God regeer en God red – die sentrale boodskap van Openbaring 4 en 5

God regeer en God red – die sentrale boodskap van Openbaring 4 en 5 – Fanie Rudolph

Inleiding:

Openbaring 4 en 5 is ‘n sentrale gedeelte in die Boek Openbaring.  Die boodskap van hierdie kernhoofstukke bepaal die oorkoepelende boodskap na vorentoe en agtertoe in Openbaring.  Die kern van hierdie hoofstukke is: die God wat skep, is die God wat regeer, is die God wat red, is die God wat die geskiedenis beheer.

Die God wat skep, is die God wat regeer (Openb. 4):

Die beeld van God wat Johannes in Openbaring 4 sien, is dié van God se almag en heerskappy.  God word gereeld in Openbaring beskryf as Iemand wat sit (vgl. vers 3).  Dié benaming wil God se totale beheer beklemtoon.  Hy is só in beheer dat Hy nie nodig het om ‘n vinger te verroer om te regeer nie.  Alles gebeur rondom Hom terwyl Hy net kan sit.  Sy grootheid word verder beklemtoon deurdat almal rondom Hom voortdurend voor Hom neerval in aanbidding (vgl. vers 8-11).  Die ganse skepping besing sy heiligheid, sy skeppingsmag, en sy ewige heerskappy.  Alles en almal in die troonsaal oorweldig die leser met die grootheid en heiligheid van God.  Elke ding wat Johannes sien, elke aksie wat plaasvind, roep God se heerskappy en skeppingsmag uit.  Sy grootheid skitter so geweldig dat ‘n mens dit amper nie kan beskryf nie (vers 3).  Meer nog: die reënboog rondom sy kop herinner aan Noag en beklemtoon sy getrouheid aan sy verbond.  Hierdie onmeetbare groot God is getrou aan dit wat Hy in die verlede belowe het. 

God is in beheer.  Ongeag wat gelowiges in Klein-Asië beleef in hulle moeilike omstandighede, Johannes kry die bevestiging, en gee dit deur, dat God steeds die Koning is.  Nie een oomblik word sy heilige, almagtige regeerskap geraak deur die wêreld se swak regeerskap nie.  Sy Koningskap wankel nie vanweë die storms wat in die wêreld woed nie.  God bly altyd in beheer, want God is (vgl. Eks. 3:14).

God red en beheer die geskiedenis (Openb. 5):

Openbaring 5 bou voort op die boodskap van Openbaring 4.  Johannes sien steeds vir God wat op die troon sit, met ‘n boekrol in die hand.  Hierdie boekrol bevat die geskiedenis van die wêreld tot met die wederkoms.  Dat die boekrol in God se Hand is, bevestig dat Hy die geskiedenis beheer.  Let wel: dit is nie ‘n deterministiese beheer wat menslike besluite uitsluit nie.  In Openbaring 6:1-8 lees ons van talle geskiedenis-gebeure wat beslis nie in lyn met God se wil is nie.  Tog bly God in beheer ten spyte van hierdie gebeure. 

Die krisis vir die mense in Openbaring 5 is die soeke na ‘n Verlosser wat in staat is om in die geskiedenis in te gryp, ten spyte van wat gebeur.  Die een wat na vore kan tree, moet waardig genoeg wees in die oë van God om die boekrol te kan neem, i.e. hy moet volmaak wees.  Net wanneer Johannes van moedeloosheid wil huil omdat niemand gevind is nie, word sy aandag gevestig op die Lam van God (vers 5-6).  Hy kan wel red.  Hy het oorwin en Hy is waardig om die boekrol oor te neem by God.  Sy redding kom nie deur oorlog en vernietiging nie, maar deur geslag te word, i.e. deur te sterf aan die kruis van Golgota (vgl. Openb. 12:11).  Hy word waardig deur Homself prys te gee. 

Daarom kan Hy die boekrol neem.  Sy oorwinning bevestig uiteindelik dat God steeds die geskiedenis beheer, ook tot in die ewige toekoms in.  God se beheer oor die geskiedenis word herbevestig in die oorwinnende sterwe van die Lam van God. 

Uiteindelik word die plot voltooi wanneer die hele skepping ook in aanbidding voor die Lam buig.  Hulle besing die Lam se grootheid met dieselfde woorde waarmee hulle die grootheid van God in Openbaring 4 besing het (vgl. vers 9-14).  Die Lam van God is uiteindelik niemand anders nie as God self wat deur die persoon van Jesus Christus in die geskiedenis van die wêreld ingegryp het nie.  Daar is uiteindelik net een God om te aanbid (vgl. Openb. 3:21 en 22:3).  Die enigste, ware, lewende God beheer voorwaar die geskiedenis in ewigheid. 

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph