DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (6)

DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (6)

Galasiërs 5:1-12 Moenie julle vryheid prysgee nie!

Hierdie gedeelte vorm die hoogtepunt van die reeks argumente waarmee Paulus in 3:1 begin het nie. Dit is nie ‘n verder bykomstige argument nie, maar eerder die afsluiting van al die sy argumente tot dusver. Op grond van alles wat hy tot sover gedikteer het (vgl. 6:11) doen hy nou ‘n baie dringende oproep op die gelowiges in Galasië: Moenie swig voor die dwaalleer en so die vryheid wat julle in Christus het, verloor nie!

In 5:1 som hy die essensie van die Christelike godsdiens in een woord op: vryheid. Net soos vandag het mense destyds op allerhande maniere gestrewe na ware vryheid. Sommige Grieke het byvoorbeeld gedink dat ware vryheid beteken het dat ‘n mens kan doen net wat jy wil. Dit is egter nie waar nie. Paulus wys hier dat die mense se ewige strewe na vryheid slegs bereik kan word deur in ‘n verhouding tot God te staan te kom. Dit is slegs moontlik deur Jesus Christus.

Omdat Paulus besef hoe aantreklik die dwaalleer vir die gelowiges in Galasië lyk, waarsku hy hulle dringend om af te sien van hulle planne. Hulle mag hulle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie (5:1). Dit beteken dat hulle nie moet terugval na ‘n soort godsdiens wat op die oog af Christelik is nie, maar wat in wese geestelike slawerny is nie. In 5:2-4 spel hy vir hulle die ontsettende konsekwensies uit: As hulle sou toegee aan die dwaalleer, beteken dit dat hulle hulle band met Christus verbreek en die genade van God verbeur. Dit is baie kras woorde wat Paulus hier gebruik, maar dit is nodig dat hy dit doen. Dit waarvoor die gelowiges in Galasië wou swig, was nie maar net ‘n onskuldige aanpassing aan die evangelie nie. Dit was ten diepste ‘n valse evangelie omdat die fondament van die evangelie, God se genade, aantas.

In 5:5 lig Paulus ‘n verdere wonderlike kenmerk van Christenwees uit: ‘n Christen is ‘n toekomsmens – iemand wat uit hoop lewe. In Afrikaans druk die woord “hoop” gewoonlik onsekerheid uit. As iemand sê hy/sy hoop dit gaan reën, is hulle nie seker of dit gaan reën nie. In die Bybel word die woord “hoop” egter heeltemal anders gebruik, want dit druk absolute sekerheid uit. Paulus sê gelowiges kan met 100% sekerheid vorentoe kyk na die oordeelsdag, want hulle weet dat hulle vrygespreek sal word. Die rede vir dié sekerheid lê nie in hulleself nie, maar in God. Die wat in Jesus Christus glo, is reeds vrysgespreek van hulle sonde (vgl. 1:16). Dit sal by die oordeelsdag finaal bevestig word. Intussen is die werking van die Gees is bevestiging van hierdie sekerheid.

In 5:6 beklemtoon Paulus dat gelowiges nie net toekomsmense is nie, maar ook aksiemense. Omdat hulle in Christus Jesus is (aan Hom verbonde is), is geloof vir hulle nooit blote breingimnastiek nie. Inteendeel, dit gaan deur liefde tot dade oor. Dit gaan nie hier oor geloof én dade of soos dit baie keer verstaan word nie: glo eers en doen dan later (dikwels nog met die idee dat die doen so ‘n bietjie minder belangrik as die dade is!). Vir Paulus is dit één gebeurtenis: Dit wat saak maak, is nie die besny of nie besny-kwessie nie, maar glo-doen in Christus se liefde.

In 5:7-12 loods Paulus weer ‘n direkte aanval op die dwaalleraars. Hulle het verhoed dat die gelowiges in Galasië by die waarheid bly (5:7), hulle ongehoorsaam gemaak (5:8); hulle dwaalleer was besig om soos suurdeeg alles te deursuur; hulle het selfs beweer dat Paulus ook ten gunste van die besnydenis was (5:11). Daarom spreek hy die hoop uit dat God hulle mag straf (5:10). Die verkeerde optrede van die dwaalleraars wys watter geweldige verantwoordelike taak ons op ons skouers neem as ons vir ander gelowiges probeer leiding gee. As ‘n mens dit probeer doen, moet jy eers baie seker maak dat jy inderdaad die evangelie self reg verstaan en nie besig is om ander mense die afgrond in te help nie.

Galasiërs 5:13-15 Die groot gevaar!

Tot sover in die Galasiërbrief het Paulus op een gedagte bly hamer: Deur die doen van die wet kan ‘n mens nie vryspraak vir jou sonde kry nie. Die enigste manier om vryspraak te kry, is deur geloof in Jesus Christus. Hy het oor en oor beklemtoon dat gelowiges vry van die wet is. Hulle hoef nie meer naarstigtelik die wet na te kom in die hoop dat God hulle sal vryspreek nie. Inteendeel, God gee vryspraak as ‘n geskenk aan die wat in Jesus glo.

Paulus besef egter baie goed dat mense hierdie gedagte heeltemal verkeerd kan verstaan. Gelowiges sou byvoorbeeld kon redeneer: As ons dan vry van die wet is soos Paulus hier sê, kan ons mos maar leef soos ons wil – solank ons maar net in Jesus glo. Dit is teen hierdie groot gevaar dat Paulus in 5:13-15 waarsku: Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie. Omdat alle mense – ook gelowiges! – hier op aarde nog onderworpe is aan hulle sondige menslike natuur, is die groot gevaar dat hulle sal toelaat dat hulle sondige natuur op loop sal sit met die geestelike vryheid wat hulle in Christus gekry het. Dit is egter totaal verkeerd omdat dit op ‘n groot misverstand berus. Christelike vryheid is nie net vryheid van (die wet nie), maar ook vryheid tot. Dit sê Paulus op ‘n aangrypende manier in 5:13: maar dien mekaar in liefde. Christelike vryheid moet gerig word op die naaste en gevoed word deur liefde. In die Afrikaanse vertaling gaan daar iets van die skok-effek van die Grieks verlore, want wat Paulus eintlik hier sê, is dat Christelike vryheid van mense slawe van die liefde maak. As ‘n mens dit reg verstaan, kan ‘n mens nooit ‘n houding hê van “ek maak wat ek wil nie”.

In 5:14 wys Paulus ook daarop dat Christelike vryheid nie noodwendig teenoor die wet van God staan nie. Hy haal ‘n vers uit Levitikus 19:18 aan waarin die beginsel van die liefde (wat hy so pas in 5:13 genoem het) ook genoem word. Die groot verskil tussen hom en die dwaalleraars in Galasië was egter watter rol aan die wet van God toegeken word. As ‘n mens (soos die dwaalleraars) sou dink dat die stiptelike nakom van die wet jou in ‘n beter posisie by God plaas, slaan jy die bal heeltemal mis. Aan die ander kant: As ‘n mens die dieper beginsel van opregte liefde agter die wet raaksien en dit as die maatstaf vir die praktiese uitleef van jou Christelike vryheid gebruik, verstaan jy die wet reg.

Galasiërs 5:16-26 Oorlog in julle binneste

Hierdie gedeelte is sekerlik die bekendste gedeelte in die hele Galasiërbrief. ‘n Mens moet egter versigtig wees om net hierdie stukkie te lees sonder om kennis te neem van dit wat Paulus in die res van sy brief sê. Daar is ten minste twee belangrike sake wat hy in die voorafgaande gedeeltes noem wat onontbeerlik is as ‘n mens 5:16-26 reg wil verstaan:

1. Geen mens kan vryspraak van sy/haar sonde kry deur goeie dade te doen nie. Die enigste manier om vryspraak vir ‘n mens se sonde te kry, is deur geloof in Jesus Christus. Aan dié wat in Hom glo, skenk God uit genade vryspraak van hulle sonde.

2. As ‘n mens in Christus glo, is jy geestelik vry. Dit beteken dat jy nie lang lyste moets en moenies het wat jy hoef na te kom nie. Om 5:13-26 reg te verstaan, moet ‘n mens dus oppas om nie daarvan ‘n lys moets en moenies te maak wat nagekom moet word om ‘n mens se verhouding met God reg te stel nie. Dit werk op ‘n ander manier: Omdat gelowiges se verhouding met God reeds reggestel is omdat hulle in Jesus glo en hulle dus geestelik vry is, moet hulle ernstig daarna streef om ons vryheid reg te gebruik.

Die vraag waaroor dit nou gaan is: Hoe leef iemand wat deur geloof in Jesus Christus vryspraak van sy/haar sonde gekry het? Paulus se antwoord hierop is kort en kragtig: deur die Gees van God (5:16). Om die antwoord reg te verstaan, moet ‘n mens die geestelike stryd in ‘n mens se eie binneste raaksien. In 5:16-19 beskryf Paulus die geestelike stryd wat daar in die lewe van elke gelowige woed. (Let wel: dit gaan hier spesifiek oor gelowiges en nie oor ongelowiges nie.) Aan die een kant is daar die gelowige se sondige natuur, dit wil sê ‘n mens se natuurlike instink om eerder die verkeerde as die goeie te doen en veral om alles wat jy doen so te doen dat dit uiteindelik jouself bevoordeel. Aan die ander kant is daar die Gees van God wat elke gelowige in sy/haar hart het en wat lynreg teenoor die sondige natuur te staan kom – amper soos twee gevegslinies in ‘n oorlog teenoor mekaar opgestel word. Prakties beteken dit dat ‘n gelowige as’t ware verskeurd is tussen sy/haar sondige natuur en die Gees. Aan die een kant voel ‘n mens lus om toe te gee aan jou sondige natuur en aan die ander kant wil jy luister na dit wat die Gees in jou hart vir jou voorsê. Die punt is egter dat ‘n gelowige oomblik vir oomblik die regte keuse moet maak. Daarom maak Paulus twee keer die oproep: Laat lei julle deur die Gees van God.

In 5:19-5:26 illustreer Paulus nou prakties wat hy bedoel deur twee lysies te maak van die soort dinge wat in ‘n mens se lewe na vore kom – afhangende van wie die geestelike oorlog in die gelowige se binneste wen. In die destydse wêreld het mense (ook in die heidendom) gereeld gebruik gemaak van sulke lyste van goeie en slegte praktyke. Dit was ook gewild onder die Jode. In die Christendom kom dit ook baie gereeld voor. Benewens Galasiërs 5:19-23 is ander voorbeelde hiervan ook in die Nuwe Testament is te vind. Vergelyk Markus 7:21-22; Romeine 1:29-31; 1 Korintiërs 6:9-10; 13:13; 2 Korintiërs 6:6; 12:20; Kolossense 3:5,8; 1 Timoteus 1:9-10; 4:12; 6:11; 2 Timoteus 2:22; 3:2-5 en 2 Petrus 1:5-7. Alhoewel daar baie oorvleueling tussen die verskillende lyste is, stem hulle nooit presies ooreen nie. Die doel was egter nie om ‘n volledige lys te gee nie; eerder om ‘n illustrasie van goeie en slegte dade te wees. ‘n Mens moet dus versigtig wees om enigeen van die lyste (byvoorbeeld die vrug van die Gees in 5:22-23) te hanteer asof dit ‘n volledige lys is.

Indien die gelowige swig voor sy sondige natuur en hom/haar nie laat lei deur die Heilige Gees nie, sal allerlei praktyke van die sondige natuur in sy/haar lewe na vore kom. In 5:19-21 gee Paulus ‘n lys wat sulke praktyke illustreer. Dit lyk nie of hy doelbewus ‘n bepaalde patroon in sy lys gebruik nie. Wat wel opvallend is, is dat hy aan die begin en aan die einde van sy lys in die algemeen ‘n klomp sondige praktyke noem wat vir enige mens (selfs heidene met hoër morele standaarde) teen die bors sou stuit, terwyl hy in die middel van sy lys konsentreer op sondige praktyke wat hoogty gevier het onder die gelowiges in Galasië – juis as gevolg van die teenwoordigheid van die dwaalleraars. Voorbeelde van die meer algemene sondige praktyke is onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery … dronkenskap en uitspattigheid. Voorbeelde van sondige praktyke wat die twis in Galasië weerspieël, is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns. Op dié manier wys Paulus weer eens vir hulle dat die dwaalleer presies die teenoorgestelde regkry as wat dit bedoel: Dit maak nie mense geestelik vry nie, maar slawe van hulle sondige natuur.

In 5:22-23 wys Paulus hoe die lewe van ‘n gelowige sal lyk wat werklik onder beheer van die Heilige Gees lewe. In sy/haar lewe sal die vrug van die Gees sigbaar word. As ‘n mens hierdie lys met die lys van die praktyke van die sondige natuur vergelyk is daar opvallende verskille. Daar is veral twee sake wat uitstaan:

  • Die praktyke (meervoud!) van die sondige natuur bestaan uit ‘n klomp onaangename goed wat feitlik almal verbind kan word aan skielike opwellings van emosies of sondige luste. Aan die ander kant bestaan die vrug (enkelvoud!) van die Gees uit ‘n klomp sake wat op ‘n stil en rustige manier in ‘n mens se lewe te voorskyn kom.
  • Die praktyke van die sondige natuur spruit voort uit mense se beheptheid met hulleself, hulle soeke na selfbelang en eiegeregtigheid. Daarteenoor is die vrug van die Gees ‘n gawe wat God deur sy Gees aan gelowiges gee wat naby aan Hom leef. Dit beteken natuurlik nie dat ‘n mens rustig agteroor kan sit en wag dat dié sake vanself te voorskyn moet tree nie. ‘n Mens moet self ook daadwerklik daarna strewe. Tog is dit nie ons pogings wat die deurslag gee nie, maar die feit dat ons aan Christus Jesus behoort (5:24) en ons sondige natuur daarom saam met Hom gekruisig is.
  • Paulus noem spesifiek dat die vrug van die Gees nie teen die wet is nie (5:23c). Dit bevestig dat daar niks met die wet as sodanig fout is nie. Die probleem ontstaan wanneer mense God se wet begin sien as ‘n manier om vryspraak van hulle sonde te verdien.
Geleerdes is nie eenstemmig oor die vraag of daar ‘n doelbewuste patroon in die lys in 5:22-23 is nie. Die meeste deel dit op in drie groepe van drie, maar dit bly moeilik om presies te sê wat elke groep van die ander groepe onderskei. Wat egter met groter sekerheid gesê kan word, is dat die een wat heel eerste in die lys staan (liefde) klaarblyklik die meeste klem kry. ‘n Mens sou selfs kon sê dat die ander agt almal voortspruit uit die liefde. (Vgl. ook 5:14.).

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie