Alle Paaie lei na Jesus: Abraham in die Nuwe Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Abraham in die Nuwe Testament – Adrio König

1.4 Abraham in die Nuwe Testament

Dis opvallend dat Abraham ’n baie groter rol in die Nuwe Testament speel as in die Oue. Buite die verhaal oor hom in Genesis, word daar net omtrent 20 keer na hom verwys in die hele Ou Testament, teenoor byna 50 keer in die Nuwe. Die verwysings in die Nuwe Testament is baie interessant. In baie gevalle gaan dit net om verwysings na sy geskiedenis.

Maar veral Johannes en Paulus en die Hebreërbrief sien ’n verrassende geloofsrykdom in hom. Hulle verbind hom veral met:

  • die belofte (Rom 4:13 ev; 4:18 ev; Gal 3:16-20, 29; Heb 11:9-13),
  • die evangelie (Gal 3:8),
  • Christus (Gal 3:16, 29),
  • die seën (Gal 3:9, 14),
  • die verbond (Gal 3:17-29),
  • die genade (Rom 4:16; Gal 3:18),
  • die redding (regverdiging – Rom 4:3, 11, 22, 23; Gal 3:6),
  • die geloof (Rom 4:3-12, 17-22; Gal 3:6-9; Heb 11:8-19),
  • die besnydenis (Rom 4:11-12),
  • die doop (Gal 3:29).

 

Wat ’n rykdom! Daar is geen ander mens in die hele Bybel wat met so ’n verskeidenheid van fasette van die evangelie in verband gebring word nie. Om enigsins ’n greep op sy omvattende betekenis te kry, kan ’n mens verder net kyk na ’n paar stellings wat oor hom gemaak word.

  • Hy is die vader van alle gelowiges (Rom 4:16),
  • die besnydenis was ’n bewys dat God hom aangeneem het omdat hy geglo het (Rom 4:11),
  • die doop lyf vandag nog gelowiges in die verbond in wat God met hom gemaak het (Gal 3:26-29),
  • hy het bely dat hy ’n vreemdeling en ’n bywoner op aarde is – presies wat van die gelowiges in die Nuwe Testament gesê word (1 Pet 2:11).

 

’n Mens kan dus beswaarlik verder van die waarheid af wees as om te meen Abraham was maar net die vader van die fisieke  Joodse volk, en die besnydenis was maar net ’n nasionale, “vleeslike” teken dat iemand ’n Jood was, en dat die beloftes van God aan hom maar net op die land Kanaän betrekking gehad het.

 

Dit is merkwaardig watter ryk evangeliese betekenis en waarde Paulus aan Abraham heg. Wanneer hy ’n voorbeeld soek van iemand wat deur die geloof gered is, gaan hy reguit na Genesis 15:6, na Abraham toe (Rom 4:3 ev). Dit beteken ook dat Genesis 15:6 dié verwysing van redding in die Nuwe Testament word: “Abraham het die Here geglo en die Here het hom as regverdig gereken” (NLV).

 

Daar word nooit in die Ou Testament pertinent na Abraham se geloof verwys nie. Waarom hierdie verskil? Omdat die nadruk op geloof eers in die Nuwe Testament ten volle ontwikkel word, terwyl dit in die Oue nog veel meer oor gehoorsaamheid gegaan het, en by Jesus oor navolging. En ons weet mos die betekenis en waarde van geloof word veral deur Johannes, Paulus en Hebreërs ontwikkel (Joh 8, Rom 4, Gal 3). Dit is dus nie vreemd dat juis hulle besondere aandag aan Abraham gee nie.

 

Dit is opvallend dat die begrip “verbond” selde gebruik word. Kyk na die lys hierbo. Daarteenoor word die begrip “belofte” die meeste in verband met Abraham gebruik. Sowel in Romeine 4 as in Galasiërs 3 word dit egter duidelik dat “die belofte” ’n wisselterm is vir die verbond. Dit is ook nie vreemd nie omdat God natuurlik in die verbondsluiting met Abraham sekere beloftes gemaak het.

 

As ons dit in gedagte hou, besef ons die verbond is een van die sentrale begrippe waar daar van Abraham sprake is. Kom ons kyk in meer besonderhede na die betekenis van hierdie “vader van alle gelowiges” (Rom 4:16).

 

1.4.1 Abraham – geloof – besnydenis

Paulus skryf veral in Romeine en Galasiërs oor ons redding (regverdiging). En sy groot boodskap is dat ons deur geloof gered word en nie deur die wet te onderhou nie. Kom ons kyk eers na Romeine 4.  Later sal Galasiërs 3 ook aan die orde kom.

 

Paulus skryf breedvoerig in Romeine 4 oor ons redding (regverdiging). En wanneer hy ’n voorbeeld van redding (geregverdiging) deur die geloof soek, kies hy vir Abraham! Merkwaardig, want dis darem ver in die verlede. Daar was darem ná hom baie mense wat geglo het. Waarom juis vir Abraham? Enersyds omdat Genesis 15:6 dit so kernagtig sê, maar andersyds omdat die verbond met Abraham die klassieke geloofs- en genadeverbond is wat deurloop tot in die Nuwe Testament. Hoe word ’n mens gered? is Paulus se vraag. Antwoord: “Abraham het in God geglo, en daarom het God hom vrygespreek” (Rom 4:3).

 

En van hier af ontwikkel Paulus dan ’n geweldige perspektief op die betekenis van Abraham en die verbond wat God met hom gesluit het. Dit is uit en uit ’n genade- en geloofsverbond. En dit loop dan uit op die ingrypende uitspraak dat Abraham nie net die vader van Israel is nie, maar “die vader van ons almal” (4:16). Dit beteken hy is die vader van alle gelowiges, sodat hy vir ons almal van die allergrootste betekenis is. Daarom is dit so belangrik om te kyk na die betekenis wat Paulus hier aan hom gee.  Abraham is nie vrygespreek op grond van sy dade nie, maar omdat hy geglo het (4:1-6):

  • Abraham is vrygespreek vóór sy besnydenis. Dit beteken dat die vryspraak-deur-die-geloof óók vir onbesnedenes was – heidene wat soos Abraham in die Here begin glo (4:9-11).
  • Hy moes éérs glo, en toe is hy besny. Dit beteken die besnydenis was ’n bewys dat, toe hy nog onbesnede was, God hom vrygespreek het net omdat hy geglo het (4:11).
  • Die doel hiervan was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nog nie besny nie; dus van die heidene. Hulle word dus net soos hy deur God vrygespreek omdat hulle glo (4:11). Hierdie uitspraak is iets soos ’n aardbewing. Ons kyk nou-nou verder daarna.
  • Natuurlik was die vryspraak ook vir die besnedenes; dus vir Israel – maar net solank hulle nie net besny is nie, maar self ook glo. Abraham is dus ook hulle vader (4:12).

 

Ons het hier te doen met ’n sentrale figuur in ons geloof. By hom begin die pad wat God regdeur met die mense loop tot in die Nuwe Testament en vandag.

 

1.4.2 Abraham die vader van Israel én die heidene

In die voorlaaste twee paragrafies is “heidene” en “Israel” gekursiveer. Dink ’n bietjie wat dit beteken.

  • Abraham was selfs al in die tyd van die Ou Testament nie net Israel se vader nie, maar ook die heidene s’n as hulle tot geloof gekom het!
  •  Én hy was van die begin af nie die vader van dié Jode wat net as babas besny is, maar nie self geglo het nie.

 

Vir die Jode was dit ’n skokkende uitspraak. Maar Paulus het dit regtig bedoel. Hy eindig immers met: Abraham as “die vader van ons almal” (4:16), en dit beteken alle gelowiges uit die Jodedom én die heidendom. Paulus behandel dus Jode en heidene op dieselfde vlak. Die Jode is besny (as babas op agt dae) en daarna moes hulle tot geloof kom, anders was Abraham nie regtig hulle vader nie. En die heidene moes tot geloof kom en daarna is hulle besny, en so was Abraham ook hulle vader (Rom 4:11-12).

 

En nou die tweede aardbewing, maar hierdie keer vir dié onder ons wat meen die besnydenis was net ’n “vleeslike”, nasionale teken dat iemand ’n Jood is. Alles wat nou hier gesê is, beteken mos dat die besnydenis voluit ’n geloofsakrament was. Dis tog presies wat in Romeine 4:11-12 staan. Die besnydenis was die bewys dat God Abraham vrygespreek het omdat hy geglo het. Op sy beurt beteken dit weer dat as ’n Jood nie regtig glo nie, Abraham glad nie sy vader was nie! Maar dit alles maak van die Abrahamverbond ’n voluit geestelike saak. Geloof is bepalend of hy ook my vader is, nie vleeslike verwantskap nie.

 

Maar dan het die Abrahamverbond alles te doen met ons verhouding met die Here. Dan is dit van die grootste belang dat ons mooi sal kyk wat die verbond met hom beteken het en nou nog beteken. Trouens ons kan klaar die volgende afl ei.

  • Dit is verkeerd om aan Abraham te dink as maar net ’n persoon uit die Ou Testament wat eintlik vir ons in die ver verlede lê.
  • Dis ook verkeerd om aan die besnydenis te dink as maar net ’n teken dat iemand ’n Jood is.
  • Die waarheid is dat ons na Abraham moet kyk as ons wil weet hoe God ons red.
  • En dis byna vanselfsprekend dat ons sal vra: As Abraham alle gelowiges se vader is, en as die besnydenis ’n geloofsakrament was wat bedien was aan dié wat tot geloof kom (soos Abraham self) én hulle kinders (soos Isak), het die besnydenis nie dalk verband met die doop nie? Dis dan presies hoe ons die doop bedien.

 

1.4.3 Abraham se geestelike vaderskap

Kom ons kyk eers na die geestelike karakter van die vaderskap van Abraham, en daarna na die verband besnydenis-doop. Ons het klaar gesien Paulus skryf die Jode moet glo om vir Abraham as vader te hê. En hy is ook die vader van die heidene wat glo. In Romeine 9 bevestig hy dit. Aan die begin van hierdie beroemde hoofstuk sit Paulus met die probleem dat Israel nie Christus as Messias wil aanvaar nie. Dis vir Paulus so ’n ontstellende saak dat hy selfs bereid sou wees om self deur God verwerp te word as Israel maar net gered kan word. Daar is vir hom ’n skreiende teenspraak in. Hulle is dan die volk van God, God het die verbond met hulle gesluit, Hy het aan hulle sy beloftes gegee, en

Christus is uit hulle gebore (9:1-5). Hoe onder  die son kan dit dan wees dat hulle hulle eie Messias verwerp? En dan die waterskeidende woorde: “Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie” (9:6-7). En dadelik wys hy dit was van die begin af so. Isak was die kind, Ismael was maar net ’n nakomeling. Waarom? Omdat Isak die kind van die belofte was, en Ismael nie. Dit gaan dus van die begin af oor die belofte en die geloof. Die verbond met Abraham was ’n voluit geestelike saak.

 

En daarvan lewer Johannes net so ’n sterk getuienis. Op Jesus se stelling dat net die waarheid (wat Jesus self is) ’n mens kan vrymaak, antwoord die Jode dat hulle die nageslag van Abraham is en daarom nie slawe nie (Joh 8:31 ev). Hulle herbevestig die aanspraak dat Abraham hulle vader is, waarop Jesus dan vra hoekom hulle dan nie doen wat Abraham gedoen het nie. Op hulle verdere aanspraak dat God self hulle Vader is, reageer Jesus met die skokkende stelling dat die duiwel hulle vader is (8:44).

 

Dit bevestig nogeens dat afstamming van Abraham nie noodwendig ’n geloofsband met Abraham veronderstel nie, en herbevestig dat die verbond met Abraham ’n geloofs- en genadeverbond is, en dat die besnydenis ’n diep geestelike betekenis gehad het.

 

1.4.4 Die geestelike betekenis van die besnydenis

Trouens uit die Ou Testament weet ons dit lankal. Die 1953-vertaling was nog duideliker hieroor. Indien die besnydenis net ’n teken was dat ’n man ’n Jood was, was dit genoeg om net besny te wees. Maar oor en oor lees ons dat die moeilikheid met Israel is dat hulle net letterlik besny is, maar dat hulle harte, of hulle ore, of hulle lippe nie besny is nie (Eks 6:11, 29; Lev 26:41; Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4; 6:10; 9:25-26; Eseg 44:7, 9). Die nuwere vertalings vertaal dan met iets soos dat hulle ongehoorsaam of hoogmoedig is of dat hulle ore vir die Woord van die Here toe is en hulle hulleself verhard. In die NLV lees ons selfs: “Besny julleself vir die Here, inwoners van Juda … anders sal my woede oor jul le uitbreek” (Jer 4:4). Dit beteken die Israeliete wat besny is, moet hulleself besny. Dit kan mos net beteken dat die letterlike besnydenis sonder die geestelike besnydenis geen waarde het

nie. Dan was die besnydenis mos al in die Ou Testament ’n hoogs geestelike saak en glad nie ’n blote nasionale teken nie. Trouens dit werk vandag nog presies só met die doop. Dit help niks om letterlik gedoop te wees, maar nie ’n nuwe (“gedoopte”) lewe te hê nie.

 

In hierdie lig kan dit vir niemand vreemd wees dat die Nuwe Testament ’n bepaalde verband lê tussen die besnydenis en die doop nie. Kom ons kyk daarna.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Ou verbond-nuwe verbond

Alle Paaie lei na Jesus: Ou verbond-nuwe verbond – Adrio König

Ou verbond-nuwe verbond

Ons moet ook kyk na die onderskeid ou verbond-nuwe verbond. Dit is die uitdrukking in die Bybel wat die meeste verwarring wek in ons siening van die verbond, want dit word maklik verkeerd geïnterpreteer. Ons gaan hier heelwat gebruik maak van gegewens in die Nuwe Testament wat eers later in hierdie hoofstuk breedvoeriger bespreek sal word.

 

Mense dink die ou verbond is die Ou Testament, en die nuwe verbond die Nuwe Testament. Ander dink weer die ou verbond is God se verbond met Abraham wat dan vervang word deur die verbond wat Jesus deur sy bloed/dood ingestel het. Natuurlik is die beste manier om duidelikheid te kry eenvoudig om te gaan kyk hoe hierdie begrippe in die Bybel gebruik word.

 

Die begrippe ou verbond-nuwe verbond kom uit Jeremia 31:31-34. Daar beloof die Here dat Hy in die toekoms met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. Hy omskryf dan baie noukeurig watter verbond die ou verbond is wat deur die nuwe vervang sal word. Die nuwe verbond “sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond … verbreek”. Dit is dus sonder meer duidelik dat die ou verbond die verbond by Sinai is waar die wet aan Israel gegee is. Dit is dus nie die verbond met Abraham nie – wat 430 jaar tevore gesluit is – en ook nie die Ou Testament as sodanig nie. Immers die Ou Testament is baie meer as die verbond by Sinai, en soos later in hierdie hoofstuk duidelik sal word, gaan die verbond met Abraham juis voort in die Nuwe Testament.

 

Dit is verder belangrik om te kyk wat die nuwe verbond sal wees. Vier dinge word in Jeremia 31 oor hierdie verbond gesê.

  • “Ek sal my woord op hulle harte skryf.” Dit is duidelik ’n verwysing na die wet wat by Sinai op kliptafels geskryf is. Dit is dus hierdie wet of verbond wat vervang sal word.
  • “Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” Dit is die inhoud van die nuwe verbond, maar ons weet dit is presies die verbond wat God met Abraham gesluit het. Daar sal dus ’n direkte verband wees tussen die nuwe verbond en die verbond  met Abraham. Uit Galasiërs 4 sal dit later duidelik word.
  • Almal sal die Here dien, klein en groot.
  • Die Here sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

 

’n Paar gedagtes oorheers dus in die nuwe verbond.

  • Dit sal nie net uitwendig wees nie, maar die harte van die volk raak.
  • Dit sal dieselfde verbond wees wat Hy met Abraham gemaak het.
  • In plaas daarvan dat daar net ’n klein groepie onder die volk sal wees wat aan die Here getrou is soos dit omtrent altyd was, sal almal Hom dien.
  • Die feit dat Hy hulle sondes sal vergewe, sien waarskynlik op hulle sondes wat gelei het tot die aankondiging van die afskaffing van die ou verbond en die instelling van die nuwe.

 

Wanneer ons nou na die Nuwe Testament gaan, is daar telkens sprake van die nuwe verbond, maar omtrent nooit in besonderhede nie. In verband met die instelling van die nagmaal verwys Jesus en Paulus kortliks na die nuwe verbond, maar sonder enige verduideliking (Luk 22:20; 1 Kor 11:25). In Hebreërs word die hele deel oor die ou en nuwe verbond uit Jeremia aangehaal, maar net met die opmerking dat die oue nou regtig iets van die verlede is (Heb 8:6-13). Elders in Hebreërs is daar nog ’n paar kort verwysings na die nuwe verbond, maar al wat daarin belangrik is, is dat Christus die Middelaar is (9:15; 12:24).

 

Maar dan die twee dele waarin daar besonderhede gegee word (2 Kor 3; Gal 4:21-31).

2 Korintiërs 3 is ’n geweldige hoofstuk, maar vir ons doel is net ’n paar dinge daarin belangrik. Net soos Jeremia vereenselwig Paulus hier duidelik die ou verbond met Sinai en Moses en die kliptafels. Ook hier gaan dit nie meer om die kliptafels en die letters van die wet nie, maar om die Gees en mense se harte. Dit is dus duidelik dat ook in die Nuwe Testament daar geen verband is tussen die ou verbond en die Abrahamverbond nie. Die ou verbond is die Sinaiwetgewing.

 

Galasiërs 4 is egter die eintlike belangrike hoofstuk om die betekenis van die ou verbond en die nuwe te verstaan. In hoofstuk 3 stel Paulus die evangelie teenoor die wet. Hy vereenselwig die wet met Moses en die evangelie met Abraham. Sy nadruk op die evangeliese betekenis van Abraham is merkwaardig, net soos in Romeine 4.

  • Die evangelie is reeds aan Abraham verkondig (3:8).
  • Abraham is vrygespreek omdat hy geglo het (3:6).
  • Gelowiges word vandag nog saam met Abraham geseën (3:9).
  • Christus het deur die kruis die seën (verbond) wat God aan Abraham toegesê het, ook vir die heidene toeganklik gemaak (3:14).
  • Christus is die eintlik nakomeling van Abraham (3:16).
  • Deur die doop word ons aan Christus verbind en op dié wyse self ook nakomelinge van Abraham (3:27, 29).

 

Dit is die agtergrond en die konteks waarin hoofstuk 4 staan: Die byna oorweldigende betekenis van die verbond met Abraham. Nadat Paulus dan nog ’n keer in die eerste deel van hoofstuk 4 teen die gevare van verslaafdheid aan die wet gewaarsku het, gaan hy oor om te skryf oor die twee verbonde, die oue en die nuwe. Abraham het twee seuns gehad, een uit ’n slavin (Hagar), en een uit ’n vrou wat vrygebore is (Sara). Die een kind is op die natuurlike manier gebore, en die ander een volgens die belofte van God. Paulus sien hierin ’n dieper betekenis. “Die twee vroue staan vir twee verbonde. Die een is by Sinaiberg gesluit en bring slawe voort. Dié verbond is Hagar” (Gal 4:24). Dit is dan vir Paulus ’n beeld van die Jerusalem van sy tyd wat slawe van die wet is, en dit is die ou verbond. Daarteenoor staan “die hemelse Jerusalem” (4:26) wat vry is, die nuwe verbond waarvan Sara die simbool is. En dié wat nou in Christus glo, is net soos Isak kinders van die belofte (4:28).

 

Dit beteken dat Paulus hier uitdruklik doen wat alreeds elders implisiet gedoen is, om die nuwe verbond te vereenselwig met die verbond met Abraham. Dit is nie vreemd nie. Eintlik kon dit ook nie anders nie. Die verbond met Abraham is tog die genadeverbond. En na die geweldige ryk betekenis wat hy in sowel Romeine 4 as Galasiërs 3 aan hierdie verbond gegee het, was dit vanselfsprekend dat dit dieselfde as die nuwe verbond moet wees.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




God se Verbond met Abraham

God se Verbond met Abraham – Francois Malan

Vraag

Elizabeth wil weet:

Wat is God se verbond met Abraham?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:
In Genesis 12:1-3 word vertel dat die Here Abram roep en van sy belofte aan Abram. In 13:13-17 word sy beloftes herhaal en uitgebrei. In 15:18-21 word van die sluiting van die verbond vertel. In 17:4-9 word die verbond bevestig, Abram se naam verander na Abraham (as vader van baie nasies), die besnydenis word as teken gegee, en die inhoud van die verbond word beskryf as: Ek sal jou God wees en die God van jou nageslag. Wat van Abraham verwag word, word in 17:1 gesê: Lewe naby My en wees opreg. Nadat hy tot die uiterste getoets was of hy Isak sou offer in gehoorsaamheid aan die Here, en aan die Here gehoorsaam gebly het, herhaal die Here sy beloftes (22:16-18).

Met die uittog van Israel uit Egipte (1230 v.C.) sluit die Here met hulle ‘n verbond by Sinai en gee aan hulle sy gebooie wat op plat klippe geskryf is (Eks 34:28).

Deur die eeue het Abraham (wat ongeveer 1700 v.C. geleef het) se nageslag die verbond met die Here verbreek en ander gode gedien. Daarom word die 10 noordelike stamme van Israel in 722 v.C. na Assirië in ballingskap weggevoer, en die twee suidelike stamme in 586 v.C. na Babilon (Jer.22:8,9). Die Here belowe egter dat Hy ‘n nuwe verbond met sy volk gaan sluit (Jer.31:33) deur sy woord op die harte van mense te skryf en in hulle gedagtes vas te lê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees (vgl. Hebreërs 8:8-13).

Lk 1:70-75 word na die Here se verbond met Abraham verwys en dat dit met die geboorte van Jesus vervul word (vgl. Hand.3:25-26). In Romeine 4 verwys Paulus na Abraham se verhouding met God wat reggestel is deurdat Hy in God geglo het. So word elke mens se verhouding met God reggestel deur in Christus glo, op Hom te vertrou en vir Hom te lewe. In Romeine 8 beskryf hy hoe God sy wet in ons harte skryf, deur die Heilige Gees wat permanent in ons kom woon om ons geloof in Christus te gee en van ons kinders van God te maak wat Hom al beter begin gehoorsaam.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Genesis 15

Genesis 15 – Marius Nel

Rudolph vra:

Ek lees in Genesis 15:13-16 dat die Here vir Abraham vertel van Israel se 400 jaar in Egipte. Maar Hy verwys na 4 geslagte na Abraham wanneer sy nageslag weer sal terugkeer na die land. Vier geslagte later is die Israeliete nog in Egipte gewees – hoe verklaar ek dan hierdie vers?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

15:7-21 Geloof ten spyte van land-loosheid. Dis nou alles goed en wel dat Abram verseker is dat hy ‘n eie kind sal hê. Maar wat help dit hy kry ‘n nageslag en hulle bly vreemdelinge sonder ‘n eie land? Die manier waarop die Here ook hierdie belofte bevestig, is bedoel om dit onuitwisbaar te maak. Dit neem die vorm aan van ‘n offerritueel, ‘n herhaling van die belofte, afgesluit met ‘n verbondsluiting wat die omvang van die land aandui. Nou is dit nie net woorde nie, maar dade wat Abram moet bemoedig ten spyte daarvan dat hyself nooit die land sal besit nie.

Die ritueel met die diere waarvan sommige deurgesny is, kan nie met sekerheid verklaar word nie. Sommige kenners verklaar dit op grond van destydse handelinge waarmee ooreenkomste bevestig is en waardeur gesê word: “Mag die een van ons wat hierdie ooreenkoms breek, so deurgesny word.” Tog is geen presiese parallel in die antieke Nabye-Ooste bekend nie. Selfs die byna gelykluidende Jeremia 34:18-19 (vgl Rig 19:11-20:48; 1 Sam 11:1-10) is geen presiese parallel nie. Dit moet eerder gesien word as ‘n ritueel uit die offerpraktyke met die funksie om ‘n ooreenkoms (verbond) te bevestig.

Die letterlike vertaling van ‘n verbond sluit is “‘n verbond sny”. Die deursny van die diere kan dus verwys na die “sny” van die verbond.

Dis duidelik dat hierdie vertelling antieke elemente vertoon, maar dat dit ook die wêreldbeeld van latere vertellers weerspieël. Die beskrywing van die lotgevalle van Abram se nageslag (15:13-16) is ‘n verwysing na die Egiptiese slawerny en die besetting van die land. Die beskrywing van die land en die lys volkere (15:18-21) verwys na die grense tydens Salomo se bewind. Hierdie vertelling het dus in latere tye, en wel tydens die ballingskap, Israel bemoedig met die herinnering dat God se beloftes tog vervul is.

Vier geslagte is volgens Joodse berekening maar slegs 160 jaar. Hoe die gedeelte 400 jaar en 4 geslagte met mekaar in verband bring, is nie duidelik nie. Ons het met ‘n antieke teks te doen wat vir eeue met die hand oorgeskryf is, en dalk het ‘n oorskrywingsfout hiertoe gelei.

 

Skrywer: Dr Marius Nel