Bybelvertalings Opsomming – Jan van der Watt

Hier onder is a tabel met ‘n kort opsomming van elke vertaling. Dokument formaat is in PDF formaat as gevolg van die kompleksiteit van die dokument. Kliek op die onderstaande skakel om die tabel oop te maak.

Bybelvertaling




Daniël 9 – Marius Nel

Jan vra:

Die engel sê vir Daniël (Hfst 9) daar is 70 x 7 talle oor sy volk en sy heilige stad bepaal om ses dinge te volbring. Vanaf die datum dat die bevel uitgegaan het om Jerusalem te herstel tot op ‘n Gesalfde is 7 x 7 talle, en dan 62 X 7 talle vir die herstel. Na hierdie tydperk sal ‘n Gesalfde uitgeroei word . Die volk van ‘n vors wat sal kom sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou. En daar sal ‘n verwoester wees.
Vrae: 1. Ek aanvaar Gesalfde, ‘n Vors bedoel Jesus Christus?
2. Die Gesalfde wat uitgeroei word bedoel ook Jesus (Sy sterwe aan die
kruis)?
3. Die volk van ‘n vors (sal verwoes). Wie is die volk en die vors ter sprake?
4. Sal dit hierdie vors wees wie se einde met ‘n oorstroming sal wees?
5. Die hy van vers 27 en die baie met wie ‘n sterk verbond gesluit word wie is
dit?
6. Wie is die verwoester?
7. Tradisioneel word die laaste week afgeskei – wat is die rede?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Dan 9 se toepassing vind in die tweede eeu plaas, wanneer Antiochus IV Epifanes oor die Jode regeer. Alexander die Grote sterf sonder erfgenaam; sy ryk word in vier verdeel en Juda val onder die Seleukiede. Waar die Seleukiede voorheen Jode se godsdiens uitgelaat het, meng Antiochus IV in. Hy neem tempelvoorwerpe om op te maak vir belasting wat Jode skuld. As hulle in opstand kom, onteer hy hulle tempel deur onrein diere daar te laat offer. As dit grootskaalse opstand uitlok, verbied hy die besnydenis, besit van heilige geskrifte en diens aan Jhwh. Hy gee opdrag dat regoor die land altare opgerig word en offers vir Griekse gode gebring word. Hieruit vloei die Makkabese opstand wat deur guerillaoorlogvoering eindelik effektief die Seleukiede verjaag. Die datums wat Dan 9 gee, pas by die gebeure rondom Antiochus IV. Later het Christene dit weer toegepas, op Christus. Maar dan mag ons nie poog om op allerlei maniere kontemporere gebeure in Dan 9 se tydskale te probeer inlees nie omdat ons nie reg laat geskied aan die teks se oorspronklike betekenis nie.

Skrywer: Prof Marius Nel




Digitale Bybel – Francois Malan

Danie vra:

Waar kan ek n naslaan Bybel digitaal kry om af te laai?

Antwoord

 Prof Francois Malan antwoord:

Ek weet nie van ’n naslaan bybel nie, maar by You Version kan jy ’n 1983-vertaling, 1953-vertaling, Die Boodskap en Die Bybel vir Almal in Afrikaans kry as jy die You Version aflaai. Daarmee saam kry jy 53 Engelse vertalings.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die vrou van 2 Johannes 1 – Jan van der Watt

At  vra:

Daar is ook n gedeelte in 2 Johannes 1 waar hy praat van die oudste aan die uitverkore vrou en haar kinders
Johannes was die oudste van al die apostels wat oorleef het en die uitverkore vrou die Kerk en die die kinders persone wat die Evangelie wat Jesus en apostels verkondig het aangeneem het in die geloof.

 Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord: 

In 2 Johannes 1 lees ons dat die skrywer die kort briefie rig aan ‘Die uitverkore vrou en haar kinders’. Die vraag is nou of dit letterlike bedoel is (dit is aan ’n fisiese persoon geskryf) en of dit figuurlik is, met ander woorde dat die ‘uitverkore vrou’ eintlik verwys na die gemeente.

Oor die antwoord op hierdie vraag is daar nogal verskil van mening. Daar is ondersteuning vir altwee opinies. Natuurlik is die belangrikste manier om so vraag te beantwoord om na die konteks te kyk en hier lê die probleem juis. In sommige gevalle lyk dit of die brief vir ’n gemeente geskryf is en soms lyk dit of dit vir die vrou as leier in die gesin geskryf is. Hoe los ons die probleem op?

Ons moet onthou dat die Christene destyds nie in kerk bymekaar gekom het nie, maar in huise (sg. huiskerke). Dit beteken dat die huiseienaar ’n sekere seggenskap gehad het oor wat daar in sy of haar huis gebeur het, hoewel die huiseienaar nie altyd noodwendig die leier van die gemeente was nie (sien 3 Johannes). As ons in 2 Johannes 4 lees dat van die kinders van die vrou nie meer volgens die waarheid lewe nie, en hulle in verse 5-9 aangespreek word soos die skrywer in 1 Johannes die gemeente aanspreek (sien 1 Joh 2:7-11; 4:1-5), dan lyk dit of dit hier om ’n gemeente en nie ’n individuele vrou met haar probleme gaan. Buitendien, word daar nie melding gemaak van ’n vader nie wat ook meer op ’n figuurlike situasie dui.

Aan die ander kant word die woorde vrou en kinders letterlik verstaan en na 2 Johannes 10 verwys waar daar van ’n huis in die enkelvoud (in Grieks) gepraat word.

Die meeste Bybelverklaarders meen egter dat die verwysing na ’n figuurlike vrou (die gemeente) is en nie na ’n fisiese vrou met haar kinders nie. Die ‘vrou en haar kinders’ is eintlik die gemeente. Dit is ’n algemene manier waarop daar na gemeentelede verwys word. Johannes doen dit ook in sy eerste brief (1 Johannes 2:1, 12, 18 ens.) en in Openbaring waar die vrou (die bruid) na die Christene as geheel verwys (Open 19:6-8; 21:2).

Skrywer: Prof Jan van der Watt