Vraag: Die slaaf se regteroor is afgekap… – Johann Voges

‘n Leser vra:

Die slaaf se regteroor is afgekap. Kan mens ‘n simboliese betekenis aan die feit koppel dat dit ‘n “oor” was? Daarom beteken dit dat oorhaastige optrede maak dat die aanhoorder nie gaan hoor wat jy sê nie? Mens vind dit dikwels in die praktyk, wanneer jy iemand direk “aanval” luister die persoon nie wat jy sê nie? Selfs Jesus se gevangeneming, was vir Hom ‘n geleentheid om ‘n leering te illustreer? Heg ek teveel daaraan dat dit ‘n “oor” was en nie ‘n vinger of ander liggaamsdeel nie?

Antwoord

Wat jy sê “dat oorhaastige optrede maak dat die aanhoorder nie gaan hoor wat jy sê nie”, is heeltemaal waar, maar om dit te wil inlees of aflei van wat Johannes vir ons oor die Petrus / Malgus insident vertel, trek ons ʼn streep deur wat Johannes daarmee wou sê (ons noem dit ‘allegorisering’ waar ek my eie idee en siening inlees ten koste van die oorspronklike bedoeling van wat die skrywer daarmee bedoel het). Johannes wou eerder vertel hoe Jesus kies om die kruispad te loop (dis waaroor sy gebed in Getsemane gaan), maar dan nie omdat Hy skuldig bevind is vir godslastering (volgens die sanhedrin se verhoor hierna nie) of vir die mishandeling van ʼn hoëpriester amptenaar wat beseer is as gevolg van een van sy dissipels se impulsiwiteit nie, maar omdat Hy weet, hoe onverstaanbaar ookal, dan die ‘kruispad’ dit die enigste manier is om mense se verhouding met God weer herstel te kry.

Vir verder lees hieroor, stel ek voor dat jy in ons webtuiste (bybelkennis.co.za) se soekfunksie intik “Malgus” en jy gaan daarin die volgende artikels kry wat jou vraag meer volledig gaan antwoord…

1. Moenie die Here op die verkeerde manier help nie. – Jan van der Watt

2. Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word gearresteer (Luk 22:47-53) – Francois Malan

Skrywer:  Dr Johann Voges

 




Vraag: Wie het uit die venster geval… – Johann Voges

‘n Leser vra

Wie het uit die venster geval ; Eutigus of Neanias

Antwoord

Dr Johann Voges antwoord:

Die aanhaling wat ek vir jou hier weergee, is soos wat die in die Boodskap 2008 vertaling Handelinge 20:9 – 12 vertaal

9’n Jongman met die naam Eutigus het op een van die vensterbanke by ’n oop venster gesit. Later het hy vaak geword en aan die slaap geraak. Toe val hy by die venster uit. Toe die mense by hom kom, was hy reeds dood. 10Paulus het toe bo-oor Eutigus gekniel en sy arms om hom gesit. “Hou op om so tekere te gaan,” het hy vir die ontstelde gelowiges gesê. “Daar is nog lewe in hom.” Paulus het daarna teruggegaan na die kamer waar die gelowiges was. Eutigus ook! Almal het toe saamgeëet. 11Daarna het Paulus tot dagbreek oor Jesus gepraat. 12Eers toe die son begin opkom, is almal huis toe, Eutigus ook. Al die ander gelowiges was baie bly daaroor.

 Oor die woord “neanias” … dis die Griekse woord wat ons in Afrikaans vertaal met “jongman” … die Griekse woord kom ook voor in…

Handelinge  7:58… Hulle het ’n jongman (Griekse woord ‘neanias’) met die naam Saulus gevra om hulle klere op te pas.

Handelinge 20:9 … ‘n Jongman (Griekse woord ‘neanias’)  met die naam Eutigus het op een van die vensterbanke by ’n oop venster gesit

Handelinge 23:17 … “U moet hierdie jongman (Griekse woord ‘neanias’) asseblief dadelik na die bevelvoerder toe neem. Hy het iets belangriks om vir hom te sê.”

 

Skrywer: Dr Johann Voges




Vraag: Ek spreek lewe… – Johann Voges

‘n Leser Vra

Mense sê dikwels oor iemand wat baie siek is “ek spreek lewe oor so of so” of ek spreek die bloed van Jesus oor so of so” Ek ervaar dan ervaar n hoë mate van ferme uitdaging dat dinge gaan regkom met die siek persoon, so ek waag nie om enigiets tee te praat nie. Die siek persone is toe oorlede maar dan word daar niks gesê nie. Wat is u mening hieroor?

Antwoord

Dr Johann Voges antwoord:

Ek waag dit om vir jou ‘n stukkie aan te haal uit ‘n boek wat ek geskryf het (Anderkant twyfel, my kruikelgedagtes oor lewe en dood. 2022. Barnabas Uitgewers)...

“Iemand het eenkeer gesê: nie almal wat kan kyk, kan noodwendig sien nie. Soos wat die blinde ou hier in Johannes 9 se storie al meer kan insien wat hy met sy oë raak­sien, word die Fariseërs al meer siende blind vir dit waar­na hulle kyk. Hoe meer die blinde ge­dwing word om te loop na­dink oor wat met hom aan die gebeur is, hoe meer groei daar in hom die bewus­wording dat die ver­andering wat besig is om in hom te gebeur, nie net sy oë raak nie, maar sy hele mens­wees (verse 11, 17, 25, 30 en 35-38). Die teen­deel in net so waar; hoe meer die fari­seërs gekonfronteer word met hul onkunde oor wat rêrig hier besig is om te gebeur, hoe kwater en hardkoppiger raak hulle in hul manier van dink hieroor. Dit lyk my om rêrig te kan sien waarna jy kyk, het iets te doen met die bewuswording dat ek weet dat ek nie weet nie … en daarom geloof nodig het vir hierdie insien wat van my gevra word. ‘n Mens kan jouself so maklik vals troos met die gedagte dat as iets onverklaar­baars jou oorkom, “dit die Here se wil of toe­doen is”, terwyl ek eerder die ge­loofs­­insig behoort te hê dat ek gewoon nie weet hoekom dit met my gebeur nie. Al wat ek wel weet, is dat die Here my nie hierin alleen sal los nie”.

Skrywer:  Dr Johann Voges




Vraag: Johannes – Johann Voges

‘n Leser vra:

Is Johannes die dooper, dieselfde persoon as, Johannes wat Openbaring geskryf het ?

Antwoord

Dr Johann Voges antwoord:

In veral Lukas lees ʼn mens hoedat Johannes die Doper (Lukas 1), Elizabeth se kind (sy was Maria, Jesus se ma se tannie) mense moes kom voorberei het op Jesus se koms en ook vir Jesus gedoop het (Lukas 3).  In Lukas  9 word vertel waar Herodes wonder wie Jesus is, hoe Johannes aan sy einde gekom het (lees ook Matteus 14 hieroor) …

7Herodes Antipas, die heerser oor Galilea, het intussen te hore gekom van al die groot dinge wat Jesus doen. Hy was bekommerd daaroor, want party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper wat weer lewend geword het.” 8Ander het gesê: “Nee, ons dink hy is die profeet Elia wat weer na ons toe gekom het.” Nog ander het gesê: “Hy is een van die ander profete wat weer lewendig geword het.” 9Herodes het toe vir sy raadgewers gesê: “Vergeet nou maar die storie dat hierdie man Johannes die Doper is. Kyk, ek het Johannes se kop laat afkap. Hy is morsdood. Maar wie is hierdie man dan? Ek moet hom eenvoudig te sien kry!”

 

Oor wie Openbaring geskryf het , is daar twee opinies. Sommige kenners aanvaar dat die boek deur die apostel Johannes, die seun van Sebedeus, geskryf is. Hy word dan ook as die skrywer van die Johannes-Evangelie en die drie Johannes-briewe beskou. Ander kenners is egter van mening dat Openbaring nie deur die apostel Johannes geskryf is nie, maar deur ’n onbekende rondreisende apokaliptiese profeet in Klein-Asië wie se naam Johannes was. In Openbaring self word slegs gesê dat die skrywer se naam Johannes is en dat hy na die eiland Patmos verban is vanweë sy Christenskap (Opb 1:4, 9). Die meeste kenners is van mening dat Openbaring teen ongeveer 95 nC geskryf is en oorspronklik gerig is aan Christene* wat in Klein-Asië* gewoon het. As Openbaring in ongeveer 95 n.C. geskryf is kan dit nie deur Johannes die Doper geskryf gewees het nie, want hy is amper 60 jaar voor die skryf van Openbaring reeds onthoof.

As jy wil kan jy ook na ons webtuiste gaan (bybelkennis.co.za) en by die soekfunksie intik “Johannes die Doper” daar is ‘n paar interessante artikels daarin oor hom geskrywe. ‘n Interessante artikel om ook te lees oor die skrywer van Openbaring sal jy kry by https://en.wikipedia.org/wiki/Book_of_Revelation

Skrywer: Dr Johann Voges