Paulus in Arabië

Paulus in Arabië – Dirk Venter

Vraag:

Galasiers 1 vers 12 : ” EK HET DIT NIE BY N MENS GEHOOR NIE OF GELEER NIE , MAAR JESUS CHRISTUS HET DIT AAN MY BEKENDGEMAAK ” My vraag is dit: Paulus het n ongelooflike kennis van die Evangelie gehad en dit neem ons predikante jare se studie om die evangelie te kan bedien . Paulus was n lang tyd in Arabie ( net na sy bekering ) . Is dit dan so dat Jesus Christus persoonlik self vir Paulus in Arabie onderrig het . Is daar enige inligting bekend van die tyd wat hy daar deurgebring het?

Antwoord:

Ter wille van agtergrondskennis kyk ons eers na die aangehaalde teksgedeelte binne die konteks van Galasiërs. Paulus skryf aan die Galasiërs om hulle te waarsku teen die dwaalleraars wat tussen hulle begin werk het en besig was om die suiwer evangelie van Jesus Christus te verdraai (Gal 1:6-7). Hierdie dwaalleraars was waarskynlik lede van die Judese kerk (met sy belangrikste sentrum in Jerusalem) wat oortuig was dat bekeerlinge vanuit die heidennasies ook besny moet word, die eetgebruike moet onderhou ens. Ons weet dat daar ‘n groep onder die Judese gelowiges was wat hierdie standpunt gehuldig het (vgl. Gal 2:4), hoewel die vergadering van apostels in Jerusalem uiteindelik daarteen besluit het (Gal 2, Hand 15 ens).

Aangesien Paulus baie sterk beklemtoon dat die evangelie wat hy verkondig nie deur mense aan hom geleer is, of daarop gerig is om mense tevrede te stel nie, kan ons aflei dat die dwaalleraars hom waarskynlik hiervan beskuldig het: die boodskap wat hy verkondig is onvoldoende, menslike woorde – hulle verkondig die “evangelie” wat van God af kom. Hierop antwoord Paulus dan dat die evangelie wat hy verkondig nie menslik in oorsprong of motivering is nie, maar dat God dit aan hom openbaar het en dat God Self hom gestuur het om hierdie evangelie aan die heidennasies te verkondig.

In die Ou- en Nuwe Afrikaanse Vertalings van vers 12 word daar vertaal dat Paulus die evangelie “ontvang” het deur ‘n “openbaring” van Jesus Christus. (Dit is dieselfde as “bekendgemaak” in die aanhaling hierbo). Word hierdie gedagte van ‘n “openbaring” verder gevolg in die teksgedeelte, tref ons dit weer in vers 16 aan, omvou in terme wat na Paulus se bekerings-/ roepingsbelewenis op die Damaskuspad verwys (vers 15-16). Daaruit is dit af te lei dat, wanneer Paulus in vers 12 sê dat hy die evangelie ontvang het deur ‘n “openbaring” van Jesus Christus, hy in die eerste plek daardie ingrypende lewensveranderende openbaring van Wie Christus is, die ontmoeting met die opgestane Here oppad na Damaskus, bedoel. Toe hy hierna na Arabië vertrek, het hy reeds geweet wat die kerninhoud van die evangelie is, en wat sy roeping is – om hierdie evangelie na die heidennasies te neem.

Natuurlik sou die verdere implikasies van hierdie evangelie mettertyd meer duidelik aan hom word, en die tyd wat hy in Arabië gespandeer het kort na sy bekering / roeping sou sonder twyfel ‘n belangrike rol daarin gespeel het. Ons kan ons voorstel dat Paulus daar (opnuut) baie tyd sou deurgebring het in die bestudering van die Ou Testament (en sou besef het hoe die Skrif vooruit gedui het op Christus wat sou kom), in gebed en gesprek met die lewende Here, waardeur hy sekerlik ‘n steeds dieperwordende verstaan van die evangelie sou ontwikkel het. Hierbenewens het hy waarskynlik toe ook al die evangelie aan mense in Arabië verkondig (vgl. Hand 9:19-26 en Gal 1:15-18. Paulus het dadelik na sy bekering die evangelie in Damaskus begin verkondig. Daarna is hy vir ‘n onbekende tyd lank Arabië toe, waarna hy weer teruggekom het Damaskus toe en die evangelie opnuut daar verkondig het sodat hy eventueel vandaar af moes wegvlug na Jerusalem. In totaal was hierdie ‘n tydperk van drie jaar. As hy aan die begin en aan die einde van hierdie drie jaar, in Damaskus, die evangelie verkondig het, het hy dit sekerlik ook in die middeltydperk in Arabië gedoen.) Ons kan ons dus voorstel hoedat Paulus in Arabië tot ‘n nog beter verstaan van die evangelie gekom het, terwyl hy reeds besig was om die evangelie aan mense daar te verkondig, maar ongelukkig is daar (behalwe vir Gal 1:17) geen ander feitelike inligting tot ons beskikking oor Paulus se tyd in Arabië nie.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter