DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (3)

DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (3)

Galasiërs 2:1-10 Die leiers in Jerusalem het dan met Paulus saamgestem

Die dwaalleraars wat in Galasië doenig was, het na alle waarskynlikheid van Jerusalem af gekom. Jerusalem was op daardie stadium nog die hoofsetel van die Christendom.

Die dwaalleraars het waarskynlik (ten onregte!) daarop aanspraak gemaak dat die evangelie soos hulle dit verkondig het, die goedkeuring van die leiers in Jerusalem gedra het en daarom deur die gelowiges in Galasië aanvaar moes word. In 2:1-10 bewys Paulus nou dat die dwaalleraars heeltemal verkeerd is. Toe hy die tweede keer Jerusalem besoek het, het die leiers in Jerusalem met hom saamgestem dat sy boodskap reg was en gesê dat hy so kon voortgaan (Vgl. ook Lukas se weergawe van dieselfde gebeure in Handelinge 15:1-33.)

Wat het die probleem veroorsaak? Die Christelike gemeente in Jerusalem en omstreke was teologies meer “behoudend” as die Christelike gemeentes in die res van die Romeinse Ryk: Omdat die meeste van die gelowiges in Jerusalem as Jode groot geword het, het hulle dikwels nog voortgegaan om die Joodse praktyke na te kom – selfs nadat hulle gelowiges geword het. Daarteenoor het Paulus aan die Christelike gemeentes wat onder die heidene tot stand gekom het, gesê dat hulle nie ook die Joodse wet hoef na te kom as hulle gelowiges word nie. Geloof in Jesus Christus was genoeg. So byvoorbeeld was dit volgens hom nie nodig dat hulle besny moes word as hulle tot bekering kom nie. In 2:1-10 voer Paulus nou aan dat die leiers van die Jerusalemkerk hom op hierdie punt toegegee het. Dit het tydens sy tweede besoek aan Jerusalem gebeur.

As Paulus vertel wat daar gebeur het, beklemtoon hy die volgende sake:

  • Hy het nie na Jerusalem toe gegaan omdat die leiers in Jerusalem hom laat kom het nie. Hy het gegaan omdat God so ‘n opdrag aan hom gegee het (2:2). Ten diepste was hy net aan God verantwoordelik vir wat hy gedoen het en nie aan die leiers in Jerusalem nie. Hulle het dus nie absolute gesag gehad nie.
  • Titus, ‘n onbesnede Griek, was saam met hom en tog is hy nie gedwing om hom te laat besny nie (Dit was juis wat die dwaalleraars in Galasië nou van al die gelowiges verwag het.) Volgens Paulus was daar wel ‘n “verkrampte” faksie (vgl. 2:4) in die Jerusalemkerk wat wou hê dat Titus besny moes word. (Dit was waarskynlik gelowiges wat vroeër Fariseërs was; vgl. Handelinge 15:5). Die punt is egter: Die leiers in Jerusalem het nié daarop aangedring nie en Titus is ook nie besny nie (2:5).
  • Die leiers in Jerusalem het niks aan Paulus se boodskap probeer verander of toevoeg nie (2:6) omdat hulle besef het dat hy deur God geroep is om die evangelie aan die heidene te verkondig (2:7). Hulle het selfs met hom ‘n ooreenkoms gesluit (2:9) dat húlle die evangelie onder die Jode sou verkondig terwyl hý dit onder die heidene sou verkondig. Dus: Die dwaalleraars was nie net besig om verkeerde inligting te versprei nie, hulle was ook besig om die Jerusalem-ooreenkoms te verbreek.

In hierdie gedeelte kan ‘n mens op ‘n pragtige manier sien hoe gelowiges teenoor mekaar moet optree as daar meningsverskil is. Dit is duidelik dat daar klemverskille was tussen gelowiges in Jerusalem en die gelowiges in die gemeentes wat deur Paulus gestig is. Die verskille was egter nie so groot dat hulle nie oorbrug kon word nie. Die ooreenkoms wat bereik is, het basies ingehou dat die Jerusalem-gelowiges op hulle manier sou voortgaan, terwyl hulle erken het dat Paulus se manier van doen nie verkeerd was nie. Hulle het nie vir Paulus gedwing om te maak soos hulle maak nie, maar ruimte vir mekaar gemaak.

Galasiërs 2:11-14: Onenigheid in Antiogië

Ongelukkig het die ooreenkoms wat in Jerusalem gesluit is (vgl. die bespreking by 2:1-10), nie lank gehou het nie. Na die ooreenkoms is Paulus weer terug na Antiogië wat as die hoofbasis van sy sendingbedrywighede gedien het. Toe Sefas (d.w.s. Petrus) later daar aankom, het hy aanvanklik hom by die Jerusalem-ooreenkoms gehou deur saam met die nie-Joodse gelowiges te eet. Die Jode het baie streng voorskrifte oor wat ‘n mens mag eet en hoe kos voorberei moes word, gehad. Omdat nie-Jode nie altyd dié voorskrifte geken of hulle daarby gehou het nie, het Jode nie graag saam met nie-Jode geëet nie. By die Jerusalem-ooreenkoms is besluit dat die nie-Joodse Christene hulle nie aan hierdie wette hoef te hou nie, alhoewel daar nog baie Joodse Christene was wat wel hierdie wette nagekom het.

Wat egter in Antiogië gebeur het, is dat Joodse en nie-Joodse Christene saam geëet het. (In daardie tyd is saameet gesien as ‘n teken van besondere gehegtheid aan mekaar – iets wat pragtig aangesluit het by evangelieboodskap.) Toe Petrus daar aankom, het hy ook saamgeëet, maar toe daar later ook sommige van die “verkrampte” seksie van die Jerusalemkerk daar aankom, het hy en al die Joodse Christene opgehou daarmee. Dit het aanleiding gegee tot ‘n hewige woordewisseling tussen Paulus en Petrus. Heeltemal tereg het Paulus vir Petrus daarvan beskuldig dat hulle op hierdie manier besig was om die waarheid van die evangelie te verdraai. Hulle was besig om addisionele vereistes aan die nie-Joodse Christene te stel en dit was in stryd met die evangelie. Al wat God gevra het, was geloof in Jesus Christus (vgl. die vollediger bespreking by 2:15-21),

Interessant genoeg sê Paulus nie wat die uitslag van die woordewisseling was nie. Hieruit kan ‘n mens aflei dat hy waarskynlik die stryd in Antiogië verloor het. Dit was waarskynlik juis as gevolg van hulle “oorwinning” in Antiogië dat die “verkramptes” moed geskep het en al hoe meer radikale eise aan die nie-Joodse gelowiges begin stel het. Dalk het hulle ook ‘n nuwe aanslag in al die ander gemeentes wat deur Paulus gestig is, geloods en so het die dwaalleer ook in Galasië uitgekom.

Galasiërs 2:15-21: God spreek die vry wat glo!

In hierdie gedeelte vertel Paulus nog wat hy vir Petrus tydens hulle woordewisseling in Antiogië (vgl. 2:11-14) gesê het. Alles wat daar gebeur het, was direk van toepassing op die dwaalleer wat in Galasië veld gewen het en daarom beweeg hy terselfdertyd ook oor na dit wat in Galasië aan die gebeur was.

Om 2:15-16 te verstaan, moet ‘n mens onthou dat die Jode ‘n ander verstaan van die begrip “sondaars” gehad het. Vir hulle was “sondaars” mense wat nie volgens God se wet geleef het nie. Paulus begin hier met dieselfde onderskeid (2:15), maar wys dat dit eintlik totaal ongeldig is om so te praat, want eintlik is alle mense sondaars (2:17).

Dit hang saam met ‘n ander belangrike ontdekking wat hy gemaak het: Vryspraak is uit die geloof en nie uit die wet nie. Dit beteken dat mense nie hulle verlossing op allerhande maniere hoef te verdien nie (hulle sal dit in elk geval nie regkry nie). God skenk dit genadiglik aan hulle omdat hulle in Jesus Christus glo. Dit kan Hy doen omdat Christus in hulle plek aan die kruis gesterf het en so vir hulle sonde betaal het (2:20; vgl. ook 3:6-14). Vir Paulus is hierdie wonderlike waarheid die fondament van die evangelie. Daarom kon hy nie toelaat dat dit in Antiogië of in Galasië op enige manier aangetas word nie (vgl. 2:18).

In 2:18-20 noem Paulus ‘n klomp wonderlike veranderings wat in ‘n mens se lewe plaasvind as God aan jou die vryspraak gegee het: vir die wet dood (mense hoef nie meer krampagtig hulle verlossing te probeer verdien deur goeie werke nie); vir God kan lewe (hulle kry nóú al deel aan die ewige lewe omdat hulle in Jesus glo); saam met Christus gekruisig (hulle deel in die voordele van Jesus se dood); en Christus wat in my lewe (hulle kry nie net ‘n nuwe “ek” nie, Christus neem deur die Heilige Gees die kern van hulle persoonlikheid oor). Inderdaad ‘n rewolusionêre verandering wat in hulle lewe plaasvind!

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (2)

DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (2)

Galasiërs 1:1-5: Briefaanhef

Die meeste briewe wat in Paulus se tyd geskryf is, het dieselfde basiese patroon in die aanhef gevolg, naamlik: skrywer, ontvangers en groet.

Al drie hierdie sake kom ook in die aanhef van Galasiërs voor. Die skrywer is Paulus en al die broers by hom; die ontvangers is die gemeentes in Galasië en die groet kom in 1:3a voor. Wat egter opvallend is, is dat Paulus nie maar soos wat destyds die gewoonte was, sommer vinnig-vinnig deur hierdie deel van sy brief jaag nie. Hy voeg twee belangrike gedagtes by. Beide gedagtes het  op een of ander manier reeds te doen met die ernstige dwaalleer wat hy in Galasië moet beveg:

1. Dat hy beslis ‘n apostel is. Die lang uitbreiding in 1:1 (Dat ek ‘n apostel is … opgewek het) wys dat die dwaalleraars heelwaarskynlik vir die gelowiges in Galasië gesê het dat Paulus nie in dieselfde klas was as die ander apostels nie. Hier ontken Paulus sulke aantygings heftig. Hy was ten diepste ‘n apostel omdat God die Vader en die opgestane Jesus Christus hom geroep het en aan hom gesag gegee het om die ware evangelie te verkondig.

2. Dat Jesus alles gedoen het wat nodig is vir die mens se verlossing. In 1:4 noem Paulus dat Christus Homself vir ons sondes gegee het. Hiermee het hy by die hart van die probleem in Galasië uitgekom. Wie die dwaalleraars se valse evangelie aanvaar het, het daarmee gemaak asof dit wat Christus reeds gedoen het, nie genoeg was nie. Tog beklemtoon Paulus dat dit wat Hy gedoen het genoeg was om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en dat dit alles volgens die wil van God gebeur het (1:4). Enigiemand wat die dwaalleer verkondig of aanvaar het, was dus besig om in opstand teen God te kom.

Galasiërs 1:6-10: Daar is net één evangelie!

Dit was Paulus se gewoonte om direk ná die briefaanhef (vgl. 1:1-5) ‘n kort danksegging neer te skrywe waarin hy sy dank uitgespreek het (vgl. byv. Romeine 1:8-15, 1 Korintiërs 1:4-9 en 1 Tessalonisense 1:2-3). Die feit dat Paulus dit egter nie in Galasiërs doen nie, wys net hoe ontsteld hy was oor die feit dat die lesers besig was om te swig voor die dwaalleer. Daar was niks in Galasië aan die gang waarvoor hy God kon dank nie. In plaas van ‘n  dankwoord (byv. “Ek dank my God…”), begin hy daarom in 1:6 met iets heeltemal anders: Dit verbaas my. Hy is ontsteld dat hulle so gou weer afvallig geword het. Sy ontsteltenis is verstaanbaar. Deur te swig voor die dwaalleer was hulle besig om God se genade te verwerp! Dit wat die dwaalleraars in Galasië verkondig het, was ‘n valse evangelie (1:7a) omdat dit die hart van die evangelie, naamlik God se genade, aangetas het. Hiermee bedoel Paulus natuurlik nie dat daar absoluut geen verskille tussen gelowiges mag wees nie. Daar is baie kleiner en minder belangrike sake waaroor gelowiges wel verskillende standpunte mag hê. Wat hy egter wel bedoel, is dat dit wat ‘n mens glo, nooit die diepste fondament van die evangelie, God se genade soos Hy dit in Jesus kom bekendmaak het nie, mag aantas nie. Die maatstaf om te onderskei tussen die ware en die valse evangelie is of dit die belangrikste plek aan God se genade gee. As enigiets of enige iemand anders ‘n belangriker plek kry, is dit ‘n verdraaiing van die evangelie.

Hoe verwerplik enige prediking of lering is wat so iets doen, beklemtoon Paulus deur die dubbele vloek in 1:8-9. Op hierdie manier probeer hy om die gelowiges in Galasië tot hulle sinne te bring. Deur ‘n valse evangelie te aanvaar, was hulle besig om God se seën vir sy vloek te verruil! Let op dat Paulus die vloek oor almal uitspreek – ook oor homself as hy ‘n valse leer sou verkondig (vgl. 1:8). Dit wys dat God se boodskap belangriker as die boodskapper is. Dit is nie wie preek wat belangrik is nie, maar of die boodskap in ooreenstemming met God se bedoeling is.

Galasiërs 1:11-12: Grondstelling

In hierdie twee verse gee Paulus ‘n kort opsomming van dit wat hy verder-aan wil bewys. Die dwaalleraars het van Jerusalem (op daardie stadium nog die sentrum van die Christendom) afgekom en het dit waarskynlik as ‘n argument gebruik om die gelowiges te oortuig dat hulle weergawe van die evangelie reg was. Vermoedelik het hulle ook Paulus se apostelskap onder verdenking probeer bring. Paulus sê nou dat hy hulle verkeerd gaan bewys: Sy evangelie kom van Christus af omdat Hy dit in ‘n openbaring aan hom gegee het. (Hy verwys hier na sy roeping op die Damaskuspad. Vgl. die bespreking by 1:15-16.) Sy evangelie was dus reg en die van die dwaalleraars was vals.

Galasiërs 1:13-24: Hoe God Paulus geroep het en wat hy daarna gedoen het

In hierdie gedeelte vertel Paulus ‘n stuk van sy lewensgeskiedenis. Hy doen dit nie bloot ter wille van die interessantheid daarvan nie, maar omdat dit ‘n bewys is dat sy evangelie inderdaad van God af kom.

1:13-14: Paulus begin by sy lewensgeskiedenis vóór sy roeping. Hy beklemtoon dat hy vroeër ‘n fanatiese aanhanger van die Joodse godsdiens was. Hy was nie net ‘n kenner van die Joodse leerstellinge nie, maar het sy ywer ook prakties gewys deur die Christene te vervolg. In sy pogings het hy selfs bo baie van sy volksgenote uitgeblink. Hoekom herinner Paulus sy lesers hieraan? Die rede hiervoor is dat die dwaalleraars die gelowiges in Galasië juis wou oorreed om praktyke uit die Jodedom te aanvaar. Paulus toon nou uit sy eie lewe aan dat hyself al daardie praktyke geken en nagekom het, maar dit alles laat staan het toe God hom geroep het. Die dwaalleraars was dus besig om die Galasiërs in verkeerde rigting te stuur.

1:15-17: Op pad na Damaskus het iets totaal onverwags met Paulus gebeur. God het tussenbeide getree en hom tot apostel geroep. As Paulus dié belangrike gebeurtenis in sy lewe beskrywe, beklemtoon hy dat dit ‘n Goddelike ingryping was wat daar plaasgevind het. Voorbeelde: Net soos die profeet Jeremia (vgl. 1:5) het God ook vir hom voor sy geboorte afgesonder; dit was God wat hom in sy genade geroep het (Let op: Paulus praat nie daarvan as sy bekering nie, maar as ‘n Goddelike roeping); en God het vir Jesus aan hom geopenbaar (dit verwys na die feit dat hy daar die opgestane Christus gesien het). Hy beklemtoon ook dat God hom reeds daar sy opdrag gegee het: Hy moes die evangelie aan die heidennasies gaan verkondig. Dus: hy het reg van die begin af die evangelie aan heidene te verkondig – net soos wat hy later ook in Galasië gedoen het.

In 1:16-17 beklemtoon Paulus dat hy ná sy roeping glad nie enige mense daar naby of selfs die ander apostels in Jerusalem gaan raadpleeg het nie. God se boodskap was so duidelik dat dit nie nodig was om so iets te doen nie. Hy het ook niemand anders (nie eers die apostels in Jerusalem) se “toestemming” nodig gehad nie. Dit bewys weer eens dat sy evangelie nie van mense af kom nie, maar van God af.

1:18-20: Hier vertel Paulus dat hy wel op ‘n stadium Jerusalem besoek het, maar dit was beslis nie om toestemming te gaan vra om die evangelie te verkondig nie. Let op hoe vertel hy dit: Dit was eers drie jaar later (Hy was dus lankal besig om die evangelie te verkondig); hy was net vir veertien dae daar; hy het net gegaan om met Sefas (d.w.s. Petrus), een van die leiers van die kerk in Jerusalem, kennis te maak (nie om toestemming te kry nie!); vir Jakobus, die broer van Jesus wat ook belangrike rol in die kerk in Jerusalem gespeel het, het hy net ontmoet; en die ander apostels het hy glad nie eens gesien nie. Paulus se argument is dus weer dieselfde: Sy evangelie kom beslis van God af en nie van mense nie.

1:21-24: Hier beklemtoon Paulus dat hy ná sy besoek aan Jerusalem vir ‘n baie lang tyd geen verdere kontak met Jerusalem of selfs met die ander Christelike gemeentes in Judea gehad het nie. Die punt is: Sy sendingwerk het onafhanklik van Jerusalem plaasgevind – hy het in opdrag van God die evangelie verkondig. Die gemeentes in Judea het daarvan gehoor en – anders as wat nou in Galasië gebeur het – het hulle geen kritiek gehad nie. Inteendeel, hulle het God verheerlik oor sy sendingwerk.

Hierdie gedeelte het ‘n aangrypende boodskap: Dit wat met Paulus gebeur het, weerspieël die aard van die ware evangelie: Dit is nie gebaseer op menslike prestasie nie, maar op God se genade. Dat iemand, wat so fanaties geveg het vir die behoud van die Joodse volk se identiteit soos Paulus, so ‘n totale ommekeer in sy lewe ervaar, bewys net een ding: Dit was God wat genadiglik in sy lewe ingegryp het.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (1)

DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (1)

Die Brief aan die Galasiërs is deur Paulus geskryf aan Christelike gemeentes in Galasië wat deur sy eie sendingwerk tot stand gekom het. Die rede vir die skryf van die brief is die feit dat hy die ontstellende nuus verneem het dat dwaalleraars besig was om ‘n valse leer in daardie gemeente te verkondig.

Die dwaalleraars was waarskynlik Joodse Christene wat sterk bande met die kerk in Jerusalem gehad het. Hulle het hulleself as Christene beskou en het ook in Christus geglo, maar het geredeneer dat blote geloof in Hom nie genoeg was om deel van God se volk te word nie. Daarom het hulle aan die Christene in Galasië verkondig dat daar nog bykomende vereistes was waaraan hulle moes voldoen voordat hulle deel van God se volk kon word. So byvoorbeeld het hulle van die gelowiges in Galasië verwag om hulle te laat besny (5:2-3) en om die Joodse feeskalender stiptelik na te kom (4:10).

Vir Paulus was die slegte nuus dat baie van die gelowiges blykbaar besig was om hierdie verdraaide leer te aanvaar (vgl. 1:6). Om hierdie rede skryf hy ‘n brief aan die gelowiges in Galasië waarin hy sy absolute bes doen om hulle te probeer oortuig om nie te swig voor die valse leer wat daar verkondig word nie. In sy brief probeer hy die hele tyd om die valse leer te ontmasker en verduidelik hy aan hulle dat dit wat hy aan hulle verkondig het, die ware evangelie is omdat dit van God af kom.

Die eerste lesers van Galasiërs

Kenners is ongelukkig nie vandag meer presies seker na watter gebied Paulus verwys as hy in 1:2 van Galasië praat nie. Dit kan na een van twee gebiede verwys. Dit kon verwys na die landstreek in die hart van Klein-Asië of te wel dan die meer noordelike dele van Klein-Asië. Andersins kan dit verwys na die Romeinse provinsie met die naam “Galasië” wat in 25 nC tot stand gekom het en nie net bestaan het uit bogenoemde gedeelte nie, maar ook meer suidelike gebiede soos Frigië, Likaonië en Pisidië ingesluit het. Galasiërkenners kan ongelukkig nie met absolute sekerheid bepaal na watter een van hierdie twee gebiede Paulus verwys as hy van Galasië praat nie.

As Paulus na die Romeinse provinsie verwys (die mees waarskynlike keuse), beteken dit dat hy die gemeentes tydens sy eerste sendingreis (ongeveer 46-48 nC) gestig het en dat hy dan hierdie brief vanuit Korinte (tussen 50-52 nC) geskryf het. As hy egter na die landstreek verwys, beteken dit dat die brief in Efese geskryf is (tussen 52 en 55 nC).

Die eerste lesers van Galasiërs was nie Jode gewees nie – heel waarskynlik Kelte. Voor hulle Christene geword het, was hulle heidene. Paulus verwys na daardie tyd in hulle lewe as die tyd toe hulle nog geestelik onmondig was (4:3), slawe van wettiese godsdienstige reëls was (4:3) en nikswerd afgode gedien het (4:8). Om tot die Christendom bekeer te word, was vir hulle ‘n wonderlike ervaring (vgl. 4:13-4:15). Juis daarom was Paulus so bekommerd oor die feit dat hulle nou besig was om alles in gevaar te stel.

Die hoofdele van die brief

Galasiërs bestaan uit drie groot dele, met nog ‘n kort inleiding voor- en ‘n slot agteraan. In die inleiding (1:1-10) begin Paulus sy brief op die tradisionele manier. Hy sê van wie af die brief kom, aan wie hy skrywe en groet hulle met ‘n seëngroet. Daarna sê hy hoekom hy die brief aan die gelowiges in Galasië skrywe: Hy wil hulle oortuig dat hulle besig is om ‘n valse evangelie te aanvaar en hulle terugbring na die ware evangelie.

In die eerste groot deel (1:11-2:21) gee hy ‘n oorsig van gebeure uit sy lewe. Hy vertel dit egter beslis nie bloot vir die interessantheid nie. Hy wil op hierdie manier bewys dat die evangelie soos wat hy dit verkondig, reg is en God se goedkeuring dra. (Kenners van Galasiërs praat dikwels hiervan as Paulus se “biografiese argument”.) Daarom mag die Galasiërs nie swig voor die valse leer wat in Galasië verkondig word nie. In die tweede groot gedeelte (3:1-5:12) praat hy eintlik oor presies dieselfde saak. Nou gebruik hy egter ‘n ander benadering. Hy vertel nie meer sy eie lewensgeskiedenis nie, maar gebruik ‘n aantal teologiese argumente om te bewys dat ‘n mens nie jou verlossing kan verdien nie, maar dat God dit genadiglik skenk aan dié wat in Jesus glo. (Kenners van Galasiërs praat hiervan as Paulus se “teologiese argument”.) In die derde groot gedeelte (5:13-6:10) kom Paulus by ‘n volgende saak uit, naamlik hoe behoort iemand wat in Jesus glo se lewe in die praktyk te lyk? (Kenners praat hiervan as die “parakletiese/vermanende gedeelte” in Galasiërs.

In 6:11-18 volg die slot van Galasiërs: Paulus skryf ‘n paar laaste gedagtes neer en sluit dan af met ‘n seëngroet.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie