God en Allah: Is hulle dieselfde?

God en Allah: Is hulle dieselfde? – Francois Malan

Francois vra:

Is die God (vader van Jesus Christus) en die God wat die Moslem aanbid, dieselfde God. Volgens my dominee is dit nie. Die God van die Bybel word blykbaar anders beskryf/voorgestel as die van die Moslems. Allah is mos maar net `n ander naam as God.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

God is ‘n soortnaam, nie ‘n eienaam nie. Daar is baie gode met verskillende eiename soos die Grieke se Zeus, Apollo, Aphrodite, ens. en die Romeine se Jupiter, Diana, ens.

 

Die God van die Bybel het Hom op Moses se navraag bekendgestel as ‘Ek is,’ wat in Hebreeus bekend geword het as Jahweh (Eks 3:14-15). Die Griekse vertaling het die naam Jahweh, wat 6,823 maal in die Ou Testament voorkom, vertaal met ‘kurios’, Here, soos dit ook in die Afrikaanse Bybel vertaal word.  Jahweh, ‘Ek is,’ is eintlik’n werkwoord, wat God beskryf as die ewige aktiewe teenwoordige;  vgl. Jesaja 52:6 ‘Daardie dag sal my volk my Naam bely: dat Ek die Here (Jahweh) is, dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek!’

 

Johannes se Evangelie, laaste van die Evangelies geskryf, met besinning oor wie Jesus is in die lig van sy opstanding en die Ou Testament, begin deur Jesus te noem ‘die Woord van God’ wat self God is deur wie God alles geskep het met sy Woord (Jn 1:1-3). Jesus sê dan ook ‘Ek en die Vader is Een, die Vader is in My en Ek in die Vader, wie My gesien het het die Vader gesien’ (Jn 14:10-11). In Johannes sê Jesus  8 maal ‘Ek is’ en brei daarop uit in ander tekse met ‘Ek is die brood van die lewe’ (Jn 6:35), ‘Ek is die Lig vir die wêreld’ (Jn 8:12), ‘Ek is die deur vir die skape’ (Jn 10:7), ‘Ek is die goeie herder’ (Jn 10:11), ‘Ek is die opstanding en die lewe’ (Jn 11:25), ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe’ (Jn 14:6), ‘Ek is die ware wingerdstok’ (Jn 15:1), en in Jn 8:58 Voorwaar voorwaar Ek sê vir julle: ‘Ek is’ al voordat Abraham gebore is. Daarmee sê Johannes dat Jesus al by die skepping die woord was wat gesê het: Laat daar lig wees (Gen 1:3). Hy is die openbaarder van God, waar God in die Ou Testament gepraat het, was dit deur sy Seun wat na sy menswording (Jn 1:14) Jesus Christus genoem is (Jn 1:17 Jesus beteken die Here verlos, en Christus is die Grieks vir Gesalfde (as profeet wat God bekendmaak, priester wat vir ons sondes gesterf het, vgl. Jn 1:29; en koning aan wie God alle mag gegee het in die hemel en op die aarde, vgl. Matteus 28:18).  

 

Daarby stuur die Vader en die Seun vir God die Heilige Gees om in ons te kom woon (Jn 14:16-17), ons tot geloof in Jesus te lei, en ons daagliks te lei en te versterk om in liefde met mekaar saam te lewe soos Jesus, as kinders van God (vgl. Romeine 8:9-17). In Jn 14 sê Jesus Hy gaan om vir ons plek te berei in die huis van sy Vader met baie woonplek (14:2), en later Hy sal die Vader vra om die HG te stuur om in ons te woon en te bly (14:17), en: ‘as iemand My liefhet sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon (14:23).       

 

1 Johannes 4:8,16 sê God is liefde. Liefde is ‘n verhoudingswoord. Dit dui die eenheidsband van liefde tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees, waarin ons opgeneem word deur die Heilige Gees wat ons in ons kom woon en laat deel word van God se onbaatsugtige liefde (vgl. Romeine 8:38-39).

 

Terwyl Allah met 99 wonderlike name beskryf word oor alles wat Hy doen en is, o.a. as die Skepper, die Oorsprong, Enigste ware God,  het die Vader van Jesus Christus in ons kom woon deur die Heilige Gees. Islam verwerp die Drie-eenheid. Hoewel hulle Jesus as ‘n profeet erken, maar nie so belangrik soos Mohammed nie, aanvaar hulle gladnie dat Hy God is wat mens geword het om die sonde van die wêreld op Hom te neem en ons verhouding met God reg te maak sodat ons kinders van God is in wie Hy kom woon nie.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Is God en Allah een?

Is God en Allah een? – Jan van der Watt

Juliana vra:

Die antwoord op die webblad lees dat Allah ‘n god van Mekka wat verwar was met God (Here) en toe aanbid is. Maar ek verneem dat daar baie ooreenkomste is tussen die Bybel en Koran aangaande “Bybelse” geskiedenis en sommige mense sê ook dat God en Allah dieselfde god is. Dat Jesus ook erken word as ‘n profeet maar dat Mohammed die eintlike ware profeet is. So ook met die Joodse geloof, ons dien dieselfde Vader God maar hulle glo dat Jesus vals was en dat die Seun nog moet kom. Nou my vraag: Ek is BAIE verwar aangaande al hierdie gelowe. Ek weet en glo dat Jesus die enigste lig, weg en waarheid is, maar hoe kan die Jode en Muslims “dieselfde” god en geskiedenis dan so verdraai om hulle te pas, om net een deel van die Bybel te glo en nie die res nie? Waar het Islam dan vandaan gekom?

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Oor die ware God is daar opmerkings elders in www.bybelkennis.co.za. Ek wil graag fokus op waarom daar in Islam ook na die aartsvaders en Jesus verwys word. Mohammed, wat verantwoordelik was vir die opskrifstelling van die Koran, het in sy jonger lewe direkte kontak met beide die Jode en die Christene gehad. Hy was byvoorbeeld saam met sy oom na Jerusalem en het daar met die Joodse godsdienste en hulle geskrifte (die Ou Testament) in aanraking gekom. Hy het dit as waar aanvaar. Toe die Jode hom later verwerp, het hy die Joodse godsdiens verwerp, maar nie die eerste boeke van die Ou Testament nie. Dit het deel van sy kennis gebly. Hy was ook positief teenoor die Christene. Toe hy eenmaal, toe hy nog jonger was, vir sy lewe moes vlug, het hy by Christene (in Afrika) veiligheid gevind. Hulle het toe vir hom gesorg. Daar het hy van sy kennis van die Jesus en die Christendom opgetel wat by hom gebly het. Toe die Koran op skrif gestel is, is die inligting uit die eerste vyf boeke van die Ou Testament en inligting oor Jesus in die Koran opgeneem. Daarom kry ons tot vandag toe nog hierdie inligting in Islam.

Dit moet egter nie verwar word met die God wat aanbid word nie. Toe beide die Jode en die Christene hulle rug om Mohammed en sy openbarings gedraai het, het hy bewustelik na Mekka gegaan en die naam van die lokale god aldaar vir sy godsdiens oorgeneem. Dit het ook die mense saamgebind. Omdat hy die eerste vyf boeke van die Ou Testament geken het, is daar ooreenkomste tussen die god van die Koran met die beeld van God wat ons in die eerste vyf boeke van die Ou Testament het. Omdat die res van die Ou Testament en die Nuwe Testament nie by Mohammed ‘n sterk rol gespeel het nie, kom die ander eienskappe van God in die res van die Bybel nie voor nie, wat beteken dat die beeld van God asook die manier waarop ons God moet dien in dit Koran en in die Bybel verskil. Veral die feit dat die Christendom se redding deur Jesus kom en dit belangrik is om te weet en te bely dat Hy God en mens is wat uit die dood opgestaan het, maak die redding heeltemal verskillend. Hoewel Jesus in Islam erken word as profeet (Mohammed het mos by die Christene gehoor daar is iemand soos Jesus) bly Hy maar net ‘n gewone mens. Dit alleen maak die twee godsdienste al onherroeplik verskillend.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




God en Allah(1)

God en Allah – Pieter Verster

ʼn Leser vra:

Die antwoord op die webblad lees dat Allah ʼn god van Mekka wat verwar was met God (Here) en toe aanbid is. Maar ek verneem dat daar baie ooreenkomste is tussen die Bybel en Koran aangaande “Bybelse” geskiedenis en sommige mense sê ook dat God en Allah dieselfde god is. Dat Jesus ook erken word as ʼn profeet, maar dat Mohammed die eintlike ware profeet is. So ook met die Joodse geloof, ons dien dieselfde Vader God maar hulle glo dat Jesus vals was en dat die Seun nog moet kom. Nou my vraag: Ek is BAIE verwar aangaande al hierdie gelowe. Ek weet en glo dat Jesus die enigste lig, weg en waarheid is, maar hoe kan die Jode en Moslems “dieselfde” god en geskiedenis dan so verdraai om hulle te pas, om net een deel van die Bybel te glo en nie die res nie? Waar het Islam dan vandaan gekom? En die Jode verwar my totaal omdat die redding in Jesus soos daglig voor hulle is maar hulle ignoreer(en selfs haat) Hom.

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Vanuit die staanspoor moet daar bevestig word  dat daar maar een God is. Hy is Skepper van Hemel  en aarde,  die Here. Christene bely dat God  die Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees is. Daar is volgens Christene geen ander God nie. Die Bybel, naamlik die  Ou en Nuwe Testament openbaar Hom as die enigste Here. Die probleem is nie dat daar baie gode is nie-daar is slegs een God. Ons verskil egter oor die  wyse waarop God Hom openbaar. Die Jode aanvaar Jesus as profeet, maar nie dat Hy die ware en enige Seun van God is nie. Die Moslems glo onwrikbaar in  Een God, maar  nie dat Hy die Drie -Enige God is nie. Die wonder is dat Christene met groot  oortuiging aangaande die Drie -Enige God kan getuig sonder om hooghartig of veroordelend te wees. Ons kan van die wonder van Christus wat ware God en volkome mens is getuig. Daar hoef geen veroordeling van ander te wees nie maar slegs getuienis van die wonder van die lewende God. Ons kan inderdaad getuig dat Jesus die enigste Weg, Waarheid en  Lewe is.  Hy is ook die enigste Verlosser. Hierdie getuienis moet steeds in die wêreld uitgaan.

Outeur: Prof Pieter Verster

 




God en Allah

God en Allah – Jan van der Watt

Francois Brummer vra:

Ek wil graag in kort vasstel of die Christen God en Allah voor die koms van Jesus dieselfde God is.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die antwoord is eenvoudig – nee. Allah was aanvanklik die naam van ʼn lokale god by Mekka. Nadat nie die Jode of die Christene Mohammed se boodskap wou aanvaar nie, het hy die naam van die plaaslike god wat in Mekka aanbid het as die naam aanvaar. Hy het egter aanvanklik gedink dat dit die God van Israel (en die Christene) was wat aan hom verskyn het.

Outeur: Prof Jan van der Watt