Engele in die Bybel (9)

Engele in die Bybel (9)

‘n Dieper kyk

As ‘n mens vra wat die Nuwe Testament oor engele sê, is een van die heel belangrikste goed wat ‘n mens moet raaksien dat engele nooit die hoofkarakters in die Nuwe Testament is nie.

In die Nuwe Testament is Jesus soos die Son wat opgekom het. Teen Hom is alles anders (ook die engele) soos sterre wat ‘n mens moeilik in die daglig raaksien omdat sy wonderlike lig so skerp is. Daarom kan die engele vir die skrywers van die Nuwe Testament nooit die hoofkarakters in hulle boeke word nie. Jesus is altyd die Hoofkarakter. As die engele genoem word, is dit omdat hulle op een of ander manier nodig is vir dit wat oor Jesus vertel word.

Dit is beslis nie omdat die skrywers van die Nuwe Testament te min gedagtes oor die engele gehad het dat hulle so min oor die engele gepraat het nie. Onthou, hulle was mense van hulle tyd. Hulle het nie net dit wat die Ou Testament oor engele sê, geken nie; hulle was ook terdeë bewus van baie van die nuwe gedagtes oor die engele wat in die tyd na die Ou Testament ontstaan het omdat dit algemene kennis in daardie tyd was. Die meeste van hulle sou byvoorbeeld geweet het van al die gedagtes wat daar in hulle tyd was oor die name wat die engele sou hê of die klasse engele wat daar sou wees. Hulle het waarskynlik ook die stories waarin engele so ‘n groot rol gespeel het, geken en ook geweet dat daar bespiegelings was oor hoeveel verdiepings die hemel gehad het. Tog gebruik hulle feitlik nooit hierdie gedagtes nie! Hier en daar loop ‘n mens iets in die Nuwe Testament raak wat sinspeel op die groot klomp gedagtes oor die engele wat die skrywers van die Nuwe Testament tot hulle beskikking gehad het. So praat Paulus byvoorbeeld van “engele of magte” (Romeine 8:38) of van “elke mag, gesag en krag” (1 Korintiërs 15:24). Dit wys vir ons dat hy moes kennis gedra het van die gedagtes dat daar ‘n soort hiërargie in die engeleryk is. Dit is egter nooit meer as ‘n terloopse opmerking oor hierdie spekulasies nie.

Engele en die hoogtepunte in Jesus se lewe

Soos hierbo aangetoon is, is engele in die Nuwe Testament – net soos in die Ou Testament – nooit die hoofkarakters nie. Die klem val altyd op Jesus. Dit kan ‘n mens baie mooi sien in die rol wat engele in die vier Evangelies speel. Dit is veral Markus, Matteus en Lukas wat van engele praat. Interessant genoeg is dit juis by die groot hoogtepunte in Jesus se lewe wat engele genoem word.

 

Jesus se geboorte

By Jesus se geboorte hoor ‘n mens heelwat van engele. As Lukas sy verhale oor Jesus se geboorte vertel, praat hy ‘n hele paar keer van engele. Elke keer is die engele die aankondigers van die goeie nuus dat Jesus gebore sou word. Dit is natuurlik nie die eerste keer dat ons hoor van engele wat ‘n geboorte aankondig nie. In die Ou Testament is engele ook gebruik om geboortes aan te kondig, byvoorbeeld in die geval van Ismael (Genesis 16:1) en Simson (Rigters 13:3-5). Daar is natuurlik ‘n groot verskil tussen die aankondiging van Jesus se geboorte en die voorbeelde uit die Ou Testament. Jesus was die Seun van God – miskien daarom dat Lukas so gereeld verwys na die engele as hy van Jesus se geboorte vertel. Volgens Lukas het God eers vir Gabriël gestuur om die geboorte van Johannes die Doper, Jesus se voorloper, aan te kondig (Lukas 1:11-20). Daarna is Gabriël ook na Maria gestuur om vir haar te sê dat sy swanger is en dat die Kind wat sy dra, eintlik die Seun van God is (Lukas 1:26-38). Nadat Jesus gebore is, gebruik God weer engele om die wonderlike nuus oor sy geboorte aan te kondig: Vandag is vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here.

As Matteus van Jesus se geboorte vertel, hoor ‘n mens ook van engele. Hy vertel dat Josef uitgevind het dat Maria swanger was. Omdat so iets in daardie tyd ‘n groot skande was, het hy besluit om nie met haar te trou nie en haar liewers te verlaat. Toe het ‘n engel egter in ‘n droom aan hom verskyn en vir hom verduidelik dat Maria ‘n baie besondere Seun verwag: Hy sou die mensdom van hulle sondes verlos (Matteus 1:18-25). Later het ‘n engel weer in ‘n droom aan Josef verskyn. Dit was nadat Herodes begin planne maak het om vir Jesus te laat dood maak. Die engel het vir Josef gewaarsku en vir hom gesê dat hulle na Egipte toe moes vlug. Toe Herodes later dood is, verskyn ‘n engel weer aan Josef in ‘n droom en sê vir hom dat hulle weer kan teruggaan na Palestina toe (Matteus 2:19-20). Op pad daarheen het ‘n engel nog ‘n keer in ‘n droom aan hom verskyn en vir hom gesê dat hulle in Nasaret in Galilea moet gaan bly omdat dit daar veiliger sou wees (Matteus 2:21-23).

 

Jesus se versoeking

Die versoeking van Jesus was een van die groot gebeurtenisse in sy aardse lewe. ‘n Bybelkenner het een keer daaroor geskryf en gesê as ons daar kon wees toe dit gebeur het, sou ons die hele tyd sit en asem ophou het om te sien wie gaan wen. Gaan Jesus toegee aan die Satan of nie? Dit is baie belangrik om raak te sien dat die drie Evangelies wat daaroor skryf (Matteus, Markus en Lukas), al drie vir ons sê dat dit gebeur het direk ná Jesus se doop. Jesus se doop was as’t ware die amptelike begin van sy aardse loopbaan. By sy doop het God self uit die hemel gepraat en openlik bevestig dat Jesus sy Seun is. Direk hierna word Jesus deur die Satan geopponeer. Dit was asof die Satan sommer hier heel aan die begin van Jesus se openbare optrede die oorhand wou kry. Een van die verraderlike voorstelle wat hy maak, is dan juis ook dat Jesus moet wys dat Hy die Messias is deur van die tempel se hoogste punt af te spring. Sy eintlike plan was dat Jesus ongehoorsaam moes wees aan God se opdragte. Dit doen Jesus nie en daarom moes die Satan uiteindelik die aftog blaas. Al drie die Evangelies vertel dan dat die engele toe gekom het om vir Jesus te “versorg”. Dit beteken waarskynlik dat hulle toe vir Jesus kos gebring het. Dit lyk ook of iemand soos Markus wil sê dat Jesus se versoekings ons moet laat terugdink aan wat in die Tuin van Eden gebeur het. Daar het Adam en Eva voor die versoeking geswoeg. By Jesus gebeur die omgekeerde: Hy, die “Nuwe Adam”, het nie voor die Satan se versoekings geswig nie, maar end-uit getrou gebly. Adam en Eva was ongehoorsaam aan God se opdragte en daarom moes Hy hulle uit die tuin wegjaag en gerubs stuur om die plek te bewaak. By Jesus gebeur die teenoorgestelde: Hy was gehoorsaam en daarom stuur God sy engele om Hom te versorg!

 

Jesus se opstanding

Die opstanding van die Here Jesus is die hartklop van die Christendom. As Hy nie uit die dood opgestaan het nie, was ons inderdaad die bejammerenswaardigste van alle mense – soos Paulus dit so treffend uitdruk. Omdat Jesus se opstanding die hoogtepunt van sy aardse optrede was, is dit geen wonder nie dat al vier die Evangelies vir ons sê dat engele ook daar ‘n belangrike rol gespeel het nie. Markus sê dat die drie vroue ‘n “jongman” met lang wit klere in Jesus se graf sien sit het (Markus 16:4-7). Dit was ‘n engel wat vir hulle die boodskap moes gee dat Jesus uit die dood opgewek is. Matteus vertel dat dit ‘n engel was wat die groot klip voor Jesus se graf weggerol het (Matteus 28:2). Dieselfde engel het die twee vroue bemoedig en vir hulle ‘n boodskap gegee om vir die dissipels te gaan gee. Lukas vertel weer van twee “manne” met blink klere aan wat vir die vroue gevra het hoekom hulle die Lewende by die dooies soek (Lukas 24:1-12). Johannes (wat omtrent nooit iets oor engele sê nie) vertel ook van twee engele in Jesus se graf wat vir Maria gevra het hoekom sy huil.

 

Jesus se wederkoms

As Jesus in die Evangelies oor sy wederkoms en die laaste oordeel praat, word die engele ook gereeld genoem. In die boek Daniël word al reeds ‘n aangrypende tekening van God se oordeel gegee (Daniël 7:9-10):

Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit, en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit.

Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol.

Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur.

Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei.

Duisende der duisende (engele) het Hom gedien.

miljoene der miljoene het daar voor Hom kom staan.

Die hofsitting het begin,

en die boeke met die aanklagte is oopgemaak.

In die tyd nadat die Ou Testament geskryf is, het die gedagte dat die engele op een of ander manier betrokke sou wees by die finale oordeel, baie aandag gekry. Baie keer word die engele voorgestel as ‘n soort hemelse “polisiemag” wie se werk dit is om die oortreders aan te keer, voor God te bring, getuienis oor hulle verkeerde dade voor te lê, en ook uiteindelik die oortreders te straf. As die Evangelies oor Jesus se wederkoms en die finale oordeel skryf, kry ‘n mens dieselfde soort gedagtes:

  • Teen die einde van die tye sal engele die regverdiges skei van die mense wat ander in sonde laat val het en die wet van God oortree het (Matteus 13:41).
  • Engele sal oor die hele wêreld uitgestuur word om God se mense bymekaar te maak (Markus 13:27).
  • Engele sal teenwoordig wees as Jesus, die Seun van die mens, die oordeel uitvoer (Matteus 25:31).

• Vir die wat hulle vir Jesus geskaam het, sal Jesus Hom ook “skaam” in die hemelse hofhouding. Die omgekeerde is egter ook waar: Elkeen wat bereid is om hom/haarself openlik uit te spreek vir Jesus, se naam sal ook openlik deur Jesus in die hemelse hofhouding uitgespreek word (Lukas 12:8-9).

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie