Genesis 15

Genesis 15 – Marius Nel

Rudolph vra:

Ek lees in Genesis 15:13-16 dat die Here vir Abraham vertel van Israel se 400 jaar in Egipte. Maar Hy verwys na 4 geslagte na Abraham wanneer sy nageslag weer sal terugkeer na die land. Vier geslagte later is die Israeliete nog in Egipte gewees – hoe verklaar ek dan hierdie vers?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

15:7-21 Geloof ten spyte van land-loosheid. Dis nou alles goed en wel dat Abram verseker is dat hy ‘n eie kind sal hê. Maar wat help dit hy kry ‘n nageslag en hulle bly vreemdelinge sonder ‘n eie land? Die manier waarop die Here ook hierdie belofte bevestig, is bedoel om dit onuitwisbaar te maak. Dit neem die vorm aan van ‘n offerritueel, ‘n herhaling van die belofte, afgesluit met ‘n verbondsluiting wat die omvang van die land aandui. Nou is dit nie net woorde nie, maar dade wat Abram moet bemoedig ten spyte daarvan dat hyself nooit die land sal besit nie.

Die ritueel met die diere waarvan sommige deurgesny is, kan nie met sekerheid verklaar word nie. Sommige kenners verklaar dit op grond van destydse handelinge waarmee ooreenkomste bevestig is en waardeur gesê word: “Mag die een van ons wat hierdie ooreenkoms breek, so deurgesny word.” Tog is geen presiese parallel in die antieke Nabye-Ooste bekend nie. Selfs die byna gelykluidende Jeremia 34:18-19 (vgl Rig 19:11-20:48; 1 Sam 11:1-10) is geen presiese parallel nie. Dit moet eerder gesien word as ‘n ritueel uit die offerpraktyke met die funksie om ‘n ooreenkoms (verbond) te bevestig.

Die letterlike vertaling van ‘n verbond sluit is “‘n verbond sny”. Die deursny van die diere kan dus verwys na die “sny” van die verbond.

Dis duidelik dat hierdie vertelling antieke elemente vertoon, maar dat dit ook die wêreldbeeld van latere vertellers weerspieël. Die beskrywing van die lotgevalle van Abram se nageslag (15:13-16) is ‘n verwysing na die Egiptiese slawerny en die besetting van die land. Die beskrywing van die land en die lys volkere (15:18-21) verwys na die grense tydens Salomo se bewind. Hierdie vertelling het dus in latere tye, en wel tydens die ballingskap, Israel bemoedig met die herinnering dat God se beloftes tog vervul is.

Vier geslagte is volgens Joodse berekening maar slegs 160 jaar. Hoe die gedeelte 400 jaar en 4 geslagte met mekaar in verband bring, is nie duidelik nie. Ons het met ‘n antieke teks te doen wat vir eeue met die hand oorgeskryf is, en dalk het ‘n oorskrywingsfout hiertoe gelei.

 

Skrywer: Dr Marius Nel