Skeppingsverhale

Skeppingsverhale

Louis Fourie vra die volgende vraag:

‘n Vriend van een van my seuns studeer vir pastoor in die AGS. Hy sê dat aan hulle vertel is – ek weet nie of dit in ‘n handboek voorkom of nie – dat daar ook ‘n Babiloniese skeppingsverhaal bestaan het wat nog voor Genesis geskryf is, wat ook vertel van ‘n Skepper wat alles in sewe dae geskep het. Nou het ek al vantevore verneem dat die sogenaamde Mosaïese boeke in Babilon neergeskryf is tydens die ballingskap. Volgens wat ek hierbo na verwys, lyk dit of die Israeliete die Babiloniese verhaal oorgeneem het. Wat is die geval?

Antwoord:

Ja, die verwysing is korrek. Daar bestaan skeppingsverhale wat uit Babilon kom en gebaseer is op mites van ʼn stryd tussen die gode wat tot die wêreld gelei het soos ons dit ken. Maar daar is ʼn baie groot verskil tussen die Bybelse skeppingsvoorstellings en Babiloniese mites, waarvan die belangrikste is dat die Bybel slegs van een God weet, dat Hy die Skepper is en dat Hy skep deur te spreek. Daar is nie ooreenkomste tussen die twee tipes verhale nie.

Sommige Bybelwetenskaplikes beweer dat die Pentateug (eerste vyf boeke, wat vir Jode ook die meeste gesag dra) tydens die ballingskap finaal op skrif gestel is. Hulle ontken nie dat die verhale en wette vir eeue reeds gefunksioneer het nie, mondeling sowel as skriftelik om normatief vir gelowiges van die Verenigde Ryk en ook later vir die Suidelike Ryk (en tot mindere mate vir die Noordelike Ryk) te wees. Die verhale is weer ʼn keer oorvertel en geherinterpreteer met die oog op die enorme uitdagings wat die ballingskap aan Jode gestel het, wanneer hulle hul tempel, koning en land verloor. Die verhale is egter baie ouer en dateer uit die periode voor en tydens die lewe van Moses.

Het omliggende volke se verhale ʼn invloed op die Ou Testament uitgeoefen? Die antwoord is nie klinkklaar nie omdat sodanige ooreenkomste nie uitgewys kan word nie. Die meeste wat ons kan sê, is dat Israel die wêreld met hulle buurvolke gedeel het en alhoewel daar nie so iets soos globalisme was nie, het idees tog moontlik oor grense beweeg en mekaar beïnvloed.

Hoop dit werp lig op jou navraag!

 

Skrywer:  Dr Marius Nel