Ek glo dat al my gebede gehoor en verhoor word!!! – Johann Voges

Lukas 18:1-8

Wanneer dink jy het ʼn mens klaar gebid vir iets wat jy dink jy nodig het of wanneer het ek genoeg vir iemand gebid wat ek dink die Here se hulp nodig het… is dit die slag as ek daarop ‘amen’ gesê het of is dit iets wat aanhou tot ek voel of weet dat dit gebeur het soos wat ek daarvoor gevra het? Is dit waaroor ‘bid sonder ophou’ gaan… om aan te hou tot ek kry wat ek vra of het die aanhou eerder iets te make met die gewoonte om gereeld te bid? Ek sou dalk in dieselfde asem ook kon vra… dink jy dat elke gebed wat ʼn mens bid ook verhoor raak al kry ek nie altyd presies waarvoor ek gevra het nie? Dis partymaal asof ons so angstig raak oor hoe die uitkoms van ons gebede moet wees dat ek enige gebedsresepie of maniertjie sal naderhark om te verseker dat my gebede tog net verhoor ordentlik verhoor kan raak… is dit al rede waarom ek bid sodat my gebede verhoor moet kan raak… ?

Ons angstigheid oor gebedsverhoring kan ons nogal deperaat laat raak veral in daai verwagting wat ek het oor hoe ek dink die liewe Vader my gebede oor my basiese behoeftes behoort te antwoord. Kom ek probeer verduidelik… ons almal het drie basiese behoeftes in die lewe… 1ek wil veilig voel / wees, 2ek wil voel dat ek iets in die lewe beteken / iets werd is en 3ek wil graag liefgehê word. Dat meeste van my gebede hieroor gaan, kan jy tog verstaan, want dis hier waar ek elke dag gemaak of gebreek kan raak as dinge daar verward loop raak.

Saam met my basiese behoeftes, sê vandag se mense is daar drie dinge in die lewe wat vir my ononderhandelbaar is… 1ek wil nie NEE hoor nie, 2ek wil nie wag nie en 3ek wil nie seerkry nie. As jy nou ’n resep vir gebedspro­bleme wil hê, dan moet jy hierdie klomp behoeftes en on­onder­handel­bare goeters by­mekaar gooi en so effe deurmekaar roer. As dit waarvoor jy gevra het dan nie gebeur soos en wan­neer jy gedink het dit sou nie, begin wonder jy of mense en die Here rêrig verstaan of om­gee oor wat ek op hierdie oomblik dringend nodig het.

Hier in Lukas18 vertel Jesus juis ’n storie oor hierdie soort verwarring wat in jou binneste soms kom nesmaak as die werdgeit van jou gebede en behoeftes bevraagteken raak. Dis ’n storie wat eintlik uit verskillende legkaartstukkies bestaan wat oral hier in Lukas18 rond gestrooi lê. As jy dit sou kon reg­kry om al die verskillende stukkies wat bymekaar hoort, aanmekaar gesit te kan kry, sal die prentjie van die storie wat Jesus hier vertel, vir jou meer sinmaak as wat die woorde van hierdie ou wêreldse storie so op die oor af vir ʼn mens se hedendaagse ore klink.

Die kern van Jesus se storie kry jy hier in 182 – 5, waarin vertel word van dié ongeskikte regter wat vir g’n mens of selfs God enige respek het en van ’n weduwee tannetjie wat nie ‘nee’ vir ’n antwoord vat nie. Vir ons moderne ore sê die storie eintlik niks nie, maar vir daaitydse mense is dit ’n storie vol grillerige goeters wat hulle na hul asem laat snak het.

1Om te verstaan waar die eerste legkaartstukkie inpas, moet jy eers iets meer weet van wat die verantwoordelikheid en verwagting van ’n regter in daaityd se wêreld was. In 2 Kronieke19 lees mens dat met die hervorming van die Israelitiese regtelsel in Jerusalem koning Josefat sekere leviete, priesters en familiehoofde as regters aangestel het onder die volgende voorwaardes:

6Wees versigtig in julle werk. Onthou dat julle as regters nie mense tevrede moet stel nie, maar vir die Here. Hy sal julle help wanneer julle uitspraak lewer. 7Wees versigtig vir die Here en dink mooi wat julle doen, want die Here verdra geen onreg, partydigheid of omkoopgeld nie9julle moet altyd so optree dat julle die Here tevrede stel. Doen julle werk getrou en met toewyding. 2 Kron 19:6 – 9 . Die regter hier in Jesus se storie is alles behalwe dit… dis soos om in ons tyd te vertel van ’n polisieman wat ʼn skelm is of ’n predi­kant wat ʼn leuenaar is of ʼn onderwyser wat kinders haat…dis goeters wat net nêrens veronderstel is om ooit bymekaar te hoort nie.

2Die tweede legkaart stukkie wat hierby hoort, is om te verstaan hoe daaitydse mense oor wedu­wees in die samelewing gedink het… daarvoor moet ons terugblaai na die eerste bladsye in die Bybel. In Eksodus22  lees ʼn mens wat die Here van die begin af al vir Moses hieroor gesê het…

 22Jy moenie weduwees en weeskinders uitbuit omdat hulle nie ’n man het wat vir hulle sorg nie. 23-24As jy dit doen en hulle kom kla by My en vra My om hulle te help, sal Ek hulle kant kies. Ek sal met woede teen jou losbrand en Ek sal jou in die oorlog laat doodgaan. Jou eie vrou sal dan ’n weduwee word en jou eie seuns ook weeskinders sonder iemand om vir hulle te sorg.

Ook Jakobus, een van Jesus se jonger broers het in die Nuwe Testamentiese tyd hieroor gesê…

Laat ek vir julle sê watse soort godsdiens God ons Vader as eg en eerlik sien: as jy bereid is om dié mense te help wat nie vir hulleself kan sorg nie, maar in die nood is (letterlik vertaal.. die weduwees en weeskinders), [dan] is jy besig met die regte godsdiens.Jakobus 1;27. Weduwees is destyds beskou as die kwesbare mense in die samelewing… mense wat hul gevoel van êrens hoort verloor het… daarom moes die samelewing sorg dat haar nêrens-meer-tuishoort gevoel nie onnodig uitgebuit raak deur mense wat uit haar weerloosheid probeer voordeel trek of wat gewoon net nie meer traak oor wat van haar word nie.

As ʼn mens nou hierdie twee legkaartstukkies bymekaar probeer sit, kom jy agter dat daar in dié Jesusstorie ʼn klomp skroewe los is wat nie be­hoort te wees nie. Die een wat veronderstel is om uit respek vir die Here te moet sorg dat kwesbare mense nie seerkry nie, gee nie flenter om oor wat met daai mense om hom gebeur nie, solank sy eie naam en reputasie net nie daardeur geraak word nie. Die arme kwes­bare een in die storie, wat veronderstel is om deur ander mense versorg te word, sorg hier vir haarself… sy is die ene wat opstaan en nie stilbly oor wat verkeerd is nie… ʼn stemlose wat haar stem hier dikmaak oor die onreg, partydigheid en omkoopery wat die regter veronderstel is om hok te slaan.

3Om die bedoeling van hierdie verkeerdomgeit in  Jesus se storie reg te verstaan, het ons ʼn derde legkaartstukkie hier uit Lukas18 nodig, vers1Jesus het vir sy volgelinge die volgende verhaal vertel om hulle te leer om aan te hou bid:Luk 18:1. Hoe verander hierdie ‘aanhou bid’ rede dan nou die kern-storie oor ʼn regter wat nie sy sout werd is en ʼn weduwee tannetjie wat nie kan stil bly nie…

Baie mense wil graag hieruit aflei dat dit eintlik Jesus se wen­resep vir gebede is om verhoor te raak… jy vat nie ‘nee’ vir ’n antwoord nie… jy hou eenvoudig aan vra tot die Here gee waarvoor jy gevra het. As die Here dan nie na jou alleen wil luister nie, dan loop kry jy sommer vir jou nog ʼn ander klomp mense wat saam met jou ʼn gebedsaflos kan hardloop totdat die Here gee waarvoor almal van julle aan die vra is. Dit klink vir my eerder soos om sommer alle legkaartstukkies wat jy waarookal oor gebed in die hande kon kry bymekaar te wil gooi en dan dink jy kan iets daaruit aan mekaar gesit kry oor gebedsverhoring… absurd. Hier’s net te veel los legkaart stukkies in dié storie nooit by mekaar kan pas nie. Want jy sien, die regter in die storie help die weduwee tannietjie nie omdat sy so knaend is of omdat hy vir haar bang is nie… hy help haar omdat hy van haar ontslae wil raak want sy is besig om vir hom ’n al groter ver­leentheid te raak. Hy is bekommerd oor wat mense van hom gaan dink as hy toe­laat dat hierdie weduwee se nonsens sy regter werdgeit begin bevraagteken… oor die blou oog wat sy hom dalk kan gee, is miskien eerder die kleur van die klad op sy naam as die klap deur die gesig waarvoor hy bang is. Dié regter se vrese en persoonlike nonsens kan tog nooit ooit ’n rede wees waarom die Here ge­bede sou verhoor nie, Jesus sê dit self hiervs 7

Miskien moet ons kyk of hier nie ’n paar ander los legkaartstukkies in die res van hierdie perikoop rondlê waarin Lukas Jesus se storie oor­vertel wat bymekaar hoort om die storie beter te verstaan binne die groter prentjie waarin dit destyds vertel is nie… daarvoor sal ons vers 6 – 8a hier moet bysit …6Die Here Jesus sê toe: “Sien julle dat daardie hardkoppige regsgeleerde op die ou end bereid was om die vrou te help? 7Wat sal God dan nie alles doen vir sy kinders wat Hy persoonlik uitgekies het om in Hom te glo nie? 8Hy luister na almal wat dag en nag tot Hom bid. Hy sal uitkoms gee. En gou ook! Hou maar net aan om te bid Luk18:6 – 8a 

As ek hierdie paar legkaartstukkies by Jesus se oorspronklike storie bysit, verander dit nogals die prentjie in Jesus se storie so effe. Nou gaan dit nie meer oor ’n regter wat nie sy sout werd is of ’n weduwee tannetjie wat nie kan stil bly nie. Nou begin die storie vir my en jou wat hierna luister vra… hoe lyk my en jou prentjie oor wie God vir ons in ons elke dag lewe is… dalk soos die regter’sn of eerder die weduwee tannetjie…?

Daar is nogal mense wat dink dat God soos die regter in die storie is omdat hulle ervaar dat Hy selde vir hulle gee waarvoor hul eintlik gevra het. Daarom sal hulle soos die weduwee tannetjie aanhou om dieselfde ding oor en oor te bly vra… miskien oortuig dit die Here oor hoe ernstig hulle is oor wat hul vra. Dieselfde getemery kry ʼn mens by kinders ook wat nie ‘nee’ vir ʼn ant­woord wil vat nie. As ek dan met my getemery nie kry wat ek wou hê nie, staan daar gewoonlik ʼn gewiptgeit hier in my op wat almal verdink en beskuldig van allerhande goeters wat niks met vra of kry uit te waai het… ʼn kwaadgeit gewoon net omdat ek nie my sin gekry het nie

Dink jy God is soos die regter in hierdie storie. Jesus, sê hier… Ek hoop rêrig nie dat jy My ooit hiervoor sal verdink nie… dat daar ooit ’n dag in jou lewe mag kom dat jy twyfel oor my omgee vir jou nie. Ek het jou lief en wil vir jou net die beste, maar oor wat daai beste vir jou veronderstel is om te wees, sal jy êrens moet leer om My daarvoor te kan vertrou Ek dink Ek verstaan die groter prentjie waarnatoe ons op pad is dalk effe beter as jy. Hoekom sal Ek vir jou iets weier as Ek weet dat dit tot jou beswil is. Die ou kerkvader, Luther het eenkeer gesê het… God is so goed, dat selfs al vra ons Hom nie meer nie, sorg en voorsien Hy nog steeds net soos ’n hemelse Vader alleen kan. Miskien is my probleem om die Here altyd blindelings te bly vertrou vir die gebedspad wat ons saamloop … dat ek daarin dit nie altyd ewe goed verwerk kry die slag as Hy ‘nee-sê’ vir wat ek gevra het of as Hy anders gee of doen as wat ek gedink het Hy sou.

Is God dalk miskien eerder vir jou soos die weduwee tannetjie in die storie… die kwesbare ene. Wel, eintlik hou niemand van so ’n prentjie van God nie. Tog is dit presies wat gebeur het die dag toe God gekies het om my en jou onvoorwaardelik lief te hê. Toe het Hy die keuse ge­maak om vir my en jou ’n eie wil te gee om self te kan besluit, was dit ook ’n keuse om seer te kan kry of teleurgesteld te raak. Jy sal weet hoe werk dit van die dag af toe jy ook hierdie besluit oor jou eie kind (ers) in jou lewe moes maak. Hoekom God soos die weduwee in hierdie storie… sien jy vir Jesus in daaitydse samelewing, wat met almal aanhou aan die praat is oor wat Hy weet die regte ding is om te doen, maar niemand wou na Hom luister nie. Later het hulle oral van Hom ontslae probeer raak omdat hulle net nie langer meer sy inmengery in hul lewe kon vat nie, soos die regter wat van die weduwee tannetjie in hierdie storie ontslae wou raak.

Dis waarom Jesus destyds dié storie hier vertel. ʼn Storie om te vra … my kind hoekom twyfel jy oor my sorg en liefde vir jou… en dan sit Jesus sommer self nog ʼn legkaartstukkie by, vers 8b

“Ek is egter oor een ding bekommerd. Glo julle regtig wat Ek sê? Sê nou Ek kom later terug na die wêreld toe en Ek vind dan uit dat julle nooit aanhou glo het nie? Glo en bid, want een van die dae breek God se nuwe wêreld aan”Luk 18:8b

Met dié vraag wou Jesus sê… die vraag is nie of jy altyd gaan kry waarvoor jy gebid het of hoe ernstig jy voel oor wat jy graag wil hê of wie jy dink God in jou lewe is of nie is nie. Waaroor Ek eintlik bekommerd is, is oor jou elke dagse geloofslewe… hoe sien jy God en jouself as sy kind in hierdie dorp en gemeente… waar is jy in God se wêreld van elke dag… dalk soos die regter besig om net vir jouself te sorg… is al wat jou heeldag besig hou wat die mense dalk van jou gaan dink of hoe jy ander kan gebruik tot jou eie voordeel… hoe of waaraan dink jy moet mense elke dag om jou God in jou aan die werk kan sien?

Of is jy dalk soos die weduwee tannetjie in hierdie storie besig om te bly worstel met die vraag van wat kan ek doen om ’n verskil te maak in my omgewing. Wat kan ek doen dat die mense om my elke dag iets ervaar van God se liefde vir hulle. Wat kan ek doen om troos te bring waar mense hartseer is… dat mense veilig kan voel waar hulle bang is. Voel dit vir jou of jou keel wil toetrek soos die weduwee in die storie omdat dit voel of niemand na jou wil luister omdat jy nie seker is of jou druppeltjie in die emmer enige verskil gaan maak nie. My kind hou uit en hou aan. Ek is saam met jou besig aan die heel­maak van die stukkend wat jy elke dag om jou sien ge­beur… maar in die proses sal jy My moet leer vertrou vir die pad wat ons saamloop. Dis die geloof wat Ek van jou vravs 8 daai iets wat mense My deur jou moet kan sien lewe.

In vers 8 sluit die perikoop dan met ‘n verassende toepassing van die gelykenis op die situasie van die dissipels af… die gelykenis het begin waar die kerk vrae begin vra oor God se wil en vermoë om sy koninkryk te laat kom en dan eindig die gelykenis met die eintlike probleem waaroor dit gaan, die kommervraag of die kerk tot die einde sal bly glo en respek en waardering sal hê vir God se plek in my lewe en my plek in syne.

Ons het altyd gedink dat die probleem die Here se onwilligheid is om te luister of te gee na wat ons vra, terwyl Jesus met die gelykenis wou sê, die probleem is eerder by sy kerk wat nie meer vra nie. Ons het gedink die probleem lê by God wat nie sy deur vir ons wil oop­maak en antwoord nie, Jesus sê die eintlike probleem is dat ons nie meer klop nie…

Gebed gaan nie net oor hoe ek en my goetertjies elke keer tot hul reg kom nie, maar ook oor hoe God se saak in die wêreld deur my tot sy reg kom… gaan oor hoe my manier van glo iets vertolk van God se teenwoordigheid in my wêreld en watter verskil dit in mense se lewens om my elke dag maak… gaan oor ‘n stuk geloofsbelydenis om soos die tannetjie nie bang en skaam te wees vir wat geloof in die Here vir my beteken nie.

Om in gebed vir my hemelse Vader iets te vra hoef ek rêrig nie eers allerhande snaakse goeters te doen om Hom te probeer oorreed of om te praat of te oortuig van my erns nie. Gebed  is ʼn gesprek tussen my en die Here oor hoe ons oor mekaar en die lewe dink en voel… dit gaan nie oor wat ek alles te vra of te sê het nie, maar hoe ek by God is. Dis nie woorde aan God nie, maar eerder ʼn vraag na hoe lewe ek saam met God. Gebed is die enigste manier om te word wat God my eintlik bedoel het om te wees en dis om Hom te vertrou vir die geloofspad wat Hy elke dag met my saamloop.

Skrywer: Dr Johann Voges