Engele in die Bybel (11)

Engele in die Bybel (11)

Engele in Openbaring

Vir baie mense is die boek Openbaring ‘n vreemde boek. Dit is asof ‘n mens skielik in ‘n ander wêreld is: vreemde simbole, snaakse getalle, aardige diere… Tog sou die mense vir wie Openbaring oorspronklik geskryf is, allesbehalwe ontuis gevoel het toe dit vir hulle voorgelees is. In die destydse wêreld was daar ‘n hele groep mense wat baie goed geweet het hoe ‘n mens sulke boeke moet verstaan. Vir moderne mense is Openbaring dalk ‘n boek wat so half een kant staan, maar vir hulle was dit deel van ‘n hele klomp boeke wat so geklink het. Geleerdes noem hierdie soort boeke apokaliptiese boeke. Dit beteken dat hulle “bekendmakingsboeke” is wat almal min of meer op dieselfde manier geskryf is. So byvoorbeeld gebruik hulle graag simbole. Hulle beklemtoon ook almal dat die einde van die tyd naby is. Verder is almal op so ‘n manier geskryf dat hulle bestaan uit ‘n klomp bekendmakings wat uit die hemel kom. Daarom gee hulle gewoonlik ook baie aandag aan die hemel en aan die engele. Dit kan ‘n mens ook baie goed in Openbaring sien. Van die 175 keer wat die woord “engel” in die Nuwe Testament gebruik word, kom dit 67 keer in Openbaring voor.

Vir die mense vir wie Openbaring geskryf is, was dit ook asof hulle in ‘n ander wêreld ingegaan het as hulle na Openbaring geluister het, maar dan op ‘n ander manier as wat dit vir ons na ‘n ander wêreld voel. Vir hulle was dit ‘n beter en lekkerder wêreld as die een wat hulle elke dag in die oë moes kyk. Die wêreld waarin hulle geleef het, was ‘n wêreld wat hard en ongenaakbaar teenoor Christene was. Dit was ‘n wêreld waarin die Romeinse keiser almagtig was en selfs as god vereer is. Dit was ‘n wêreld waarin Christene onwelkom was en gedurig op een of ander manier benadeel is omdat hulle in Jesus geglo het. Wanneer hulle na Openbaring geluister het, is hulle meegevoer na ‘n wêreld wat heeltemal anders was. In Openbaring is hulle gerusgestel dat God in beheer is en dat Hy besig was om sy plan met die wêreld stap-vir-stap uit te voer. In Openbaring is hulle ook aangemoedig om vas te staan en uit te hou in die alledaagse wêreld waarin hulle die spit so moes afbyt. Hulle kon vorentoe kyk en vorentoe lééf omdat hulle seker kon wees dat Jesus weer op pad terug was na die wêreld.

Dit is ook belangrik om te besef dat daar een groot verskil is tussen Openbaring en al hierdie ander “bekendmakingsgeskrifte” wat ook in daardie tyd geskryf is. In Openbaring speel Jesus Christus altyd die Hoofrol. Daar is nie ‘n hoofstuk in Openbaring waarin Jesus nie genoem word. Alles draai om Hom. Soos Jesus self in Openbaring sê: Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde (Openbaring 22:13.) Dit maak dat Openbaring in sy diepte heeltemal anders is as al die ander bekendmakingsgeskrifte – selfs al is daar soveel ander sake waarin hulle ooreenstem. Uiteindelik draai alles om Hom – ook as die engele genoem word, is dit nie omdat hulle op sigself interessant is nie, maar omdat hulle ‘n rol speel in God se Groot Plan met die wêreld – die plan wat geanker is in Jesus Christus, die Lam van God.

 

Engele en natuurkragte

In van die ander Joodse geskrifte wat in die tyd ná die Ou Testament geskryf is, kry ‘n mens gereeld die gedagte dat sekere engele beheer uitoefen oor natuurmagte. Dié gedagte kry ‘n mens ook in Openbaring. So vertel Openbaring 14:18 byvoorbeeld van ‘n engel wat mag oor vuur het en Openbaring 16:5 van ‘n engel wat toesig oor water hou. In Openbaring 7:1 word weer vertel van vier engele wat by die vier hoeke van die wêreld staan en die vier winde van die aarde vashou.

Engele: oordeel en verlossing

In die wêreld wat in Openbaring geteken word, is daar twee groot gedagtes wat oor en oor voorkom: verlossing en oordeel. Die gelowiges wat aan God getrou gebly het in die moeilike omstandighede waarin hulle moes lewe, word oor en oor daarvan verseker dat God hulle raaksien en dat Hy hulle uiteindelik sal verlos. In die wêreld wat Openbaring teken, maak God soms juis van engele gebruik om hierdie verlossing en bemoediging aan die gelowiges te bring. So vertel Openbaring 7:2-3 byvoorbeeld dat God ‘n engel met ‘n seël (‘n soort “stempel”) stuur om al sy kinders met ‘n seël op hulle voorkoppe te merk. Dié aangrypende beeldspraak sou die lesers van Openbaring geweldig bemoedig het, want die merk van God was die teken dat hulle God se “eiendom” is en dat Hy hulle daarom sal beskerm.

Openbaring 12 is nog ‘n goeie voorbeeld: In dié hoofstuk word vertel hoekom die kerk so moet swaarkry. Dié hoofstuk sê dat dit eintlik maar net ‘n desperate plan van die Satan is omdat hy eintlik klaar die oorlog teen God verloor het. Hy probeer om die kerk te vernietig, maar sal dit nie regkry nie omdat God die kerk beskerm. Daarom vertel Openbaring 12 ook in mooi beeldspraak van die oorlog wat daar in die hemel plaasgevind het. Die Satan en sy engele het teen Migael en sy engele geveg, maar hulle het die oorlog verloor omdat hulle nie opgewasse was teen die bloed van die Lam nie.

Die ander gedagte wat Openbaring baie beklemtoon, is die gedagte van oordeel. Die opstandige mensdom wat agter die Satan aanloop en nie vir God wil luister nie, sal deur Hom gestraf word. In die wêreld wat Openbaring teken, gebruik God juis baie keer engele om hierdie straf uit te voer. Elke keer as ‘n engel op ‘n trompet blaas of ‘n bak op die aarde uitgooi, tref God se oordele die ongelowiges. In Openbaring 16 word vertel van wat alles gebeur as die engele God se “wraakbakke” op die aarde uitgooi: Die mense kry byvoorbeeld pynlike swere; die see en die riviere verander in bloed; die son brand die mense; en daar kom duisternis oor die hele wêreld.

 

Engele wat verduidelik

In die meeste bekendmakingsgeskrifte van daardie tyd was daar gewoonlik ‘n engel wat gehelp het om te verduidelik wat aan die gebeur was. In Openbaring kry ‘n mens dieselfde. In Openbaring 17 sien Johannes byvoorbeeld ‘n vrou wat op ‘n helderrooi dier in die woestyn sit. As hy hom daaroor verwonder, verduidelik ‘n engel vir hom wat dit beteken (Openbaring 17:7). In Openbaring 21 kry ‘n mens iets soortgelyks: Johannes kry die voorreg om die wonderlike nuwe hemelse stad te sien. Saam met hom word ‘n engel gestuur om vir hom alles te verduidelik.

Engele prys God

As ‘n mens die Openbaringboek van voor tot agter deurlees, is een van die opvallendste dinge dat ‘n mens kort-kort op ‘n loflied afkom. Eintlik is dit half vreemd, want Openbaring is eintlik ‘n swaarkryboek wat geskrywe is aan mense wat nie ‘n baie lekker lewe op aarde gehad het nie. Tog is dit juis waar die trefkrag van Openbaring lê: Mense wat werklik oë vir die grootheid van God kry, sal Hom wil loof – maak nie saak wat hulle omstandighede is nie.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie