Wie weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde…

Wie weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde… – Kobus Kok

Juul vra:

Ek het ‘n inleiding oor Jakobus 4: 13 – 17.  Ek het die Bybelgedeelte, maar soek nog voorstudie materiaal.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Jakobus 4:13-17 is ʼn baie interessante teks en geskryf deur Jakobus die broer van Jesus Christus en belangrike leier in die vroeë Jerusalem gemeente. Die antieke mense het na hom verwys as besonders gelowig en hy het so baie gebid dat sy knieë soos die van ʼn kameel gelyk het.

In die Ou vertaling lui Jakobus 4:13-17 soos volg:

Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak- julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe?

Dit is tog maar ʼn

damp

wat vir ʼn

kort tydjie verskyn

en daarna

verdwyn.

In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.

Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.

Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.

 

Teenoor die selfversekerheid van dié wat vertrou op hulself en wat seker is van hul eie sukses in die toekoms, bring Jakobus die lesers weer terug aarde toe. Hy herinner hulle aan die vlugtigheid van hulle bestaan en gebruik tekenende woorde wat kunstig gekies is soos:

damp,

kort tydjie,

verdwyn

Hy herinner hulle dus aan hulle voorlopigheid, hulle broosheid en om vir ʼn slag eerlik te wees oor die realiteit. Eintlik het hulle weg gehardloop vir die realiteit en gejaag na wind sonder om te besef waaroor dit alles gaan en in wie hulle werklik hulle vertroue moet stel.

Daarteenoor reoriënteer hy die leser tot God, soos sonneblomme wat hulle gesig moet terugdraai na die son wat lewe gee. Hierdie reoriëntasie moet die leser reoriënteer – nie net tot God nie, maar ook tot ʼn nuwe manier van lewe. So ʼn lewe sal in die eerste plek gefokus wees en afhanklik wees in alles van God, omdat so iemand sal besef dat God die ware bron van lewe is en dat alles wat hulle besit van Hom af kom. Eintlik is alles net te danke aan Sy voorsienigheid. Juis om hierdie rede is die roem in jou eie vermoë nie net arrogant nie, maar ook ʼn bewys  van jou naïwiteit, naamlik dat jy dink dat die toekoms in jou hande is en dat jy die een is wat moontlikhede skep. Jakobus herinner ons daaraan dat God die een is wat alles moontlik maak.

Indien mens dan al hierdie dinge weet en jy doen  nog steeds nie die goeie nie, dan is jy ongehoorsaam en ongehoorsaamheid aan God se wil is mos sonde. Indien jy in jou selfvoldaanheid en grootpratery dus roem in jou eie vermoë wys dit eintlik iets van jou manier van dink, naamlik dat jy nie besef dat God die bron is van alles nie. Jy dink dus dat jy nog die voertuig van jou eie lewe kan en moet bestuur, terwyl Jakobus ons herinner dat Hy eintlik die bestuurder van ons lewe moet wees.

Ons kan dus aflei dat afhanklikheid die sleutel is wat gehoorsaamheid aktiveer.

 

Bronne wat jy kan lees om die teks oop te sluit is die volgende:

Martin, R. Word Biblical Commentary Vol. 48, James. Word Books (Hardcover)

Mens bestel dit sommer vinnig by amazon.com. Gaan gerus na:

http://www.amazon.com/Word-Biblical.Commentary-Vol-James/dp/o849902479.

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Sabbat en Sondag (2)

Sabbat en Sondag (2) – Francois Malan

Vraag:

Nico Peyper het vantevore ʼn vraag oor die Sabbat en Sondag gevra. Hiermee verdere opvolgvrae van hom:

Baie dankie vir die antwoord. Op die stadium worstel ek baie met die aangeleentheid omrede die werke van ons Vader op die regte manier voortgesit moet word in die donker wêreld waarin ons leef – so ook reg onderhou word. Dwaling is aan die orde van die dag en ons as kinders van God moet waak daarteen.

Dit is sekerlik ʼn onderwerp wat elke mens op sy eie manier kan verklaar, MAAR:-

(1) Wat sê die Bybel hoe moet ons ʼn Sondag deurbring? Nie hoe wil ek of u of enige ander mense dit deurbring (in gemak volgens ons as mens) nie? Volgens my is dit bietjie verwarrend om te sê dat dit seker nie verkeerd is om op ‘n Sondag kos te koop nie – soos die dissipels koringare uitgevryf het nie. In die woestyn moes die Israeliete die dag voor die rusdag, genoeg kos opgetel het ook vir die rusdag – is dit maar net ʼn staaltjie – iets in die Ou Testament wat nie vandag meer van belang is nie of moet ons dit ernstig opneem – ook in ons lewe vandag?

(2) Is dit waar dat die sabbatdag in die Nuwe Testament weggeval het en indien ja – wat is die rede daarvoor?

(3) Volgens die Joodse kalender is die sabbatdag eintlik die Saterdag maar ons vier die rusdag op die Sondag. Is dit wel so en waarom het ons mense die dae verander? Is dit miskien dat Jesus Christus op die Sondag uit die graf opgestaan het? Is dit miskien dat Jesus vir ewig die dood en die wêreld oorwin het dat ons daardie dag as die Sondag – rusdag – vandag ook moet onderhou?

Ek persoonlik ondervind dat die mens vandag alles vir homself wil vergemaklik en daarom sal hulle alles doen om dit in hulle guns, tyd en omstandighede te verander om by hulle aan te pas. Die Bybel – God se Wet en gedeeltes uit die Bybel – word so verstaan dat dit by die mens se vinnige gejaagde lewe kan aanpas – (volgens my) nie by God en God se wil nie.

Daarom is dit vir my baie belangrik om persies te weet wat sê die Bybel van Sondag (rusdag) – nie wat wil die mens sê van Sondag (rusdag) nie. Ons geen elkeen voor ons Vader dit moet getuig wanneer Hy op die wolke verskyn en ek wil dit graag aan my kinders (dogter van 16 en seun van 12 – hulle vra die vrae aan my) – ook reg oordra vir hulle voorbereiding in die “siek” wêreld waarin ons vandag leef.

 

Antwoord:

Dr Francois Malan antwoord:

Vraag 1: Wat sê die Bybel hoe moet ons ʼn Sondag deurbring?

Die Bybel gee nie ʼn lys voorskrifte hoe ons die Sondag moet deurbring nie (wel ʼn paar duidelike aanduidings hoe ons dit nie moet doen nie, onder andere geen handeldryf nie, Nehemia 13:15-18). Maar wat ‘die dag van die Here’ is en hoe dit deur God bedoel is, word wel in die Bybel aangedui, en die beginsels moet ons onder die leiding van die Heilige Gees in ons praktiese lewe uitwerk. Ek gaan iets daarvan probeer weergee soos ek dit verstaan.

Genesis 2:1-3 sê letterlik: ‘1 En die hemel en die aarde en hulle hele skare (NAV: alles daarin…alles daarop) is voltooi. 2 En op die sewende dag het God sy taak (NAV: skeppingswerk) wat Hy verrig het, voltooi, en Hy het op die sewende dag gerus/opgehou met sy hele taak wat Hy verrig het (die Hebreeuse werkwoord sjabat beteken primêr ‘ophou werk’, en daarom ook ‘rus’;  NAV: gerus). 3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, want Hy het daarop gerus van sy hele taak wat Hy geskep het deur dit te maak’

Vers 1 verwys na die voltooiing van die ses dae se skeppingstaak wat God Homself opgelê het. Vers 2 verwys na sy rus as die voltooiing en doel van sy taak. Die ses skeppingsdae word elkeen beëindig met ‘en dit was aand en dit was môre…’. Die sewende dag word nie afgesluit nie. Dit gaan voort. Die woord ‘geheilig’ verwys na toewyding aan God, en hang saam met ‘straal van vreugde’.  Hy is die Skeppergod,  die seënende God, wat vrugbaar maak en Hom verbly oor sy skepping (vergelyk 1:28 ‘seën…:Wees vrugbaar…’ en 1:31 ‘…en dit was baie goed’). Daarom is die voortgaande sewende dag God se vreugde in sy skepping en in sy skepsels. Vir die mens was God se sewende dag natuurlik die eerste dag na die skepping van die mens op die sesde dag. Die mens se lewe begin met die vreugdevolle gemeenskap met sy Skepper.

Deuteronomium 5:12-15 gee die rede aan waarom Israel die sabbatdag heilig moet hou: Die Here jou God het jou as slaaf uit Egipte bevry (waar hulle elke dag as slawe moes werk; vergelyk Eksodus 20:2). Eksodus 20:8-11 gee die Here se rus op die sewende dag aan as die rede waarom Hy dit vir Israel as gereelde rusdag ingestel en geheilig het. God se verlossing (Deuteronomium) en skepping (Eksodus) vul mekaar aan. In Eksodus 31:13 is die viering van die sabbatdag die uitdrukking van Israel se noue band met God, ʼn teken van die Here se verbond met hulle (vergelyk Esegiël 20:12,17). Eksodus 31:17 sê letterlik: ‘…en op die sewende dag het Hy gerus en is verkwik’ (NAV: het Ek nie gewerk nie, maar gerus),

Dit is duidelik dat die sabbat ‘n onderbreking in die daaglikse arbeid moet wees, om verkwik te word in vreugdevolle gemeenskap met God. Daarby is die sabbat ʼn fees vir almal: vir die gesin: ouers en kinders, vir die arbeid: meesters en slawe, vir skepsels: mense en diere, vir alle volke: volksgenote en vreemdelinge (vergelyk Eksodud 20:10). Dit word uitgebrei na die skepping: na die aarde in die sabbatsjaar van herstel (Levitikus 25:2-12). Dié hersteljaar vind weerklank in Jesaja 61 se voorspelling van die herstel van Jerusalem na die ballingskap (vergelyk ‘die jaar van die Here se guns’ in 61:2; NAV: die tyd waarop die Here genade betoon). En dit lei tot wat die profete aankondig: ‘dag van die Here’, ‘n dag van oordeel oor die ongehoorsames, en verlossing vir die gelowiges (byvoorbeeld Joël 2:31,32; Obadja 15-17; Maleagi 4:5-6).

Vraag 2: Is dit waar dat die sabbatdag in die Nuwe Testament weggeval het en indien ja – wat is die rede daarvoor?

Lukas 4:16-21 begin Jesus se openbare optrede op die sabbatdag in die sinagoge in Nasaret, met sy voorlesing en toepassing van Jesaja 61. Hy het die aanbreek van die voorspelde aangename jaar (NAV: genadejaar) van die Here kom aankondig (vergelyk Matteus 11:2-5). Hy kom nie die sabbat afskaf nie, maar dit vervul. Sy verkondiging van die koninkryk van God wat naby is, maak die hele lewe ‘n sabbatsfees.

Markus 2:23-28 beskryf Jesus se reaksie op die Fariseërs se lang lys voorskrifte van wat jy nie op die sabbat mag doen nie. Daarmee maak hulle die onderhouding van die sabbat ‘n doel op sigself en plaas ʼn las op die mens. Jesus verwys na die sabbat as God se gawe aan die mens by die skepping, ʼn teken van sy verbond, ʼn vreugdedag, ʼn genadedag. Die sabbat is daar om Jesus as Heer te dien. Die sabbat is God se genadegawe, wat Hy gegee het met die oog op die vervulling daarvan deur Christus, die beloofde seun van Dawid. Hy kom die mense bevry van die Fariseërs se wettiese sisteem.

Markus 3:1-6 beskryf Jesus se reaksie op die Fariseërs se uitsonderings op die sabbatswette, wat slegs genesing op die sabbat toelaat as daar lewensgevaar is. Jesus red en doen goed op die sabbat. Maar hulle beplan sy dood op die sabbat, omdat sy goeddoen hulle sabbatswet oortree (vergelyk Lukas 13:10-17; 14:1-5; Johannes 5:9,10).

Johannes 5:1-18 beskryf die genesing op die sabbat by die bad Betesda. Jesus se verweer teen die Jode, wat teen Hom te velde trek omdat Hy die sabbatdag ontheilig, is: ‘My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook’. Hy is besig met die dinge van sy Vader, ook op die sabbatdag.

Johannes 9 beskryf hoe Jesus op ‘n sabbatdag ʼn blindgeborene genees, nadat hy klei, wat hy met sy spoeg aangemaak het, aan sy oë gesmeer het, en laat afwas het. Sy kommentaar op die Fariseërs wat Hom veroordeel, en op die blindgeborene wat in Hom glo, is dat Hy gekom het ‘sodat nie-siendes kan sien, en siendes blindes word’ (v39). Vir sy dissipels sê Jesus: ‘So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom wanneer niemand kan werk nie’ (v4). Hy is die lig vir die wêreld.

In Hebreërs 3:7-4:11 word die dae van Moses en God se volk in die woestyn vergelyk met die nuwe bedeling van Christus. Deur hulle opstand het die Israeliete God se belofte van die Beloofde Land versmaai, en het hulle God se rus verbeur, soos Psalm 95:11sê. God het op die sewende dag begin rus en rus nog steeds. Elkeen wat in Christus glo, word nou reeds deel van God se ewige rus. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in vertroue op Hom.

Vraag 3: Volgens die Joodse kalender is die sabbatdag eintlik die Saterdag, maar ons vier die rusdag op die Sondag. Is dit wel so en waarom het ons mense die dae verander? Is dit miskien dat Jesus Christus op die Sondag uit die graf opgestaan het? Is dit miskien dat Jesus vir ewig die dood en die wêreld oorwin het dat ons daardie dag as die Sondag – rusdag – vandag ook moet onderhou?

Die woord Sondag kom nie in die oorspronklike Griekse Nuwe Testament voor nie. Die 1986-vertaling van die Afrikaanse Bybel het die woord gebruik vir ‘die eerste dag van die week’, toe die graf van Jesus leeg was, en Jesus uit die dood opgewek is (Markus 16:2,6; Markus 28:1; Lukas 24:1; Johannes 20:1). Dieselfde aand het Hy aan die dissipelgroep sonder Tomas verskyn (Johannes 20:19), en ʼn week later toe Tomas by hulle was (Johannes 20:26). Op die vyftigste dag na Paassabbat is dit die Joodse Pinksterfees, die Sondag waarop die Heilige Gees uitgestort is (Handelinge 2:1). In Openbaring 1:10 word dit ‘die dag van die Here genoem’. In die Oosterse kerk is dit later Opstandingsdag genoem. In die Westerse kerk is dit later ook Skeppingsdag en Dag van die Uitstorting van die Heilige Gees genoem. Die eerste Christelike keiser van die Romeinse ryk, Konstantyn, het die Sondag in 321 n.C. die offisiële rusdag van die Romeinse Ryk gemaak.

Die Romeine het eers ‘n 8-dae week gehad, met die agste dag as markdag en hofdag. Onder Joodse en Babiloniese invloed is dit in die eerste eeu v.C. tot sewe dae verander. Hulle het hulle dae na die son, maan en planete genoem, vandaar die naam Sondag.

Waarskynlik het die eerste Joodse Christene na hulle bekering die sabbat saam met die Jode onderhou: van sononder op Vrydag tot sononder op Saterdag. Daarna sou hulle waarskynlik in die huis van ʼn gelowige saamkom om, in die Gees, met hulle opgestane Heer, as sy volgelinge, saam te eet, en moontlik Sondagmôre vroeg saam te kom om die doop te vier.

Handelinge 6:8-8:3 vertel van die konflik tussen die Jode en die Joodse Christene oor die wet (vergelyk 6:13-14). Handelinge 15 bespreek die vraag of die bekeerlinge uit die heidendom besny moet word en die wet van Moses moet onderhou (v.5). Petrus meen dat hulle nie ʼn juk op hierdie gelowiges moet lê, wat die Jode nie eers kan dra nie, en dat die heidene, net soos die Jode, net deur die genade van die Here Jesus gered word (vv10-11). In die besluit word die onderhouding van die sabbat nie vereis nie (vv28-29. Die vergadering was ongeveer in 48 n.C.). Die Christene uit die heidendom se vryheid van die wet (vgl. bv. Galasiërs 5:1-6), lei tot ʼn Sondag wat nie aan die sabbatswette verbind is nie, maar aan Christus.

1 Korintiërs 16:1 plaas die Korintiese gemeente se kollekte vir die gelowiges in Jerusalem op die eerste dag van die week (NAV: Sondag. Die brief is ongeveer in 55 n.C. geskryf). En toe Paulus terugkom van sy derde besoek aan Korinte, kom die gemeente in Troas op die eerste dag van die week (NAV: Sondag) bymekaar vir die gemeenskaplike maaltyd, wat dié dag tot na middernag aanhou, met Paulus se lang preek (Handelinge 20:7. Dié erediens was ook in ongeveer 55 n.C. gehou).

Romeine 14:5-12 bespreek ‘n krisis in die gemeente van Romeine tussen Joodse Christene, vir wie die sabbat belangrik is, en Christene uit die heidendom, vir wie alle dae ewe belangrik is. Die Joodse Christene se gebruik van slegs rein kos en hulle onderhouding van die sabbat, was kenmerke van die Jodedom. As die ander gemeentelede die Joodse lidmate daaroor veroordeel, kon hulle besluit om Christus te los ter wille van hulle Joodse identiteit. Die Christene wat vry is van die wet, kon hulle weer losmaak van die Joodse wortels en invloed van hulle godsdiens, deur hulle Joodse broers ongevoelig te verag (Die brief word tussen 55-56 n.C. aan die gemeente geskryf).

Kolossense 2:16 sê: niemand moet vir ʼn ander voorskryf of veroordeel oor, onder andere, die sabbat nie, omdat dit ʼn skaduwee is van wat sou kom. Die werklikheid is Christus, aan wie ons moet vashou (vergelyk. v19). Die heiliging van die sabbat was ʼn voorloper van die heiliging wat ons in Christus het. In verbondenheid met Hom deel ons in die volle wese van God, word ons sonde vergewe, en word ons saam met Hom opgewek uit die dood (2:9-14. Die brief word tussen die jare 56-61 n.C. geskryf) ).

Nadat die Romeinse keiser Hadrianus die opstand van die Jode in 132-135 n.C. onderdruk het, Jerusalem verwoes het, en die Joodse wette in die Romeinse ryk verbied het, het Sondagviering die Christene se kenmerk geword, wat hulle van die Jode onderskei het.

Om die sabbatwet met ‘n lys ‘mag nie’s’ op die Christelike Sondag toe te pas, is verkeerd. Die Sondag moet eerder beskou word as Christus se uitbreiding van Israel se sabbat, om God se bedoeling daarmee te vervul. Dit moet ʼn dag van vreugdevolle gemeenskap met God wees, waarop ons na sy Woord luister, en Hom loof en dank by die samekomste van die gemeente (Hebreërs 10:25). ʼn Dag vir oordenking van ons lewe en werk. Daarby is dit ʼn dag vir die vreugdevolle saamwees van die gesin; ʼn rusdag vir ons werkers en lasdiere; ʼn dag vir uitreik na ander, soos die vreemdelinge van Eksodus 20 en Deuteronomium 5. Dit is ʼn dag waarin ons deur God verkwik word om vir ses dae, uit dankbaarheid vir sy genade aan ons, te gaan werk aan sy skepping en vir ons medemense.

 

Outeur: Dr Francois Malan

 




Mag van die Satan(2)

Mag van die Satan(2) – Henk Geyer

Daar was ‘n vraag en antwoord oor die mag van die Satan. Na aanleiding daarvan skryf Henk Geyer:

Ek het die volgende verklaring van die mag wat aan Satan gegee is, gehoor.  Ek sal u kommentaar waardeer:

Na aanleiding van Genesis 1:26 en 28 en Psalm 8:6-9 het hy die heerskappy en mag oor die wêreld vir die mens gegee (Dit sluit in ons eie wil).  Ons weet dat God nie iets sal gee of belowe en dit dan later sal terugneem nie, alhoewel Hy almagtig is en alles kan doen wat HY WIL. Die mens wat hierdie Mag ontvang het,  kon kies wie se WIL op Aarde moet geskied.  God het gesê Ek is jou Skepper en Jou GOD as jy my gehoorsaam sal jy vir ewig Lewe. Hy het ons vrye toegang gegee tot alle vrugte in die Tuin en vrye toegang tot die boom van die LEWE maar een Boom het HY ons verbied.  Satan het gesê GOD praat nie die waarheid nie. Die Mens het die mag gehad om te besluit en het toe die Satan eintlik mag gegee om op aarde te bly en soort van te regeer, daar is die MAG aan Satan gegee.  Sedertdien hou die Mens satan in beheer.  (behalwe een MENS natuurlik)

Dit maak sin vir  my as jy die vogende in ag neem:

1.    Oor die mag van die mens: leer Jesus ons bid dat die “Vader se Wil op aarde moet geskied soos dit reeds in die Hemel Geskied” dws die mens se wil (wat baie keer die satan se wil is, as ons so kies) geskied en dit is eintlik ons wat GOD se wil moet laat geskied.

2.    Oor die mag van die Satan: Die enigste mag en bestaansreg op aarde wat hy het is die wat die mens wil.

3.    Oor die MAG van GOD:  God het die Satan uit die Hemel geban, gegooi, gejaag wat verhoed hom om, dood eenvoudig, die Satan van die aarde te verjaag.  Hy sal nie, want  Hy het die MAG vir die mens gegee en die mens moet die Satan oorwin – wegjaag noem dit wat jy wil. EN DIT is waarom GOD “MENS” moes word om namens die hele mensdom die satan te verwerp en GOD as HEERSER, SKEPPER en ENIGSTE GOD te kom erken en dien.

Ek hoop ek het die redenasie sinvol neergeskryf. Ek is nie ‘n grammatikus nie.

 

Kommentaar:

Dr Marius Nel se kommentaar is:

Henk,

Ek sien nie ‘n probleem met jou verklaring nie en meen dit is korrek.

 




Die duiwel as aanklaer

Die duiwel as aanklaer – Jan van der Watt

Erica Coetzee vra:

Die duiwel was die aanklaer van mense by God, maar het sy posisie verloor as aanklaer deur Jesus se kruisdood en opstanding. Jesus het die duiwel se plek ingeneem as advokaat. Verstaan ek dit reg? Wat is die duiwel se posisie dan nou? Hy is nie meer in die hemel om die aanklaer te wees nie, so hy versoek, verlei en mislei ons op aarde?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die duiwel word inderdaad in die Bybel geteken as die aanklaer. Kyk maar na Job. Die volgende het toe met die duiwel gebeur volgens die Nuwe Testament. (Lees asseblief ook die ander artikels oor die duiwel op die webblad – dit vorm die agtergrond vir die vraag).

a) Met die koms van Jesus is die mag van die duiwel gebreek. Lees byvoorbeeld net die volgende dele:

1 Johannes 3:8 – 8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.

Hebreërs 2:14-15 – 14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.’

b) Om die radikaliteit van wat gebeur het te onderstreep, sê die Bybel op verskillende plekke dat die duiwel uit die hemel uitgegooi is – byna soos ʼn aanklaer wat uit ʼn hof uitgegooi is. Lees die volgende:

  • Lukas 10:18 – 18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val.
  • Johannes 12:31 – 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe.
  • Openbaring 12:7-9 – 7Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, 8maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, 9want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.

c) Wat beteken dit?

Dit beteken dat as die finale hofsaak gaan plaasvind die duiwel nie daar sal wees om ons aan te kla nie. Hy is uit die hofsaak geban. Jesus, ons verdedigende advokaat, sal wel daar wees. Hy sal ons dus verdedig. Die kanse dat ons dus skuldig bevind sal word as ons aan Jesus behoort is nul. Lees Romeine 8:33-34 – 33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.’ As dit dus by die aankla kom, is net Jesus in die ‘hof’.

As jy egter nie aan Jesus behoort nie, verdedig Jesus jou nie, maar dan word jy jou aanklaer. Lees Johannes 12:47-48 – 47En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red. 48Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.

Outeur: Prof Jan van der Watt