Hoe bou ek ‘n verhouding? (Deel 1)

Hoe bou ek ‘n verhouding? (Deel 1) – Wynand de Wet en Anna Steyn

Verhoudings is deel van die mens se lewe. Die voorvereiste vir ʼn gelukkige verhouding is ʼn persoonlike verhouding met God. Om my te help om my lewensmaat te kies, kan die identifisering van sekere “gemeenskaplikhede” my help. Emosionele  gemeenskaplikhede mag egter problematies wees.

Lees lekker rustig deur Genesis 2:18-24 en kyk bietjie na dit wat jou opval.

“Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”  Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.  Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ‘n helper, ‘n gelyke, gekry nie.  Toe het die Here God ‘n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ‘n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op,  en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ‘n vrou en bring haar na die mens toe.  Toe sê die mens:  “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek.  Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word;  sy is uit die man geneem.”  Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.”

Om in ‘n verhouding te staan, is van die skepping af deel van die mens se lewe, in besonder dan ook die huweliksverhouding!  Hiermee saam is dit net so duidelik dat God van dag een af die Een is aan Wie hierdie verhouding toegeskryf moet word.  Die ander kant van hierdie munt is dus net so waar:  wie nie ‘n verhouding met God het nie, sal eenvoudig nie in staat wees om ‘n ware, gelukkige verhouding met ‘n huweliksmaat te kan bou nie…  Anders gestel:  miskien sou twee mense wat God nie dien nie wel in ‘n verhouding met mekaar kon tree en selfs vir lank kon “saam” wees – tog, daar is mos ‘n groot verskil tussen “gelukkig getroud” wees en bloot “bymekaar wees”!  Met dit in gedagte, dink so bietjie na oor wat ons in Prediker 4:9-12 vind:

“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.  As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.  As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word?  Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”

Om egter dié een te vind wat God vir my bedoel het en met hierdie lewensmaat dan ‘n verhouding te bou, is nie aldag so eenvoudig nie!

Die identifisering van sekere “gemeenskaplikhede” wat ek en my potensiële lewensmaat in gemeen het is wel ‘n spesiale hulpmiddel om my in hierdie belangrike taak te help:

Emosionele gemeenskaplikhede

Hierdie tipe gemeenskaplikheid gaan gewoonlik gepaard met een of ander trauma  in ons lewe soos egskeiding, dood, ongelukkige gesinsomstandighede, bomdreigemente, natuurrampe, kapings  ensomeer. Dit klink vreemd, maar in die praktyk is dit dikwels die goed wat mense bymekaar uitbring. Die volgende is ‘n eenvoudige voorbeeld uit die daaglikse praktyk:

Twee mense staan in ‘n ry by Telkom om ‘n rekening te betaal. Hulle ken mekaar glad nie en het ook niks vir mekaar te sê nie. Ewe skielik word almal gevra om die gebou te verlaat as gevolg van ‘n bomdreigement. Ewe skielik bring laasgenoemde ‘n gemeenskaplikheid mee. Twee mense begin met mekaar praat, terwyl hulle buite staan en wag en hulle kom meer van mekaar te wete soos, waar hulle werk en woon en van hulle vorige ervarings. Na hierdie dag se gebeure erken hulle mekaar weer op straat en groet dalk in die verbygaan, maar met verloop van tyd lyk die een dalk vir die ander bekend, maar hulle groet mekaar nie eers meer nie. Hulle gemeenskaplikheid was emosioneel van aard en het met verloop van tyd vervaag en hulle het weer soos aanvanklik niks meer vir mekaar te sê nie.

Hierdie voorbeeld is dikwels die slagyster in vele mense se mislukte verhoudings of huwelikslewens, wat groot hartseer en teleurstelling meebring. Twee mense met traumatiese ervarings, soos egskeiding, dood of ongelukkige gesinsomstandighede, kom by mekaar uit. Hulle het soveel emosie om te deel en kan ure in mekaar se geselskap deurbring, want hulle kliek dan só goed en beleef dat hulle net die regte twee vir mekaar is en hulle tree in die huwelik. Die volgende is ‘n goeie praktiese voorbeeld:

Meneer X, ‘n geskeide man, het weer in die huwelik getree en hy is hierdie vrou se vyfde man en nou wil sy hom skei. My vraag as huweliksberader aan hom was: “Hoekom het jy met hierdie vrou getrou?” Meneer X se antwoord was: “Sy het my só deur my egskeiding gedra.”

JA, SY KON SY TAAL PRAAT EN HOM VERSTAAN.

Die probleem met hierdie emosionele gemeenskaplikhede is, dat ons dit met verloop van tyd verwerk. Een mens verwerk dit binne twee jaar, ‘n ander neem vyf jaar of iemand anders neem ses maande. Na hierdie verwerkingsproses kom ek agter dat ek eintlik nie meer iets in gemeen het met hierdie nuwe lewensmaat van my nie. Ons egskeidings is oor en uit en ons aanvanklike goeie kommunikasie bestaan nie meer nie. Nou begin ek weer perspektief kry op die lewe en ek kom allerlei verskille agter tussen my en my lewensmaat en die een probleem na die ander begin opduik. Ek voel of ek die mure wil uitklim van frustrasie, want die aanvanklike vele gemeenskaplikhede bestaan nie meer nie en “ons is nou maar net saam”. Wat het nou van ons “gelukkig getroud” geword? Moet dus nie huweliksverhoudings op emosionele gemeenskaplikhede bou nie. Hierdie riglyn geld  vir alle mense wat deur traumatiese gebeurtenisse gaan, só ook jong mense wat uit ongelukkige gesinsomstandighede kom. Ek moet dus nie toelaat dat my ongelukkige gesinsomstandighede my gemeenskaplikheid of motivering tot ‘n huwelik is nie. Ek moet eerder konsentreer op blywende gemeenskaplikhede, wat in die volgende deel meer breedvoerig bespreek sal word.

 

Outeur: Dr Wynand de Wet en Dr Anna Steyn