Die Kruis-en-die-Kroon(2)

Die Kruis-en-die-Kroon Deel 2

Binne die heiligheidsbeweging is daar verskeie groepe wat die kombinasie van die kruis-en-kroon as wapen of logo gebruik.  Pastoor Ollie Raper vertel so dat hy twintig jaar gelede in Edinburgh, Skotland in ‘n boekwinkel op ‘n kerkgroepering, Christian Mission, wat sterk op sendingwerk ingestel is, se wapen afgekom het.Die groepering het noue bande met Andrew Murray, Nederduits Gereformeerde predikant en bekende in heiligheidskringe as spreker by die Keswick-konferensies.  En hulle wapen is die kruis-en-kroon.  Ook by ander groepe is die wapen gebruik.

Uit die heiligheidsbeweging groei (onder andere) die kerk wat John Alexander Dowie stig, die Christian Catholic Church in Zion.  Dowie preek teen die gebruik van alkohol, tabak en varkvleis, en plaas groot klem op die leerstelling van goddelike genesing.  Hy verbied sy mense om enige medikasie te gebruik.  John G Lake word ‘n ouderling in hierdie kerk, en Dowie stel hom aan as bestuurder oor die boubedrywighede van die stad wat rondom die kerk groei.  Later word Lake ontnugter deur die grootheidswaan wat al meer by Dowie voorkom, en hy bedank uit die kerk.

Dowie stuur Johannes Büchler, en later Daniel Bryant na Suid-Afrika om Sionistegemeentes te stig.  Uit hulle werk ontstaan gemeentes in Johannesburg, Benoni en Krugersdorp.  Wanneer Bryant terugkeer na Amerika, vaar sy skip verby dié van Lake en Thomas Hezmalhalch wat op pad is om die Pinksterboodskap na Afrika te bring.  En die Sionistegemeente in Johannesburg ontvang die twee Amerikaanse sendelinge gulhartig, en hulle gemeente word die AGS se eerste gemeente.

Ook Dowie se Sionistebeweging gebruik die kruis-en-kroon as wapen, naas verskeie ander.

Sover in die geskiedenis van die AGS teruggegaan is, kom die wapen voor.  Waarskynlik het Lake dit reeds gebruik.  Die amptelike maandblad van die AGS, Comforter and messenger of hope, het reeds in 1913 die wapen op sy voorblad vertoon.  Heel moontlik is die wapen van die Sionistebeweging van Dowie oorgeneem, wat dit weer by die breër heiligheidsbeweging geleen het.

Die ouer AGS-lidmate bring die wapen in verband met die slagspreuk, ‘Geen kruis, geen kroon’.

In die eerste helfte van die tagtigerjare doen die AGS aansoek by die Heraldiese Vereniging om die wapen amptelik te registreer.  In antwoord op ‘n advertensie wat die Vereniging plaas, teken ‘n kerk van die Aposteltradisie in Amerika beswaar aan en verduidelik dat dit grootliks met hulle wapen ooreenstem.  Die direkteur van die Vereniging stel voor dat ligstrale (‘n son) saam met die kruis gebruik word, en die wapen word dan ook so geregistreer.

 

KRUIS-EN-KROON EN VRYMESSELAARS?

Die kruis, kroon en son speel ‘n belangrike rol in die simboliek van Vrymesselary.  Die Vrymesselaars skryf die oorsprong van hulle tekens toe aan die antieke Egiptenare, en verduidelik dat elke teken vier onderskeie betekenisse het wat elk in die ander opgesluit is: ‘n morele, politieke, filosofiese en geestelike betekenis.  Die simbole word byvoorbeeld polities geïnterpreteer in terme van ‘n magstryd teen enige vorm van politieke of godsdienstige despotisme.

Die kruis het vir die Vrymesselaars nie ‘n spesifieke Christelike betekenis nie, maar is eerder embleem van die natuur en ewige lewe.  Die X-teken is die teken van kreatiewe wysheid of Logos, wat ook na die Seun van God kan verwys.  Die teken van die son verwys weer na die herskepping wat die son se strale vir die natuur inhou na die lang wintermaande, en verteenwoordig heilige vuur, wat waarheid en liefde is.  Die Vrymesselaar wat die dertigste graad bereik, trap op die kroon as teken dat hy hom wreek op kerklike en politieke gesag wat mense onderdruk.

Alhoewel die tekens van die kruis, kroon en son dikwels in Vrymesselaargeskrifte voorkom, kon die kombinasie van die drie nêrens opgespoor word nie.  En in elk geval verskil die betekenis wat hulle aan die tekens heg, soveel van die Christelike kerk dat daar nie van enige verband tussen die twee gepraat kan word nie.

 

Skrywer: Dr Marius Nel