Barug

Barug

In die boek Barug, een van die Ou-Testamentiese apokriewe, konsentreer die skrywer op ‘n paar gedagtes wat eeue lank baie belangrik vir die Jode was.

Die belangrikstes hiervan is (1) die gedagte dat God die Een is wat volledig beheer het oor alles wat met Israel gebeur; (2) dat die Jode swaarkry omdat hulle sonde gedoen het en God hulle straf vir hulle sonde; en (3) hoe belangrik wysheid is en dat die wet van die Here die beste uitdrukking van die wysheid is. In hoofstuk 1 kry ‘n mens ‘n aangrypende skuldbelydenis wat op hierdie gedagtes gebaseer is:

15 Julle moet sê: “Die Here ons God het reg gedoen, maar ons is vandag openlik in skande – ons, die mense van Juda, die inwoners van Jerusalem, 16 ook ons konings, ons leiers, ons priesters, ons profete, en ons voorouers, 17 want ons het sonde gedoen teen die Here ons God. 18 Ons was ongehoorsaam aan Hom; ons het nie geluister wat Hy vir ons gesê het nie; ons het nie die voorskrifte wat Hy vir ons gegee het, nagekom nie. 19 Vanaf die dag wat die Here ons God ons voorouers uit Egipte gebring het tot vandag was ons aan Hom ongehoorsaam. Ons het ons nie aan Hom gesteur nie en nie geluister wat Hy vir ons sê nie. 20 Nou ervaar ons die slegte goed, die vloek wat die Here vir Moses gesê het hy moet aankondig toe Hy ons voorvaders uit Egipte gebring het om vir ons ‘n land wat oorloop van melk en heuning te gee.

21 Ons het nie geluister wat die Here ons God sê toe Hy met ons gepraat het deur die profete wat Hy na ons gestuur het nie. 22 In plaas daarvan het ons elkeen gedoen waarvoor ons lus was; ons het slegte dinge gedoen en ander gode gedien en dinge gedoen waarvan die Here ons God nie gehou het nie.”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Die waarde van die apokriewe en ou christelike dokumente

Die waarde van die apokriewe en ou christelike dokumente

Die invloed van die apokriewe boeke moet nie onderskat word nie. Die Christendom is nou min of meer 2000 jaar oud en vir verreweg die langste deel hiervan – tot ongeveer 1500/1600 nC – was die Ou-Testamentiese apokriewe deel van die Bybel. Daarna is dit deur die Protestante uit hulle Bybel uitgehaal, maar dit het nog steeds deel van die Rooms-Katolieke Bybel gebly. ‘n Mens kan dieselfde van baie Nuwe-Testamentiese apokriewe sê. Alhoewel die amptelike standpunt van die kerk was dat hulle nie deel van die Bybel is nie, het sommige Christene nog steeds van hierdie boeke bly lees.

ʼn Klompie voorbeelde uit die verlede

Hier is ‘n paar voorbeelde van die invloed wat die apokriewe in die loop van die geskiedenis gehad het:

  • Kenners van Shakespeare se werke het byvoorbeeld nie minder nie as 80 sinspelings op die Ou-Testamentiese apokriewe in sy werke aangetoon. Dit kan dalk toevallig wees, maar twee van sy dogters het selfs name van twee heldinne uit die apokriewe gehad – Judit en Susanna.
  • Die apokriewe het ook ‘n invloed op die skilderkuns uitgeoefen. Gedurende die Renaissance en daarna het skilders gereeld skilderye gemaak met tonele uit die apokriewe. Veral Judit, Tobit en Susanna was gewild.
  • In die musiek het die apokriewe ook ‘n invloed uitgeoefen. Händel het byvoorbeeld twee oratoria geskryf wat handel oor temas uit die apokriewe, naamlik oor Susanna en Judas Makkabeus (van wie ons in die Makkabeërboeke lees).
  • Die bekende lied “Kom dank nou almal God” wat in 1636 deur Martin Rinkart geskryf is en wat tot vandag toe nog in baie kerke gesing word, is gebaseer op woorde in die apokriewe boek Ben Sirag (50:22-24).
  • Die apokriewe het selfs vir Christopher Columbus gehelp in sy soektog na ‘n nuwe pad na die Ooste. Hy het ‘n gedeelte in 1 Esdras 4:41 (verkeerd) verstaan en daaruit afgelei dat net een sewende van die aarde se oppervlak uit land bestaan en dat die orige ses sewendes see moet wees. Daaruit het hy afgelei dat die oseaan tussen Europa en Asië (soos hulle gedink het) oorgesteek kan word. Hy het hierdie gedeelte ook aangehaal in sy pogings om die regeerders van Spanje oor te haal om hul finansieel te ondersteun.
  • Baie van die populêre voorstellings wat nou nog in die Christendom leef, is gebaseer op gegewens in die apokriewe. ‘n Paar voorbeelde: Die prentjies wat ons so gereeld op Kerskaartjies van Jesus se geboorte kry met ‘n os en ‘n donkie daarop is gebaseer op gedagtes wat in die apokriewe voorkom. Die quo vadis-legende, waarvolgens Christus vir die vlugtende Petrus vra waarheen hy gaan as hy uit Rome vlug, asook die voorstelling dat Petrus onderstebo gekruisig is, kom ook uit die apokriewe. Die gedagte dat Christus presies op middernag gebore is, is gebaseer op ‘n (verkeerde) interpretasie van ‘n gedeelte uit die Wysheid van Salomo (18:14-15).
  • Van die leerstellings van die Rooms-Katolieke kerk wat vir Protestante snaaks klink, kom uit die Ou Testament-apokriewe, byvoorbeeld dat vir mense wat klaar dood is, gebid kan word, of dat heiliges vir ʼn mens kan intree.
  • Van die feesdae van die Jode sou ons nie geken het as dit nie vir die apokriewe boeke was nie. Daarin word die geskiedenis vertel van waar die dae vandaan kom.
  • Daar word selfs vandag beweer dat die apokriewe boeke vir ons die venster oopmaak om die verskeidenheid van die Christendom in die eerste eeue te waardeer. Van die groepe, soos die Gnostici, wat hulleself ook as Christene gesien het, is deur die “algemene kerk” as dwaalleraars verklaar. Hulle het natuurlik ook geskryf (by Nag Hammadi is ʼn groot biblioteek van hulle in die vorige eeu ontdek) en ons kan dus sien wat hulle alles gesê het.

Skrywer: Proj Jan van der Watt




1 Klemens 36

1 Klemens 36

Ons wonder dikwels of die boeke wat ons in die Nuwe Testament kry van die vroegste tye af deur die Christene as gesagvol gesien is. Hier is ʼn uittreksel uit 1 Klemens 36 (ongeveer in die jaar 95 nC geskryf) wat wys hoe die boeke wat ons as die Nuwe Testament ken reeds deur die Christene gesagvol aangehaal is, selfs saam met die Ou Testament.

1) Geliefdes, hierdie is die pad waarop ons ons heil gevind het: Jesus Christus die Hoëpriester, bied ons gawes aan. Hy is die Een wat ons ondersteun en help met ons swakhede. 2) Deur Hom kyk ons op na die hoë hemele. Deur Hom sien ons soos in ʼn spieël sy aangesig wat perfek en verhewe is. Deur Hom word die oë van ons harte  oopgemaak. Deur Hom straal die lig ons gees binne wat in donkerheid vasgevang is en niks weet nie. Deur Hom wil die Here ons graag laat proe aan die kennis wat nooit vergaan nie: ‘die glansvolle grootheid van sy majesteit troon sover bo die engele uit, as wat sy Naam bo hulle name uittroon.’ (Heb. 1:3-4). 3) Want die Skrif sê: ‘Hy maak sy engele tot winde en sy dienaars tot vuurvlamme.’ (Heb. 1:7). 4) Maar van sy Seun het die Here dit gesê: ‘Jy is my Seun. Op hierdie dag het Ek jou gegenereer. Vra van My en Ek sal vir jou die nasies as jou erfdeel gee en die wye wêreld as jou besitting.’ (Ps. 3:7-8). 5) En weer het Hy vir Hom gesê: ‘Sit hier aan My regterhand tot Ek vir jou ʼn voetstoel van jou vyande gemaak het.’ (Ps. 110:1; Heb. 1:13). 6) Wie is nou die vyande? Die slegte mense wat teen God se wil optree.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Makkabeërs 1:18–35

2 Makkabeërs 1:18-35

Toe die tempel in Jerusalem vernietig is, het die ballinge die vuur waarmee hulle die offeraltaar aan die brand gehou het, saamgeneem. Lees hier wat gebeur het.

Ons sal op 25 Kuslew (November tot Desember) die reiniging van die tempel herdenk. Ons het gedink dit is reg om julle daarvan te sê sodat julle ook die Huttefees vier, asook die Fees van die Vuur wat ons laat terugdink aan die vuur van die offers van Nehemia, wat die tempel en die altaar herbou het.

19) Dit is die agtergrond: Toe ons voorvaders as gevangenis Persië toe gevat is, het toegewyde priesters van die vuur van die altaar saamgevat. Daar gekom het hulle dit stilletjies in ʼn holte in ʼn droë put weggesteek. Hulle het doodseker gemaak dat niemand anders van die plek weet nie. 20) Baie jare het verbygegaan. Toe die tyd volgens God ryp was, het die koning van Persië Nehemia na Israel toe teruggestuur. Nehemia het toe die nakomelinge van die priesters wat die vuur weggesteek het, gevra om daarvoor te gaan soek. Hulle het kom rapporteer dat hulle dit nie kon kry nie. Al wat daar was, was dik modderige water. Nehemia sê toe vir hulle om van daardie water te gaan haal. 21) Hulle het die offers reggemaak. Toe sê Nehemia vir die priesters om van die modderige water op die hout en offer wat op die altaar gelê het, te gooi. 22) Skaars het hulle dit gedoen of die son het tussen die wolke deurgebreek. Toe dit gebeur het die hout en offer aan die brand geslaan. Almal was stom van verbasing. 23) Terwyl die offer gebrand het, het die priesters begin bid; almal het sommer saam gebid. Jonatan het die gebed gelei en die res van die mense het saam met Nehemia hardop saam gebid waar hulle moes.

30) Die priesters het toe liedere begin sing om die Here groot te maak.

31) Toe die offer heeltemal verbrand was, het Nehemia gesê dat die res van die modderige water op groot klippe uitgegooi moes word. 32) Hulle het dit gedoen en dadelik het ʼn vuur daar aan die brand geslaan. In die helder glans van die altaar het dit na niks gelyk nie. 33) Die nuus het gou versprei. Die mense het selfs vir Persiese koning alles gaan vertel: dat presies op die plek waar die priesters (wat gevang was) die vuur weggesteek het daar ʼn soort vloeistof verskyn het; en dat Nehemia en sy mense dit gebruik het om die offers mee aan die brand te steek. 34) Die koning het dit laat ondersoek en agtergekom dat alles waar is. Hy het ʼn muur om die plek laat bou en dit heilig verklaar. 35) Die koning het van die mense gehou. Daarom het hy vir hulle die pragtigste geskenke gegee. Nehemia en sy mense het hierdie modderige water Neftar genoem (dit beteken om rein te maak). Die gewone mense het sommer Neftai gepraat.
Skrywer: Proj Jan van der Watt