Was 1 Petrus ‘n brief of ‘n preek, en wat was die outeur se doel daarmee?

Was 1 Petrus ‘n brief of ‘n preek, en wat was die outeur se doel daarmee?

Sommige navorsers meen dat 1 Petrus miskien eers as ‘n preek geskryf is en later in ‘n briefvorm gegiet is. Daar word veral voorgestel dat dit miskien ‘n soort dooppreek kon wees. Dit is egter heel onwaarskynlik. Dit word algemeen aanvaar dat 1 Petrus ‘n oorspronklike brief is. Die hoofdoel daarvan was om gelowiges in Klein-Asië te bemoedig terwyl hulle deur die ongelowiges vervolg is, en om hulle op te roep tot onberispelike gedrag ten midde van hul omstandighede

Genre / vorm

Die doel van 1 Petrus hang in baie opsigte af van die slotsom waartoe ‘n mens kom ten opsigte van die genre / vorm van die geskrif.  So beskou sommige navorsers die geskrif as oorspronklik ‘n dooppreek, ‘n preek vir onlangs gedooptes of ‘n uitgewerkte doopliturgie (erediens).  Hoewel die tema van die doop wel in die geskrif voorkom (3:21), en daar tydens die skryf daarvan moontlik gebruik gemaak is van Christelike onderrig- (didaktiese) en liturgiese materiaal, is dit telkens aangewend om die groter doel van die geskrif te dien, soos wat hieronder beskryf word.

Die voorstelle dat 1 Petrus enige iets anders as ‘n ware brief is, is op baie min getuienis binne die teks self gebasseer, en bly gevolglik onoortuigend.  Daarteenoor is daar regdeur die geskrif elemente van ‘n ware brief teenwoordig, en is dit gevolglik die meeste navorsers se oortuiging dat 1 Petrus inderdaad ‘n oorspronklike brief is.

Hierby kan ook genoem word dat dit geskryf is as ‘n omsendbrief.  Die draer van die brief sou waarskynlik per boot arriveer vanaf Rome (waarvandaan die brief gestuur is) in ‘n stad in die Pontus-distrik, vandaar suidelik beweeg deur Galasië na Kapadosië, vandaar weswaarts na die provinsie Asië en laastens weer noordwaarts na Bitinië, vanwaar hy per boot kon terugreis na Rome (vgl. 1 Pet. 1:1).

Doel

Die outeur verwoord self sy doel met die brief soos volg: “Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is.  Staan hierin vas!”  (1 Pet. 5:12b).  Dit is dan ook presies wat hy doen regdeur die brief.  Hy bemoedig die geadresseerdes op grond van die sekerhede van hulle geloof en hul nuwe identiteit in Christus.  Verder moedig hy hulle ook aan om (op grond van hul identiteit as bevoorregtes van God) standvastig te bly en onberispelik op te tree, ten midde van die diskriminasie en vervolging wat hulle beleef het, komende van die ongelowiges in hul gemeenskappe en selfs in hul eie huisgesinne (vgl. 1 Pet. 3:1-2).

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Die Doop – Geloof in Aksie Bybel

Die Doop

Nie net Christene doop of het in die ou tyd gedoop nie. In die Bybelse tyd het verskillende mense of groepe op verskillende maniere gedoop. Die doop is dus nie net Christelik nie. Dit gaan dus nie soveel oor die manier van doop nie, maar oor die betekenis van die betrokke doop. Die doopaksie is maar net ʼn teken van ʼn groter boodskap.

Wat is die boodskap van die Christelike doop? Wel, dat jy van die slegte groep na die beter groep toe oorstap. Jy speel nie meer in die span van die duiwel nie, maar in die span van God. Deur jou te laat doop wys jy vir almal dat jy daai grens tussen die duiwel en Jesus se groep oorgesteek het. Daarom het die vroeë Christene altyd gesê: “Jesus is die Here” as hulle gedoop is. Hulle dien nou vir Jesus en nie meer die duiwel nie. In Kolossense 2:12 word die beeld dan ook gebruik van iemand wat begrawe is en toe weer opgewek is as ʼn nuwe mens. Wel, as jy begrawe word, is jy weg. Daardie ou mens bestaan nie meer nie. Maar in Christus staan ʼn nuwe mens op. Nou is daar ʼn nuwe mens in sy plek, daarvoor sorg Jesus. Dit is asof jy dus in ʼn nuwe wêreld saam met God instap. Die doop is die teken dat dit in jou lewe gebeur het.

Maar wat nou van kinders? Moet hulle ook gedoop word? Wel, die argument loop so: as ʼn hele familie aan God behoort en God gee vir hulle ʼn kind, sal God die kind uit die familie gooi sodat hy of sy iewers anders grootword? Sal God so kind eers toelaat in die gesin as die kind Hom dien? Hoe en waar moet die kind leer om dit te doen? Nee, God vat nie die kind uit die gesin en gooi hom daar eenkant onder ʼn bos, weg van sy familie af om daar op sy eie groot te word nie. Nee, God aanvaar hom of haar binne sy familie en verwag dan van die ouers en die geestelike familie van die kind om die kind so groot te maak dat hy of sy uiteindelik niks of niemand anders sal wil dien as net God nie. Daarvan is die doop ʼn teken. So steek God sy hand uit na kinders van gelowige ouers. Die ouers lê daarom die belofte af om hulle kind so groot te maak dat die kind die Here sal wil dien

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy