Paulus oor gelowiges se bydraes – Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor God

Paulus oor gelowiges se bydraes – Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor God

Wanneer Paulus oor gelowiges se bydraes praat, is sy taalgebruik buitengewoon.  Hy vermy die alledaagse begrippe wat met “geld” vereenselwig word en verkies om die saak in teologiese begrippe te verduidelik en te motiveer.  Sy doel daarmee is om die Korintiërs te laat opkyk van hulle beursies in hulle hande af, sodat hulle vir God kan raaksien (wat vir hulle iets oor hul beursies wil sê).  Vir Paulus gaan dit nie oor die geld nie, dit gaan oor God 

Die belangrikste teksgedeeltes waar Paulus gelowiges se bydraes bespreek, word in sy briewe aan die Korintiërs aangetref (1 Kor. 9, 16:1-4; 2 Kor. 8-9, 11:1-15, 20-21, 12:11-18).  In hierdie teksgedeeltes gaan dit veral om twee sake: bydraes vir die hulpfonds vir die arm gelowiges in Judea (bv. 1 Kor. 16:1-4, 2 Kor. 8-9), en bydraes vir ‘n apostel (Paulus) se persoonlike lewensonderhoud (bv. 1 Kor. 9, ens).

Die manier waarop Paulus hierdie onderwerpe aan die orde stel, is baie insiggewend.  In 2 Korintiërs gebruik Paulus byvoorbeeld nie een keer in die Griekse teks enige woord uit die “geld en geldeenhede”-woordfamilie nie.  Dit is opvallend, aangesien die tema van finansiële bydraes dadelik bespeur kan word wanneer die brief gelees word.  Trouens, hoewel Paulus die terme (juis) nie gebruik het nie, gebruik die Nuwe Afrikaanse Vertaling sewe keer sinonieme vir “geld” om Paulus se bedoeling in Afrikaans weer te gee, sowel as ander woorde wat na finansies heenwys, aangesien dit moeilik vermy kon word in die vertalingsproses.  Die tema is dus duidelik aanwesig, maar Paulus se (oorspronklike) taalgebruik buitengewoon.  Hoekom spandeer Paulus byvoorbeeld twee hele hoofstukke (2 Kor. 8-9) daaraan om oor geld te praat sonder om een keer (in Grieks) ‘n sinoniem vir “geld” te gebruik?

Dit is opmerklik dat daar deurlopend, wanneer Paulus oor finansiële bydraes praat, begrippe gebruik word wat teologies gelaai is, in plek van die alledaagse woorde vir bydraes, geld of donasies.  Begrippe soos dank aan God, diens aan God, diens aan medegelowiges, genadebetoning ens. word ruim deur Paulus ingespan in sy besprekings van die onderwerp.  Dit moenie as blote eufemismes beskou word nie, met ander woorde ‘n strategie om die onderwerp op dié manier te versag of te verskans nie.  Bewus van die krag van taal om persepsies te vorm, te bevorder of af te breek (vgl. 2 Kor. 10:4-5), het Paulus op ‘n meesterlike wyse ‘n teologiese verstaan van die saak van finansiële bydraes onder die Korintiërs probeer kweek.  Hy het immers geweet dat die gemeente geneig is om nog wêreldse waardes en gesindhede jeens die saak te handhaaf.  Hulle het byvoorbeeld, tipies aan die kultuur waarbinne hulle hulself bevind het, aan die gewers en ontvangers van bydraes as “weldoeners” en “kliënte” gedink, met die wedersydse verpligtinge, eerbetonings en magspel wat daarmee gepaard gegaan het.  Paulus probeer hierdie gebruiklike manier-van-dink oor die saak van bydraes (“geskenke”) oorkom, deur by die Korintiërs ‘n nuwe, Christus-gesentreerde verstaan van die saak te kweek.  Ten einde hierdie doel te verwesenlik, gebruik hy meestal nie die gewone terme wanneer hy die saak motiveer nie, maar beskryf en motiveer hy die saak deurlopend met teologies gelade taal.  Hierdie soort taal wat hy gebruik, word dus doelbewus deur hom ingespan om ‘n ander, nuwe “manier van kyk na die saak” te bevorder, wat diep beïnvloed is deur die evangelie van Jesus Christus.  Deur sy taalgebruik wys Paulus eintlik daarop dat die saak van bydraes of dankoffers gee, nie gaan oor die geld nie, maar oor God!

Indien die Korintiërs (en ons!) sou inval by hierdie Christus-gesentreerde manier van kyk na die saak, het dit implikasies vir die manier waarop bydraes gegee, ontvang en bestuur word.  Die evangelie maak ‘n appél op ‘n gelowige se motiewe en gesindhede rondom die gawes wat hy/sy gee.  Netsoveel maak die evangelie ook ‘n appél op diegene wat, in een of ander hoedanigheid, die verantwoordelikheid het om hierdie gawes te bestuur.  En waar iemand in die posisie sou wees om as evangeliedienaar begunstig te word deur die gawes van die gelowiges, het die evangelie van Jesus Christus ook implikasies en voorwaardes vir die wyse waarop dit kan en moet geskied.  Hoofsaak is dat God in gelowiges se hantering van (hul) bydraes, sigbaar en verheerlik sal word.  

 

Skrywer: Ds Dirk Venter