Die kern van die evangelie in Openbaring 12:7-12

Die kern van die evangelie in Openbaring 12:7-12 – Fanie Rudolph

Inleiding:

Openbaring 12:7-12 skets ‘n mitologiese oorlog in die hemel.  Die uitslag van hierdie oorlog bevestig dat God steeds Alleenheerser in die hemel is.  Satan is uit die hemel uitgegooi.  Alhoewel Migael die oorlog veg en die Satan verslaan, word hy nie as oorwinnaar erken nie.  Die oorwinning word toegeken aan die Lam van God, i.e. Jesus Christus.

Oorlog in die hemel (Openb. 12:7-9):

In hierdie paar verse sien ons die mitologiese oorlog in die hemel.  In die Judaïsme was daar mitologiese verhale in omloop oor die val van die Satan.  Johannes sluit waarskynlik by van hierdie verhale aan met sy mitologiese vertelling alhier.  In hierdie oorlog lees ons dat die Satan in ‘n oorlog gewikkel is met Migael in die hemel.  Migael en sy engele het egter die Satan verslaan, en hy is uit die hemel gegooi.  Hy kon God nie onttroon nie.  Trouens, in hierdie verhaal kom Satan nie eers naby God nie.  God tree op die oog af ook nie eers self met Satan in stryd nie.  Hy is so magtig dat Hy net sy aartsengel Migael stuur om die taak te verrig.  Die resultaat is dat die Satan geen toegang meer tot die hemel het nie.  Hy word finaal uitgesluit van God se ryk.  God bly regeer in ewigheid.

Dan lees ons dat die Satan op die aarde beweeg.  Hy probeer die vrou vervolg wat ‘n kind in die wêreld gebring het (verwysend na Jesus).  Hiermee wil Johannes bevestig dat die kerk se stryd teen die magte van Satan voortgaan hier op aarde.  Dit is Satan se nuwe (“sagte”) teiken.

Die oorwinning klink so evangelies (Openb. 12:10-12):

In hierdie verse kry ons ‘n oorwinningslied wat in die hemel opklink.  Dit besing die oorwinning van God in die oorlog (Openb. 12:10), asook wie die Oorwinnaar is (Openb. 12:11-12).  In vers 10 kom duidelik na vore dat God die oorwinning moontlik maak.  Hy is die Een wat verlossing meebring deur die Satan te verslaan.  Die loflied bevestig ook opnuut God se heerskappy en Koningskap, en dat hierdie heerskappy ewig is.  God sal nooit van die troon verwyder word nie.  Hy is en bly die enigste, ware, lewende God.

Maar dan gaan die gedeelte voort om te vertel van die eintlike Oorwinnaar.  Alhoewel Migael en sy engele die oorlog geveg het, is hulle nie die oorwinnaars nie.  Die oorwinnaars vanweë hierdie stryd is die gelowiges, want hulle word bevry van die Satan se mag.  Maar die eer vir die oorwinning self word aan die Lam van God toegeken (vgl. Openb. 12:11).  Hy is die Oorwinnaar in die oorlog teen Satan (vgl. ook Openb. 19:11vv).  En spesifiek word vermeld dat die oorwinning deur die bloed van die Lam behaal word.  Dit verwys na Jesus se verlossende sterwe aan die kruis.  Die bloed van Jesus waarna verwys word, is ‘n algemene verlossingsmetafoor in die Nuwe Testament (vgl. Matt. 26:26-28; Mark. 14:22-26; Luk. 22:15-20; 1 Kor. 11:23-25; Heb. 13:12; 1 Pet. 1:19; 3:18; Openb. 5:6).  Deur die bloed van Jesus word ons van ons sonde bevry, ooreenstemmend met die bloed van die offerlam in die Ou Testament.  Dit is net dat Jesus se Offer die finale en volmaakte offer is wat geen herhaling nodig het nie (vgl. Heb. 9:14-15; 10:12, 19). 

Dit is dan deur die bloed van die Lam (Jesus) dat die Satan verslaan word.  Alhoewel ‘n ironiese oorwinning (i.e. deur self te sterf), is dit die deursalggewende oorwinning wat die Satan se lot verseël.  Gelowiges se oorwinning oor die Satan is afhanklik van hierdie oorwinning van Christus.  Gelowiges kry slegs deel aan hierdie oorwinning deur die bloed van die Lam.  Verder word die verlossende sterwe van Christus die sleutel vir gelowiges om hulle eie lyding vanweë hulle geloof te verstaan. 

Voeg hierby die vinnige verwysings na Jesus se geboorte en hemelvaart (as ‘n breukdeel in tyd) in Openbaring 12:5, en Openbaring 12 word die evangelie in ‘n enkele hoofstuk opgesom (vir Johannes gaan dit nie oor Jesus se aardse lewe nie, maar oor sy verlossende sterwe en die gevolge daarvan).  Openbaring 12 wil bevestig dat die Messias wat in die Ou Testament voorspel is, wel die finale Oorwinnaar is.  En omdat Hy oorwin het, kan gelowiges hoop hê, ongeag die stryd wat hulle nog op aarde moet stry.

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 




God is met ons – Matteus se evangelie in een sin

God is met ons – Matteus se evangelie in een sin – Fanie Rudolph 

Inleiding:

Matteus skryf sy evangelie aan oorwegend Joodse lesers.  Hy doen baie moeite om Jesus as die verwagte Messias uit te wys, spesifiek met behulp van aanhalings uit die Ou Testament.  Sy uitstaande aanhaling is egter die een in Matteus 1:23 : “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.”  Hiermee bevestig Matteus dat die koninkryk van God gekom het – in die persoon van Jesus Christus self. 

Die koninkryk van God het naby gekom:

Matteus wil die feit sterk beklemtoon dat die koninkryk van God naby gekom het met die geboorte van Jesus as die Messias wat voorspel en verwag is.  Jesus begin sy bediening met die aankondiging van God se koninkryk (vgl. Matt. 4:17).  Hierna wys Jesus se lering, sy wonders, sy lewe dat die koninkryk van God naby gekom het.  Uiteindelik vra Jesus sy dissipels om ook die boodskap van God se koninkryk (i.e. Jesus se verlossing) te verkondig (Matt. 24:14) in die toekoms (i.e. na sy sterwe, opstanding en hemelvaart).

God het tasbaar naby gekom (Matt. 1:23 en 28:20):

Rondom hierdie belangrike motief van die koninkryk van God wat naby gekom, vind ons die belangrike motief wat Matteus se evangelie in geheel rig: God is by ons.  Die frase self kom net twee keer in die evangelie voor (Matt. 1:23 en 28:20).  Die hele evangelie speel egter binne hierdie twee frases af.  Hierdie kernboodskap is meer as net ‘n mooi teologiese benaming.  Die lewe van Jesus onderstreep die waarheid van Jesus.  “God is met ons” is ‘n praktiese waarheid wat mense kan beleef in hulle elke dag se lewe.  Mense kan die uitwerking daarvan oral rondom hulle sien.  Alles wat in Matteus se evangelie gemeld word, dra die merkteken van God wat by sy mense is:

  •          Jesus se lering vertel van God se koninkryk wat tasbaar naby mense gekom het.  Elke lering van Jesus in Matteus handel oor die koninkryk van God (vgl. veral Matt. 13).  Jesus kom maak die koninkryk bekend, sodat mense dit weer kan raaksien, en so God se verlossing deur die koms van die koninkryk kan ontvang.  
  •          Jesus se wonders bevestig dat God se koninkryk naby gekom het.  Sy geraak word.  Dit bevestig dat Hy wat hierdie wonders doen, met Goddelike gesag optree, i.e. dat Hy deur God gestuur is om verlossing te bring.
  •          Sy vergifnis van mense bevestig dat Hy die mag oor sonde het.  Hy kan as Seun van die Mens regspreek oor sonde en dit vergewe. 
  •          Die feit dat hierdie dinge deur Jesus self gedoen word terwyl Hy tussen die mense beweeg, hulle aan Hom kan raak en Hom kan sien en hoor, bevestig dat hierdie God-gestuurde Persoon God se teenwoordigheid tussen hulle kom vestig het. 
  •          Die frases bevestig net soveel Jesus se Goddelikheid as sy met-ons-wees.  Jesus kom maak God bekend deur sy lewe.  Dit kan Hy net volledig doen as Hy self Goddelik is.

Al hierdie dinge wil een belangrike feit beklemtoon: Jesus is God by ons. 

In Matteus 28:20 wil Jesus beklemtoon dat die koninkryk van God nie verdwyn omdat Hy gaan terugkeer na sy Vader toe nie.  Sy dissipels kan (en moet) die boodskap van die koninkryk verder dra.  Hulle moet verteenwoordigers van God se nuwe koninkryk word, net soos Adam verteenwoordiger van God in die skepping was (vgl. Gen. 1:26-27).  Terwyl hulle dit doen, kan hulle vir seker weet dat Jesus by hulle is.  Die verlossing wat Jesus gebring het, reik verby sy hemelvaart.  God se koninkryk is nooit weer weg van die gelowiges af nie, want gelowiges is nooit weer sonder Jesus nie. 

God is by ons.  Hierdie sentrale motief sê uiteindelik alles oor die evangelie van Jesus Christus, oor die diepte van sy verlossing, die grootheid van sy lyding (God hang aan ‘n kruis – Moltmann), sy liefde vir die mense wat Hy kom red het. 

 

Outeur:  Dr Fanie Rudolph

 




Is jy arm van Gees?

Is jy arm van Gees? – Dr Kobus Kok

In Matteus 5-7 vind ons die sogenaamde Bergrede van Jesus. Hier leer Jesus die skare, en deel hy met hulle belangrike konsepte en geestelike waarhede rondom die koninkryk. 

In die Afrikaanse Nuwe Vertaling van Matteus 5:3 lees ons die volgende: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

In die Ou Vertaling lees ons dit so effens anders: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”

Die vraag is dan, hoekom lyk hierdie twee vertalings so verskillend van mekaar? Die antwoord lê in die oorspronklike teks, naamlik die Griekse Nuwe Testamentiese teks, en in die teorie oor vertaling. In die vertaalwetenskap praat die geleerdes onder andere van ‘n letterlike vertaling en dinamiese vertaling van die Griekse teks. Met die letterlike vertaling, vertaal ons die Griekse woorde net soos dit daar staan in die Grieks. Die probleem met sulke vertalings is egter dat hierdie soort vertaling nie altyd mooi vir ons help om presies te kan verstaan wat daar gesê word nie, omdat die manier van praat en die beelde wat gebruik is in die antieke tyd en antieke kultuur nie noodwendig meer so gebruik word nie. Vat maar net ‘n hedendaagse voorbeeld: “Die man is hoog in die takke met sy Sanna in sy hand op die wa.” Indien mens dit letterlik in Engels sou vertaal, sou mens dit so vertaal: “The man is high in the trees with his Sanna in his hand on the wagon.” Enige iemand kan sien dit is sommer ‘n deurmekaar en misleidende vertaling. In Afrikaans het ons natuurlik ‘n spreekwoordelike manier van praat, waar “hoog in die takke” iemand beskryf wat dronk is. ‘n Sanna was ‘n geweer in die tyd van die Boere-oorlog in 1899-1902, en ‘n wa verwys waarskynlik na ‘n ossewa. Daarom sal ‘n dinamiese vertaling eintlik beter wees, omdat dit die oorspronklike bedoeling van die teks en die betekenis beter weergee: “Die man is dronk en sit met sy Sanna-geweer op die ossewa”. Die Engelse dinamiese vertaling sal dus ook meer sin maak: “The man is drunk and sits with his gun on the wagon.”

Net so werk ons met vertalings van die Bybel. In ‘n sekere sin sou ons kon sê dat die Afrikaanse Ou Vertaling nader aan ‘n letterlike vertaling van die Grieks is en ook in ‘n Afrikaans wat jare terug gepraat is en waarvan sommige woorde nie meer so bekend is nie. Daarom word “salig” eerder vertaal met “geseënd” en dit is in elk geval ‘n meer akkurate beskrywing van die woord “makarioi” in die Grieks. Verder sien ons dat die woord “arm van gees”, in die Nuwe vertaling met “hoe afhanklik hulle van God is”, vertaal word. Hierdie betekenis is weereens nader aan die woord “ptogoi” wat ons in die oorspronklike Grieks vind. Die konteks van die antieke tyd moet dalk eers beskryf word om die laasgenoemde sin beter te verstaan.

In die antieke wêreld van die Bybel het die samelewingstrukture effens anders daarna uitgesien as vandag, en het soos ‘n piramide gelyk. Daar was ten minste twee groot groeperings, naamlik die rykes en die armes. Die rykes, aan die bopunt van die piramide, het bestaan uit twee prominente strata naamlik die hoër ryk klasse (senatorial) en die laer ryk klasse (equestrian) wat ongeveer 1-3% van die totale samelewing uitgemaak het. Heel onder aan die piramide was die massa arm mense, waarvan sommige ook slawe was. In die middel tussen die twee groepe het ons die middelklas gehad wat minder as die armes was. Dit beteken dat die meeste mense in die antieke tyd arm was en ons weet vandag dat die rykes die armes oor die algemeen uitgebuit het en teenoor hulle gediskrimineer het. In Griekse literatuur verwys die term “ptogoi” na die groot groep arm mense, en veral na die bedelaars – die wat die afhanklikste was en eintlik aan die heel onderste punt van die broodlyn geleef het.

Die teks van Matteus praat dan in die Grieks van die “ptogoi to pneumati” (die armes van gees). Hierdie mense is dus diegene wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Matteus sê dat sulke mense, wat weet hoe “ptogoi” (arm) hulle is, of hoe afhanklik hulle van God is, diegene sal wees wat sal beleef hoe God voorsien, hulle sal waarlik gelukkig en geseënd wees. Matteus sê dus dat om arm van gees te wees, ‘n goeie ding is, want mense wat arm van gees is, is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is, en aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Mag jy ook “arm van gees” wees. Dit is vir Matteus dus eintlik ‘n kompliment en nie ‘n belediging nie! 

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




God stel konings aan en sit hulle af – Vraag

God stel konings aan en sit hulle af

Jan Smith vra:

Daniël noem dat God konings aanstel en afsit. Maar die ou slang het soveel mag in alles dat hy ook die lewe wat deur God geskep is in die baarmoeder van ‘n moeder kan beïnvloed (byvoorbeeld onderontwikkeling van organe, Down sindroom, ens.).Is die afleiding dan nie ook maar dat die duiwel ‘n hand het in die vestiging van alleenheersers, despote, korrupte regerings ens. nie? Pilatus het nie die mag gehad as dit nie van Bo gekom het nie maar in sy geval was hy ook in die hande van die Joodse gepeupel. Romeine 13:1 sê: …want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel,…Hierdie is vir my ‘n paradoks want hoe kan/wil God dan ‘n nasie met baie onskuldiges – meeste kinders (byvoorbeeld Zimbabwe) deur een man ten gronde laat gaan? My kop is te plat. Baie, baie dankie vir hierdie webwerf. Ek glo dit is van die Here op ‘n baie tydige tydstip in ons lewe.

Antwoord deur Prof Jan van der Watt

Die vraag gaan oor die probleem van die mag wat die duiwel het al het God alles gemaak en al is dit God wat ook regerings aanstel en aan hulle mag gee. Die vraag sluit aan by ʼn vorige vraag wat op die webblad bespreek is, naamlik, waarom God lyding toelaat. Lees asseblief die artikel. Daar is gewys dat die duiwel wel nog toegelaat word deur God om sekere dinge te doen, soos om regerings te beïnvloed, lyding en siekte te veroorsaak, en so aan. As ons vra hoekom, is daar nie altyd duidelike antwoorde nie. Job sê dat God so groot is, dat ons nooit alles wat Hy doen sal kan verstaan nie. Daarom sal ons ook nie altyd kan verstaan waarom God lyding en sulke dinge toelaat nie. Openbaring verduidelik weer dat dit byna soos ʼn oorlog is – in ʼn oorlog is daar verskillende skermutselinge (veldslae), maar dan is daar die groot oorlog ook. Die groot oorlog is deur God klaar gewen. Jesus het die duiwel verslaan. Die duiwel val egter nog die gelowiges aan (klein skermutselinge waar die duiwel sy laaste stuiptrekkings gee) en God laat hom toe, want die finale uitwissing van die duiwel is naby. Daarom moet gelowiges maar net moed hou. God sal hulle uiteindelik laat seëvier. Dan lees ons ook dat mense van nature geneig is om sonde te doen – hulle het sonde in hulle harte.

Om terug te kom na jou vraag toe: God het wel die regerings aangestel en die wêreld ook goed gemaak, maar die sonde het dit skeef getrek en stukkend gemaak. Daarvoor was die duiwel verantwoordelik. Hy  meng die hele tyd in en probeer wat God gedoen het, deurmekaar krap. Daarom steek hy ook sy neus in regerings in en as die regeringsleiers toelaat dat hy hulle negatief begin beïnvloed, dan sien ʼn mens dit in die optrede van die staatsleiers.

Gelukkig, kan ons as gelowiges uitsien na die nuwe Jerusalem waar daar vrede en vreugde sal heers en mense nie siek word nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt