Paulus oor gelowiges se bydraes – Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor God

Paulus oor gelowiges se bydraes – Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor God

Wanneer Paulus oor gelowiges se bydraes praat, is sy taalgebruik buitengewoon.  Hy vermy die alledaagse begrippe wat met “geld” vereenselwig word en verkies om die saak in teologiese begrippe te verduidelik en te motiveer.  Sy doel daarmee is om die Korintiërs te laat opkyk van hulle beursies in hulle hande af, sodat hulle vir God kan raaksien (wat vir hulle iets oor hul beursies wil sê).  Vir Paulus gaan dit nie oor die geld nie, dit gaan oor God 

Die belangrikste teksgedeeltes waar Paulus gelowiges se bydraes bespreek, word in sy briewe aan die Korintiërs aangetref (1 Kor. 9, 16:1-4; 2 Kor. 8-9, 11:1-15, 20-21, 12:11-18).  In hierdie teksgedeeltes gaan dit veral om twee sake: bydraes vir die hulpfonds vir die arm gelowiges in Judea (bv. 1 Kor. 16:1-4, 2 Kor. 8-9), en bydraes vir ‘n apostel (Paulus) se persoonlike lewensonderhoud (bv. 1 Kor. 9, ens).

Die manier waarop Paulus hierdie onderwerpe aan die orde stel, is baie insiggewend.  In 2 Korintiërs gebruik Paulus byvoorbeeld nie een keer in die Griekse teks enige woord uit die “geld en geldeenhede”-woordfamilie nie.  Dit is opvallend, aangesien die tema van finansiële bydraes dadelik bespeur kan word wanneer die brief gelees word.  Trouens, hoewel Paulus die terme (juis) nie gebruik het nie, gebruik die Nuwe Afrikaanse Vertaling sewe keer sinonieme vir “geld” om Paulus se bedoeling in Afrikaans weer te gee, sowel as ander woorde wat na finansies heenwys, aangesien dit moeilik vermy kon word in die vertalingsproses.  Die tema is dus duidelik aanwesig, maar Paulus se (oorspronklike) taalgebruik buitengewoon.  Hoekom spandeer Paulus byvoorbeeld twee hele hoofstukke (2 Kor. 8-9) daaraan om oor geld te praat sonder om een keer (in Grieks) ‘n sinoniem vir “geld” te gebruik?

Dit is opmerklik dat daar deurlopend, wanneer Paulus oor finansiële bydraes praat, begrippe gebruik word wat teologies gelaai is, in plek van die alledaagse woorde vir bydraes, geld of donasies.  Begrippe soos dank aan God, diens aan God, diens aan medegelowiges, genadebetoning ens. word ruim deur Paulus ingespan in sy besprekings van die onderwerp.  Dit moenie as blote eufemismes beskou word nie, met ander woorde ‘n strategie om die onderwerp op dié manier te versag of te verskans nie.  Bewus van die krag van taal om persepsies te vorm, te bevorder of af te breek (vgl. 2 Kor. 10:4-5), het Paulus op ‘n meesterlike wyse ‘n teologiese verstaan van die saak van finansiële bydraes onder die Korintiërs probeer kweek.  Hy het immers geweet dat die gemeente geneig is om nog wêreldse waardes en gesindhede jeens die saak te handhaaf.  Hulle het byvoorbeeld, tipies aan die kultuur waarbinne hulle hulself bevind het, aan die gewers en ontvangers van bydraes as “weldoeners” en “kliënte” gedink, met die wedersydse verpligtinge, eerbetonings en magspel wat daarmee gepaard gegaan het.  Paulus probeer hierdie gebruiklike manier-van-dink oor die saak van bydraes (“geskenke”) oorkom, deur by die Korintiërs ‘n nuwe, Christus-gesentreerde verstaan van die saak te kweek.  Ten einde hierdie doel te verwesenlik, gebruik hy meestal nie die gewone terme wanneer hy die saak motiveer nie, maar beskryf en motiveer hy die saak deurlopend met teologies gelade taal.  Hierdie soort taal wat hy gebruik, word dus doelbewus deur hom ingespan om ‘n ander, nuwe “manier van kyk na die saak” te bevorder, wat diep beïnvloed is deur die evangelie van Jesus Christus.  Deur sy taalgebruik wys Paulus eintlik daarop dat die saak van bydraes of dankoffers gee, nie gaan oor die geld nie, maar oor God!

Indien die Korintiërs (en ons!) sou inval by hierdie Christus-gesentreerde manier van kyk na die saak, het dit implikasies vir die manier waarop bydraes gegee, ontvang en bestuur word.  Die evangelie maak ‘n appél op ‘n gelowige se motiewe en gesindhede rondom die gawes wat hy/sy gee.  Netsoveel maak die evangelie ook ‘n appél op diegene wat, in een of ander hoedanigheid, die verantwoordelikheid het om hierdie gawes te bestuur.  En waar iemand in die posisie sou wees om as evangeliedienaar begunstig te word deur die gawes van die gelowiges, het die evangelie van Jesus Christus ook implikasies en voorwaardes vir die wyse waarop dit kan en moet geskied.  Hoofsaak is dat God in gelowiges se hantering van (hul) bydraes, sigbaar en verheerlik sal word.  

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Toegepaste teologie – twee beginsels wat Paulus laat besluit het om nie van die Korintiërs bydraes vir sy persoonlike onderhoud te aanvaar nie

Toegepaste teologie – twee beginsels wat Paulus laat besluit het om nie van die Korintiërs bydraes vir sy persoonlike onderhoud te aanvaar nie

Dit word reeds in 1 Kor. 9 duidelik dat Paulus besluit het om nie van die Korintiërs bydraes vir sy persoonlike onderhoud te aanvaar nie, hoewel hy as apostel eintlik daarop geregtig is.  2 Korintiërs werp verdere lig op Paulus se motivering in dié verband.  Twee diepere teologiese oorwegings motiveer hom om hul aanbod van die hand te wys: 1) is dit in belang van die evangelie? en 2) is dit in belang van die gemeente? 

1.    In belang van die evangelie

In die tyd van Paulus se sendingreise was daar baie rondreisende filosowe en predikers wat hul boodskappe gebruik het as ‘n manier om hulleself te onderhou, en mense dikwels uitgebuit het om hulleself te verryk.  Paulus wou duidelik maak dat hy nie maar net nog ‘n “boodskap te koop” aanbied nie.  Dit was ter wille van die geloofwaardigheid en uniekheid van die evangelie noodsaaklik dat Paulus homself (ten minste in Korinte) van hierdie rondreisende predikers onderskei, en die mees ooglopende manier om dit te doen, was om die winsmotief (waarmee hulle geopereer het) irrelevant te maak.  Dus sou hy die evangelie gratis verkondig (11:7), ter geestelike verryking van die gemeente (6:10), terwyl hy homself verneder tot ‘n armoedige bestaan en hande-arbeid (1 Kor. 9:6).  Sodoende sou hy ook die vrye genade van die evangelie wat hy verkondig, en die vernedering van Christus ter wille van die geestelike verryking van die gelowiges, prakties onderstreep (4:10-12). 

Daar was juis boodskappers in die Korintiërs se midde, wat wel die gemeente se geld aanvaar het (1 Kor. 9:12; 2:17) en daarop aanspraak gemaak het dat hulle apostels is (11:12).  Paulus beskryf hulle egter as vals apostels (11:13) vanweë belangrike verskille tussen hulle “evangelie” en Paulus s’n (11:4).  Die gemeente is deur hulle bedrieg en uitgebuit, ondermeer ook finansieel (11:18-20).  Om homself duidelik van hierdie vals apostels te onderskei, en ook die waarheid van die evangelie (van Christus se selfverloëning) te onderstreep en dit te onderskei van hulle heerlikheidsteologie (wat gepaardgaan met selfverheffing ten koste van ander), het Paulus hom voorgeneem om beslis nie die Korintiërs se aanbod tot finansiële ondersteuning, te aanvaar nie (11:12). 

Die Korintiërs het ook Paulus se rol as hulle apostel van vroeg af reeds verkeerd verstaan.  Paulus onderskei dat die gemeente die rol van “weldoeners” teenoor hom wil inneem, met die implikasie dat hy in die rol van “kliënt” sou beland.  Met ander woorde: hy het rede gehad om te glo dat die gemeente deur middel van hul bydraes ‘n mate van sosiale beheer oor hom wou/sou verkry.  Dit sou Paulus se vryheid en onafhanklikheid as apostel, maar ook die onafhanklikheid van die evangelie, in gedrang bring – ‘n moontlikheid wat fatale gevolge vir die onverdunde evangelieboodskap sou hê, aangesien Paulus nodig gehad het om sekere (prominente en invloedryke) gemeentelede te sensureer vanweë hul gedrag.  In die lig hiervan word die moontlikheid om die gemeente se geld aan te neem (en stil te bly oor dit wat verkeerd is) vir Paulus sinoniem daaraan om die evangelie uit te verkoop ter wille van geldelike wins (vgl. 2:17, 4:2).

Hieruit is dit duidelik dat die bevordering van die evangelie, en die bevestiging van die evangelieboodskap deur die praktyk van die evangeliedienaar, vir Paulus van kardinale belang was.  Die vraag of hy van ‘n gemeente bydraes vir sy persoonlike onderhoud sou aanvaar of nie, het afgehang van die antwoord op ‘n belangriker vraag, naamlik of dit (in daardie bepaalde praktiese omstandighede) die saak van die evangelie sou bevorder of nie.  Sou sy aanvaarding van hul bydraes op een of ander wyse ‘n struikelblok in die weg van die evangelie lê, sou hy dit juis om daardie rede nie aanvaar nie (1 Kor. 9:12).  Sou dit egter geen afbreuk aan die evangelieboodskap doen nie, kon hy dit inderdaad van ‘n gemeente aanneem, soos ten minste in die geval van die gemeente in Filippi (Masedonië, 11:8-9).

 

2.    In belang van die gemeente

‘n Verdere beginsel, wat ten nouste saamhang met die vraag of iets in belang van die evangelie sal wees of nie, is dat daar ook in belang van die evangelie-aanhoorders opgetree moet word (vgl. 4:15).  Paulus beklemtoon dat hy sy besluit om nie hulle bydraes vir sy persoonlike onderhoud te aanvaar nie, in die gemeente se belang geneem het.  “Alles wat ons doen, geliefdes, is in belang van julle geestelike opbou” (12:19).  Terwyl die Korintiërs aflei dat hy nie hulle bydraes wil hê nie omdat hy hulle nie liefhet nie, is Paulus se besluit juis gegrond op sy liefde vir hulle (11:11).  Hy is bereid om alles te gee in hulle belang, selfs sy eie lewe as dit nodig sou wees (12:15; let op hoe dit ooreenstem met die evangelie wat hy verkondig).  Uiteindelik is dit in hulle belang om die suiwere evangelie te glo!  ‘n Vervalste evangelie kan geestelik fataal wees!  Paulus het geoordeel dat sy aanvaarding van hul bydraes die suiwerheid van die evangelie in gedrang sou bring (om die redes hierbo genoem).  Gevolglik wys hy hul aanbod konsekwent van die hand, in hul eie belang. 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Waarom Paulus nie die Korintiërs se aanbod om finansiële steun wou aanvaar nie

Waarom Paulus nie die Korintiërs se aanbod om finansiële steun wou aanvaar nie

Paulus verduidelik in 1 Korintiërs 9 waarom hy (in die Korintiërs se geval) besluit het om nie gebruik te maak van sy reg as apostel om finansieel ondersteun te word deur die gemeente nie.  As hulle apostel is hy vry om dit van die hand te wys.  Maar hoofsaak is dat hy nie, deur hulle geld te aanvaar, ‘n hindernis vir die verkondiging van die evangelie wil veroorsaak nie.  Lees gerus meer oor hierdie potensiële hindernis, en sy ander motiverings… 

Paulus is gelyktydig met twee redenasies besig in 1 Korintiërs 9.  Aan die een kant verduidelik hy waarom ‘n apostel wel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente.  Dit word bespreek in ‘n vorige ander artikel.  In hierdie artikel word bespreek hoe Paulus verduidelik dat hy (in die Korintiërs se geval) besluit het om nie van hierdie reg gebruik te maak nie.

Paulus begin in 1 Korintiërs 9 sy verduideliking deur sy besluit in sy apostelskap te begrond.  As apostel is hy vry om hulle aanbod van die hand te wys.  Ten minste twee dinge bevestig sy apostelskap: Jesus het na Sy opstanding aan hom verskyn, en die bestaan van die gemeente opsigself is ‘n bewys daarvan dat hy ‘n apostel is (9:1).  Al is dit miskien nie ‘n bewys dat hy universeel gesproke almal se apostel is en oral apostoliese gesag het nie, is hy ten minste onteenseglik hulle apostel (9:2), met die regte, pligte en vryhede wat dit impliseer.

Dit moes eintlik reeds genoeg gewees het om net te sê dat hy as apostel vry is om hulle geld van die hand te wys.  Maar in die lig daarvan dat sommiges in die gemeente hom skynbaar van onsuiwer motiewe beskuldig het (9:3), bestee hy tyd daaraan om sy motiewe te probeer verduidelik. 

Waarom dra hy eerder self die koste van sy lewensonderhoud (9:12b) terwyl hy as apostel eintlik op die finansiële steun van die gemeente geregtig is (9:4-12a)?  Sy doel daarmee is om nie ‘n potensiële hindernis vir die verkondiging van die evangelie te veroorsaak nie.  Wat sou hierdie potensiële hindernis wees?  Daar is baie moontlikhede, waarvan almal of die meeste waarskynlik deel van Paulus se oorwegings was: ‘n verkeerde gesindheid jeens geld of ‘n verknogtheid aan geld onder gemeentelede (2 Kor. 8:9, 13-15), ‘n persepsie in die gemeente dat ‘n prediker wat deur hulle onderhou word hulle iets verskuldig is aangesien hulle sy “weldoeners” is en hy hulle “kliënt” (bv. 2 Kor. 12:14), moontlike verdenking dat hy eintlik op ‘n onderduimse manier hulle geld probeer bekom (2 Kor. 12:16-18), gelykstelling met “valse apostels” wat mense uitgebuit het (2 Kor. 11:1-15, 20-21), hy wou die selfvernederende en selfopofferende aspek van die evangelie van Christus beklemtoon (juis omdat die Korintiërs dit nie mooi verstaan het nie, bv. 1 Kor. 10:33-11:1; 2 Kor. 8:9, 11:7), ensovoorts.  Die punt is, Paulus het dit ter wille van die ongehinderde verkondiging van die evangelie die beste geag om nie finansiële steun van hierdie betrokke gemeente te aanvaar nie.  (Hy het dit wel aanvaar van ander gemeentes wat nie dieselfde probleme as die Korintiërs gehad het nie, vgl. 2 Kor. 11:8).

Hy noem ook nog ‘n ander belangrike rede (9:16-18).  Die verkondiging van die evangelie is nie vir hom ‘n saak van prestasie (“roem”) sodat hy daardeur kan aanspraak maak op vergoeding nie.  Dis eerder ‘n verpligting wat deur God op hom gelê is.  Hy doen dit dus eintlik nie soos ‘n vryman wat werk vir loon nie, maar soos ‘n slaaf wat genoodsaak is om die opdragte van sy eienaar uit te voer.  ‘n Slaaf se loon is nooit geld nie, maar eerder die bevrediging dat hy sy eienaar tevrede gestel het.  Soortgelyk hieraan put Paulus bevrediging (“loon”) uit die wete dat hy sy roeping volvoer deur die evangelie te verkondig, nie om daardeur sy brood en botter te verdien nie maar omdat hy die Here se dienaar is en die Here hom hierdie taak opgedra het (9:18).

In hierdie lig gesien, is Paulus dus vry van verpligtinge teenoor mense.  Hy hoef nie hulle aanbod om finansiële steun te aanvaar nie, want hy is nie daarvan afhanklik nie (9:19).  Hy is hulle ook nie iets verskuldig nie, sy verantwoordbaarheid is teenoor die Here.  Maar, verantwoordelik voor God om sy roeping te volvoer, het hy hom egter diensbaar gestel aan alle mense om sodoende soveel as moontlik mense vir Christus te wen (9:19). 

In 9:23 noem hy die gedagte dat sy verkondiging van die evangelie sal meebring dat hy deel kry aan die vrug van die evangelie.  Sou dit hier verwys na geld vir lewensonderhoud, waarop hy eintlik geregtig is?  Nee, dit is deel van die dinge waarvan hy homself ontsê ten einde sy doel suksesvol te bereik (9:25-27)!  In hierdie konteks is die vrug van die evangelie waarin hy sal deel kry, die prys van ‘n onverganklike oorwinnaarskroon (24-25) wat in die hiernamaals op hom wag as hy sy roeping volvoer het. 

Hy verkondig dus die evangelie, nie om daaruit ‘n lewe te maak nie, maar om getrou te wees aan die roeping wat God hom gegee het en uiteindelik deur Hom beloon te word daarvoor.

Paulus verwag dat die gemeente sy standpunt en motiewe in die verband sal verstaan.  Dit was egter ongelukkig nie die geval nie, want hy moet hom later (2 Kor. 11:7-15) weer daaroor verantwoord. 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Paulus verduidelik waarom ‘n apostel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente

Paulus verduidelik waarom ‘n apostel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente

Paulus verduidelik in 1 Korintiërs 9 dat ‘n apostel daarop geregtig is om vir sy lewensonderhoud vergoed te word deur die gemeente(s) wat hy bedien.  Hy gebruik voorbeelde uit die alledaagse lewe, sowel as uit die wet en tempeldiens, om dit te bevestig. 

Paulus is gelyktydig met twee redenasies besig in 1 Korintiërs 9.  Aan die een kant verduidelik hy waarom ‘n apostel wel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente.  Dit word verder in hierdie artikel bespreek.  Aan die ander kant verduidelik hy hoedat hy (in die Korintiërs se geval) besluit het om nie van hierdie reg gebruik te maak nie.  Dit word bespreek onder ‘n ander artikel met die titel “Waarom Paulus nie die Korintiërs se aanbod om finansiële steun wou aanvaar nie”.

Paulus bevestig dat ‘n apostel die reg het op lewensonderhoud, betaal deur die gemeente(s) wat hy bedien (9:4-12).  Hierdie reg op lewensonderhoud sluit ook die reg op reiskoste, vir ‘n apostel en sy vrou in (9:5), sowel as die reg om op te hou met handearbeid om hulleself daarmee te onderhou (9:6). 

Hy verduidelik hierdie reg op lewensonderhoud eerstens met drie algemene (“alledaagse”, 9:8) voorbeelde, en ‘n uitgebreide voorbeeld vanuit die wet (9:8-12).  Die algemene voorbeelde (9:7) is: soldate dien nie op eie koste nie maar verdien hul loon; ‘n boer wat ‘n wingerd geplant het, is geregtig daarop om die vrugte wat dit voortbring te eet; ‘n veewagter is geregtig daarop om die vee wat hy oppas te melk vir eie gebruik. 

Die uitgebreide voorbeeld vanuit die wet, berus op die proses van saaiery en die oes wat daarop volg.  Die wet sê immers dat die bees waarmee jy dors, toegelaat moet word om te eet van die graan waarin dit werk (9:9).  Paulus pas dit egter op die apostels toe (9:10-11).  Hulle “bearbei” immers die gemeente(s), soortgelyk aan ‘n boer wat die grond bearbei, saad saai en met oestyd die graan dors, met die gevolg dat hy ook uiteindelik sy deel daaruit ontvang.  Soos hierdie boer, is die apostels ook geregtig op ‘n “oes” vir hul persoonlike lewensonderhoud.  Paulus ondersteun sy argument hierna met ‘n vraag (9:12a): daar is ander wat in die gemeente van hierdie reg gebruik maak, het Paulus (as hulle geestelike vader en apostel) dan nie nog meer die reg daarop as hulle nie?  Hiermee verwys hy waarskynlik na rondreisende boodskappers wat in die gemeente werksaam geraak en hulleself mettertyd bewys het as “valse apostels” wat die gemeente eintlik uitgebuit het (2 Korintiërs 11:1-15, 20). Dit was ‘n groot bydraende faktor in Paulus se besluit om nie in die Korintiërs se geval finansiële steun te aanvaar nie (9:12b).

Hy noem nog ‘n laaste voorbeeld wat bevestig dat hy eintlik daarop geregtig sou wees.  Die priesters en Leviete is in ooreenstemming met die Torah geregtig op ‘n deel van die volk se offerandes, vir persoonlike gebruik.  Netso het Christus Self bepaal dat die wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud moet ontvang vanaf diegene aan wie die evangelie verkondig word (9:13-14).  Laasgenoemde stelling is dan ook die hoogtepunt van sy redenasie dat ‘n apostel geregtig is op finansiële steun: die Here Self het bepaal dat dit so is.

Lees gerus die ander artikel: “Waarom Paulus nie die Korintiërs se aanbod om finansiële steun wou aanvaar nie”. 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter