Tobit

Tobit

Die boek Tobit is ‘n Ou-Testamentiese apokrief wat ‘n pragtige verhaal vertel – oor hoe God sorg vir die mense wat hom dien. Selfs die probleme en teëspoed keer Hy uiteindelik om. In die uittreksel hieronder word vertel hoe Tobit se probleme begin het:

Op Pinksterfees (die heilige fees van die sewe weke) is ‘n heerlike ete vir my gekook en ek het gaan sit om te eet.

2 Toe ek sien hoe baie gekookte kos daar is, sê ek vir my seun: “Gaan haal soveel van ons arm mense wat die Here dien as wat jy kry. Ek sal wag tot jy terug is.” 3 Maar hy kom terug en sê: “Pa, een van ons mense is verwurg en is op die markplein neergegooi!”

4 Voor ek nog enigiets geëet het, het ek opgespring en sy lyk verskuif na ‘n buitekamertjie waar dit kon bly totdat die son onder was.

5 Terug by die huis, het ek gewas en my kos geëet terwyl ek baie hartseer was. 6 Toe het ek onthou wat die profeet Amos geskryf het: “Julle feeste sal in hartseer verander; al julle feesviering in ‘n gesnik”; en ek het gehuil.

7 Toe die son onder is, het ek ‘n graf gaan grawe en die lyk begrawe. 8 Maar my bure het vir my gelag en gesê: “Hy is nog steeds nie bang om doodgemaak te word hiervoor nie! Hy moes een keer vlug en nou begrawe hy al weer die dooies!”

9 Later daardie nag het ek teruggekom nadat ek die man begrawe het. Omdat ek onrein was, het ek teen die muur van die binnehof geslaap. My gesig was oop. 10 Ek het nie geweet daar is mossies op die muur nie en hulle warm mis het in my oop oë geval. Wit velle het oor my oë gevorm. Ek het na die dokters gegaan, maar hulle kon my nie help nie.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Asarja se gebed en die lied van die 3 jong manne

Asarja se gebed en die lied van die 3 jong manne

Wat het met Daniël se drie vriende gebeur toe hulle binne-in die warm vuur gegooi is? Die Ou-Testamentiese apokrief, Asárja se gebed en die lied van die drie jong manne vertel wat gebeur het:

 

1 Ganánja, Asárja en Mísael het in die middel van die vuur rondgeloop. Hulle het liedere vir God gesing en die Here geprys.

2 Toe het Asárja in die vuur gaan stilstaan en hardop gebid:

3 “Ons prys U, Here, God van ons voorouers. Ja, ons loof en eer U vir altyd en altyd, 4 want dit wat U gedoen het, was regverdig. Ja, alles wat U doen, is waar en reg! U oordeel altyd reg! 5 U het reg geoordeel: alles wat U met ons laat gebeur het en met Jerusalem, die heilige stad van ons voorouers, was reg! Ja, U het reg geoordeel en ons gestraf vir ons sondes toe U dit alles laat gebeur het.

6 Ja, ons het sonde gedoen en u wet oortree toe ons van U weggedraai het. Ons het sonde gedoen en was nie gehoorsaam aan u gebooie nie. 7 Ons het hulle nie nagekom nie; nie gedoen wat U ons beveel het sodat dit met ons kon goedgaan nie. 8 Alles wat met ons gebeur het en alles wat U ons aangedoen het, was reg; U het reg geoordeel! 9 U het ons uitgelewer aan ons vyande, aan wettelose mense, goddelose vyande, aan ‘n onregverdige koning, die heel slegste een in die wêreld!

10 Nou kan ons niks sê nie. Ons wat U dien en aanbid, is nou in skande en oneer.”

11 “Maar ter wille van U eer vra ons: moet ons tog nie vir altyd weggooi nie! Moenie u verbond ophef nie! 12 Moenie u goedheid van ons wegneem nie! Luister na ons ter wille van Abraham vir wie U lief was, Isak wat vir U gedien het en Israel wat aan U behoort het!

13 U het aan hulle belowe dat U hulle nageslag so baie soos die sterre aan die hemel en so baie soos die sand op die strand sou maak. 14 Maar, Here, ons volk het kleiner geword as enige ander volk; ons is nou orals in die wêreld verneder as gevolg van ons sondes! 15 Ons het nou geen koning of profeet of leier of brandoffer of slagoffer of offers of wierook of ‘n plek om aan U te offer en U goedheid te ervaar nie!”

16 “Maar ons kom na U, stukkend en verneder, asof ons brandoffers van ramme en bulle en tienduisende vet lammers vir U bring. 17 Aanvaar dit tog vandag as ons offer aan U! Laat ons vir U end-uit volg, want ons weet U laat nie mense wat U vertrou, in die steek nie! 18 Ons wil U voluit volg, U respekteer en naby U bly sodat U ons nie in die steek laat nie!

19 Wees geduldig met ons en baie goed vir ons! 20 Red ons met een van u wonderwerke; laat die mense sien hoe wonderlik U is! 21 Maar laat almal wat die mense wat vir U dien, kwaad aangedoen het, in die skande kom! Bring hulle in oneer en vat al hulle krag en mag weg; breek hulle sterkte! 22 Laat hulle uitvind dat U alleen die Here God is; dat ‘n mens oral in die wêreld kan sien hoe wonderlik U is!”

23 Die koning se dienaars wat hulle in die oond gegooi het, het aangehou om die vuur te stook. Hulle het nafta-olie, teer, stukke tou en stukkies hout op die vuur gegooi.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Judit

Judit

In die boek Judit, een van die Ou-Testamentiese apokriewe, word ‘n pragtige verhaal vertel van ‘n Joodse vrou wat op die Here vertrou en vrou alleen die magtige vyand ‘n nekslag toedoen.

Haar stad is deur die vyand omsingel en heeltemal uitgehonger. Toe die mense van die stad wou oorgee, het Judit geweier en ‘n slim plan uitgedink om die stad te red. Die uittreksel hieronder vertel hoe die eerste deel van haar plan gewerk het:

 

1 Toe het Judit opgehou om tot die God van Israel te bid om haar te help. 2 Sy het van die grond af opgestaan en haar slavin geroep. Toe het sy uit haar skuiling uitgegaan, af in die huis in waarin sy altyd op die Sabbat en op feesdae gebly het. 3 Sy het die rouklere wat sy aangehad het, uitgetrek, gebad en duur parfuum aangesmeer. Sy het haar hare geborsel, ‘n versiering op haar kop gesit en die vrolike klere aangetrek wat sy altyd gedra het toe haar man Manassa nog geleef het. 4 Sy het sandale aangetrek, armbande, ringe om haar enkels, vingers en ore en al haar ander juwele. Sy het haarself baie mooi gemaak sodat sy die oog van enige man wat haar sien, kon vang. 5 Sy het vir haar slavin ‘n leersak vol wyn en ‘n fles olie gegee, en ‘n sak vol geroosterde graan, koekies van gedroogde vye en die beste brood gepak. Sy het alles toegedraai en ingepak en dit vir die slavin gegee om te dra.

6 Hulle het na Betulua se stadspoort gegaan en vir Ussia daar gekry waar hy saam met die ander twee leiers, Gabris en Garmis gewag het. 7 Hulle het gesien sy lyk heeltemal anders en is anders aangetrek, en hulle was verstom oor sy so mooi was. Hulle het vir haar gesê: 8 “Ons bid dat die God van ons voorvaders vir jou goed sal wees en jou plan sal laat slaag. Dan sal die Israeliete bly wees en al die mense sal vertel hoe wonderlik Jerusalem is!” Judit het gebid 9 en toe vir hulle gesê: “Sê hulle moet die stadspoort vir my oopmaak sodat ek kan uitgaan en kan gaan doen waaroor ons gepraat het.” Hulle het vir die jongmans gesê om die poort vir haar oop te maak. 10 Toe die poort oop was, het Judit en haar slavin uitgegaan. Die stad se mans het haar dopgehou soos wat sy by die berg af gestap het, deur die vallei tot waar hulle haar nie meer kon sien nie.

11 Terwyl die twee reguit deur die vallei gestap het, het van die Assiriese wagte op Judit afgekom. 12 Hulle het haar in hegtenis geneem en gevra: “Van watter mense is jy? Waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” Sy het geantwoord: “Ek is ‘n Hebreeuse vrou, maar ek is besig om van hulle te vlug, want hulle is op die punt om in julle hande te val en vernietig te word. 13 Ek is op pad na Holofernes, die hoof van julle leër, want ek wil vir hom goeie inligting gee. Ek sal vir hom ‘n pad wys waarlangs hy in die berge kan ingaan en dit alles kan inneem sonder om ‘n enkele man te verloor.”

14 Die hele tyd wat die manne na haar geluister het, het hulle na haar gestaar omdat sy so verskriklik mooi was. Hulle het vir haar gesê: 15 “Jy het jou lewe gered deur so vinnig hiernatoe te kom om generaal Holofernes te sien. Gaan dadelik na sy tent toe! ‘n Klomp van ons sal saam met jou gaan en jou na hom toe neem. 16 Moenie bang wees as jy by hom is nie, maar vertel vir hom alles wat jy vir ons vertel het. Dan sal hy vir jou goed wees.”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie




Die brief van Jeremia

Die brief van Jeremia

Een van die groot versoekings vir Israel was altyd dat hulle sal swig voor die afgode van die vyand.

Dit kon byvoorbeeld maklik gebeur dat hulle dink dat Israel se vyande so magtig is omdat hulle gode sterker as die Here is en dan begin hulle om die afgode te aanbid. In die Ou Testament kry ‘n mens gereeld gedeeltes waarin die Here sy volk waarsku om nie voor so ‘n versoeking te swig nie. In Die Brief van Jeremia, een van die Ou-Testamentiese apokriewe, kry ‘n mens dieselfde soort waarskuwing. Die skrywer doen sy absolute bes om die onvermoë van die afgode te beklemtoon:

 

45 Daardie gode word deur skrynwerkers en goudsmede gemaak; hulle kan niks anders wees behalwe dit wat hierdie vakmanne wil hê hulle moet wees nie. 46 Die mense wat hulle maak, leef self nie eens baie lank nie. Hoe kan dit wat hulle maak, dan gode wees? 47 Al wat hulle ná hulle dood vir die mense wat nog kom, nalaat, is leuens en skande! 48 Wanneer daar oorloë of rampe kom, praat die priesters onder mekaar oor waar hulle met die gode kan gaan wegkruip! 49 Hoe is dit moontlik dat ‘n mens nie kan besef dat hierdie goed nie gode is nie? Hulle kan hulleself nie uit oorloë of rampe red nie! 50 Hulle is houtbeelde wat met goud en silwer oorgetrek is. Later sal dit uitkom dat dit alles bedrog was. Alle mense en konings sal sien dat hulle nie gode is nie, maar net die handewerk van mense. Ja, God werk nie deur dié gode nie. 51 Wie besef nie dat hulle nie regtig gode is nie?

52 Hulle kan nie ‘n koning aan bewind bring oor ‘n land nie en hulle kan nie vir mense reën gee nie. 53 Hulle kan nie aan hulleself laat reg geskied of iemand red wat onregverdig behandel is nie. Hulle is magteloos – soos kraaie wat tussen hemel en aarde rondhang. 54 As daar ‘n vuur uitbreek in die tempel van hierdie houtgode wat met goud en silwer bedek is, sal die priesters vlug en wegkom, maar die gode sal soos die tempel se balke in die vuur uitbrand. 55 Hulle kan nie ‘n koning of vyandelike magte weerstaan nie. 56 Hoe kan iemand erken dat hulle gode is of hulle gode noem?

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie