jaloerse!) Here van die volk vereis, hang gewoonlik saam met die nakoming van die verbond (34:14; Deuteronomium 4:24; Josua 24:19; Psalm 78:58). Die derde en vier­de geslag verwys na die uitgebreide familie wat saam een huishouding gevorm het: groot­ouers, kinders en kleinkinders het saam in een huis gewoon en is saam positief en negatief beïn­vloed (Numeri 16:31-34; Josua 7:24).

Daar is niks in die ganse skepping wat reg aan die uitbeelding van die teenwoordigheid van God kan laat geskied nie (Romeine 1:20-25). Moet ons nou weer, soos van ouds, alle beelde vernietig waar dit ook mag wees? Miskien moet ons vandag rui­mer kyk na ons afgode wat nie meer van klip of klei gemaak word nie. Hebsug en materialisme aan die een kant en rassevooroordeel aan die ander kant is afgode van ons tyd wat nie deur onver­deel­de trou aan die Here geduld kan word nie. Hier­die soort afgode moet vernietig word.

Maar ten diepste moet ons besef dat ge­hoor­saam­heid aan die gebooie en liefde vir die Here onlosmaaklik aan mekaar verbonde is. Die ge­booie vra nie blote oppervlakkige gehoor­saamheid nie, maar die persoonlike ervaring van die Here se liefde en onverdeelde trou wat in die mens se liefde vir God gereflekteer word.

20:7: Die derde gebod dui op méér as ge­kruide of vloektaal, aangesien die misbruik van die Naam van die Here verwys na die val­se neem van ‘n eed (Levitikus 19:12; Jeremia 7:9). Die Naam van die Here dui op die Eienaam van die Here waarin die essensie van God se wese en teenwoordigheid gereflekteer word (3:14). Enig­ie­mand wat die Naam van die Here gebruik sonder die ervaring van sy teenwoordigheid, loop gevaar om dit te misbruik.

Die heilige Here se teenwoordigheid moet eers per­soonlik ervaar word voordat die Naam van die Here met ontsag gebruik kan word. Eers wanneer ons iets besef van wie God is, dan kan ons stamelend en stotterend sy Naam op ons lippe neem!

20:8-11: Met die vierde gebod word daar uitvoerig oor die implikasies van die sabbatdag nagedink. Dit is opvallend dat die gebod positief geformuleer is.

Die positiewe perspektief van die vierde gebod word gevind in die bevel wat met sorg of “gedenk” ver­taal word. Daarmee word beklemtoon dat die na­koming van die sabbatsgebod in direkte verband staan met die herinnering aan die Here se groot da­de van die verlede. In 20:11 gaan dit om die skep­ping wat onthou word terwyl dit in Deuteronomium 5:14-15 om die uittog gaan.

Die heiligheid van die sabbat impliseer dat die dag afgesonder moet word vir die Here en aan Hom gewy moet word. Almal is by die nakoming van die gebod betrokke en geen mens of dier mag dan werk nie.

In ‘n kapitalistiese samelewing met ‘n sterk Pro­te­stantse etiek van harde werk (“jy moet jou brood in die sweet van jou aangesig verdien”), moet daar op­nuut na die sabbatgebod gekyk word. Die uitgangs­punt van die gebod is dat die sabbatdag die hoogtepunt van die skeppings­ver­­haal (Genesis 1:1-2:4a) is en nie die skepping van die mens nie! Die nakoming van die sabbat­gebod herinner ons aan wat God se prioriteite met die skepping was. Alles is geskape om in Hom rus te vind. Daarom mag gehoorsaamheid aan hierdie gebod nie uit die nakoming van ‘n ellelange lys moets en moenies bestaan nie. Die sabbatgebod roep om die positiewe realisering van God se bedoeling met die uitgebrande mens en die vernielde skepping!

20:12: Die vyfde gebod vereis eer­bied en respek vir die ouers. Al was Israel ‘n patriargale samelewing, was nie net die vader nie, maar ook die moeder eerbied waardig. Die Hebreeus vir eer kan ook met “swaar wees” vertaal word en die woord wat later vir die vloek van ouers in 21:17 gebruik word, het weer die betekenisnuanse van “lig wees”.

Hierdie is die enigste gebod waaraan daar ‘n po­sitiewe belofte verbind is (Deuteronomium 6:2; Efesiërs 6:2). Die verband tussen die eerbied vir ouers en die behoud van die land van die belofte lê waarskynlik daarin dat die land inderdaad erf­grond was wat van een geslag na die volgende oorgegaan het. Die ouergebod funksioneer ook as ‘n brug tussen die gebooie wat op God en dié wat op die naaste betrekking het.

20:13: Die sesde gebod is die eerste van vier bondig geformuleerde gebooie wat net uit ‘n verbod bestaan. Moord dui hier op die weder­reg­telike en doelbewuste neem van ‘n lewe. Die verskillende vorme van moord word in 21:12-14 omskryf. Dit kon dalk oorspronklik met die bloedwraak wat daar tussen stamme geheers het, te doen ge­­had het. In sy huidige ongekwalifiseerde vorm dui dit op die aanname dat God alleen oor die le­we beskik. Eerbied vir die lewe is eerbied teen­oor God. Later word moord ook op die afguns ten opsigte van ander van toepassing gemaak (Matteus 5:21-26).

20:14: Die sewende gebod se verbod op egbreuk verbied die inbreuk wat op die ander man se huwelik gemaak word. In die patriargale Jood­se samelewing is die vrou se seksualiteit be­skou as deel van die man se besit. Egbreuk kom dan in enger sin neer op oortreding teen die be­sit of eiendomsreg van die man. In ‘n ruimer sin was egbreuk egter nie net ‘n oortreding teenoor die eggenoot of eggenote nie, maar ook teenoor God (Genesis 39:9; Matteus 5:27-30).

20:15: Daar is ‘n hele debat onder navorsers oor die moontlikheid dat die agste gebod (diefstal) oorspronklik op ontvoering (mense­dief­stal) betrekking gehad het (21:16; Deuteronomium 24:7). Dit lyk dus of daar met hierdie gebod nie net ‘n ver­skan­sing van eiendomsreg was nie, maar dat dit ook betrekking op die vryheid van mense ge­had het. Aan die ander kant kan die verbod op dief­stal ook nie as ‘n regverdiging vir private besit benut word nie.

In sy “La Divina Commedia” beeld Dante die dief uit as iemand wie se liggaam vorm verloor. Dis ‘n parodie op die feit dat die dief nie weet waar die grense van die medemens se eiendom is nie.

Respek vir ander se eiendomsreg het oog­lopend in ons land vervaag en moet opnuut deel word van die kerk se appèl op die wêreld om volgens God se wil te lewe. Die herverdeling van ryk­dom is ‘n belangrike saak op sigself maar moet nie as regverdiging gebruik word vir die oortreding van die agste gebod nie.

20:16: Die negende gebod veronderstel ‘n situasie waarin iemand as getuie geroep word en vals of oneerlike getuienis in die hof voor die oudstes in die stadspoort aflê. Dit gaan dus in die eerste instansie nie om leuens oor die al­ge­meen nie maar om die versekering dat die reg­spraak vlot funksioneer.

Tog het die gebod wyer implikasies. As vereiste wat die Here stel, eerder as wat die regsproses vereis, geld dit ook ten opsigte van die hele lewe. Die talle kere dat leuens in die Ou Testament afgewys word, getuig daarvan.

Die vryheid wat met die uittog bewerkstellig is, sal met die instandhouding van die regspraak volgehou en uitgebou kan word. Demokratiese ver­kie­sings en grondwette in ons land is kragteloos as daar nie ‘n effektiewe regstelsel is om dit te rug­steun nie. Hier het die geloofsgemeenskap ‘n dringen­de getuienis om te lewer.

20:17 Die tiende gebod sny dieper as die vorige gebooie en spreek die probleem van begeerte aan. Dit gaan nie net om die dissipline van die innerlike nie, maar ook om die same­hang van begeerte en die daad wat daar­uit voortvloei (Miga 2:1-2; Matteus 5:21-30; Jakobus 1:14-15).

Die lys objekte wat nie begeer mag word nie, reflekteer die sosiale en ekonomiese omstandighede van ‘n paar duisend jaar gelede en sal vandag ietwat anders daar uitsien. Hoe sien jou lysie begeertes daar uit? Motor … klere … selfoon … strandhuis … aftreeplasie? In die dieselfde asem het ons moderne individualisme ook slag­spreu­ke geformuleer soos: elkeen sorg vir homself. Dit laat ‘n egoïsme ontstaan waar die hele wêreld om jou eie begeertes en verwagtings begin draai.

Die reeks verbode objekte van begeerte is in da­lende volgorde van belangrikheid geformuleer: van die vrou tot die donkie. Almal vorm deel van die man se besittings.

Opsommend kan ons sê dat die Tien Gebooie gaan oor die mens se verantwoordelikheid teenoor God en die naaste. Daarom het Jesus die essensie van die wet só saamgevat: lief­de tot God (Deuteronomium 6:5) en liefde tot die naaste (Levitikus 19:18, vgl Matteus 22:37-40). Ons leef in ‘n samelewing waarin die Tien Gebooie prakties uit­geleef moet word. Maar hoe kan ons dit uitleef as ons dit nie benader uit ‘n persoonlike ont­moe­ting met God in Christus en deur die Heilige Gees nie!

Outeur: Dr Marius Nel

 




Om net te doop in die Naam van Jesus?

Om net te doop in die Naam van Jesus? – Kobus Kok

Jan Smith vra na aanleiding van sy vorige vraag: “Hoekom moes Jesus gedoop word?” ʼn verdere vraag:

Word doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees vervang deur doop slegs in die Naam van die Here Jesus. Is dit maar net ‘n vertalingsoorsig? Dit lyk so of die Vader en Heilige Gees uitgesluit word en indien so wonder oor welke rede Petrus en Paulus so doen?

Antwoord

Dr Kobus Kok antwoord:

Myns insiens moet ons nie van die voorveronderstelling uitgaan dat die doop in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees in Handelinge vervang word met die doop in die naam van Jesus nie. Laasgenoemde, “die doop in die naam van Jesus”, was eerder die mees oorspronklike wyse waarop daar in die vroegste tye gedoop is. Dit is ook in die moderne vertalings nie ʼn weglating van “Vader” en “Heilige Gees” nie en dus nie ‘n vertalingsoorsig nie! (kyk Handelinge 19:1-5). Die formule “Vader, Seun en Heilige Gees” is eerder ‘n latere byvoeging as wat “in die naam van Jesus” ‘n weglating van “Vader, Seun en Gees” behels. In kort: Die doop in die naam van Jesus was eerder die mees oorspronklike formule (kyk Handelinge 19:1-5). Laat ek verduidelik:

Soos ek in die vorige artikel geargumenteer het word twee verskillende dope in die Nuwe Testament gevind.

  • Net voor en tydens die bediening van Jesus is mense gedoop binne die konteks van die Johannes-doop. Dit was die doop waartydens Johannes die Doper mense opgeroep het tot bekering.
  • In dieselfde tyd en daarna het Jesus op die toneel verskyn, en sy dissipels het mense gedoop. Maar nou moet jy onthou dat Jesus toe nog nie opgestaan het nie, en daarom was die Gees nog nie uitgestort nie – juis om hierdie rede sal die dissipels nie gedoop het in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees nie.
  • Na Jesus uit die dood opgestaan het en hemel toe is, is die Heilige Gees uitgestort. Die dissipels het toe mense gedoop in die naam van Jesus wat in die naam van die Vader (en die werking van die Heilige Gees by implikasie ingesluit het).

Eers baie later in die vroeë kerk se geskiedenis is mense aan die hand van die vaste formule “Vader Seun en Gees” gedoop. Matteus 28:19, waar die formule voorkom, het na alle waarskynlik eers ontstaan in ongeveer 70 nC en Jesus is oorlede teen ongeveer 35/37nC. Dus, in die vroegste kerk (40-65) is mense oor die algemeen gedoop in die naam van Jesus wat eintlik by implikasie ook in die Naam van die Vader (en Gees) beteken het omdat Jesus en sy Vader een is. Mens moet dus nie dat dit jou ontstel nie. In die naam van Jesus het vir die antieke mense onlosmaaklik saamgehang met in die naam van die Vader (en die Gees) en dit eintlik geïmpliseer. [Miskien sal dit vir jou interessant wees om te verneem dat die drie-eenheidsleer nie in die tyd van die apostels geformuleer was nie maar eers baie later in die kerk se geskiedenis. Ons sal vra dat ‘n dogmatiese spesialis daaroor iets skryf]

Die teksgedeelte waarna jy verwys waar die apostels mense gedoop het in die naam van Jesus is nie ‘n vertaalfout of weglating nie. Dit staan so in die oorspronklike grondteks. Ons moet egter mooi verstaan dat in die naam van Jesus vir die vroegste kerk ook in die naam van die Vader geïmpliseer het. Die begrip in die naam van Jesus is gebruik om dit duidelik te onderskei van die doop van Johannes en van ander dergelike doop praktyke wat wel in die antieke tyd bestaan het.

Ek herinner jou weer aan die inhoud van die vorige artikel. Lees dit weer:

Oor die algemeen kan verder aanvaar word dat die Nuwe Testament ʼn eenheidsiening het as dit kom by die Vader en die Seun en hulle verhouding. Iets wat in die naam van Jesus gebeur is by implikasie iets wat in die naam van die Vader gebeur. Die duidelikste voorbeeld van hierdie denkwyse vind ons in Johannes 5 vers 19: “Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.” Mens kan dus argumenteer dat iemand wat in naam van Jesus gedoop is by implikasie ook gedoop is in die Naam van die Vader (Kyk bv. Handelinge 10:48). In Handelinge (vgl. Handelinge 19:1-5) lees ons dat daar gedoop is in die naam van Johannes, maar met die koms van Jesus en die uitstorting van die Gees na Jesus se opstanding en hemelvaart is mense gedoop in die naam van Jesus:

En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind  en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ʼn Heilige Gees is nie.  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Outeur: Dr. Kobus Kok