Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (5)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (5) – Adrio König

7.5 Los opmerkings

Daar is ‘n paar stellings aan die begin van die hoofstuk waaraan ons nog nie genoeg aandag gegee het nie.

Daar is twee groepe kerke.

  • Die een groep doop net mense wat self glo, en verwerp die kinderdoop.
  • Die ander groep doop ook mense wat self glo, maar dan ook hulle kinders.

Daar is geen kerk wat die doop van gelowiges verwerp nie. Dit sou onsinnig wees.

Dit werk net dieselfde met onderdompeling en besprenkeling.

  • Die een groep kerke doop net deur onderdompeling, en verwerp besprinkeling.
  • Die ander groep doop deur besprinkeling of onderdompeling.

 

Maar daar is mense wat nie daarvan bewus is nie, wat oortuig is hierdie groep kerke doop net deur besprinkeling. Gelukkig sê die Gereformeerde doopsformulier duidelik dit kan ook onderdompeling wees.  

 

‘n Kerk behoort mense ‘n keuse te gee tussen die twee metodes omdat dit nie in die Bybel gaan oor die manier van doop nie, maar oor die betekenis van die doop.

 

Die Christelike doop behoort net een keer aan ‘n persoon bedien te word. Die “een keer” het direk verband met die betekenis van die doop. Deur die doop gee God ons deel in die heil. Ons moet daarop reageer en dit aanvaar. God gee ons nie oor en oor deel aan die heil nie, net soos Christus nie oor en oor aan die kruis sterf nie.

 

Die nagmaal is die sakrament wat ons oor en oor gebruik en ook moet gebruik, omdat dit verband hou met die voortdurende voeding en versterking van ons nuwe lewe. Daarom moet dit herhaal word.

 

Dit is ‘n oorvereenvoudiging om te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom. Die betekenis van die doop is veel ryker as dié van die besnydenis. En vir ‘n tyd lank het doop en besnydenis gelyktydig voorgekom, minstens in die gemeente in Jerusalem (Hand 21:21).

 

Die besnydenis het ‘n diep geestelike betekenis gehad. Ons lees van die besnydenis van die hart, lippe en ore (Lev 26:41; Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4; 9:25-26; Eseg 44:7, 9), dit beteken die vernuwing van ‘n mens se lewe. Deur die besnydenis is mense opgeneem in die Abrahamverbond waarin hulle hierdie nuwe lewe moes leef. Die doop het dieselfde betekenis. Ons word deur die doop opgeneem in die verbond met Abraham om as gedooptes ‘n nuwe lewe te lei (Gal 3:27-29). Daar is dus verband tussen die betekenis van die doop en die betekenis van die besnydenis

 

Maar die doop het ‘n veel ryker betekenis as die besnydenis. Die doop het nie net verband met die besnydenis nie, maar ook met die groot versoendag, die dag wat die offer gebring is vir die sonde van die volk. Deur die doop gee God ons vergifnis en reiniging van sonde.

 

Maar daar is nóg meer. Deur die doop word ons só met Christus verenig dat ons deel kry aan sy kruisiging, sterwe, begrafnis en opwekking (Rom 6). Dit is iets nuuts in die Nuwe Testament sodat hierdie betekenis nie kan aansluit by enigiets in die Ou Testament soos die besnydenis en die versoendag nie. Dit is eenvoudig die plus van die doop bo enigiets in die Ou Testament. En miskien is juis dít die  wonderlikste betekenis van die doop. 

 

Wat maak die Christelike doop uniek in onderskeid van ander dope soos Johannes die doper se doop of die Jode se proseliete-doop? Al drie is “doop” genoem, al drie is met water gedoen. Wat uniek is in die Christelike doop is die doopformule: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. ‘n Doop waarby hierdie formule nie gebruik is nie, kan nie beskou word as ‘n Christelike doop nie. En dis duidelik dat Johannes die doper ook nie hierdie formule gebruik het nie.

 

Wanneer Jesus die doopbevel gee, gebruik Hy hierdie formule. Dit onderskei juis die Christelike doop van Johannes s’n. Johannes se doop was ‘n bekeringsdoop. Hy het mense gedoop is deel van hulle getuienis dat hulle hulle bekeer het.  Maar in die Christelike doop gaan dit om dit wat God doen. Daarom word dit in die Naam van God bedien. Om God se Naam oor iemand uit te roep, is om sy gesag oor iemand af te kondig.

 

Die verskil tussen Johannes se doop en die Christelike doop is dus die verskil tussen dit wat die mens doen en dit wat God doen.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (4)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (4) – Adrio König

7.4 Doop en kruis

Aan die kruis het God deur Jesus die wêreld versoen. Dis goed om te kyk hoe radikaal Paulus dit formuleer.

 

“Die boodskap van die versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie” (2 Kor 5:19).

Dit kan tog nie iets anders beteken nie as dat God vandag vir geen enkele mens op die hele aarde een sonde toereken nie, wat hy of sy ook al gedoen het. Beteken dit dan dat ons net vir alle mense moet laat weet dat hulle versoen is, en hulle nie verder daaroor hoef te bekommer nie? Almal is gered, want God het almal versoen?

 

Nee. Die volgende vers lui: “Ons smeek julle namens Christus: “Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!” (5:20)

 

Wat beteken dit? God het gegee, maar ons moet dit aanneem voor dit vir ons geld. Hy het ons met Homself versoen, maar ons moet hierdie versoening eers aanneem voor dit vir ons geld. Dis hoe ‘n verbond werk, van twee kante af.

 

Dis mos presies hoe die doop ook werk.

  • In watter boek in die Nuwe Testament lees ons hoe mense gedoop word? Handelinge.
  • In watter boeke lees ons wat die doop beteken? Die Briewe.

 

Maar die Briewe is ná Handelinge geskryf. Dit is geskryf aan gemeentes, mense wat klaar gedoop is. Dit beteken dat mense nie vooraf oor die betekenis van hulle doop ingelig is nie, maar eers gedoop is (Handelinge) en toe later onderrig is (die Briewe).

 

Indien dit in die doop gegaan het oor wat ek doen, was dit tog heeltemal verkeerd. Dan moes die apostels eers lang onderhoude gevoer het met mense wat gedoop wil word, en hulle breedvoerig oor die betekenis van die doop ingelig het sodat hulle alles kan verstaan wanneer hulle gedoop word.

 

Maar nêrens in Handelinge is sprake van enige dooponderrig nie. Paulus doop die heidense tronkbewaarder, wat niks van die evangelie of die doop geweet het nie,  nog dieselfde nag, ‘n man wat net gehoor het Jesus red jou as jy glo. Wanneer moet hy nou leer wat sy doop beteken? Hy sal dit leer as hy as lid van die gemeente die Briewe begin lees.  

 

Dit is alles normaal, soos dit hoort, want God gee in die doop, en ek moet agterna leer en aanneem wat Hy gegee het, en hoe om dit toe te eiën en daaruit te leef.

 

Maar dan pas die kinderdoop mos presies in die struktuur van die evangelie, sowel van die kruis as van die doop.

  • Aan die kruis het God ons versoen, en wanneer ons dit nou hoor, moet ons dit in die geloof aanvaar.
  • In die doop bevestig God wat Hy aan die kruis gedoen het, en ons moet dit in die geloof aanvaar.
  • Aan die kruis het God ook die baba versoen, en wanneer die baba dit hoor, moet hy/sy dit in die geloof aanvaar.
  • En in die doop bevestig God ook aan die baba wat Hy aan die kruis gedoen het, en die baba moet dit agterna in die geloof aanvaar.

 

Die kinderdoop pas dus nie net in die genadeverbond wat God met Abraham gesluit het en waarin God ons deur die doop opneem nie.

Dit pas ook in die manier waarop die doop in die vroeë kerk bedien is: Eers gedoop, daarna onderrig.

 

Beteken dit nie daar is geen beter manier om na die Ou Testament terug te gaan nie as om na die genadeverbond te gaan wat God met Abraham gesluit het? 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (3)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (3) – Adrio König

7.3 Die betekenis van die doop 

Ons word deur die doop met Christus verenig (Gal 3:26) en omdat Hy dié Nakomeling van Abraham is (Gal 3:16), word ons dan ook, saam met Hom, nakomelinge van Abraham. Die doop is dus wesenlik deel van die verbond met Abraham.

Die doop lyf die dopelinge in die Abrahamverbond in. Dit beteken dat die Christelike doop die verbondsdoop is. Daar is groepe wat spesifiek die kinderdoop die verbondsdoop noem, en dan allerhande ander woorde vir die grootdoop gebruik soos belydenisdoop.  Maar dit is verkeerd. Daar is nie twee dope, die een die verbondsdoop en die ander een iets anders nie. Die doop-as-sodanig is die verbondsdoop, in watter vorm dit ook al bedien word. Die doop as sodanig lyf ons in die Abrahamverbond in, of ons klein of groot is.

 

Dis nou indien ‘n mens die kinderdoop naas die grootdoop aanvaar. Doen jy dit nie, en verwerp jy dus die kinderdoop, is dit nog steeds waar dat die doop (in die vorm van die grootdoop) ons in die Abrahamverbond inlyf (Gal 3:27, 29). 

 

Maar nou het ons ‘n belangrike beginsel aanvaar. Ons het dit nie besef nie omdat ons formulerings sleg was.

 

  • Dis nie die doop wat ons in die Abrahamverbond inlyf nie.
  • Dis God wat ons deur die doop in die Abrahamverbond inlyf.

