Engele in die Bybel (4)

Engele in die Bybel (4)

Die Engel van die Here

Een van die dinge wat Bybelkenners baie laat kopkrap, is die “Engel van die Here” waarvan daar soms gepraat word.

In sommige van die ouer verhale lyk dit asof die Engel van die Here en die Here dieselfde Persoon is. In Genesis 22 lees ons byvoorbeeld baie duidelik dat dit ‘n engel is wat na Abraham roep om vir hom te sê dat hy nie vir Isak moet offer nie. As die engel egter self praat, sê hy vir Abraham: Dit is Ek, die Here, wat praat. Bybelkenners het al op baie maniere probeer om hierdie saak te verklaar, maar dit lyk of die beste verklaring is dat die Bybelskrywers deur hierdie botsende gedagtes wil sê dat die Here self daar is as sy engel daar is, maar dat mense Hom nie sommer so direk mag sien nie. As ons dit lees, wonder ons gewoonlik: “Was dit nou ‘n engel wat met Abraham gepraat het of was dit die Here self wat direk met hom gepraat het?” Eintlik is ons dan op die regte spoor, want die skrywers wil waarskynlik hê dat ons tegelyk aan twee goed moet dink: hoe wonderlik dit is dat God met mense kontak maak én dat mense eintlik nie sommer so in God se direkte teenwoordigheid kan kom nie.

Serafs en gerubs

Serafs

Oor die serafs sê die Ou Testament nie veel nie. Om die waarheid te sê, ‘n mens hoor eintlik net in Jesaja 6 van hulle. Jesaja 6 is sekerlik een van die aangrypendste hoofstukke in die hele Bybel. In dié hoofstuk vertel Jesaja hoe die Here hom as profeet geroep het. In die visioen wat hy gesien het, het Hy die Here gesien waar Hy in die middel van sy hemelse hofhouding op sy troon sit (Jesaja 6:1-4):

In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die hemel gevul. By hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

Jesaja vertel dan verder dat hy so oorweldig is deur die gesig wat hy gesien het, dat hy op die grond neergeval het en uitgeroep het: “Wee my! Ek is verlore!” Toe het een van die serafs ‘n gloeiende kool met ‘n tang gevat, na hom toe gevlieg en sy mond daarmee aangeraak sodat sy sondes versoen kon word.

Eintlik se Jesaja bitter min oor die serafs self. Daar is baie goeie rede hiervoor. Vir die Bybel is God die Een wat die heel belangrikste is. Daarom gee die Bybel altyd die meeste aandag aan God. As die engele en serafs genoem word, is dit nooit omdat hulle self so belangrik is nie, maar net omdat hulle terloops ter sprake kom as die Bybel oor God praat. Dit kan ‘n mens baie mooi in Jesaja se beskrywing hierbo sien. Al wat hy oor die serafs sê, is dit wat belangrik is vir dit wat Hy oor God wil sê. Hy sê byvoorbeeld dat hulle by God is om Hom te dien. Hy noem ook dat hulle elkeen ses vlerke het. Die rede hiervoor is nie omdat hy daarop uit is om ‘n volledige beskrywing van die serafs wil gee ter wille van die interessantheid daarvan nie. Eintlik wil hy God se heiligheid beklemtoon, want hy sê dat elke seraf net twee van die ses vlerke gebruik om mee te vlieg. Met die orige vier maak hulle hulle gesigte en hulle voete toe omdat hulle oorweldig word deur God se teenwoordigheid.

As ‘n mens mooi kyk na dit wat die serafs uitroep, sien ‘n mens ook dat die klem die hele tyd op God se heiligheid val. Ons kan sê: Jesaja noem nie die serafs omdat hulle self so belangrik is nie, maar omdat dit ‘n manier is waarop hy die grootheid en die heiligheid van God vir ons kan verduidelik.

In die res van die Ou Testament word daar nie weer van serafs gepraat nie. Daar is wel ‘n paar plekke in die Ou Testament waar ‘n mens dieselfde woord kry as wat Jesaja vir serafs gebruik het, maar dan word daar eintlik oor giftige slange gepraat. ‘n Voorbeeld hiervan is Numeri 21:6 waar die Here giftige slange onder die volk ingestuur het wat die mense gepik het sodat baie van hulle dood is. Moses moes toe ‘n beeld van ‘n giftige slang maak en dit op ‘n paal sit. Almal wat deur die giftige slange gepik is en na die koperslang gekyk het, het toe bly lewe.

Alhoewel die Ou Testament self nie verder veel oor die serafs sê nie, is daar darem nog interessante afbeeldings uit daardie tye waarin dieselfde soort wesens op klipafbeeldings en op die seëls wat op dokumente gebruik is, voorkom. ‘n Mens kry byvoorbeeld sulke afbeeldings uit Juda, maar ook uit Egipte en Fenisië. Die wesens wat so voorgestel word, lyk nie altyd dieselfde nie. Gewoonlik het hulle net twee of vier vlerke, maar daar is een afbeelding waarop hulle ook ses vlerke het soos wat Jesaja hulle hierbo in hoofstuk 6 beskrywe. In die voorstellings wat ‘n mens in Egipte en Fenisië kry, lyk hulle baie soos slangagtige figure. Hulle word gewoonlik op so ‘n manier uitgebeeld dat ‘n mens kan sien dat hulle die godheid deur hulle teenwoordigheid beskerm. In Jesaja se beskrywing is dit natuurlik heeltemal anders: Die ware en enigste Here het nie serafs nodig om Hom te beskerm nie! In plaas daarvan om Hom te beskerm, gebruik hulle hulle vlerke om hulleself van kop tot tone te bedek omdat hulle in die heilige teenwoordigheid van God self is.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie