Die idee van die wegraping [1]

Die idee van die wegraping [1] – Dirk Venter

Sodra ʼn mens oor die Wederkoms van die Here begin praat, is die heel belangrikste vraag wat gevra kan word: “is ek gereed?”  “Wanneer die-kinders-van-die-Here en die-res van mekaar geskei gaan word, in wie se geselskap gaan ek myself bevind?”  In die lig van hierdie vraag, is die besonderhede van die Wederkoms nie eintlik so belangrik nie.  Die belangrikste is dat dit gaan plaasvind, en dat elkeen van ons persoonlik gereed moet wees wanneer dit plaasvind.  As iemand dus geleer is dat die Wederkoms gaan plaasvind by wyse van ʼn wegraping, en dit het die gevolg gehad dat die persoon besef dat hy/sy onvoorbereid was, sy/haar lewe oorgegee het aan Christus as Verlosser en Koning (en gevolglik voorbereid is op die Koning se koms!), is dit reg so.  Die punt is immers dat die Wederkoms gaan gebeur en dat mens reg moet wees daarvoor, nie noodwendig hoe of wanneer dit gaan gebeur nie.

Die “wegraping” (al dan nie) moet dus nie te belangrik gemaak word, of tot ʼn geskilpunt verhef word nie.  As gelowiges moet ons nie toelaat dat iets van sekondêre belang ons in kampe verdeel nie!  Tog het die idee van die wegraping in die laaste paar jaar prominensie verkry, ook in Suid-Afrika, en wil ons as gelowiges graag weet wat die Bybel daaroor sê (of nie sê nie).  Gevolglik wil hierdie reeks artikels kortliks daaraan aandag gee.

Leer die Bybel duidelik dat daar ʼn wegraping gaan plaasvind?  In kort is die antwoord hierop: “nee”, maar die saak is nie heeltemal so eenvoudig nie – lees dus gerus die hele reeks artikels oor hierdie tema.  Die idee van die wegraping het voortgespruit uit die optelsom wat gemaak is van ʼn reeks ongelukkige (onbedoelde) interpretasiefoute van sekere teksgedeeltes in die Bybel.  Nadat hierdie paar interpretasiefoute bymekaar getel is, het dit ʼn prentjie van Christus se Wederkoms geskets wat in der waarheid nie meer ooreenstem met die bedoeling van die Nuwe Testament nie.  Met hierdie prentjie in gedagte, word die idee van die wegraping dan ook dikwels in ander teksgedeeltes van die Bybel ingelees, terwyl daardie teksgedeeltes in der waarheid niks daaroor sê nie.

Hoe verloop die “laaste dae”, na aanleiding van die wegrapingsidee?

Daar is verskillende variasies op die idee van die wegraping, maar hierdie reeks artikels is veral toegespits op die variasie wat tans die bekendste is, veral nadat dit  populêr gemaak is deur die Left Behind-reeks van Jerry B. Jenkins en Tim La Haye (uitgegee kort voor die emosioneel belade jaar 2000; Christian Art Publishers).

Left Behind-reeks geskets word van die “laaste dae”, stem grootliks ooreen met die “bedelings-premillenium” interpretasie, wat soos volg lyk.  Na Christus se hemelvaart volg die tydperk (bedeling) van die kerk op aarde.  Aan die einde van hierdie tydperk keer Christus (ongemerk deur die ongelowiges) terug met die wolke (ʼn eerste wederkoms) en word die gelowiges (die Bruid / die kerk) “weggeraap” om by Hom in die hemel te gaan wees, en so die “groot verdrukking” van sewe jaar gespaar te word (die volgende tydperk / bedeling).  Tydens hierdie sewe jaar kom (die grootste deel van) die volk Israel tot bekering, kom die antichris aan bewind, en tref allerlei rampe en teenspoed die aarde (die 7 seëls, trompette en bakke van Openbaring).  Na afloop van die “groot verdrukking” keer Jesus terug na die aarde (ʼn tweede wederkoms), verslaan Hy die antichris by die groot slag van Armageddon, word die duiwel in die onderaardse diepte gegooi, en word die martelare van die groot verdrukking opgewek.  Hierna volg die volgende bedeling, naamlik die “duisendjarige vrederyk”, waartydens die opgewekte martelare letterlik vir ʼn duisend jaar saam met Christus heers op die aarde, vanuit die hoofstad Jerusalem.  Aan die einde van hierdie bedeling word slegs die ongelowiges opgewek om geoordeel te word (aangesien die gelowiges wat voor die wegraping gesterf het, toe reeds opgewek is [eerste opstanding?] en saam met die lewende gelowiges weggeraap is, en die gelowiges wat tydens die verdrukking gesterf het, ook reeds opgewek is [tweede opstanding?] om die 1000 jaar saam met Hom te regeer).  Na hierdie (finale) opwekking en oordeel volg die laaste bedeling, naamlik die ewigheid, waartydens die gelowiges in die nuwe Jerusalem woon en die ongelowiges in die hel is.

 

Dit is dus duidelik dat die idee van die wegraping deel is van ʼn redelik gekompliseerde uiteensetting van ʼn reeks gebeure in die eindtyd.  Dit is natuurlik ook die rede waarom daar verskillende variasies van die idee is – voorstanders van die wegraping (en die tydperke daarrondom), verskil oor die volgorde waarin dinge veronderstel is om te gebeur.  Die vraag is egter of die Bybelse teksgedeeltes, waaruit die wegraping en samehangende gebeure afgelei word, deur God gegee is om vir ons so ʼn gekompliseerde uiteensetting van die laaste dae te skets?  Is dit werklik die bedoeling of boodskap van hierdie teksgedeeltes?

Die volgende twee artikels in hierdie reeks sal aandui hoe die verkeerde uitleg van veral twee teksgedeeltes die wegrapingsidee (soos voorgestaan deur die Left Behind-reeks) help vorm het.


Lees gerus meer in:

DU RAND, J.   2007.  Die A – Z van Openbaring.   Vereeniging : CUM.

 

Outeur: Ds Dirk Venter