Is God en Allah een?

Is God en Allah een? – Jan van der Watt

Juliana vra:

Die antwoord op die webblad lees dat Allah ‘n god van Mekka wat verwar was met God (Here) en toe aanbid is. Maar ek verneem dat daar baie ooreenkomste is tussen die Bybel en Koran aangaande “Bybelse” geskiedenis en sommige mense sê ook dat God en Allah dieselfde god is. Dat Jesus ook erken word as ‘n profeet maar dat Mohammed die eintlike ware profeet is. So ook met die Joodse geloof, ons dien dieselfde Vader God maar hulle glo dat Jesus vals was en dat die Seun nog moet kom. Nou my vraag: Ek is BAIE verwar aangaande al hierdie gelowe. Ek weet en glo dat Jesus die enigste lig, weg en waarheid is, maar hoe kan die Jode en Muslims “dieselfde” god en geskiedenis dan so verdraai om hulle te pas, om net een deel van die Bybel te glo en nie die res nie? Waar het Islam dan vandaan gekom?

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Oor die ware God is daar opmerkings elders in www.bybelkennis.co.za. Ek wil graag fokus op waarom daar in Islam ook na die aartsvaders en Jesus verwys word. Mohammed, wat verantwoordelik was vir die opskrifstelling van die Koran, het in sy jonger lewe direkte kontak met beide die Jode en die Christene gehad. Hy was byvoorbeeld saam met sy oom na Jerusalem en het daar met die Joodse godsdienste en hulle geskrifte (die Ou Testament) in aanraking gekom. Hy het dit as waar aanvaar. Toe die Jode hom later verwerp, het hy die Joodse godsdiens verwerp, maar nie die eerste boeke van die Ou Testament nie. Dit het deel van sy kennis gebly. Hy was ook positief teenoor die Christene. Toe hy eenmaal, toe hy nog jonger was, vir sy lewe moes vlug, het hy by Christene (in Afrika) veiligheid gevind. Hulle het toe vir hom gesorg. Daar het hy van sy kennis van die Jesus en die Christendom opgetel wat by hom gebly het. Toe die Koran op skrif gestel is, is die inligting uit die eerste vyf boeke van die Ou Testament en inligting oor Jesus in die Koran opgeneem. Daarom kry ons tot vandag toe nog hierdie inligting in Islam.

Dit moet egter nie verwar word met die God wat aanbid word nie. Toe beide die Jode en die Christene hulle rug om Mohammed en sy openbarings gedraai het, het hy bewustelik na Mekka gegaan en die naam van die lokale god aldaar vir sy godsdiens oorgeneem. Dit het ook die mense saamgebind. Omdat hy die eerste vyf boeke van die Ou Testament geken het, is daar ooreenkomste tussen die god van die Koran met die beeld van God wat ons in die eerste vyf boeke van die Ou Testament het. Omdat die res van die Ou Testament en die Nuwe Testament nie by Mohammed ‘n sterk rol gespeel het nie, kom die ander eienskappe van God in die res van die Bybel nie voor nie, wat beteken dat die beeld van God asook die manier waarop ons God moet dien in dit Koran en in die Bybel verskil. Veral die feit dat die Christendom se redding deur Jesus kom en dit belangrik is om te weet en te bely dat Hy God en mens is wat uit die dood opgestaan het, maak die redding heeltemal verskillend. Hoewel Jesus in Islam erken word as profeet (Mohammed het mos by die Christene gehoor daar is iemand soos Jesus) bly Hy maar net ‘n gewone mens. Dit alleen maak die twee godsdienste al onherroeplik verskillend.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt