Die armes in die Bybel

Die armes in die Bybel – Jan van der Watt

Ons het die volgende vraag ontvang:

Wie was die armes in die Bybelse tyd? Was die armes in die OT en NT, dieselfde mense wat vandag as arm beskou word? Tel boemelaars ook onder dié wat as arm beskou word?

Antwoord:

Prof. Jan van der Watt antwoord:

As ʼn mens oor armes in die Bybel praat, moet ʼn mens altyd na die konteks kyk waarin die verwysing na die armes voorkom. Die rede is omdat daar dikwels na letterlik arm mense verwys word, met ander woorde, mense wat nie geld het nie. Aan die ander kant word die woord ‘arm’ ook op ʼn figuurlike manier gebruik, byvoorbeeld ‘armes van gees’.

Die Bybel sê op baie plekke dat gelowiges vir armes moet sorg. Lees maar net die volgende gedeeltes: Jakobus 2:15-17: Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.’ of 1 Johannes 3:16-17: 16Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. 17Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees?’ Die Bybel sê ook dat gelowiges sommer alle mense wat hulp nodig het, of die “underdogs” van die samelewing, moet help:  Jakobus 1:27: ‘Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.’

Daar is dus min twyfel dat gelowiges die plig het om vir armes te sorg, ook vir boemelaars. Daarvoor het die kerk verskillende meganismes op die been gebring, byvoorbeeld komitees soos die Diens van Barmhartigheid, of MES-aksies (middestadaksies), ens. Daar word dus op georganiseerde manier aan die probleem aandag gegee. So word seker gemaak dat die geld goed spandeer word.

Daar moet egter nog een opmerking gemaak word: is die armes dieselfde as vandag? In die antieke tyd was armoede baie verspreid. Daar word bereken dat 8 uit elke 10 mense nie genoeg geld verdien het om aan die lewe te bly nie. 90% van die rykdom het aan 2% van die bevolking behoort. Tog het die mense oorleef – hulle het families en groepe gevorm wat hulle geld saam gesit het en so vir mekaar gesorg het. Hierdie “families” het dus soos ons versekeringsmaatskappye gewerk.

Daar is tog verskille met vandag. Vandag is die situasie in baie samelewings anders – die regerings neem verantwoordelikheid om werk te verskaf en daar is versekeringsmaatskappye of pensioenmaatskappye wat help as iemand skielik sterf en sy familie nie geld het nie. Ons is ook vandag baie meer individueel, met ander woorde, elkeen vir homself. Dit laat ons besef dat as ons nie werk nie, gaan niemand vir ons sorg nie. Die verantwoordelikheidsgevoel om te werk is dus ook hoër as in die ou tyd. Daar word dikwels gevoel dat mense wat nie kos het nie of bedel – ten regte of ten onregte – wel die geleentheid het om te werk.

Omdat die situasies op verskillende plekke verskil, beteken dit nie dat die Christen nie meer die verantwoordelikheid het om vir die arme te sorg nie. Die vraag is egter hoe? Omdat daar so baie misbruik van goedheid is, bly dit maar altyd die beter uitweg om op georganiseerde manier (deur die kerk of ander organisasie) te probeer help of jou geld te kanaliseer. ʼn Ander goeie beginsel is om tuis te begin – as jy werkers het wat sukkel, help hulle, want daar kan jy ʼn verskil maak en kan jou getuienis tel.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Heilige Gees

Die Heilige Gees – Francois Malan

Chris vra:

Hoe werk die Heilige Gees en wat is die funksie van die Heilige Gees?

Antwoord:

Dr Francois Malan antwoord:

Die Heilige Gees is God, die Gees van God wat vir Christus en die verlossingswerk van Christus aan die kruis in ons harte bring en ons in gemeenskap met Christus laat lewe. Lees wat Johannes 16:5-11 sê van die werk van die Heilige Gees: Hy oortuig ons van sonde, geregtigheid en oordeel:

1.    Die Heilige Gees oortuig ons van ons sonde en roep ons tot berou daaroor – die vernaamste sonde is ongeloof in God se openbaring deur Christus, die verwerping van die evangelie, die goeie tyding oor Christus se verlossing vir ons. Die verwerping van God se liefdesdaad  (vergelyk  Johannes 3:16) beteken dat ek nie uit sy liefde wil lewe nie.

2.    Hy wys vir ons hoe om van ons sonde verlos te word deur te glo in Christus wat vir ons sonde gesterf het en deur God opgewek is uit die dood. Daarmee het God Christus se offer vir ons aanvaar. Die Heilige Gees lei ons om te glo dat my sonde vergewe is voor God en dat Hy my aangeneem het as sy kind (vergelyk Romeine 8:16).

3.    Die Heilige Gees oortuig ons van die oordeel van God wat aan die kruis voltrek is, dat die Satan daar oorwin is (vergelyk Johannes 12:31). Die Heilige Gees is die krag van God wat vir my die krag gee om nee te sê vir die versoekings van die Satan en van my eie hart.

Dit doen die Heilige Gees deur ons te bereik met die prediking van die Woord (in die kerk, deur die Bybel, deur die getuienis van mense, deur ons kennis van die Woord van God), beslag te lê op ons en ons in te lyf in die liggaam van Christus, sy kerk. As die Heilige Gees Christus aan ons preek, bring Hy Christus in ons harte en laat ons in Christus wees. Hy bewerk in ons die geloof in Christus (vergelyk Romeine 8:9-11). Maar in ons bly Hy God, die grote God voor wie ons slegs in dankbaarheid kan buig, die Here wat ons in alle waarheid lei (Johannes 16:13), ook in wat ons dink en beplan.

Hy lei ons om God lief te hê, en mekaar lief te hê. Deur Hom bly ons in God se liefde en God se liefde in ons (1 Johannes 4:11-16).

 

Outeur: Dr Francois Malan

 

 

 

 




Spreuke 26:4 – 5

Spreuke 26:4 – 5 – Marius Nel

Rudi Potgieter vra:

Spreuke 26 vers 4 & 5 is vir my verwarrend. Is dit dalk verkeerd vertaal?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Die gedeelte is korrek vertaal en is doelbewus weersprekend. Dit handel oor die dwaas wat hier gedefinieer word as die mens wat hom/haarself totaal en al oorskat. So iemand hou aan om dieselfde dom dinge oor en oor te doen asof dit wonderlik is. As jy met so iemand te doen het, is dit soms nodig dat jy moet stilbly en hom ignoreer terwyl jy ander kere hom moet antwoord sodat jy hom op sy gekheid kan wys. Die twee verse handel dus oor verskillende situasies wat jy volgens jou diskresie moet hanteer.

Outeur: Dr Marius Nel

 




Is my siekte ‘n gevolg van my sonde?

Is my siekte ‘n gevolg van my sonde? – Kobus Kok

Vraag:

Ek wil graag weet wat julle verstaan onder geloofsgenesing. Ek kry op die oomblik te doen met heelwat sienings dat as jy siek is jy of oorkom is met sonde, of deur ‘n gees besete is of God uit jou lewe verwerp het.

Hiermee saam is daar die kwessie dat as jy glo, God jou sal genees, want dit is sy wil – Hy wil nie sien jy ly nie. Dit is alles goed en wel, maar wat ek nou wonder – as dit sonde is, hoekom is my belydenis voor God nie genoeg nie? Staan ‘n mens nie die gevaar om eerder die duiwel in alles te begin soek en so onverdiende mag aan hom toe te skryf as aan God nie? Hoe kan ek regtig sê dat dit God se wil is vir my is om genees te raak? Begin ek nie dan voorskriftelik op te tree nie? God het my tekortkominge al op verskeie maniere gebruik, maar ek sal ook graag ontslae wil wees daarvan. By geloofsgenesing – wanneer fokus ‘n mens meer op God en wanneer fokus jy meer op die duiwel? Wanneer tree ‘n mens voorskriftelik op en wanneer glo en aanvaar jy God se genade? My gebede is al so baie verhoor deur die mediese veld en God wat my leer om eenvoudiger te leef, maar soos ek sê, ek kry nou te doen met mense wat sê dit is verskonings en nie regtig God se wil nie. Hoe benader ‘n mens dit? Is daar mense in die Bybel wat nie deur God genees is nie?

 

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Inleiding

Wanneer dit by siekte en gebrokenheid kom, is daar geen maklike antwoorde nie. Die realiteit daarvan bly ‘n worsteling en mens moet nie soos Job se vriende te vinnig probeer antwoorde gee nie. Ons kan hoogstens probeer om die Bybel aan die woord te laat kom. Dit is dan wat ek in alle nederigheid en afhanklikheid aan die Vader hier probeer doen.

Inhoud

Baie mense worstel met die vraag of hulle siekte ‘n gevolg is van hulle sonde. Baie mense sal dan tekste uit die Ou Testament haal waar dit wil voorkom of siekte die een of ander straf is op sonde wat mens gepleeg het.

Die mense van die Bybelse tyd, met spesifieke verwysing na die Ou Testament, het inderdaad gedink dat siekte gekoppel was aan sonde. Die antieke Rabbi’s het geargumenteer dat God die God van lewe is en dat God heilig is. Siekte is beskou as ‘n teken dat daar nie lewe is nie, soos iemand wat blind is, het nou eintlik nie lewe in sy oog nie. Implisiet beteken dit dat as God onttrek het van jou, of jou straf, dan raak jy siek, want Hy onttrek die lewe van jou af. Daarom is siekte in die Ou Testamentiese denke dikwels aan sonde verbind.

In Johannes 9 lees ons die verhaal van die man wat blind gebore is. Die antieke Rabbi’s het geargumenteer dat omdat siekte ‘n gevolg is van sonde, dit dus beteken dat iemand wat blind gebore is se ouers gesondig het, of selfs dat die ongebore kind in sy/haar moeder se baarmoeder gesondig het. Interessant genoeg lees ons dat Jesus se dissipels, toe Jesus die blinde man raakloop, onmiddellik vir hom vra (9:1-2): “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” Hierdie vraag is dus presies die regte vraag wat ‘n goeie Jood sou vra. Die verband tussen siekte en sonde was noodwendig.

Maar dan spreek Jesus verrassende woorde wat die status quo van die dag deurbreek en net daar gaan die hemel bo die blinde man en die geestelik blinde dissipels oop as Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” Hier deurbreek Jesus die logiese verband tussen siekte en sonde. Kort daarna smeer Jesus klei aan sy oog, wat volgens die Kerkvader Irenaeus herinner aan die skepping van Adam, en net daar word die man se oë herskep tot lewe.

Hierna sou niks weer dieselfde wees nie. Daarna kon niemand weer sommer net aanneem dat siekte die gevolg is van sonde nie. Dikwels is dit juis ons siekte, ons gebrokenheid en broosheid (wat bloot ‘n gevolg is van ‘n gebroke werklikheid op aarde) wat ons by die voete van die Vader uitgebring het, en die ruimte waarbinne ons die aanraking en nabyheid van God kan beleef. Dit is gewis so dat God nie altyd almal se siekte en gebrokenheid genees nie, en dit is ook nie gekoppel aan my of jou ongeloof nie. Siekte en gebrokenheid is deel van hierdie gebroke en verganklike werklikheid op aarde. Maar dank God vir die ewige lewe. In die hemel, sê die Bybel, gaan daar geen siekte of gebrokenheid wees nie. Jesus se primêre werk op aarde het juis gegaan oor die feit dat hy vir ons ‘n lewe van volmaaktheid hierna geskep het. Daarna sien ons uit en daarop het ons ‘n vaste hoop. Hier op aarde vind genesing tog plaas. In en deur die mediese wetenskappe vind wonderbaarlike genesing elke dag plaas as harte oorgeplant word of antibiotika lewens red. Medici is God se geskenk aan ons. Soms vind onverklaarbare genesings plaas wat selfs dokters verstom laat. Soms word mense nie genees nie.

By John Pilch het ek ‘n handige onderskeiding tussen verskillende terme geleer wat my nuwe begrippe gegee het om genesing te verstaan. Hy sê God genees altyd, en genesing (healing) is ‘n werklikheid. Hy sê: “One might not always be cured from ones’ disease, but one may more than often be healed from one’s illness.” [sic]. God vat dalk nie my fisiese siekte (disease) weg nie, maar emosioneel en geestelik genees en restoureer hy my deur vir my sin en betekenis, hoop en geestelike lewe te gee (healing).

Siekte, seer en gebrokenheid maak nie altyd sin nie en dit is op geen manier iets wat maklik is om te verstaan nie. Een ding weet ons egter, en dit is dat God die bron van fisiese, emosionele en geestelike lewe is en ek glo met my hele hart dat dit by God alleen is waar ons ware sin en betekenis (healing) kan vind. 

Outeur: Dr Kobus Kok