 

Die beginsel is dan dat die betekenis van die doop met God se werk in verband staan, nie met ons werk nie. Ons kan nie onsself in die verbond inlyf nie; ons kan nie onsself saam met Abraham seën nie, ons kan nie onsself kinders van Abraham en nakomelinge van Abraham maak nie; ons kan nie onsself met Christus verenig nie. God doen dit, en Hy doen dit deur die doop en die geloof.

 

In die lig hiervan is dit nie vreemd dat al die betekenisse van die doop verband hou met God se werk in ons, en nie met ons werk nie:

  • God verenig ons deur die doop met Christus sodat ons deel kry aan sy kruisiging, sterwe, begrafnis en opwekking (Rom 6). Ons kan dit nie self doen nie.
  • God gee ons deur die doop vergifnis en reiniging van sonde (Hand 2:38; 22:16; 1 Kor 6:11). Ons kan nie self nie.
  • God gee ons deur die doop die Heilige Gees en die weergeboorte (Tit 3:5 – ongelukkig vreemd veetaal in die 1983-vertaling). Ons kan nie self nie.
  • God neem ons deur die doop op in die liggaam van Christus (1 Kor 12:13 – net so vreemd vertaal in 1983. Lees die 1953-vertaling en NLV). Ons kan nie self nie.

 

Die doop kan dus nie ‘n geloofsdoop of ‘n belydenisdoop genoem word nie, omdat dit nie my geloof of my belydenis is wat die betekenis aan die doop gee nie, maar God self. Natuurlik moet mense wat van buite die geloofsgemeenskap kom, eers self glo en hulle geloof bely voor hulle gedoop word. Net so moes ook Abraham eers self glo voor hy besny is. Maar Isak wat in die verbond gebore is omdat Abraham in God geglo het, is eers besny en moes agterna self glo.

 

My geloof en my belydenis is my onontbeerlike antwoord op die werk van God in my doop.

 

Red die doop my?  Maar indien God al hierdie gawes in my doop vir my gee, hoe is dit dan dat die doop my nie red nie?

 

Om presies dieselfde rede waarom die kruis my nie red nie.

 

Die doop en die kruis val presies saam. 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (2)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (2) – Adrio König

7.2 Die betekenis van Abraham 

Uit stellings 1-7 is dit duidelik dat Abraham ‘n besondere plek in ons geloof inneem. In Romeine 4 soek Paulus ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens gered word. Hy kies nie een van sy eie dissipels nie, hy kies vir Abraham: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek” (4:3). Hoe word ons dan gered? Deur in God te glo, of soos ons dit in die Nuwe Testament kry: Deur op Jesus as ons Verlosser te vertrou.

Maar Abraham is nie net ons voorbeeld van redding nie, hy is ook ons geestelike vader (Rom 4:16-17). Deur die geloof is ons sy kinders (Gal 3:7), en deur die doop het ons sy nakomelinge geword (Gal 3:27, 29).

 

Kinders en nakomelinge erf van hul vader. Wat erf ons van hom? Ons word “saam met die gelowige Abraham geseën” (Gal 3:9). Dis ‘n opvallende uitspraak. Hoe kan ons saam met Abraham geseën word? Hy is lankal geseën en net so lank al dood. Maar onthou die “saam met”-beginsel by Paulus. Deur die doop word ons só met Christus verenig dat ons eintlik “saam met” Hom gekruisig is en “saam met” Hom opgestaan het (Rom 6:2-6). Ons kry dus ‘n aandeel aan sy kruis en sy opstanding. As ons dan deur die geloof en die doop nakomelinge van Abraham word (Gal 3:27, 29), word ons saam met hom geseën, dit beteken ons kry deel aan die seën wat God aan Hom gegee het toe Hy beloof het al die nasies van die aarde sal in Abraham geseën wees, sal deel in die seën wat Hy aan Abraham gegee het (Gen 12:3; 18:18; 22:18; 24:1).

 

Ek verstaan dit só dat God eintlik een groot voorraad seën aan Abraham gegee het. Dit is sy volle seën vir die hele wêreld en vir alle tye. Deur die geloof kry ons deel aan daardie seën, of miskien liewer: skakel ons in daardie seën in. Ons word “saam met die gelowige Abraham geseën” (Gal 3:9).    

 

Hierdie seën van Abraham is aan die kruis oopgebreek vir die heidene, dis vir ons wat nie Jode is nie (Gal 3:14).

 

In die lig hiervan is dit natuurlik vreemd dat mense kan dink die verbond met Abraham is die ou verbond wat afgeskaf is. Die verbond met Abraham is die genadeverbond, die geloofsverbond, die verbond wat self ook die evangelie is: Glo en jy word gered. As hierdie verbond afgeskaf is, hoe word ons dan gered? Die verbond wat afgeskaf is, is die wetsverbond wat by Sinaï gesluit is (Jer 31:31ev), die verbond wat 430 jaar ná die Abrahamverbond gesluit is.  

 

Skrywer: Prof Adrio König