Die Wegraping – Waar het dit begin? – Vraag

Die Wegraping – Waar het dit begin? – Dirk Venter

Theo Visser vra:

Ek lees die artikels oor die Wegraping met groot belangstelling . Dit bevestig wat ek ook glo . Wat ek graag sal wil weet, is waar het die leerstelling van die Wegraping begin het ? Dit was sover ek kan agterkom nie ‘n leerstelling in die vroeë kerk nie, maar het nie baie jare gelede posgevat nie . Is dit korrek om hierdie afleiding te maak.

Antwoord:

Dirk Venter antwoord:

Daar word soms wel gesê (deur voorstanders van die wegrapingsidee) dat die vroeë kerk geglo het in ʼn wegraping van gelowiges voor die aanbreek van die groot verdrukking (bedelings-premillenium interpretasie).  Gevolglik, sê Hal Lindsey byvoorbeeld, was dit eers vanaf die kerkvaders Klemens en Origenes, en veral na Augustinus, nie meer die algemene verwagting in die kerk nie.  Die probleem hiermee is egter dat betroubare getuienis van so ʼn verwagting in die vroeë kerk eenvoudig ontbreek.  (Selfs Dr John F. Walvoord, een van die belangrikste twintigste eeuse voorstanders van die “voor-verdrukking” wegraping, gee in sy boek “The Rapture question” toe dat die kerkvaders geglo het in die wederkoms na die groot verdrukking; p.137 e.a.).  Daar is wel een aanhaling uit ʼn preek (wat waarskynlik verkeerdelik aan die vierde eeuse kerkvader, Efraim van Sirië, toegeskryf word), wat deur sommiges beskou word as ʼn verwysing na die wegraping.  Baie ander interpreteer hierdie aanhaling egter anders, onder meer omdat daarin geen verwysing is na ʼn ontmoeting met Christus tussen hemel en aarde nie (hoewel die skrywer wel van mening was dat Christus die kerk van die toneel af gaan verwyder voor die groot verdrukking).  Buiten die dubbelsinnigheid van die aanhaling self, is daar nog die probleme van die ware outeur en datering daarvan.  Gevolglik kan hierdie enkele omstrede aanhaling nie as betroubare getuienis van so ʼn verwagting in die vroeë kerk beskou word nie.  By die gebrek aan betroubare getuienis om dit te bevestig, is dit spekulatief en onverantwoordelik om so ʼn leerstelling terug te lees in die vroeë kerk se geloof (teologie) in, en baie meer logies om af te lei dat die wegraping nie ʼn leerstelling van die vroeë kerk (of kerkvaders) was nie.

 

Wanneer het die idee van die wegraping dan wel te voorskyn gekom?  Dit wil voorkom asof die eerste gedokumenteerde verwysing na die wegraping (“rapture“) as konsep, in 1738 was, in ʼn kommentaar op die Nuwe Testament deur Philip Dodridge.  Daarna was daar van tyd tot tyd publikasies wat die idee gehuldig het, soos byvoorbeeld die visioen van Margaret MacDonald (ʼn 15 jarige Skotse meisie), in 1840 (eerste uitgawe).  Die idee het egter eers sedert 1878 noemenswaardig begin veld wen, ondermeer vanweë die Bible Conference Movement (onder leiding van die Brethren Movement / Plymouth Brethren, wat voorstanders van die bedelings-premillenium interpretasie van die wederkoms was, ʼn arm van die sg. “dispensationalism“).  Konferensies is gereeld aangebied, en die idee van die wegraping (binne die groter skema van die verskillende “dispensations” / bedelings) het sodoende al meer populêr begin word in ʼn aantal belangrike denominasies in die VSA.  Die baie gewilde Scofield Reference Bible (CI Scofield; 1909, 1919, 1967) het ook hiertoe bygedra.

 

In die tweede helfte van die twintigste eeu het publikasies van ondermeer Dr John F. Walvoord (Dallas Theological Seminary) en J. Dwight Pentecost in die vyftigerjare, Hal Lindsey in die sewentigerjare, en (sedert die middel negentigs) die Left Behind-reeks van Tim La Haye en Jerry B. Jenkins, waarvan almal honderde duisende (tot selfs miljoene) kopieë verkoop het, die idee toenemend populêr gemaak.  Terwyl dit vantevore ʼn eienskap van hoofsaaklik die Amerikaanse teologiese landskap was, het hierdie baie suksesvolle publikasies meegebring dat die idee van die wegraping vandag ʼn internasionale verskynsel is. 

 

Outeur: Ds Dirk Venter

 




Die idee van die wegraping [5]

Die idee van die wegraping [5] – Dirk Venter

 

Ander teksgedeeltes waarby die wegraping ingelees word

  • 2 Tessalonisense 2:6-8 – die een wat die wettelose teëhou.  Wanneer die wegrapingsidee van buite af by hierdie teks ingelees word (want, net soos in die geval van Matteus 24:36-44 en ander teksgedeeltes, gee die teks self geen aanduiding daarvan nie), word daar veronderstel dat die kerk die een is wat die wettelose (antichris) teëhou, en dat die manier waarop die kerk “uit die weg” geneem word, die wegraping is.
Teenoor hierdie interpretasie staan ʼn belangrike beginsel wat deur Jesus verkondig is (in die gelykenis van die onkruid tussen die koring, Matteus 13).  Sy volgelinge én die duiwel se volgelinge (waarvan die antichris tog die vernaamste is) moet saam in die wêreld verkeer tot op die dag van die oes, wat sinoniem is met die dag waarop daar finaal onderskeid getref sal word (oordeel) en die duiwel se volgelinge “in die brandende oond” gegooi sal word, terwyl die gelowiges “sal skitter soos die son” by die Here (Matteus 13:42-43).  Die “een wat die wettelose teëhou” kan dus nie sondermeer met die kerk gelykgestel word om so die noodsaaklikheid van die wegraping te verduidelik nie.  Verklaarders het baie verskillende teorieë vir wie (of wat) die “een wat die wettelose teëhou” moontlik kan wees, maar dis nie nodig om daarop in te gaan vir die doel van hierdie artikel nie.  Die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Matteus 13:24-30, 36-43), tot op die dag wanneer sommiges in die vuur gegooi sal word en ander die koninkryk sal binnegaan, spreek eintlik baie duidelik teen die wegrapingsidee dat die gelowiges uit die sisteem gehaal gaan word lank voordat die oordeel aanbreek!
  • 1 Korintiërs 15:51-52 – die verandering van verganklikheid na onverganklikheid.  Hierdie teksgedeelte hoef net vinnig deurgelees te word om raak te sien dat daar (weereens) geen sprake van die wegraping as sulks, daarin voorkom nie.  Tog word dit gereeld aangetref in artikels wat die idee van die wegraping verduidelik, om te verklaar hoe die lewendes ʼn verheerlikte liggaam sal kry voordat hulle die Hemel sal ingaan.  Wegraping al dan nie, “by die laaste trompet sal… die dooies as onverganklikes opgewek word, en ons [die lewendes] sal verander word”.
  • Johannes 14:1-3 – Jesus gaan om vir ons plek gereed te maak.  Nogmaals word dié teksgedeelte dikwels in dieselfde asem as die wegraping genoem, maar hoef dit selfs net vinnig deurgelees te word om raak te sien dat dit nie melding maak van die idee van die wegraping as sulks nie.  Christus kom terug om die gelowiges te kom haal, sodat ons kan wees waar Hy is, en dit is in die Hemel by die Vader.
  • Daar is selfs nog meer sulke teksgedeeltes.  Die patroon bly egter deurlopend dieselfde, en gevolglik word almal nie hier genoem nie.

Enkele konklusies

Na hierdie reeks artikels oor die idee van die wegraping, kan ondermeer die volgende konklusies gemaak word:

1.    Die besonderhede oor Christus se koms is nie so belangrik as die feit dat Hy terugkom en dat ʼn mens moet sorg dat jy gereed is vir daardie geleentheid nie.

2.    Die debat oor die wegraping handel oor besonderhede van Christus se Wederkoms, en is dus van sekondêre belang.  Dis byvoorbeeld nie belangrik genoeg om jouself op grond van ʼn verskil hieroor te distansieer van ʼn medegelowige nie.

3.    Die idee van die wegraping is deel van ʼn redelik gekompliseerde uiteensetting van ʼn reeks gebeure in die eindtyd, en is dus eintlik verwant aan die vraag oor die duisendjarige vrederyk, die vasbinding en loslating van die satan ens., waarop hierdie reeks artikels glad nie ingegaan het nie.

4.    Veral 1 Tessalonisense 4:16-17 en Matteus 24:15-18 (saamgelees met Daniël 9:24-27) word misverstaan en tot hoë prominensie verhef.  Sodoende word die idee van die wegraping gevorm, wat eintlik nie meer ooreenstem met die bedoeling van die teksgedeeltes waaruit dit afgelei word, of die res van die Nuwe Testament se verstaan van die Wederkoms nie.

5.    Word hierdie idee van buite af toegepas op ander teksgedeeltes in die Nuwe Testament (Bybel), mag dit op die oog af dalk lyk of dit mekaar aanvul, maar inderwaarheid word daardie besondere teksgedeeltes (wat in eie reg iets oor die Wederkoms te sê het) dan geforseer om iets te “sê” wat dit nie bedoel nie.

Outeur: Ds Dirk Venter

 




Die idee van die wegraping [4]

Die idee van die wegraping [4] – Dirk Venter

 

Ander teksgedeeltes waarby die wegraping ingelees word

Benewens die kern-teksgedeeltes waarop die wegrapingsidee geskoei word (1 Tessalonisense 4:17; Matteus 24:15-28 plus Daniël 9:24-27), word die idee ook by ʼn aantal ander teksgedeeltes ingelees.  Die vernaamstes hiervan word hieronder gegee, en daar word kortliks genoem waarom hierdie teksgedeeltes nie op die wegraping dui nie. 

  •          Matteus 24:36-44 – twee sal saam werk, die een word saamgeneem en die ander een agtergelaat.  Die punt van hierdie uitspraak van Jesus is nie die wyse waarop (soos met ʼn “wegraping”) die wederkoms gaan plaasvind nie, maar dat dit “kom op ʼn uur dat julle dit nie verwag nie” (24:44b, ook 24:36, 40; let op hoe die tema van die tekseenheid duidelik gestel word aan die begin en die einde daarvan).  Die uitvloeisel van hierdie feit, is dat die gelowiges moet sorg dat hulle gereed is (24:42, 44a).  Die verwysing daarna dat twee saam sal werk (“op die land”, 24:40; “by die meul”, 24:41) is om te illustreer hoedat mense sal besig wees met hulle alledaagse lewens, dat hulle soos altyd sal eet en drink en trou (24:38), sommige van hulle gereed vir sy koms en ander nie (vgl. ook Matteus 25:1-13).  Wanneer Hy kom, sal dié wat gereed was, gered word, terwyl dié wat nie gereed was nie, nie gered sal word nie.  Die punt van die een wat “saamgeneem” word en die een wat “agtergelaat” word, is dus nie dat sommiges weggeraap sal word nie, maar bloot dat die gelowiges moet seker maak dat hulle gereed is vir sy koms aangesien dit ʼn baie algemene verskynsel sal wees dat mense nie gereed is nie (figuurlik gesproke 1 uit 2, of 5 uit 10 in terme van Matteus 25:2)!  Binne hierdie punt wat Jesus wil maak, tref Hy ʼn vergelyking met Noag se tyd (24:37vv).  Net soos die mense daardie tyd nie gereed was nie en net aangegaan het met hul alledaagse lewens, netso sal die mense ook aan die gang wees met die alledaagse wanneer Christus weer kom.  Hy neem die vergelyking ook verder – net soos wat Noag gered is omdat hy gereed was (en in die ark kon ingaan), maar dié wat nie gereed was nie, deur die vloed weggesleur is, so sal dit met Christus se koms ook wees.  Sommiges sal gereed wees, maar ander nie.  Die wat gereed is, word “saamgeneem” (asof hulle die ark ingegaan het, bloot ʼn metafoor daarvoor dat hulle gereed is en daarom die oordeel vryspring).  Die wat nie gereed is nie, word “agtergelaat” (ʼn metaforiese manier om te sê hulle gaan wel veroordeel word, net soos die mense in Noag se tyd, omdat hulle nie gereed was toe die oordeel aangebreek het nie).  “Saamgeneem” en “agtergelaat” word dus nie letterlik bedoel nie, maar is die verlenging van die Noag-vergelyking, en dui bloot op “verlossing” vs. “veroordeling”.

Die teksgedeelte self verkondig dus nie die idee van die wegraping nie.  Wanneer die wegrapingsidee van buite af by die teks ingelees word, lyk dit egter of dit mooi pas, omdat die woorde “saamgeneem” en “agtergelaat” soveel dieselfde klink as die wegrapingsidee!  Hiervoor moet ʼn mens egter baie versigtig wees!  Want “dieselfde klink” is nog nie “dieselfde” nie.  (Dink maar aan kere wat jyself iemand misverstaan het, omdat dit wat gesê is jou aan iets anders laat dink het wat baie dieselfde “klink”!)  Praat die teksgedeelte (Matteus 24:36-44) self van gelowiges wat “weggeruk” word om die Here tussen hemel en aarde te ontmoet, of dat die kerk die groot verdrukking gaan vryspring?  Nêrens nie.  Gevolglik moet die wegrapingsidee nie so maklik daarin raakgelees word op grond van oppervlakkige ooreenkomste (“klink dieselfde”) nie.  Dis ʼn resep vir misverstand.  Ook hier is dit dus waar dat, wanneer die idee van die wegraping van buite af op hierdie teksgedeelte toegepas word, die teks eintlik geforseer word om iets te sê wat dit nie bedoel nie. 

 

Outeur: Ds Dirk Venter

 




Die idee van die wegraping [3]

Die idee van die wegraping [3] – Dirk Venter

Teksgedeeltes waarvan die bedoeling verkeerd verstaan word, wat bymekaar gevoeg word, en dan die wegrapingsidee vorm

 

  • Matteus 24:15-28 plus Daniël 9:24-27 – die groot verdrukking (sewe jaar lank)

Die tweede teksgedeelte wat onbedoeld verkeerd uitgelê word en by 1 Tessalonisense 4:16-17 getel word om die wegrapingsidee verdere gestalte te gee, is Matteus 24:15-18 (saamgelees met Daniël 9:24-27).  Daar is geen twyfel daaroor nie: hierdie teksgedeelte waarsku gelowiges dat die aktiwiteit van die bose en die gevolglike swaarkry op aarde ʼn hoogtepunt sal bereik net voor die Wederkoms (Matteus 24:29).  Matteus 24:21 noem dit “‘n groot verdrukking… soos wat daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie”.

In Daniël 9:25 is daar sprake van sewe tydperke, wat dan letterlik uitgelê word om “sewe jaar” te verteenwoordig.  Let egter daarop dat hierdie tydperk waarin nood en swaarkry op aarde ʼn klimaks sal bereik, pas voor die Wederkoms van Christus sal wees (Matteus 24:29), en dat tydens hierdie (enigste) Wederkoms “al die volke van die aarde” verslae sal wees en Hom op die wolke sal “sien kom met groot krag en majesteit” (Matteus 24:30-31).  Die idee dat Christus eers ongemerk kom om die kerk te kom wegruk voordat hierdie groot verdrukking plaasvind, kan dus nie uit hierdie teksgedeeltes afgelei word nie, maar net daarby ingelees word.

Oor die moontlikheid van twee Wederkomste, hoef daar net op die eenvormigheid van Matteus 24-25 ten opsigte van “die koms van die Seun van die mens” gelet te word, dikwels verder beskryf as: “met majesteit” en “saam met die engele”.  Diegene wat die wegrapingsidee voorstaan, pas verskillende gedeeltes van hierdie twee hoofstukke op die verskillende “wederkomste” (eerste = wegraping, tweede = oordeel) toe, om ooreen te stem met hulle besondere weergawe van die verloop van sake.  Daar is egter in die teks self geen sprake van meer as een “koms van die Seun van die mens” nie.  Alles wat hier gesê word oor die Wederkoms, het betrekking op een en dieselfde “koms van die Seun van die mens”: ʼn eenmalige Wederkoms, waarvan almal kennis sal neem, en wat op die oordeelsmoment uitloop.  Die res van die Nuwe Testament is ook konsekwent in sy verwagting van ʼn enkele Wederkoms (vgl. 1 Korintiërs 1:7-8; Filippense 1:6, 10; 1 Tessalonisense 5:1-11; Titus 2:13; 2 Petrus 3:10-13; Handelinge 1:9-11 ens.)

Waar kom die idee vandaan dat die kerk die groot verdrukking gespaar gaan word, en dus eers weggeraap gaan word voordat dit aanbreek?

Daar word geredeneer dat God altyd sy mense uitred voordat Hy sy oordeel uitgiet.  Die redding van Noag en sy gesin voor die sondvloed, en die redding van Lot en sy gesin voor die verdelging van Sodom en Gomorra, dien as vernaamste voorbeelde hiervan.  Dus, word daar afgelei, sal God mos die kerk red (wegneem) voordat die groot verdrukking aanbreek?  Tel hierdie “wegneem”-beginsel by 1 Tessalonisense 4:17, wat skynbaar melding maak van hoe God dit hierdie keer gaan doen (deur ʼn skielike “wegruk” van dié wat glo, om Hom tussen Hemel en aarde te ontmoet), en jy kry die kern van die (bedelings-premillenialistiese) wegrapingsidee: God gaan die gelowiges letterlik tussen die ongelowiges uitruk, die lug in, om by Hom te gaan wees en so gespaar te word van die groot verdrukking wat kom.

Die geforseerde interpretasie van 1 Tessalonisense 4:17 is reeds uitgewys.  Maar daar is ook probleme met die “wegneem”-beginsel wat daarby getel word.  Die redding van Noag en sy gesin, en Lot en sy gesin, is wel goeie voorbeelde van hoe God sy mense uitred, teenoor die goddeloses wat “agtergelaat word” om deur sy oordeel oorweldig te word.  Die toepassing daarvan op die groot verdrukking is egter foutief.  Die gelowiges sal wel van God se groot oordeel gered word (wat op die ongelowiges uitgegiet gaan word na sy Wederkoms en die onderskeiding tussen gelowiges en ongelowiges voor die groot wit troon; vgl. Matteus 25:31-33, Openbaring 20:11-15).  Maar nêrens in die teksgedeeltes wat die groot verdrukking beskryf, word daar melding daarvan gemaak dat die gelowiges daarvan gespaar sal word nie.  Die groot verdrukking is nie (soos die bedelings-premillenium interpretasie aanvoer) ʼn ander bedeling tussen ʼn “eerste” en “tweede” wederkoms nie, maar bloot die klimaks van die huidige tydperk waarin ons leef, waaroor Christus ons gewaarsku het “in die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Johannes 16:33).  Matteus 24 self waarsku dat “julle” (dit is die gelowiges) doodgemaak en gehaat sal word (24:10), nie dan mislei moet word nie (24:11, 23-27), moet bid dat “julle” nie in die winter of op die sabbat hoef te vlug nie omdat dit so ʼn groot verdrukking sal wees (24:20-21), en dus per implikasie daar sal wees wanneer al hierdie dinge gebeur.  Daar is dus nie in die teksgedeelte sprake daarvan dat die gelowiges die groot verdrukking gaan vryspring nie.

 

Lees gerus meer in:

DU RAND, J.   2007.  Die A – Z van Openbaring.   Vereeniging : CUM.

Outeur: Ds Dirk Venter